Bron: Kompas, 2005. 2 bladsye.

Luister na die Sleutel

sleutel

Kom ons stel ʼn gereformeerde Top Tien van die mees bespreekte sake in ons lewens op. Gesondheid op nommer 1? Of besig-besig-besig by die werk en in die kerk? Huis en vakansies op nommer 2? Of die motor en die TV op ʼn gedeelde tweede plek? Watter plek sal die preek inneem? As ons die stories kan glo, het die preek vroeër ʼn hoë plek ingeneem. Ek weet van verskillende mense waar die preek nou ook nog elke week twee keer uitgebreid bespreek word.

Nee, dit is nie my taak om riglyne te gee oor hoeveel keer ons oor die preek moet praat nie. Dit is wel my taak om die belangrikheid van die preek in die raamwerk van die liturgie aan te gee. En dit ís belangrik. Daar word soms gesê dat die preek die hart van die gereformeerde erediens is, die kragsentrale vir die nuwe week. Dit is ’n sterk uitdrukking. Dit wys daarop dat die preek net so belangrik is vir ’n Christen, as gesondheid vir ’n goedfunksionerende persoon of as petrol vir jou motor. ’n Siek mens funksioneer nie goed nie en ’n motor sonder petrol staan net sinloos ’n parkeerplek vol. Funksioneer u goed sonder ’n preek? Voel dit asof u sinloos geparkeer staan as u nie op Sondag die Woordverkondiging hoor nie?

Daar is in die verlede al baie oor die karakter van die prediking gepraat en geskryf. Vir Calvyn was dit baie belangrik: hy noem die preek die eksklusiewe middel waardeur ons die heil in Christus deelagtig word. Ander het meer aardse gedagtes gedink, soos die stadsbestuurders van Enkhuizen en ander plekke in Nederland, waar ’n sandloper op die preekstoel gestaan het, sodat die predikant nie te lank preek nie. In Amsterdam was daar selfs ’n boete vir die predikant wat nie betyds die “Amen” kon inkry nie! Uit eie ervaring weet ons almal dat sommige lang preke verby is voordat jy dit besef. Ook andersom: ’n kort preek met baie herhalings vat altyd te lank.

In die vorige hoofstuk het ek geskryf oor die skriflesing in die erediens. Baie van die dinge wat ek daar genoem het, geld ook vir die preek: deur die geskiedenis is daar wisselende belangrikheid aan geheg. Vanaf die Reformasie neem die preek weer ’n groot plek in die liturgie in. Die “Verbi Divini Minister” (dienaar van die Goddelike Woord, m.a.w. predikant) bedien die Woord. Hy dien ook die gemeente, deur die Woord aan haar uit te lê en toe te pas, om daaruit troos en vermaning aan te bied.

Ons mag nie onderskat wat besig is om hier te gebeur nie. Ons mag dit ook nie normaal vind nie. Want terwyl hy so dienend besig is, open hy die hemeldeur vir mense wat die evangelie en/of vermaning aanneem en hy sluit die deur vir hulle wat die boodskap verwerp of ignoreer. Dit is sy amptelike taak. Die gemeentelede se taak is om by elke preek (vervelig of boeiend, prakties of teoreties, geskik vir kinders of slegs vir die geoefende luisteraar) te sien dat die deur oopgaan. Dit is ’n groot werk om die deur oop te maak. Dit is ook ’n groot werk om die deur te sien. Aktiwiteit. Niemand mag sê: “Dit het niks vir my beteken nie” – want die ampsdraer het wel die deur oopgesluit – of toe gesluit.

Kan u die liturgiese betekenis hiervan sien? Op die preekstoel staan nie maar net Jan, Willem, Dick of Henk nie, nee, daar staan ’n sleuteldraer. En in die gemeente sit nie maar net Marieke, Hans of Ellen nie. Nee, daar sit profete, priesters en konings wat ’n uitsig kry op die hemelse heerlikheid. Dit is ’n swaar verantwoordelikheid vir die preker en die luisteraar! Vir die voorganger: maak hy die deur net op ’n skrefie oop of gooi hy dit wawyd oop? Sluit hy die deur versigtig, sodat hy nie die mense seer maak nie of gooi hy dit af en toe hard toe? Dit is belangrike vrae. En vir u, die luisteraar: probeer u om deur die smalste skrefie in te sluip? Of wag u op ’n deurtjie waarvan u dink dat dit geskik is vir u? Of stap u deur die amptelik geopende deur met die houding van: “Los maar, ek kan dit self regkry”?

oop deur

Nou is ek tog besig om ’n riglyn te gee, terwyl dit nie my bedoeling was nie. So gaan dit outomaties met ’n preek: dit vra om aktiwiteit. Daar mag nie ’n preek gehou word wat niks teweeg bring nie. Daar mag ook nie ’n preek ontvang word sonder dat u ’n bietjie meer uitsig op die hemel gekry het nie. Wanneer ons dan moet sê dat die preek niks beteken het nie, dan mag ons positiefkrities na die predikant kyk. Maar dit sal goed wees as ons dit eers doen wanneer ons onsself waargeneem het. Hoe het ek vanoggend in die kerk gesit? Met my oë gerig op die hemeldeur wat vir my moes oopgaan?

Wanneer ons dan op ’n positiefkritiese manier na die prediker kyk, moet ons ook onthou dat nie elke predikant dieselfde gawes gekry het nie. Elke luisteraar het ook nie dieselfde vermoëns nie. Daar bestaan ’n spreuk wat sê: “’n Goeie outeur is net so skaars soos ’n goeie leser.” Ons sou dit ook kon toepas op die prediker en die luisteraar. Dit is ’n kompliment vir die gemeentes waar daar baie goeie preke gehoor word. Daar is dus ook baie goeie luisteraars.