Bron: Kompas, 2004. 2 bladsye.

Kruisiging: 'n Wrede Dood

Van oudsher was die kruisdood een van die mees skandelike maniere om tereggestel te word. Dit was ook een van die mees pynlike maniere om te sterf. In hierdie artikel word ʼn historiese en ʼn mediese perspektief op die kruisdood gegee.

Waarskynlik het die kruisdood ontstaan in die tyd van die Assiriërs en Babiloniërs en is dit teen die 6e eeu v.C. gereeld gebruik. Alexander die Grote het dit in die 4e eeu v.C. tot by die oos-Mediterreense lande gebring en die Feniciërs het dit in die 3e eeu v.C. in Rome begin gebruik. Die Romeine het die tegniek van kruisiging vervolmaak totdat dit deur Konstantyn I in die 4e eeu n.C. afgeskaf is.

In Romeinse tye is kruisiging gebruik vir slawe, rebelse soldate, Christene en uitlanders. Die dood het ingetree na enigiets tussen ses ure en vier dae. Faktore wat die dood veroorsaak het was die effekte van geseling, verminking, bloeding en ontwatering. Die mees belangrike faktor was egter die progressiewe tekort aan asem wat veroorsaak is deur verhindering van die asemhalingsspiere. Die tekort aan suurstof het die skok wat kom na uitdroging vererger. Afsterwe was dan deur hartstilstand.

Die Romeinse wagte moes by die slagoffer bly totdat hy dood was, en dit was hulle gewoonte om die dood te bespoedig deur die onderbene te breek, die hart te steek, harde houe teen die voorkant van die borskas te gee, of ʼn rokende vuur aan die voet van die kruis te maak sodat die slagoffer versmoor.

Geskiedenis🔗

Kruisiging kan gedefinieer word as die metode waarby ʼn persoon gehang word, meestal aan die arms aan ʼn kruis of soortgelyke struktuur totdat hy dood is. Dit kan onderskei word van ʼn ou Joodse gewoonte waar iemand eers dood gemaak is deur steniging, en dan aan ʼn boom of paal gehang is.

Kruisiging was byna nooit gebruik in pre-Hellenistiese Griekeland nie, hoewel dit wel in die literatuur genoem word. Waar ook al die Romeinse leër gegaan het, is kruisiging beoefen en volgens historici het onderdrukte volke in weerwraak ook só met Romeine gedoen.

In die tyd van Christus het die Joodse wet die kruisiging as ʼn aanvaarde manier van teregstelling gesien, net soos steniging en verwurging, hoewel dit spesifiek as ʼn skandelike dood en ʼn vervloeking van God beskou is (Deuteronomium 21:23). Onder Romeinse heerskappy het kruisiging ʼn algemene gebruik in Palestina geword. In die jaar 4 v.c. het Varus nie minder nie as tweeduisend Jode gekruisig. Die geskiedskrywer Josephus vertel van massale kruisigings gedurende die Joodse oorlog.

Romeinse Kriteria vir Kruisiging🔗

Hoewel Romeinse burgerskap gedeeltelike beskerming gebied het teen teregstelling deur kruisiging, was dié beskerming nie absoluut nie. Die Republikeinse beginsels van gelykheid in terme van Romeinse reg, het begin verval gedurende die vroeg Romeinse tyd. ʼn Nuwe konsep van hoër en laer klasse het ontwikkel waarby lede van eersgenoemde klas selde gekruisig is. Kruisiging was gesien as straf vir slawe, maar dit is ook algemeen gebruik vir Christene, uitlanders en vrygemaakte slawe, ten spyte van Romeinse burgerskap.

Tydens die eerste eeu n.C. is groot getalle rebelle, meestal Jode, in Palestina gekruisig. Christus is gekruisig op die getuienis dat hy ʼn rebellie teen Rome aangespoor het, soos die selote en ander politieke aktiviste. Die Romeine was meer geïnteresseerd om politieke onrus te onderdruk as om kriminaliteit te beveg.

