Bron: Kompas, 2013. 6 bladsye.

Kopiereg

slotte op plaat🔗

Agtergrond🔗

Die gemiddelde man op straat weet waarskynlik daar is iets soos kopiereg, maar nie veel meer nie. Dit het iets te doen met: jy mag nie afdrukke of copies van boeke, musiek en DVD’s maak nie. En by gebrek aan kennis van meer details word daar dan ook dikwels baie pragmaties geredeneer: solank ek dit nie herverkoop nie, is ek OK? Ek betaal mos vir die toegang tot die internet – alles wat ek daar kan aflaai is mos OK? Dit is vir ʼn goeie doel – dan is dit mos reg?

Die realiteit is: dis baie keer nie so OK as wat ons dink dit is nie. Ons leef in ʼn tydperk en samelewing waar ons toegegooi word met wette, reëls en regulasies. Daar is reëls en regulasies wat alle aspekte van die samelewing reguleer – vandat jy gebore word, tot wanneer jy doodgaan. Kopiereg is waarskynlik een van hierdie hordes wette waarvan ons so oppervlakkig weet, maar waaraan die gemiddelde persoon hom nie regtig te veel steur nie. In teenstelling met die verkeerspolisie, is daar nie werklik ʼn aktiewe kopieregpolisie wat ons daagliks dwing om daarby stil te staan nie, en in die praktyk los ons dit dan vir die prokureurs en wetsgeleerdes wat elke dag daarmee werk.

As ons dink aan kopiereg, moet ons nie primêr dink aan plagiaat waarmee studente en akademici gekonfronteer word nie, maar veral aan hoe kopiereg die algemene man in die straat raak. In die rekenaar-eeu waar copy & paste so maklik geword het, en waar inligting so maklik beskikbaar is met google en ander moderne search engines, storm die inligting op ons af, en het ons amper gerieflikheidshalwe vergeet van die morele aspek daarvan… mag ek hierdie song netso download en by my musiekversameling sit? Mag ek daardie movies copy en dit by die huis gaan kyk? Kan ek hierdie prentjie wat ek êrens op die web gevind het, netso gebruik in my taak of vir my blog?

Die dilemma rondom kopiereg is nie ʼn eenvoudige probleem nie. Dit is ʼn probleem wat saam met die moderne eeu sy kop uitgesteek het, alhoewel jy al duisende jare terug ook kopieë van geskrifte gekry het. Soos wat die dupliseertegniek makliker geword het, het die intellektuele regte al hoe meer prominent geword, en het kopieregwetgewing ontstaan. Wat die probleem nog meer kompliseer, is die feit dat selfs onder Christene daar nie eensgesindheid is oor watter Bybelse riglyne hier toegepas moet word nie.

Wat is Kopiereg?🔗

Moderne kopiereg is ʼn stel wette wat ʼn balans stel tussen die regte van die outeur wat ʼn werk geskep het, die regte van ʼn moontlike persoon of instansie wat betaal het om die werk en sy afskrifte te laat maak, en die regte van die koper wat die kopie gekoop het. Enige outeur kan besluit of hy die werk wat hy geskep het, wil beskerm met kopiereg. In party lande val enige werk outomaties onder kopiereg, in ander lande moet jy die woord kopiereg (of iets soortgelyks) êrens laat verskyn. Jy het dus die toestemming van die kopiereghouer nodig as jy die werk in geheel of gedeeltelik wil gebruik. Kopiereg verval ook na ʼn sekere aantal jare vanaf die publikasiedatum. Die aantal jare verskil van land tot land, en oor die jare het dit ook nogal baie verander.

Onder die eerste vorms van kopiereg het die outeur net vir ʼn paar jaar beskerming geniet, maar al gou het dit langer en langer geword. In Suid-Afrika verskil dit ook van medium tot medium, maar is die tydperk gewoonlik 50 jaar – hetsy vanaf publikasie of vanaf die dood van die outeur.

