2 bladsye.

Lukas 1 - Elisabet die Grenswagter

ʼn Tweede Sara🔗

Sagaría was ʼn grenswagter, soos ons in ʼn vorige artikel gesien het, maar hy was nie die enigste nie. Ook sy vrou Elisabet het die ware adventsverwagting gehad. Hoe het sy die dinge verwerk? Ons sê mos man en vrou is één. Daar kan ewewel ook in ʼn goeie huwelik tussen twee mense wel deeglik ʼn verskil wees in hulle stand van die geestelike lewe.

Ons sien in Elisabet ʼn tweede Sara, wat op hoë ouderdom ʼn kind ontvang het as ʼn wonderlike geskenk van die Here. Dit is duidelik dat die Here met die kind ʼn plan gehad het. Die geboorte van dié kind was ʼn besondere mylpaal in die heilsgeskiedenis, soos die geboorte van Isak ook was. As dit van menslike vermoë afgehang het, sou die volk Israel nooit ontstaan het met ʼn hoogsbejaarde Abraham en die onvrugbare Sara nie. Nou is daar ʼn Godswonder ten grondslag van die geboorte van die volk.

So gaan dit telkens in die geskiedenis. Die ontstaan en voortbestaan van dié volk berus enkel en alleen by die wonderlike dade van God. Uit dié volk sal die Messias kom. Aan Sy geboorte lê daar ʼn nog groter wonder ten grondslag: dit sal die verlossing bring op grond waarvan verlore Adamskinders met God versoen word. Praat van wonders! Geen menslike redenasie of berekening kan dit bedink nie. Sy koms kan net verstaan word as ons dit sien as ʼn wonder van die liefde van God.

Sien u dit ook so? Of het u ʼn probleem daarmee? Miskien dink u aan die aanstaande Kersfees, en erken dat God se liefde daarin geopenbaar word, maar u vra: is dit ook vir my? Sara se geloof destyds was swak: dit lyk asof haar lag die Here uitlag. Die reaksie van Sagaría was ook vol twyfel: wat ons betref is dit nie meer moontlik nie. Die swak geloof van sy kinders destyds en ook nou, verhoed ewewel nie die Here om sy raad uit te voer nie. Daarom word dit tóg Kersfees. So laat die Here selfs ʼn swak en aangevegte geloof deel in die seën van Kersfees. Ook ʼn swak en aangevegte geloof omhels die volkome Saligmaker. So kan dit ook vir ons Kersfees word, want God is vandag nog ʼn God van wonders.

Vyf maande afgesonder🔗

Elisabet gaan moeder word. Sagaría het dit waarskynlik skriftelik aan sy vrou meegedeel, nadat hy sy diens in die tempel afgehandel het en huis toe is. God gaan groot dinge doen. En dit ís so; Elisabet word swanger. Elisabet sonder haar vyf maande lank af. Waarom? Het sy haar vir die mense geskaam? Sou sy die tyd nodig gehad het om dinge te verwerk en van die werklikheid van haar geseënde toestand oortuig te word? Dan sou haar afsondering verklaar kan word as sou sy self ook tyd nodig gehad het voordat sy op God se weë ‘amen’ kon sê.

Ek is dit met Calvyn eens wanneer hy sê dat Elisabet oortuig was van die belofte van God én diep onder die indruk van die straf wat haar man weens sy ongeloof moes dra. Sy trek haar terug uit die geloofsoortuiging dat die Here haar smaad onder die mense weggeneem het. Die Here het haar aangesien, na haar omgesien. Sy het haar afgesonder om te voorkom dat sy die voorwerp van ligsinnige praatjies sou word. Die dinge wat die Here gedoen het, was so kosbaar; ander moet hulle vuil hande en ligsinnige woorde daarvan afhou. Jy hoef immers nie jou pêrels voor die varke te gooi nie.

Waarom vyf maande? Wanneer dit na dié tyd sigbaar word dat sy swanger is, sou ander wat die Here vrees des te meer daardeur aangespoor word om God groot te maak. En daarby kan dit wellig ook van fyngevoeligheid getuig dat sy op dié manier haar stilswyende man se kant kies en hom wil bystaan.

Smaad weggeneem🔗

Die Here het my smaad onder die mense weggeneem, sê Elisabet. Dieselfde woorde as dié van Ragel by die geboorte van háár eerste seun, Josef (Genesis 30:23). Elisabet verkeer in blye verwagting. Ook in tweeledige sin, want daar is ook adventsverwagting by. God is besig om groot dinge te doen. Die weg na die koms van Christus word gebaan; Hy sou die smaadhede van sy volk dra (Romeine 15:3). “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek” (Jesaja 25:8).