Bron: Wegwijs. 5 bladsye.

Kroongetuies van die Skepping

As Christene praat oor die natuur, gaan dit vir hulle oor God se volmaakte skepping, wat na die sondeval van die mens, onder God se vloek geval het.  Tog onderhou en regeer Hy ook na die sondeval nog sy skepping.  Die mens het daarin van Hom ʼn taak gekry.  In ons diskussies oor die natuur sien ons die mens dikwels en ook tereg as rentmeester van die skepping.  Aan die een kant as gebruiker, aan die ander kant as mede-onderhouer.  Dit skep vir die mens verpligtinge en verantwoordelikhede.

Kroon en Kroongetuie🔗

In hierdie artikel is my uitgangspunt Psalm 8: Die mens as kroon van die skepping.  Maar as ons die psalm goed lees, gaan dit nie alleen oor die mens as kroon nie, maar ook as kroongetuie van die skepping: “hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! ... Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves ... As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het - wat is die mens, dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”

Die eerste verse gee die verwondering oor die skeppingswerk weer.  In die tweede deel gaan die digter Dawid oor na die mens wat amper goddelik gemaak en met heerlikheid en luister gekroon is.  Die kroon op die skepping kry mag toebedeel: “U laat hom heers oor die werke van u hande, U het alles onder sy voete gestel.”  En dan aan die einde van die psalm klink die begin weer: “hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!”

So sit die heerskappy van die mens in hierdie psalm tussen twee beskrywings van die heerlikheid van die Here in.  Aan die begin en aan die einde van die psalm.  Dit skep grense: die heerskappy van die mens staan in die lig van God se heerskappy.  Eers is hy kroongetuie van die skepping, daarna eers kroon en tenslotte weer kroongetuie.

Die psalm wys ook op die verantwoordelikheid van die kroongetuie: die verwondering laat die mens – laat ons – die werk waarvan ons dag na dag getuie is, respekteer.  Om daarmee om te gaan soos die Skepper daarmee omgaan.  Natuurlik kan ons dit nie volmaak doen nie, slegs God kan dit doen.  Ons sondes weerhou ons daarvan.

Ons Nederlandse Geloofsbelydenis verwoord dit duidelik dat ons God ken uit twee dinge: ten eerste die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld; daarna die Woord, waardeur Hy Homself nog duideliker en meer volkome aan ons bekend maak.

Ook die Nederlandse Geloofsbelydenis spreek dus oor die mens as die kroongetuie: deur die sien van die skepping maak God Hom aan ons bekend.  So duidelik dat ons Hom daaruit kan ken.

As ons so na die skepping kyk, sien ons ons verantwoordelikheid duidelik.  As ons die skepping aantas, tas ons God se werk aan.  As ons die skepping aantas, funksioneer ons nie goed as kroongetuie nie.  Daarom moet Christene in die bres tree vir die skepping.  Nie omdat ons die natuur aanbid of vermenslik nie.  Dit sien mens soms by aksiegroepe of omgewingsbewegings.  Hoe goed aksies van Omgewingsverdediging en Greenpeace soms ook is, die natuur moet nie gespaar word ter wille van die natuur alleen nie.

Verantwoordelikheid🔗

As ons nou die rentmeesterskap plaas langs die kroongetuie, kan daar geen sprake wees dat die rentmeesterskap sou lei tot uitbuiting van die skepping nie.  Of tot ʼn oorskatting van wat ons met die skepping mag doen nie.  Of tot ʼn beklemtoning van bou en ʼn verwaarlosing van bewaring.

Waar lê ons verantwoordelikhede?  Die probleem is as ons dit moet toepas, veral op onsself.  Ons eie gedrag.  Ons politieke keuse, ons maatskappy, ons leefwyse.  Dit is maklik om dit aan ander voor te hou, maar wat onsself betref, is ons dikwels nie beter as die wêreld om ons heen nie.  Dan is ons ook geneig om eers na ander te kyk, of nog verder weg na die buiteland.  Ons het dan ʼn hele lys verskonings reg.

Wat is die mees algemene verskonings om jou te verset teen maatreëls om die natuur te beskerm?  Ek noem ’n paar.