Waar kom Kopiereg Vandaan?🔗

Kopiereg het ontstaan met die opkoms van die boekdrukkuns in die Middeleeue. Aanvanklik het die kopiereg net vir boeke gegeld, maar oor die jare het dit ontwikkel tot waar ons vandag ʼn groot verskeidenheid vorms beskerm: skilderye, foto’s, klankopnames, films en rekenaarprogramme, om maar net ʼn paar te noem. Voordat die boekdrukkuns ontwikkel is, is daar wel afskrifte gemaak van bestaande boeke – dink maar aan die Bybel wat sorgvuldig oorgeskryf is – maar dit was so ʼn tydrowende proses, dat dit glad nie ʼn bedreiging vir enigiemand ingehou het nie.

outydse drukker

In die eerste eeue van die drukkerswese het die staat (en kerk) dit as sy taak beskou om die drukkerswese te reguleer. Hulle het lisensies toegeken aan almal wat afdrukke mog maak, met presies watter werke hulle mog dupliseer. So het die Roomse Kerk al vinnig die bedreiging gesien wat die geskrifte van die reformasie vir hulle ingehou het, en was daar al gou ʼn offisiële bul deur die pous uitgevaardig met ʼn lys van verbode boeke. Die sisteem van lisensies het nie baie lank gehou nie – soos wat die drukkerswese ontwikkel het, was daar baie probleme wat daarmee saamgegaan het. In die 1700’s het ons die eerste wetgewing gesien van wat ons vandag ken as kopiereg, wat ʼn balans probeer vind tussen outeur, uitgewer en koper van die kopie.

Globale Stad🔗

Dit is so dat kopiereg nogal kan verskil van land tot land. Daar is wel internasionale ooreenkomste waar lande saamspan om mekaar se kopiereg te erken en ten minste ʼn sekere vlak van wetgewing daar te stel. Maar natuurlik los hierdie internasionale konvensies nie alle probleme op nie. Wat in een land wel aanvaarbaar is, mag dalk nie aanvaarbaar wees sodra jy oor die grens stap nie. Een land beskerm werke vir 50 jaar, terwyl ʼn ander land se wetgewing 70 jaar uitspel. Die een land se aanvaarbare gebruik is meer liberaal as ʼn volgende land s’n.

ʼn Land soos China is bekend daarvoor dat hulle lief is daarvoor om produkte na te maak. Maar selfs China het vandag ook kopiereg-wetgewing soortgelyk aan dié van die Westerse wêreld. Tradisioneel het hulle nie so iets gehad nie, en daarom is die toepassing van hierdie nuwe wetgewing ook nog nie baie effektief nie. En om dit nog meer te kompliseer: met die opkoms van die internet en digitale era is dit nog moeiliker, waar landsgrense vir alle praktiese doeleindes nie bestaan nie. As jy die inhoud van iemand se blog wil gebruik, hoe moet jy bepaal watter wetgewing is van toepassing? Die skrywer mag dalk woon in land A, die blog se onderliggende rekenaars is fisies in land B, maar die outeur was vir besigheid in land C toe hy hierdie stuk geskryf het… Watter wetgewing is hier van toepassing?

Aanvaarbare Gebruik / Fair Use 🔗

Tog ken kopiereg ook sy beperkings en uitsonderings. So is daar in baie lande ʼn uitsondering op aanvaarbare gebruik of fair use – wat jou gewoonlik toelaat om ʼn sekere aantal woorde aan te haal sonder om eksplisiet toestemming van die kopiereghouer te vra, solank jy die oorspronklike outeur erken en ʼn verwysing insit. Die riglyne hieromtrent is egter baie vaag, en die toepassing verander ook oor tyd, soos sekere gebruike al hoe meer voorkom en dit in die praktyk duidelik word dat dit nie tot nadeel van enige van die partye strek nie. Aanvaarbare gebruikspraktyke wat ons vandag ken, sluit bv. resensies, soek-engines op die internet en akademiese navorsing in.

