Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Luister, Systap of Ignoreer

Die Nuwe-Testamentikus Thomas Schreiner skryf1dat hy onlangs in gesprek met ’n kollega gesê het: “Ek sou graag met jou standpunt wou saamstem. Maar dit lyk vir my ’n mens sal óór die teks van die Bybel moet spring om daarby uit te kom.” Waarop die kollega geantwoord het: “Jy is reg. Máák daardie sprong.” 2.

Hierdie gesprek is tekenend van die akademiese en kerklike debatte van ons tyd. Voorheen was dit basies ’n debat tussen twee hoofgroepe: aan die een kant hulle wat die Bybel as God se Woord erken en die gesag daarvan handhaaf (kom ons sê: die gereformeerde standpunt); aan die ander kant hulle wat die Bybel as ’n gewoon menslike boek sonder enige besondere gesag beskou (merendeels binne die raamwerk van die histories-kritiese denke). Hierdie debat is natuurlik nie verby nie. Dit sal seker bly. Hier aan die begin van die 21ste eeu word dit lewend gehou onder meer deur die sogenaamde Nuwe Hervorming.

Maar in die afgelope dekade of wat het daar in gereformeerde geledere (en ook daarbuite) ’n ander debat ontspring. Die debat gaan gewoonlik oor praktiese (kerklike en etiese) kwessies soos die wyse van Nagmaalviering, en ja of nee vir vroue in die amp. In ’n sekere sin is dit ’n gesonde debat, want dit is nie ’n debat tussen gelowiges en ongelowiges nie. Dit is ook nie ’n debat tussen fundamentaliste en Skrifkritici nie, hoewel sulke beskuldigings soms in die hitte van die debat oor en weer geslinger word - ten onregte. Albei “partye” is gelowiges wat by dieselfde belydenis staan. Albei glo onwrikbaar dat die Bybel die Woord van God is en dat dit vir ons die maatstaf is van alles wat ons moet glo.

Waarom dan debat en meningsverskil? Omdat dit gaan oor die vraag oor hoe die Bybel en die praktyk by mekaar uitgebring moet word. Hierdie debat is nodig, want hoewel die Bybel vir alle tye en omstandighede geld en op elke situasie toepaslik is, gee dit nie altyd klinkklare antwoorde vir elke situasie nie. Die Here se Woord is vir ons soos ’n lamp wat voor ons skyn, soos Psalm 119:105 sê, in die lig waarvan ons dan self moet sien hoe dit in die praktyk toegepas moet word. Daarom is en bly dit die taak van gelowiges om vir hulle tyd Skrif en praktyk by mekaar uit te bring.

Maar hoe bring ’n mens Skrif en praktyk by mekaar uit? Waar begin jy - by dit wat die Bybel sê, of by die eise van die praktyk? Aan die een kant is daar diegene wat die praktiese situasie as vertrekpunt neem. Aan die ander kant diegene wat die Skrif as vertrekpunt neem. Die argumente wat die “praktyk-groep” aanvoer, klink waterdig: Ons kan nie ons oë toeknyp vir die eise van ons tyd nie. Ons moet deeglik kennis neem van wat in die wêreld aangaan en dáármee na die Skrif toe gaan. Anders hang ons teologie (en ons geloof) in die lug en verloor ons kontak met die werklikheid. Hiervan kan selfs die “Bybel-groep” kwalik verskil. Want wie wil nou sy oë vir die werklikheid toeknyp en sy kop soos die spreekwoordelike volstruis in die sand steek? Maar, sê die “Bybel-groep” dan, hoewel die praktyk in ag geneem moet word, mag dit nooit ons uitgangspunt word nie. Dit word jou uitgangspunt as jy byvoorbeeld sou redeneer:

  • Homoseksualisme het in ons samelewing so ’n staanplek gekry dat ons dit nie meer as sonde kan bestempel nie. Die Bybel bevat nou wel duidelik uitsprake teen homoseksualisme, maar op ’n manier moet ons daarby verby kom. Natuurlik kan ons nie dit wat die Bybel sê, ignoreer nie. Maar sonder om ons belydenis prys te gee, kan ons tog maniere vind om, soos Thomas Schreiner se kollega dit stel, óór die teks van die Bybel te spring. Die praktyk van ons tyd dwing ons daartoe.
  • Of: Die vrouevryheidsbeweging het in ons tyd soveel momentum gekry dat ons nie meer kan sê dat die man die hoof van die vrou is nie en dat sy aan hom onderdanig moet wees nie. Om te sê dat vroulike lidmate nie in die kerk mag leer of die leiding mag neem nie, sal in ons tyd eenvoudig onaanvaarbaar wees. Daarom, al sê die Bybel ook so, sal ons op ’n manier daarby verby moet kom. Ons belydenis weerhou ons daarvan om die Bybel te ignoreer, maar ons moet ’n geldige rede vind om óór daardie tekste te spring.

