Bron: Die Kerkblad, 1986. 1 bladsye.

Leer Om Te Gee

So ’n paar maande gelede is ’n ondersoek geloods onder jong­mense wat met hulle skooljare klaar is en wat nou in ’n groter mate die verantwoordelikheid het om uit hulle inkomste vir die kerk by te dra. Uit die ondersoek het dit geblyk dat onkunde en die vreemdheid van so ’n nuwe ver­antwoordelikheid die belangrikste redes is waarom jongmense kerk­like bydraes nie heelhartig gee nie. Dit is dus belangrik dat jongmense sal weet waarom ’n gelowige finansiële bydraes vir die kerk gee en dat hulle van kleins af moet leer om met blymoedigheid te gee.

Daar is diegene wat glo dat hoe meer geld ek vir die kerk gee hoe meer sal ek terug ontvang. Die teendeel is egter waar: Omdat ek as kind van God sulke oorvloedige gawes uit die hand van God reeds ontvang het, daarom gee ek uit erkenning en dankbaarheid terug aan God. Ons groot fout is egter dat ons altyd ons rykdom in terme van geld en besittings wil meet. In Laodicéa was daar eenmaal ’n gemeente wat gedink het dat hulle skatryk aan geld is, maar in die oë van Christus was hulle arm omdat hulle nie ryk in die geloof was nie (vgl. Openbaring 3:14-22).

’n Christen se kerklike bydrae is dus in dankbare erkenning en ’n belydenis dat die Here die eintlike Eienaar van al ons besittings is. Wat die mens besit om oor te heers, is deur God aan die mens gegee, want alles op aarde be­hoort aan die Here (Psalm 8 en 24). Die mens is dus nooit die absolute eienaar van sy besittings nie. Ons is rentmeesters in diens van God en dit beteken dat die Here, as die groot Eienaar, sy besittings aan ons leen en toevertrou. Ons moet dit met verantwoordelikheid hanteer, want as rentmeesters sal ons eendag rekenskap moet gee. Ons mag ons geld nie vermors en verkwis nie, want dan “steel” ons God se eiendom vir ons eie gewin.

Kerklike bydraes is nie ’n weggee nie, maar ’n teruggee met dankbaarheid. In 1 Kronieke 29 word vertel van die skenkings wat die volk Israel vir die bou van die tempel gegee het. Daarna volg Dawid se dankgebed en in sy gebed stel by dit baie uitdruklik dat alles wat hulle besit aan die Here behoort en dat hulle gawes net ’n teruggee is van dit wat hulle van die Here gekry het (Lees vers 11-16). In vers 9 van dié hoof­stuk word ook genoem dat die volk die gawes met hulle hele hart gegee het. Jou bydrae aan die kerk moet dus nie ’n afknyp fooitjie uit die oorskiet van jou inkomste en met ’n gevoel van teësinnigheid wees nie. Dit is ver­keerd om met jou kerklike bydrae te wag om te sien wat jy oor het en dan te gee. Inteendeel, jou bydrae aan die kerk behoort die belangrikste item op jou maande­likse begroting te wees. So moes Israel altyd die eerstelinge en die beste van hulle inkomste aan die Here geoffer het.

Wees eerlik en opreg met die hoeveelheid wat jy gee. Die Bybel leer dat elkeen moet gee ooreenkomstig die seëninge van die Here in jou lewe. Om te veel aan die kerk te gee en in armoede te leef, is onverantwoordelik en eensydig. Om te min te gee terwyl jy in staat is om meer te gee, is oneerlik en selfsugtig. Die kerk staan nooit soos ’n bedelaar en smeek om ’n aalmoes nie. Jou bydrae aan die kerk is ook nie ’n guns wat jy aan God bewys nie. Dink hieroor na wanneer jy weer sakgeld kry, of jou maandelikse betaling vir die koerante wat jy verkoop het en leer om aan God terug te gee.