Ook die tradisionele biblioteke val hieronder. Hier kan jy dus boeke uitneem en die inhoud lees – sonder om die boeke te koop. Daar is dikwels baie kritiek teen die kopiereg en dan spesifiek die aanvaarbare gebruik in die moderne eeu waar hierdie konsep nie geken word in die digitale mark nie, of ten minste dat dit nie voldoende prakties uitgewerk en geïmplementeer is nie. Die tegniese antwoord is dat hierdie nog nie gesien word as aanvaarbare gebruik nie. Maar in wese is daar maar bitter min verskil tussen die uitneem van ʼn boek by die biblioteek om dit dan te lees teenoor die uitneem van ʼn digitale boek en dit dan te lees op jou e-leser. En as jy klaar is, dit natuurlik weer terugbesorg aan die biblioteek. Daar bestaan iets soos DRM – digital rights management, waar die toegang en verspreiding van digitale media beheer kan word – maar hierdie tegnologie is nog nie so wyd geïmplementeer nie … en daar bestaan ook net soveel maniere om hierdie tegnologie onwettig te systap, wat die uitgewers maar versigtig maak. Hierdie tegnologie laat jou byvoorbeeld toe om die e-boek wat jy gekoop het, op ʼn maksimum van drie lesers te kopieer, ʼn maksimum van 5 bladsye per keer uit te druk, en nie meer as 100 bladsye in totaal te druk nie. Die verkoper definieer dan die presiese reëls van wat jy mag en wat jy nie mag doen nie. Ek wil hiermee volstaan as ʼn beknopte oorsig oor wat kopiereg is. In die opvolgartikel wil ek die vraag beantwoord: wat maak ons as Christene daarmee? Wat maak ons met die huidige kopieregwetgewing, en hoe moet ons dink oor die morele en etiese aspekte daarvan? Dan kyk ons na riglyne uit die Bybel en ʼn klomp praktiese voorbeelde in die alledaagse samelewing.

Digitale gebruik

Bybelse Riglyne en Toepassings🔗

Burgerlike Gehoorsaamheid🔗

Uit die staanspoor moet ons erken dat kopiereg vandag realiteit is, en dat daar ook in Suid-Afrika wetgewing is wat dit uitspel en ook ander lande se kopiereg erken. Tensy ons kan aantoon dat die kopiereg in stryd is met ander Bybelse riglyne, geld hierdie ook vir ons. En meestal word ons kreatiewe argumente dan maar te lig bevind as ons lees in Romeine 13: Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.

Jy Mag Nie Steel Nie🔗

Hierdie is seker die eenvoudigste argument wat dikwels gebruik word in die kopieregdebat. Die vraag is of kopiereg so eenvoudig soos diefstal is. Geld die diefstalverbod ook vir ʼn kopie? Alle Bybelse voorbeelde assosieer steel met die neem van ʼn fisiese item – waar die oorspronklike eienaar nou nie meer sy item kan gebruik nie. Die dief ontneem die eienaar sy eiendom. Maar met ʼn kopie is dit nou meer ingewikkeld. In die geval van digitale produkte neem ek nie die oorspronklike nie – ek neem net ʼn kopie. Die voorbeelde uit die Bybel dateer natuurlik uit ʼn tyd wat nog nie die massa dupliseertegnologie geken het nie. Uiteraard sal ons dus nie ʼn direkte kopievoorskrif kry nie. As ek ʼn skrynwerker betaal om vir my ʼn stoel te maak, is die stoel my eiendom. Niemand gaan my keer om ʼn kopie te maak van die stoel nie (kom ons neem maar aan ek het die toerusting en vermoëns om dit te doen). Maar as ek ʼn kopie wil maak van ʼn CD wat ek gekoop het, mag ek nie. Is dit nie inkonsekwent nie? Hoekom kry die musikant beskerming van kopiereg, maar nie die skrynwerker nie?