  • Die eerste een is die ontkenning: dit is nie waar nie, daar word oordryf; dit is ʼn stokperdjie van ʼn paar regeerders en aktiviste, wetenskaplikes moet ook werk hê.  Herken u dit?  Engeland het lang ontken dat daar so iets soos suurreën bestaan; die chemiese industrie het niks van ʼn  chloorprobleem geweet nie; daar is Christene wat van mening is dat partye wat ten gunste van aborsie en genadedood is, onmoontlik reg kan wees in omgewingsake; omgewingsprobleme is deur linkse partye uitgedink.  U het al hierdie verskonings ʼn slag gehoor of miskien self gebruik.

  • Na verwant aan die ontkenning, is die beklemtoning van die onsekerhede in die wetenskap.  As daar een navorser is wat die resultate van ander betwyfel, word dit gebruik as gerusstelling.  Dink maar aan die moontlike verandering van die klimaat.  Inderdaad, ons weet nog nie alles nie, maar intussen wel baie.

  • ’n Derde kategorie van verskonings is om te blameer.  Hoekom moet ek iets doen?  Kyk maar eers na die boere, sê die motoriste.  Laasgenoemde verwys weer na die chemiese industrie.  Hoekom ons en nie die kragsentrales of die raffinaderye nie, hulle het meer skuld ens.  En as daar binne ons landgrense nie voldoende skuldiges is nie, dan is daar nog die buiteland.  Ons dra minder as 1% by tot klimaatsveranderinge, laat groot lande eers na hulself kyk.  Daarna sou dit pas ons beurt wees.

Oorsake🔗

Sommige van hierdie verskonings is verstaanbaar, ander glad nie.  Die beskerming van God se skepping lê nie in ons sondige aard nie.  Dus as dit nie verplig is nie, doen ons dit liewer nie.  Boonop kos dit dikwels ook nog baie geld.  Ons maatskappy kan bankrot gaan, ons konkurrensieposisie wankel, dit verg aanpassings in ons maatskappy.  Hoe het dit alles sover gekom?

Ek sien ’n paar redes – saam met die hoofredes wat ek reeds aangegee het:

  • Omgewingsprobleme is ingewikkeld.  Neem byvoorbeeld die versuring van grond.  Dit gaan oor stowwe wat “natuurlik”, sedert die skepping, in die natuur voorkom.  Dit is natuurlike stowwe wat deur plante gebruik word vir hulle groei.  In sekere konsentrasies is hulle nie skadelik nie.  Inteendeel, as daar te min is, ly plante daaronder.  Daarteenoor is dit ook ʼn probleem as konsentrasies te hoog is.  Dan slaan die goeie werking oor na ʼn slegte werking.  Dit is dikwels ʼn kwessie van die korrekte dosering, van die regte balans.

    Ook die balans is belangrik, want as die chemie in die grond of atmosfeer uit balans raak, kan ons probleme verwag.  ’n Goeie voorbeeld hiervan is stikstof.  Om versuring te verminder, moet daar minder stikstof op die grond beland.  Veronderstel ons pas die beleid streng toe.  Wat gebeur dan?  Daar bestaan ’n goeie kans dat in bepaalde dele van die land op sonnige somersdae die rookmis meer dikwels gaan voorkom.  Moet ons almal fietsry daardie dag?  Dit sal ook nie help nie.  Immers, as ons fietsry, haal ons dieper asem, en daarmee asem ons weer meer slegte stowwe in.

    Dit word amper te ingewikkeld vir die gewone mens.  En moeilik om te verduidelik.  Geen wonder dat u miskien maar liefs wil tou opgooi.   Inderdaad, die skepping is pragtig, maar dikwels moeilik om te verstaan.

  • ’n Tweede rede vir die soeke na verskonings is dat dit soms tyd vat voordat ʼn omgewingsprobleem sigbaar word.  Neem die grondbesoedeling.  Vir ʼn lang tyd het ons die grond gebruik as vuilgoeddrom, net so ook die oseane.  Baie jare na die probleem veroorsaak is, het ons agtergekom dit is ʼn probleem.  En nou kos dit miljoene om dit weer skoon te kry.  Terwyl dit maar ’n fraksie van die bedrag sou gekos het as ons dit nie in die grond weggesteek het nie.  Soms was dit onkunde, soms was dit opsetlik.

    Omdat dit so lank vat voordat ʼn probleem sigbaar word, is ons geneig om te dink dat dit nie so erg is nie.  Die enkeling wat vooruitkyk, word gesien as doemprofeet. 