Watter “geldige redes” kan gevind word om óór ’n Bybelteks te spring? Van die redes wat aangevoer word, is die volgende:

  • Dit wat in die Bybel staan, is bloot kultureel bepaald. Ons kulturele situasie is anders en daarom geld dit nie vir ons nie. Hierteen teken die “Bybelgroep” beswaar aan: die Bybel is nie kultureel bepaald nie, nog minder is dit bloot kultureel bepaald. Dit is wel gerig op ’n sekere kultuurhistoriese situasie, maar is nie daarin vasgevang nie. Die Bybelleser se taak is om verby die kultuurhistoriese inkleding van die teks te kyk sonder om verby die teks te kyk.
  • Dit wat in die Bybel staan, is bedoel as ’n blote oorbruggingsuitspraak wat net geldig was totdat die situasie verander het. Die situasie het nou so verander dat ons die brug kan oorsteek en ’n ander reëling tref as wat dit wat in die Bybel staan. Die verbod in die Bybel dat vroue in die kerk mag leer of die leiding mag neem, was byvoorbeeld bedoel vir ’n tyd waarin sulke optrede deur vroue onaanvaarbaar sou wees. In ons tyd is dit nie meer onaanvaarbaar nie en daarom geld die verbod nie meer vir ons nie. Die “Bybel-groep” se beswaar: Waar gee die Bybel te kenne dat dit bloot oorbruggingsuitsprake bied? Buitendien, wie besluit waar in die Bybel ons met blote oorbruggingsuitsprake te doen het en waar nie? Wat keer ’n mens dan om ook die verbod op homoseksuele dade, onsedelike optrede, poligamie en afgodery as blote oorbruggingsuitsprake te beskou?
  • Die Skrifdeel was bedoel om net vir die eerste lesers te geld. Die “Bybel-groep” sal sê: Vir sekere Skrifdele is hierdie stelling natuurlik waar - in dié gevalle waar die Skrif self so te kenne gee. Maar ons mag nie ons eie praktiese situasie as norm gebruik om self te besluit watter dele van die Bybel (nog) vir ons geld en watter nie. Want dan is ons kort voor lank by die punt waar ons ons eie Bybel saamstel soos dit ons in ons situasie pas.
  • Ons moet die teks sien deur die bril van die liefde van God in Christus. Die versoening wat God in Christus vir ons bewerk het, maak alle opdragte in die Bybel relatief. Die “Bybel-groep” se antwoord: Hoewel hierdie benadering baie vroom klink, kan dit tog nie deug nie. Nie omdat dit die versoening en die liefde van God in Christus sentraal stel nie, maar omdat dit nie daarmee rekening hou dat God se openbaring nog groter en ruimer as net sy liefde en versoening is nie. So groot as wat sy genade en liefde is, so groot is ook sy geregtigheid en heiligheid, sy almag en heerskappy, sy grootheid en wysheid. Om God se openbaring te wil laat opgaan in sy liefde en genade en versoening, kom dus neer op 'n verskraling van sy Woord. In Artikel 2 van die NGB bely ons tog uitdruklik dat God in sy Woord nie net die verlossing in Christus aan ons openbaar nie, maar ook aan ons bekend maak wie Hy is en wat sy wil vir ons as verlostes is. Ons kan dus nie die tekste waarin God sy wil vir sy kerk bekendmaak, “systap” en net op die genade-tekste fokus nie. Dan maak ons die een kant van die tweesnydende swaard stomp.

Die Sola Scriptura-uitgangspunt waarin ons sedert die Reformasie veranker is, stel dit bo alle twyfel dat die Skrif ons een en enigste vertrekpunt moet wees. Vanuit die Skrif moet ons na die praktyk beweeg, en nie andersom nie. Om dit te kan doen en dit so te doen dat ons nie God se Woord geweld aandoen nie, vra wysheid - ’n wysheid ver bo dit wat enige mens in homself kan hê. Daarom moet ons, diep bewus van ons eie swakheid en gebrek aan insig, die Bybel biddend lees. Ons moet bid dat Hy deur sy Heilige Gees ons gees en verstand so sal verlig dat ons sy Woord reg sal verstaan, soos Hy dit bedoel. Dat ons dit sal verstaan as sy Woord vir ons tyd. En dat ons dit, soos Hy dit bedoel het, in die praktyk van ons lewe sal toepas. En dan moet ons die Bybel léés.

Endnotes🔗

  1. ^ An Interpretation of 1 Timothy 2:9- 15. A Dialogue with Scholarship, Hoofstuk 4 van die boek getiteld Women in Church, onder redakteurskap van AJ Kõstenberger en TR Schreiner, Grand Rapids, 2005. 
  2. ^ Eie vertaling in Afrikaans