Soos reeds genoem, probeer kopiereg ʼn balans vind tussen die outeur, die uitgewer en die koper se regte. In die geval van die skrynwerker is sy volledige arbeid en materiale vervat in die prys wat ek vir die stoel betaal, maar ʼn mens kan nie dieselfde sê van die musikant nie. Die uitgewer het baie uitgawes aangegaan en risiko’s geneem om die opname te maak, en hoop om daarna ʼn klomp van die CD’s te verkoop sodat hy sy mense in die maatskappy kan betaal. Jy koop dus ʼn kopie van die opname met ʼn beperkte gebruik, maar dan teen ʼn fraksie van die prys. As ons daarvan uitgaan dat kopiereg effektief is, en dit regkry om ʼn goeie balans te stel tussen al die partye ter sprake, dan is die skending van kopiereg baie dieselfde as die diefstal waarvan ons in die Bybel lees, waar jy die geld wat die musikant toekom, nie betaal nie. As ons vir ʼn oomblik verby Romeine 13 kyk en filosofies na die probleem kyk, dan is die vraag nie óf kopiereg diefstal is nie, maar eerder of ons huidige kopieregwetgewing effektief is of nie. Kry die kopieregwetgewing dit reg in die moderne eeu van virtuele goedere, massareproduksie met minimale kostes en beskerming van intellektuele eiendom, om ʼn goeie balans te vind tussen die outeur, die uitgewer en die koper?

Super Winste🔗

Vir ʼn klomp produkte is dit waarskynlik waar dat ons kan praat van buitensporige winste wat deur uitgewers (en musikante) gemaak word. Uitgewers maak groot winste met groot treffers. Maar die teenargument is dat hulle miskien met baie ander produkte ʼn verlies maak – en daar is dalk baie meer daarvan as wat daar suksesverhale is. Ek sou nog kon saamstem dat die kopieregwetgewing van vandag waarskynlik bietjie oorhel ten gunste van die uitgewers, en ten koste van die kopiekoper en outeur. Die uitgewersbedryf probeer uiteraard hulself beskerm, en oor die jare het die wetgewing meer vir hulle regte opgekom as vir dié van die verbruikers en outeurs.

Hierdie argument is veral van toepassing op digitale produkte, waar daar glad nie ʼn produksiekoste is om ʼn kopie te maak nie. Waar ʼn elektroniese boek vandag net marginaal goedkoper is as ʼn papierkopie, is my mening dat dit aansienlik goedkoper behoort te wees. Ek wil nie in detail op hierdie debat ingaan nie – maar het die rol van die uitgewer nie baie afgeneem nie? Tog klou die uitgewers nog aan die tradisionele ekonomiese regte waar hy histories ʼn baie meer prominente rol in die publikasieproses gespeel het.

E-book

Kopiereg-Polisie?🔗

Baie min lande het ʼn kopiereg-polisie wat die samelewing aktief patrolleer. En as daar polisie-organisasies is, is hulle dikwels gespesialiseer op een of ander aspek van kopiereg of ʼn baie spesifieke teikenmark; maar daar is nie regtig iemand wat hier by my huis gaan instap en ʼn oudit gaan kom doen of ek lisensies het vir al die kopieë wat in my huis is nie. Die onus rus op die eienaar van die kopiereg om toe te sien dat niemand sy werk kopieer nie. Kopiereg-geskille word tipies in die hof beslis, en dit maak die koste daaraan verbonde baie hoog.

Anders as by ander diefstal, is kopiereg oor die algemeen nie ʼn kriminele reg nie. Dit raak net ʼn kriminele saak sodra die materiaal wat gekopieer is, weer verkoop word op ʼn kommersiële basis. Die praktyk wys egter dat wetgewing net effektief is as dit gekontroleer en toegepas word. En soos die sondige mens nou maar is, gaan hy makliker oortree as hy weet die waarskynlikheid dat iemand iets gaan doen, feitlik nul is. Dit bring ons weer terug na Romeine 13 … dit gaan vir ʼn Christen nie oor die straf nie, maar oor die gewete. Ek wil afsluit met ʼn paar baie praktiese voorbeelde en dilemmas van die moderne samelewing. En laat ons mekaar opskerp in hierdie verband, sodat ons ʼn lig in die wêreld kan wees, en nie saamgesleur word deur die wêreldse praktyke nie.

