Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Lukas 1:46-55 - Maria Loof God vir Sy Groot Dade

Teks: Lukas 1:46-55 Maria, die nederige, begenadig

Maria, ’n jong meisie van so 14, 15 jaar verwag, die Saligmaker. En dan sing sy ’n loflied: “My siel maak die Here groot en my gees is verheug in God, my Saligmaker”. Sy blyk die HERE jarelank al te ken. Want haar loflied kom grootliks uit die Bybel, uit die Ou Testament. Dit is gedeeltes uit die lofsang van Hanna in 1 Sam 2, uit die lied van Moses uit Deut 32 en Ps 113 en sy pas dit toe op haar en haar volk se konkrete omstandighede en sien hoe God dit vervul het. Maria het ook die geskiedenis van die kerk geken. In die geskiedenis van die kerk het God nog altyd die hoogmoediges afgewys, maar het Hy na die kleintjies, die wat gering beskou word, omgesien. Sy glo dat God altyd so gewerk het. En so werk Hy ook in haar tyd nog: Hy verhoog die nederiges, die hongeriges, maar Hy verneder die wat baie van hulleself en hulle rykdom dink. Maria maak nie hier ’n politieke teenstelling nie. Sy praat oor die ou stryd van die begin af, die stryd tussen die nakomelinge van die vrou en die nakomelinge van die slang.

Wie die hoogmoediges is🔗

Wie is die nakomelinge van die slang? Dit is mense wat ryk en magtig geword het en toe begin dink het dat hulle God nie meer nodig het nie. Maria noem hulle ‘hoogmoediges’. Hulle glo: Ons het nie behoefte aan kwytskelding van sondes nie. So het Hanna ook gepraat van die hoogmoediges buite die kring van die verbond, die Filistyne, die onbesnede vyande van God en sy volk. Maar sy het ook verwys na die hoogmoediges binne die kring van die verbond, na mense soos Peninna, en na ampsdraers binne die kerk soos Hofni en Pinehas. Hulle het hulle teen God verhef. Maria volg Hanna as sy praat van die “hoogmoediges” in haar dae.

Daar was die hoogmoediges buite die kring van die verbond: Herodes, tiran oor God se volk, maar ook die Romeinse keiser en sy oorheersing. Dink aan die hele inskrywing, die volkstelling waarvoor die swanger jong Maria saam met Josef na Betlehem moes reis. Die keiser van Rome nie moes nie ’n sent belasting van die vertrapte Jode ontbeer nie.

Godvresendes soos Josef en Maria is daardeur verneder, pynlik bewus gemaak dat hulle die Romeine se slawe is. Baie erger was egter die “hoogmoediges” binne die verbondskring, die Fariseërs en Sadduseërs, skrifgeleerdes wat sonder God se genade deur die lewe wou kom.

Teenoor God se genade stel hulle hul eie godsdiens. Gewone Godvresendes het gely onder sulke kerkleiers! Hoogmoed verwys hier na die onwil om iets van God aan te neem.

Hoogmoediges en nederiges🔗

Teenoor hierdie hoogmoediges stel Maria die nederiges. ‘Nederige’, net soos ‘hoogmoedige’ dui nie op ’n karakter-eienskap nie. Die nederige is die kleintjie, dié een wat nie in tel is nie, wat eintlik niks in te bring het nie. Sulke nederiges is klein in hulleself omdat hulle die mag van die sonde in hulle lewe en in die lewe van die hele wêreld terdeë ken.

Hulle is oortuig: Net God kan iets daaraan verander. En daarom erken hulle hulle diepe afhanklikheid van God.

Daarom was daar by die geringes ’n hartstogtelike verlange na die Verlosser en na die verlossing wat God in Hom beloof het. En nou het God Maria bestem om hierdie Verlosser en Heiland onder haar hart te dra en later in die wêreld te bring. Daaroor kon sy nie langer swyg nie.

