Lewe in die Verbond en die Gesin
Lewe in die Verbond en die Gesin
Die gesin, ons eie huis: dit is waar die praktyk van ons lewe met die Here in die eerste plek uitgewerk word. Daar beleef ons die werklikheid van die verbond.
Of nie!
Dit kan ook gebeur. Daar kan soveel in die gesin verkeerd gaan. Soms deur skuld van die ouers; soms deur onvermoë; soms ondanks die goeie insette van die ouers. Vir bewyse hiervan kan ons maar net rondom ons kyk.
Laat ons eerder begin deur die Bybel oop te maak en te kyk hoe dit in die gesinne in die Bybel gegaan het.
Toe en Nou⤒🔗
‘n Mens kom op baie mooi dinge af. Paulus sê vir Timoteus dat as hy aan hom dink, sy geloof in beeld kom, soos dit eers in sy ouma Lois en daarna in sy moeder Eunice geleef het (2 Timoteus 1:5). En dit terwyl hy ’n heidense vader gehad het.
Ons lees ook ander dinge: Ons lees dikwels dat dit nie goed gaan nie. Dink aan die gesinne van die aartsvaders: Abraham stuur sy seun Ismael weg, Isak wat probeer het om Esau voor Jakob voor te trek. Jakob moet toesien hoe sy lieflingseun Josef deur sy broers in Egipte as slaaf verkoop word. Dink aan Eli wat deur sy slap optrede teenoor sy seuns Hofni en Pinehas, die gevolge daarvan ondervind. Ook Samuel, die vroom man, sien dat sy seuns nie sy weg bewandel nie. Hulle leef vir geld en hulleself. Hulle het ongetwyfeld ’n goeie verbondsopvoeding gehad. Die Bybel veroordeel Samuel ook nie, in teenstelling tot Eli. So kan ons verder vertel van die gesin van Dawid, van Josafat, van Hiskia, van Josia, almal voorbeelde van hoe dit nie vanselfsprekend is dat dit in Bybelse gesinne altyd goed gaan nie. Die Bybel swyg nie hieroor nie.
Ons hoef dus nie te dink dat die moeites van die lewe eie aan ons tyd is nie. Dit kan ons bemoedig. Want ons sou ‘n angsgevoel kon hê dat ons niks reg kan doen in ons opvoeding nie – jy twyfel oor alles wat jy doen. En gemeet aan dit wat jy sien by jou kinders, dat jy seker maar ’n minderwaardige figuur is, van geen waarde vir God nie. ’n Voëlvlug oor die gesinne in die Bybel laat ons sien: Ek is nie noodwendig beter of slegter as die vaders of moeders in die tyd van Abraham, Samuel of Dawid nie.
Wedergeboorte←⤒🔗
Ons moet liewer let op wat die eeue deur in die verbond dieselfde gebly het! En dan noem ek twee dinge, wat ook in die doopformulier na vore kom:
-
al ons kinders is in sonde ontvang en gebore;
-
daar is ’n daadwerklike wedergeboorte nodig voor hulle die koninkryk van God kan binnegaan.
Met die liewe babatjie in die wieg moet daar groot dinge gebeur as hy eendag die nuwe aarde wil beërwe. Van die kind self hoef ons nie te veel verwag nie. Daar moet ’n wonder plaasvind om hom of haar ’n lewende gelowige te maak! Anders sal dit nooit gebeur nie. Daarin is al ons kinders gelyk.
Maar ons kinders het ’n voorsprong bo ander kinders: hulle is gedoop! God was aanwesig by die begin van hulle lewe en hulle kry op hulle lewensreis pragtige beloftes saam. Ons kinders kry sy sorg, trou en liefde. Daar is ’n belofte van die Heilige Gees dat Hy die geloof en die wedergeboorte in ons hart wil werk. Die God wat beloftes gee, kan nie lieg nie. Op hierdie belofte kan jy terugval, jou lewe lank. Die watermerk van jou doop gaan nooit van jou voorkop af nie. Dit is die voorsprong om te leef in die verbond!
In die Gesin←⤒🔗
As ons nou die bostaande in praktiese terme wil vertaal vir ons gesinne, moet ons na die volgende paar trefwoorde kyk:
Vertroue←↰⤒🔗
God is die eerste in ons kinders se lewe. Hy het die eerste woord gespreek: Ek wil jou Vader wees. Op hierdie eerste woord bou jy jou hele opvoeding. Dit verlos van alle krampagtigheid en angs. God gooi ons nie aan die diep kant in om ons te laat swem nie. Hy begelei ons. Die groot Reisleier in ons gesinslewe. Jy mag rustig en ontspanne leef.