Die Kruisigingsproses🔗

In Persiese tye is kruisiging meestal gedoen aan bome of eenvoudige paalstrukture. Die Romeine het ʼn verskeidenheid van kruise gebruik, bv. ʼn X-vormige kruis, maar in die meeste gevalle is die Latynse kruis (†) of die Tau-kruis (T) gebruik. Die mees algemene kruis was 1.8 – 2.4 meter hoog, die dwarsbalk 1.5 – 1.8 meter lank en dit het tot 130 kg geweeg. Die regop deel van die kruis is meesal voor die tyd geplant en die dwarsbalk is daaraan vasgemaak nadat die slagoffer vasgespyker of vasgebind is. Soms is daar ʼn stut vir die boude aangebring en, minder dikwels, ʼn voetstuk.

Voor die Kruisiging🔗

Onder Romeinse wet is iemand wat ter dood veroordeel is, vooraf gemartel (hoewel nie vroue, Romeinse senatore of soldate nie). Die marteling was barbaars en is gedoen met houtstokke of ʼn kort sweep. Die persoon is kaal uitgetrek, aan ʼn paal vasgemaak en oor sy rug, boude en bene geslaan. Die Joodse wet het marteling tot 40 houe beperk. Die doel van die marteling was om die slagoffer aansienlik te verswak. Dit het vreeslike pyn, bloeding en diep wonde veroorsaak. Na die houe is die slagoffer gedwing om die dwarsbalk tot by die plek van kruisiging te dra. Romeinse wagte onder leiding van ʼn hoofman het die slagoffer vergesel, en was aan diens totdat die persoon gesterf het.

Die Kruisiging Self🔗

In Jerusalem was dit gebruiklik dat vroue die slagoffer ʼn pynstillende drankie aangebied wat van wyn en mirre of reukolie gemaak is. As hy nie reeds sonder klere was nie, is sy klere op hierdie stadium uitgetrek en moes hy op sy rug lê met sy arms langs die dwarsbalk. Die dwarsbalk is dan aan die arms vasgemaak met ysterpenne wat deur sy polse geslaan is, eerder as deur sy hande wat nie die liggaamsgewig kon dra nie sonder dat dit losgeskeur het. By geleentheid is die slagoffer onderstebo gekruisig. Die dwarsbalk en slagoffer is dan opgelig en aan die paal vasgemaak wat vooraf geplant is, en die voete is aan die paal vasgebind of vasgespyker.

Die soldate het die slagoffer se klere verdeel en gewag totdat hy sterwe. As daar noodsaak was vir ʼn vinnige dood, of om seker te maak dat hy alreeds dood is, is een of beide bene onder die knieë met ʼn stomp voorwerp gebreek. Na die dood is die familie toegelaat om die liggaam te verwyder en te begrawe nadat hulle toestemming van ʼn regter gekry het. Soms was dit die gewoonte om die lyk op die kruis te laat sodat dit deur diere en voëls opgeëet kan word.

Oorsake van Dood🔗

Die oorsaak van die dood by meeste slagoffers is ʼn gebrek aan suurstof in die bloed as gevolg van belemmering van asemhaling en van die bloedsomloop. Om aan die arms te hang bemoeilik asemhaling omdat die asemhalingsspiere nie doeltreffend kan werk nie. Wanneer spierkrampe dan begin het, is asemhaling verder bemoeilik omdat die slagoffer homself nie aan sy arms kon optrek nie.

Verligting van die asemnood deur die strek van die bene, wat die las op die arms en borskas sou verminder, word progressief moeiliker. Uiteindelik kan die borskasspiere nie meer gebruik word nie, en kan slegs die diafragma (middelrif) gebruik word om asem te haal. Verstikking is dan onvermydelik. Die suurstofgebrek verhinder die werking van die hart, en gevolglik kan die bloeddruk nie gehandhaaf word nie.

Die veroordeelde op die kruis het ʼn stadige dood gesterf, ʼn dag of meer, en hy het hoofsaaklik gesterf vanweë multi-orgaanversaking. Bloedverlies, ontwatering, en tekort aan suurstof in die bloed, dit alles veroorsaak dat die hart uiteindelik stop en die slagoffer sterwe.