    Die ander kant is, dat dit dikwels langer vat voordat ʼn probleem opgelos is.  Dit vat lank voor fosfaat in die grond ʼn merkbare probleem word.  Maar dit vat ook lank voor ons die probleem opgelos het.  Die grond is traag, dit syfer maar stadig weg.

  • In die derde plek is daar mense wat dink dat ons met ʼn goeie tegnologie alles kan oplos.  Ek stem in ʼn groot mate daarmee saam.  Maar dit is soos om die perd agter die wa te span as ons eers ʼn probleem laat ontstaan om daarna elke tegnologie in te span om die probleem op te los.  Dis beter om die probleme te voorkom.  Tegnologie kan nie gebruik word om probleme te laat ophoop omdat ons die tegnologie wel sal uitvind nie.

Ten slotte, sommige omgewingsprobleme is ver weg.  Probleme soos stank en geluid ervaar jy direk, dit is ook dikwels maklik om op te los.  Ander probleme lê verder weg soos suurreën en rookmis.  En dan is daar nog die wêreldprobleme soos klimaatverandering, die gat in die osoonlaag ens.  Die probleme lê baie ver en dis moeilik om hulle gevolge voor te stel.  Wat pla dit ons as daar by die Suidpool gedurende ʼn paar maande per jaar minder osoon op meer as dertig kilometer bo ons koppe is?

My reaksie daarop is dat ons ook bydra tot hierdie probleme.  Dit moet daartoe lei dat ons ons verantwoordelik voel.  Immers, ander mense ver weg en dikwels baie armer as ons, word benadeel deur ons gedrag.

Hoe Dan Anders?🔗

Al kom dit so oor, ek is nie ʼn doemprofeet in plaas van kroongetuie nie!  Ek het probeer om aan te toon hoekom en waar die kroongetuie verkeerd gaan.  Die vraag is: hoe moet dit dan?  Eerstens om ons meer as kroongetuie te gedra.  Ons verantwoordelikhede te ken.  Om langs ons boudrif ook ons bewaardrang te ontwikkel.  Maar hoe doen mens dit?  Hoe kan ʼn owerheid dit doen? En die politiek?

Die begin van ʼn antwoord lê in die begrip “duursame ontwikkeling”.  Deesdae word baie gebruik gemaak van hierdie begrip wat al in 1987 bekendgestel is deur die World Commission for Environment and Development.  Hulle het die volgende definisie voorgestel: “ʼn Duursame ontwikkeling is ʼn ontwikkeling wat voorsien in die behoefte van die huidige generasie sonder om die moontlikheid om in toekomstige generasies se behoefte te voorsien, in gevaar te bring”.

Dit klink baie aantreklik, maar die vraag ontstaan watter norme word gestel vir duursaamheid.  Ons gaan daarvoor terug na die Bybel.

In die sestiende eeu het Calvyn by sy uitleg van die Bybelboek Genesis al ʼn “definisie” van duursame ontwikkeling geformuleer: “Die mens wat ’n akker besit, moet die jaarlikse vrugte oes, en toesien dat hy die grond nie a.g.v. agterlosigheid laat uitput nie.  Maar hy moet seker maak dat hy die akker aan sy nakomelinge oorlewer soos hy dit ontvang het of in ʼn nog beter toestand”.

As ons hierdie uitleg vertaal vir vandag en ons vergelyk dit met die bg. definisie van duursame ontwikkeling, dan is daar ʼn paar parallelle.  In die eerste plek noem Calvyn dat die gebruik van die aarde nie tot uitputting mag lei nie.  Dit vind ons ook terug in die hedendaagse definisies van duursame ontwikkeling.  Vervolgens wys Calvyn, in navolging van die Bybel, op die feit dat die nakomelinge ook van die opbrengste van die aarde moet kan leef.  Hy stel dit selfs nog skerper as die huidige definisie van duursaamheid: die kwaliteit van die grond moet beter word.

So met die eerste oogopslag lyk dit dat die teenwoordige strewe na duursaamheid pas in Calvyn se uitleg van Genesis.  Die rede waarom daar na duursaamheid gestreef moet word, vind ons egter huidiglik nie terug in die regeringsbeleid nie: tot eer van God.  Hiermee bly egter ook vir die Christen die vraag hoe  die begrip “duursaamheid” ingevul moet word, lewensgroot aanwesig.  Duursaamheid kos geld.  Daar is ʼn paar opsies wat oorweeg kan word.