Kopiereg op die Bybel en Christelike Materiaal🔗

Mag daar kopiereg op die Bybel wees? As dit God se Woord is, kan daar mos nie kopiereg daarop wees nie? Dink maar aan wat Paulus sê in 1 Korintiërs 9: “…dat ek die evangelie van Christus kosteloos bring…” Baie uitgewers het kopiereg wel vir hulleself toegeëien. Veral in die digitale era waar duplisering feitlik niks kos nie, bly dit maar teenstrydig. Die Woord van God moet immers versprei word? Aan die een kant kan jy redeneer dat daar op alle Christelike werke – Bybelverklarings, preke, en ook artikels in Kompas – geen kopiereg behoort te wees nie. In uitsonderlike gevalle, waar dit gaan oor broodgeld in ʼn tentmakersbedieningopset, kan jy dalk ʼn uitsondering maak. Maar as dit kan dien tot verspreiding van die evangelie, wie is ons dan dat ons finansieel daarby wil baat?

Die Internet en Digitale Media🔗

Met die opkoms van die digitale era is die Internet gebou as ʼn wêreldwye openbare netwerk van rekenaars wat met mekaar kan gesels in ʼn standaard rekenaartaal. Met elektroniese pos kan jy nou baie vinnig boodskappe rondom die wêreld stuur, en deur middel van webwerwe kan jy inligting bekendstel vir enigiemand wat belangstel. Die Internet het die verspreiding van inligting net soveel makliker gemaak. En onder inligting verstaan ons webwerwe, musiek, video’s of watter digitale medium ook al.

Maar net so maklik soos wat jy inligting wettiglik kan versprei, kan jy nou ook inligting onwettig versprei. En so ken ons vandag netwerke wat, waar dit aanvanklik dalk goeie toepassings gehad het, vandag totaal gekaap is deur gebruikers wat geen ontsag vir kopiereg het nie. En kom ons noem dit maar by die naam: die generiese file-sharing-dienste, of die sogenaamde Peer to peer (p2p) torrents – wat van­dag ʼn baie gewilde metode is om musiek en films te versprei; hacker webwerwe met cracks en lisensiekode-systap-programmatuur om mense toegang tot sagteware te gee wat dit nie gekoop het nie; en selfs ʼn diensverskaffer soos YouTube (daardie webwerf met al die oulike filmpies) het ontaard in ʼn muisnes van onwettig gekopieerde beeldmateriaal. Dit laat ʼn mens wonder as analiste beraam dat tot 95% van alles wat op You­Tube is, materiaal is waar kopiereg geskend is…

YouTube

Dit maak die platform nie per definisie verkeerd nie. Natuurlik kan jy ook preke effektief op ʼn file sharing platform versprei. Of ʼn erediens op YouTube laai. Maar al daardie musiek en films waarmee jy dan gekonfronteer word, maak die versoeking baie groot. Tegnies gesproke is dit ook nie onwettig om enigiets daar af te laai nie – of dit nou ʼn file op ʼn filesharing website is of ʼn filmpie op YouTube. Die platforms se gebruikersvoorwaardes is so slim opgestel dat hulle (as diensverskaffer) ook totaal onskuldig is – en alle skuld skuif na die persoon wat dit oplaai. En omdat hierdie netwerke so groot is, het dit haas onmoontlik geword om polisieman te speel en elke movieclip te gaan kyk, elke musieksnit te gaan beluister, en elke rekenaarprogram te gaan kontroleer of dit nou ʼn kopieregskending is of nie. Daarom word die kopiereg-eienaars ook uitgenooi om enige skending te rapporteer waar hulle kopiereg geskend word, en word daar dan ook teen gebruikers opgetree. Maar die oortreders het ook al slim geword … as die “oplaaier” in ʼn land sit wat nie kopieregwetgewing het, en nie ander lande se kopiereg erken nie (dink aan ʼn plek soos Somalië) – dan kan jy mos ook nie regtig teen hulle optree nie?