Gebed←↰⤒🔗
Juis omdat ons in die verbond volledig op die Here aangewys is, is die gebed onmisbaar. Daarin dra jy jou kinders aan die Here op. Met jou kinders oor die Here praat is belangrik. Met die Here oor jou kinders te praat net so goed. Die gebed is nie sommer ‘n hou in die lug nie. Jy spreek God in sy heiligdom aan op sy eie beloftes. Jy bid vir die vervulling daarvan.
Nee, ons het nie soveel vertroue in ons kinders nie. Al biddend spreek ons ons vertroue in die Here uit. Hy is in staat om jou kind tot geloof en bekering te bring. Dit bevry jou van krampagtigheid. Die Here moet dit doen, nie jy nie.
On-Vanselfsprekendheid←↰⤒🔗
Jy het nie soveel vertroue in jou kinders nie. Dit is nie lelik nie, maar realiteit. Jy gaan nie van die veronderstelling uit dat dit vanself met jou kinders sal goed gaan nie. Daar bestaan nie ’n roltrap van doop na geloofsbelydenis nie. Die voorbeelde in die Bybel leer definitief iets anders. Samuel het ongetwyfeld vir sy seuns ook ander verwagtinge gehad. Teleurstelling kan nie voorkom word nie. Dis ook nie goed om te ongeërgd deur die lewe te gaan, asof die probleme altyd net by ander is nie. Jy kan jou kind nie geloof gee nie. Jy staan des te meer verwonderd as jou kind tog wel sy hart vir die Here gee. Ook in praktiese beslissings is ’n gesonde dosis wantroue in jou kinders gepas. Byvoorbeeld as jou seun alleen saam met sy meisie op vakansie wil gaan. Dan sê hulle, as jy beswaar maak: “Julle vertrou ons nie!” En dan sê jy: “Korrek, jy is ’n kind wat uit my voortgekom het, een van my soort. Juis daarom”.
Ongeveinsdheid←↰⤒🔗
In die verbond lewe is om in verbondenheid met die lewende God te lewe. Dit kan dus per definisie nie ’n saak wees wat slegs op Sondae of by tafelgebede sigbaar word nie. Lewende verbondenheid met God sal inhou dat jy jou geloof onder woorde probeer bring, dat jy as vader en as moeder oor jou eie geloof durf te praat. Praat oor ons goeie en slegte tye, oor ons vertroue, maar ook oor ons twyfels en onsekerhede.
In jou gebede moet dit blyk dat daar ’n lewende verhouding met die Here is. Dit moet veral blyk dat jy nie in twee wêrelde leef nie: Die een met God, die ander sonder. Die wêreld behoort aan die Verbondsgod. Daarom moet jy belangstel in die wêreld waarin jou kinders leef. Wat is vir hulle mooi, watter musiek hou hulle van, waaroor praat hulle, waarna kyk hulle? En daardie lewe betrek jy dan in die omgang met die Here. Nee, opvoeding word dan verseker nie makliker nie, maar wel eerliker, meer eg. Kinders weet gou genoeg of dinge opreg of skyn is.
Ernstig-Wees←↰⤒🔗
Hierdie sluit by die vorige aan. Dit is wesenlik vir die verbondslewe in die gesin dat daar ’n riglyn bestaan. Dat jy in alle erns daarna soek en toon dat jy besig is met die plek wat die Here in jou huis het. Dit kom nie sommer vanself nie. Jy moet daaroor nadink. Jy kan dit toepas op TV kyk, jou Sondagsviering, partytjies, jou omgang tussen ouers en kinders. So word die verbondslewe met die Here ook konkreet.
Konkrete Realiteit←↰⤒🔗
En hiermee wil ek eindig. Die verbond is ’n lewendige werklikheid. Die Here wil met ons en ons kinders omgaan. Dit is ’n groot wonder. En Hy wil dan ook in jou huis bly. En Christus wil in jou hart woon. So naby kom die werklikheid van die verbond.
In die eerste plek is dit baie mooi dat jy op jou klein plekkie met die hemel verbind mag wees. Dit mag vir u en vir my stimuleer om besig te wees in gebed, in sang, in ons omgang met God se Woord.
Stiltetyd is belangrik. Die Here Jesus het ons verwys na ons binnekamer vir ons verborge omgang met ons God. Maar laat daar ’n duidelike verbinding tussen ons binnekamer en die ander vertrekke van ons huis wees! Dan sal die geur van Christus ons huis deurtrek. Dan sê ons saam met Josua:
...maar ek en my huis, ons sal die Here dien.Josua 24:15
Dit is ’n belydenis, maar ook ’n opdrag. ’n Opdrag wat baie werk van ons vra.
Maar God gee alles wat nodig is. Hy hou niks terug nie. Hy laat ons nie kortkom nie.
So word die lewe in die verbond ’n fees, elke dag weer.