2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Laat U Koninkryk Kom

Die Bergpredikasie van ons Here is nie maar net ’n “drie punte en ’n gedig” preek nie. Trouens, in die loop van ’n enkele preek raak Jesus meer as twintig onderwerpe aan. Dis die moete werd om aandag te gee aan al hierdie onderwerpe, maar hier bepaal ons ons aandag net by een van die onderwerpe, naamlik die Here se opdragte oor gebed. Om nog meer presies te wees, ons bepaal ons by een versoek in die Onse Vader. Toe die Here ons geleer het hoe om die hemelse God aan te spreek, het Hy ons geleer om te bid: “Laat U koninkryk kom; laat U wil ook op aarde geskied, net soos in die hemel” (Mat. 6:10). Baie van ons bid hierdie woorde al vir baie jare, maar hoeveel van ons weet wat Jesus met hierdie woorde bedoel het?

Om hierdie versoek in die Onse Vader te verstaan is dit nodig dat ons iets van die bybelse konsep van die “koninkryk van God” verstaan. Gelowige Jode het in die tyd van Christus die koms van die koninkryk van God afgewag (sien Mark. 15:43), maar wat het aanleiding gegee tot hierdie hoop? Die eerste hoofstukke van Genesis maak dit duidelik dat dit van die begin af God se plan was om Sy koninkryk op aarde te vestig. Maar tragies genoeg, toe die eerste man en vrou na die woorde van die slang geluister het, het Satan ’n indringer geword en ’n heerskappy van sonde op die aarde gevestig (sien Joh. 12:31; 14:30; 2 Kor. 4:4). God was egter nie hierdeur verras nie, en Hy het nie Sy oorspronklike plan laat vaar nie.  Die res van die Skrif is die geskiedenis van God se werk om dit wat deur sonde bederf is, weer te herstel. Dit is die geskiedenis van verlossing.

Baie geslagte na Adam het God aan Abraham belowe dat al die nasies van die aarde in hom geseën sal wees, en dat konings uit hom sal voortkom (Gen. 12:1-3; 17:6), en daardeur aangedui dat Sy verlossende doel steeds die plan vir die daarstelling van ’n koninkryk, insluit. Meer as vierhonderd jaar later, toe God Israel uit die land van Egipte uitgelei het, het hy hulle aangewys as “’n koninkryk wat My as priesters dien” (Eks. 19:6). Israel sou die openbaring van God se koninkryk op een klein gedeelte van die aarde wees. Die nasie sou ’n voorbeeld van Sy eskatologiese heerskappy oor die hele aarde wees. Voordat Israel die beloofde land Kanaän binnegegaan het, het Moses aan hulle gesê dat hulle ’n koning, deur God gekies, oor hulle sal aanstel (Deut. 7:14-20). Na die verowering deur Josua, en ’n lang periode van verval onder ’n reeks rigters (ca. 1400-1500 v.C.), het die volk van Israel Saul aangestel as koning oor hulle. Saul was egter ongehoorsaam aan God, en God het hom vervang met Dawid (1 Sam. 16).

Nadat Dawid as koning oor die hele Israel gesalf is (2 Sam. 5:3-4), het hy Jerusalem verower en die verbondsark daarheen gebring. Nadat God aan Dawid rus gegee het van al sy vyande, het Dawid die wens uitgespreek om ’n “huis” vir God te bou, ’n permanente tempel in die plek van die tabernakel (2 Sam. 7:1-3). God se reaksie hierop kan gevind word in 2 Samuel 7:4-16. Hier beloof God dat Hy vir Dawid ’n “koningshuis” sal bou en die koninkryk van Dawid se nageslag vir altyd sal vestig. God se plan om Sy koninkryk op aarde te vestig bereik ’n nuwe stadium met die daarstelling van ’n ewigdurende verbond met Dawid en Dawid se nageslag.

Toe die monargie van Israel begin agteruitgaan, het die Verbond met Dawid die middelpunt geword waarop die profete hul boodskappe van hoop vir die toekoms sou bou. Hulle het uitgesien na die koms van ’n nuwe Dawidiese koning, ’n Messias, wat ’n regverdige koninkryk sou vestig (byv. Jes. 9:6; 11:1-10; Dan. 7:13-14). Hulle het die koms van God verwag, om oor sy volk te heers (byv. Jes. 35:4; 40:9-10; Sag. 14:5). In een betekenisvolle teksvers sien Jesaja uit na die komende heerskappy van God: “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: ’Jou God is Koning’” (Jes. 52:7).

Toe Johannes die Doper en Jesus begin preek het: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Mat. 3:2; 4:17), het hulle gepraat van iets waarna die vrome Jode vir eeue lank al in afwagting uitgesien het. Toe Jesus deur die hele land gegaan het en die “evangelie van die koninkryk” verkondig het, het Hy die “goeie nuus” gebring van die koms van God se heerskappy soos deur Jesaja verwag (Mat. 4:23; 9:35).