Sy was begenadig. Nie “vol van genade” nie. Dit maak die Roomse daarvan. Hulle glo dat Maria allerhande genadegawes ontvang het wat sy aan die kerk kan uitdeel. Daarvoor vereer hulle haar; so word sy die belangrikste mens op aarde. Dit is mensverheerliking. Nee, Maria jubel oor God se guns, dat Hy haar uitgekies het as instrument om die Verlosser van die wêreld te baar. Sy is klein, maar deur God ryk gemaak en met diepe vreugde vervul. Hy prys die Drie-enige God en noem Hom haar ‘Saligmaker’. Dit is ‘Heiland’.

Heiland beteken: Hy bring heil, dit is genesing van ons geskonde lewe. God bevry met haar Kind ons van alle bande van die sonde. In haar Kind sal gesien word hoe God na die geringes omsien, dat Hy groot dinge aan hulle doen.

Maria gebruik voortdurend die verlede tyd van die werkwoord: God HET haar aangesien. Hy HET groot dinge aan my gedoen. Hy HET deur sy arm kragtige dade gedoen. Hy HET hoogmoediges se gedagtes verstrooi. Hy HET maghebbers van hulle trone afgestoot, ens. Ja, Herodes was nog op die troon, Augustus nog keiser in Rome en die inskrywing aanstaande. Die Fariseërs het nog die botoon in die kerklike lewe gevoer.

Tog het God na haar omgesien. Sy het God se beloftes gehad. En dit sal Hy met die daad waar maak. Omdat Hy haar begenadig het en sy die Messias verwag, sal al die ander dinge sekerlik ook waar word.

Begenadiging van die hele kerk🔗

Maria dra die Heilige, Hy wat Seun van God sal heet, onder haar hart, maar sy leef nie individualisties nie. Sy is geen gelowige op haar eentjie nie. In die uur van haar hoogste vreugde is sy met geloofsbande aan God se volk verbind.

Sy weet dat dit vir God gaan om die verlossing van sy volk, die volk wat nie net onder die Jode te vind is nie, maar kom uit alle geslagte van die aarde - die kerk van alle eeue. Maria sien al hoe God dit in sy Seun vir sy volk opneem. vs 50 sê: “En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.” Vir hulle almal saam, waarvan sy deel is, “het Hy deur sy arm kragtige dade gedoen.” Die bevryding uit Egipte, die verlossing deur rigters en konings, die terugkeer uit Babel... dit ALLES het daartoe gedien dat God sy plan verwesenlik het: die KOMS VAN DIE HEILAND! En nou sal die groot Seun van Dawid op sy troon gaan sit en sy genadeheerskappy sal uitdy oor die hele wêreld. Hy sal nederiges verhoog en hoogmoediges neerstoot.

Soos Hy aan Abraham belowe het🔗

Sy verdrukte volk ontvang vrede, shalom. Maar Hy bring oordeel oor almal wat sy volk verdruk. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het hy verstrooi. Ja, God het woord gehou. Hy is ’n getroue God. Hy het dit aan Abraham sy vriend belowe. En nou staan Hy by sy vriend se nakomelinge wat in die geloof op Hom vertrou. Wat ’n troos vir God se kerk in 1996. Die wat op God vertrou, wat in Jesus Christus glo, word dikwels verneder.

Ons voel dikwels of ons in hierdie tyd en in ons moderne samelewing geen plek het nie. Ons voel dat ons niks in te bring het nie, dat ons liewer miskien maar moet swyg. Maar die werk van God in Christus gaan deur. Hy het gekom. Hy het sy versoeningswerk op aarde afgehandel. Hy is nou Koning op die troon van Dawid. Daarom mag ons nie swyg nie.

Daar is alle rede om te sing, om aan God ons hoogste lof te bring. Want net soos Maria mag ons van die toekoms praat asof God sy kinders reeds tot heerlikheid gebring het: Hy is trou! Hy het die mense wat hulle teen Hom verhef reeds in hulle gedagtes verstrooi. Hy het hulle saam met die skynheiliges in die kerk reeds verneder. Hy het sy kinders reeds verhef. Geen hede of toekoms kan die verheerliking van die gelowiges verhinder nie!