Maar is die Afrikaanse spreekwoord die deler is so goed soos die steler nie hier van toepassing nie? Waar die steler dan die persoon is wat dit oplaai, en die deler die persoon is wat kyk of aflaai nie? Hierdie gesegde kom in ʼn effens ander vorm in Spreuke 29 voor: Hy wat saam met ʼn dief deel, haat sy eie siel.

Advertensies🔗

Baie diensverskaffers soos YouTube en UitzendingGemist.nl (Nederlandse webwerf waar jy programme wat jy gemis het, oor die Internet aflaai en daarna luister of kyk) verkry hulle inkomste uit advertensies. Hulle bombardeer jou met advertensies, maar in ruil daarvoor kan jy dan die dienste gratis gebruik, mits jy dan bly by hulle diensvoorwaardes.

En die diensvoorwaardes sê tipies dat jy die materiaal net via hulle webwerf mag bekyk, sodat hulle advertensies kan verkoop. Maar in die praktyk van ons sondige wêreld word egter volledige reekse van programme so afgelaai en verder versprei.

Nou is dit ook ʼn realiteit met ons beperkte Internettoegang en spoed in Suid-Afrika dat, as jy tegnies streng by die wet bly, jy dit dus nie kan gebruik nie. As jy ʼn YouTube-video wil speel as deel van ʼn aanbieding op ʼn konferensie in die bosveld waar nie Internettoegang is nie – wat maak jy dan? As die ingeboude speler so ʼn groot frustrasie is, kan jy dan maar een of ander downloader gebruik? Ook in hierdie opsig verskil dit van land tot land wat die aanvaarbare gebruik betref. Nederland is redelik pragmaties ten opsigte van hul wetgewing – jy kan maar downloaders gebruik, solank jy dit net vir jouself gebruik en nie verder versprei nie. Maar in ander lande is selfs die gebruik van hierdie downloaders tegnies onwettig.

Rekenaarsagteware🔗

Die laaste voorbeeld wat ek wil noem, is dié van rekenaarsagteware. Of dit nou Windows, Office of een van die jongste rekenaarspeletjies is – die praktyk waar dit ge-copy en orals versprei word, is ook ʼn baie eksplisiete vorm van kopieregskending, of soos die rekenaarmense dit ken: sagtewareseerowers. Hierdie praktyk kom ook heeltemal te veel onder kerkmense voor. Net soos in die geval van ʼn CD wat ʼn beperkte gebruik het, koop jy, wanneer jy ʼn rekenaarprogram koop, nie die program self nie, maar net ʼn lisensie om dit te gebruik. Maar wie lees nou eintlik daardie eerste skermpie as jy die program installeer?

Die meeste kommersiële sagteware het nie ʼn outomatiese uitsluitingklousule wat vir jou vra of jy die rekenaarprogram gaan gebruik vir kommersiële doeleindes of nie. Dis so eenvoudig soos: as jy dit wil gebruik, moet jy ʼn lisensie hê om dit te gebruik. Of dit nou vir liefdadigheid, om ʼn gereformeerde tydskrif saam te stel, of vir persoonlike gebruik is.

En as jy nie bereid is om daarvoor te betaal nie, is een van die alternatiewe dan om gratis (freeware en ook open source) rekenaarprogramme te gebruik. Dink aan Linux, Ubuntu en OpenOffice. Die dae dat hierdie net vir tegniese mense is, is iets van die verlede.

rekenaar

Slotsom🔗

Dis eenvoudig: moenie onwettige kopieë maak nie; moenie steel nie. Calvyn het al besef die agste gebod is nie beperk tot geld of goedere nie. Hy skryf in sy Institusie dat, as ons enigiemand iets ontneem wat hom toekom, dan is dit ʼn vorm van diefstal. Net so is dit ʼn vorm van diefstal as ek my baas se tyd steel deur lui te wees en nie te doen wat ek veronderstel is om te doen nie, is dit ook ʼn vorm van diefstal as ek die musikant nie wil betaal vir die musiek wat ek so graag luister nie; en as ek dink ek kan wegkom met ʼn pirate copy van Microsoft Office solank ek dit net gebruik vir die kerkwerk.