Dus toe Jesus in die Bergpredikasie sy dissipels geleer het om te bid: “Laat U koninkryk kom; laat U wil ook op aarde geskied, net soos in die hemel” is daar reeds baie Ou-Testamentiese agtergronde tot hierdie konsep. Die Jode het reeds die koninkryk van God verwag. Tydens Jesus se tyd het die Jode selfs hul sinagoge dienste afgesluit met ’n gebed (die Kaddisj) wat opvallende ooreenkomste toon met hierdie gedeelte van die Onse Vader: “Verhewe en heilig is Sy groot naam in die wêreld wat volgens Sy wil geskep is. Mag Hy Sy koninkryk laat heers in jou lewe en in jou dae en in die leeftyd van die hele huis van Israel, spoedig en gou. Ons prys sy naam van ewigheid tot ewigheid. En sê hierop: Amen.”

Dié wat die Onse Vader se gedeelte oor die koninkryk lees binne die konteks van die hele boek Matteus, sal iets opmerklik waarneem. In sommige gedeeltes word van die koninkryk gepraat asof dit voor die deur is. Johannes die Doper sowel as Jesus het verklaar: “die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Mat. 3:2; 4:17). Elders praat Jesus van die koninkryk as ’n huidige werklikheid: “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom” (Mat. 12:28). Tog, in Sy opdragte aangaande die gebed het Jesus Sy dissipels geleer om te bid dat die koninkryk mag kom, asof dit nie alreeds hier is nie (Mat. 6:10). Die frase “laat U koninkryk kom” is parallel aan die frase “laat U wil geskied”. Trouens, beide hierdie frases, sowel as die frase “laat U Naam geheilig word” het presies dieselfde konstruksie in die Griekse teks wat gebruik word vir ons Afrikaanse vertalings. Daar is ’n verband tussen die drie versoeke. ’n Deel van die betekenis van die gebed vir God se koninkryk om te kom is dat Sy naam geheilig moet word en Sy wil gedoen moet word op aarde soos in die hemel. Dis nog nie ’n werklikheid nie, dus verwag die gebed ’n toekomstige omstandigheid. Hoe moet al hierdie verskillende maniere om na die koninkryk te kyk, versoen word?

Ons kan die Nuwe-Testamentiese lering oor die koninkryk beter verstaan as ons in gedagte hou dat vir die Nuwe-Testamentiese skrywers die term “koninkryk” (Grieks: basileia) meesal verwys na die totale heerskappy van God, eerder as na ’n spesifieke gebied waaroor Hy heers. Dit is ook belangrik om te besef dat vir die Nuwe-Testamentiese skrywers die koms van die koninkryk, of die heerskappy van God, nie op ’n enkele tydstip gebeur nie. Nee, die koms van die koninkryk behels ’n reeks gebeurtenisse wat oor ’n tydperk plaasvind. As Jesus verklaar dat die koninkryk van God reeds gekom het en tog nog kom, sê Hy dat die geprofeteerde laaste deel van die drama van verlossing reeds begin het maar nog nie voltooi is nie. Met ander woorde, Jesus sê dat ons nou in die tydperk van die laaste bedryf leef.

Die koninkryk het reeds gekom met die koms van Jesus. Aan Hom is reeds alle mag in die hemel en op aarde gegee. Maar ons moet nog steeds bid: “Laat U koninkryk kom” . Hoekom? Omdat daar op aarde nog dié is wat hulle nie aan Sy heerskappy onderwerp nie. As ons bid: “Laat U koninkryk kom” bid ons vir die voortgesette uitbreiding van God se heerskappy op aarde. Ons bid dat God al die harte van sy vyande sal bekeer, en hul sovêr sal bring dat hulle Jesus as die Here sal bely. Ons bid dat Hy dié wat weier om toe te gee onder Sy voete sal onderwerp (Ps. 110). Ons bid dat die dag sal kom wanneer alle boosheid, alle sonde, en alle opstand teen God finaal uitgeroei sal wees.

Ons moet egter ook verstaan dat as ons bid dat God se koninkryk moet kom en dat Sy wil moet geskied op die aarde soos in die hemel, dit alles met elkeen van ons begin. Ons moet onsself afvra of ons God se naam heilig. Ons moet onsself afvra of ons God se wil uitvoer. As Christene is ons die mense wat beweer dat ons onsself aan die heerskappy van Christus onderwerp het. Ons is alreeds burgers van Sy koninkryk, en Hy is reeds ons Koning. Maar is ons getroue onderdane? Of is ons opstandig? As ons wil bid soos die Here ons opgedra het, moet ons juis dié wees wat volgens die opdrag van die Here lewe.