Duursaamheid🔗

As belangrike uitwerking van duursaamheid sien ons dat die gebruik van hernieubare hulpbronne binne die grense van herproduksie gehou moet word.  Daarby sal die gebruik van nie-hernieubare hulpbronne soveel moontlik vervang word deur die gebruik van hernieubare hulpbronne.  Vir hernieubare grondstowwe (bv. vis en hout) sou ʼn duursame gebruik inhou dat dit nie meer  gebruik word as die natuurlike snelheid van herstel, nie.  Vir hout hou dit in dat daar nie meer van gebruik word as wat via groei en aanplant weer bykom, nie.  Dat ons nog ver daarvandaan is, is duidelik vir elkeen wat weet hoe vinnig die voorraad tropiese bos krimp.  In die trope het die helfte van die oorspronklike bosbegroeiing verdwyn!

Vir ’n nie-hernieubare grondstof (olie, aardgas, erts) word duursaamheid bepaal deur die snelheid waarmee alternatiewe vir die grondstof ontwikkel word.  Ons kan hierby dink aan ons aardgasvoorraad, wat gebruik word vir die opwek van elektrisiteit, vir verwarming en vir kook.  Ons sou bv. oor vyf jaar nie meer aardgas nie, maar ’n alternatiewe manier moet gebruik (son, wind, hout).

Ons kyk tenslotte na die vervuilende/besoedelende stowwe.  Duursame gebruik van hierdie stowwe word bepaal deur die tempo waarmee ʼn skadelike stof herwin kan word of onskadelik gemaak word deur die omgewing.  Die beginsel lyk goed, maar die enorme hoeveelheid stowwe wat daagliks in die omgewing vrygestel word, maak die vasstelling van die duursaamheidsgrens van ʼn  stof moeilik.  Maar ons kan in elk geval begin met die drastiese vermindering van vervuilende stowwe.

Dit bly moeilik om duursaamheid te bepaal, om ʼn getal daaraan te verbind.  Dit is dikwels nie alleen ʼn saak van wetenskaplike ondersoek nie, maar ook ʼn saak van maatskaplike belang.  Nie alleen op provinsiale of gemeenskapsvlak nie, maar ook vir elkeen afsonderlik.  Ek dink ons doen dit makliker - dat ons minder geneig sal wees om slegte kroongetuie te wees - as ons reëlmatig aan ons taak herinner word.  Dit kan op tenminste drie maniere:

  • Die owerheid stel duidelik norme.  Die norme moet nie slegs duidelik wees nie, maar ook duidelik aangegee word. En dat oortreding swaar gestraf sal word.

  • Die owerheid gee self die goeie voorbeeld as dit gaan oor die afweeg tussen ekonomie en omgewing.  As ʼn projek tot nadeel van die omgewing sou wees en die owerheid tog sou besluit om daarmee voort te gaan, dan moet die goeie redes vir hierdie uitsondering baie duidelik aan die burgers genoem word.

  • Slegs die son gaan verniet op.  Alle ander gebruik van die omgewing is nie gratis nie - die besoedelaar betaal.  Gelukkig word dit steeds meer raakgesien dat ʼn aantal probleme alleenlik goed opgelos word as die mens dit in sy beursie voel.  As daar ʼn prys betaal moet word.  Daar word op die oomblik baie navorsing oor gedoen en baie polities oor onderhandel.  Want so ʼn pryssisteem het verregaande gevolge, nasionaal (vir mense met ʼn laer inkomste word omgewingsbesoedeling duurder) en internasionaal (as ons bure en handelsvennote dit nie doen nie, volg ander probleme).

Die voorkoming en oplossing van omgewingsprobleme is ʼn saak van goeie rentmeesterskap.  As kroongetuie het ons ʼn besondere taak in God se skepping.  Ons is bewus daarvan dat dit baie moeilik is, maar ons moet die probleme nie van ons af of voor ons uit skuif nie, na ander lande, na ons kinders en kleinkinders nie.  Laat ons so na ons toekoms kyk: “Nugter, omdat die mag van die sonde en vloek nie finaal deur mense of die owerheid gebreek kan word nie. God self het deur Christus nuwe insig gegee en Hy self lei die geskiedenis – deur die oordeel heen – na ʼn nuwe wêreld waarop geregtigheid woon.  Tegelykertyd ook besielend, omdat dit seker is dat God sy wêreld nie in die steek laat nie”.