Bron: Nader Bekeken, 2011. 4 bladsye. Vertaal deur Lize Kampman .

Lukas 2:14 - God het die Wêreld Liefgehad!

Ere aan God in die hoë. Vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae.

Lied 367 uit Liedboek van die kerk en Skrifberyming 68

In die nag waarin Jesus gebore is, het ʼn engel die nuus vir die herders gebring. ʼn Groot hemelse leërmag het by die engel aangesluit om God te prys. Watter woorde het daardie leërmag gebruik? Die grootste deel van hulle teks word nie betwis nie, maar daar is uiteenlopende menings oor die laaste woord.

Een Letter Verskil🔗

In die Griekse teks lê die knelpunt by een letter. Is die hemelse leërmag se laaste woord eudokia of eudokias? Het hulle van ‘eudokia’ (=welbehae) gepraat? In daardie geval sou ʼn woord-vir-woord-vertaling van die Grieks die volgende resultaat lewer: “Eer in die hoogste aan God en op aarde vrede in mense welbehae.” Dit is die weergawe wat in die ou Statevertaling gevolg word: “Eere zij God in die hoogste hemelen, en vrede op aarde, in die menschen een welbehagen!” So het ook die woorde van die ou nederlandse Gezang 11 gelui. Of het hulle van ‘eudokias’ (=van welbehae) gepraat? In daardie geval sou ʼn woordelikse vertaling die volgende oplewer: “Eer in die hoogste aan God en op aarde vrede in mense van welbehae.” Die NAV (nuwe vertaling in Afrikaans,1983) kies vir hierdie opsie en het dit soos volg vertaal: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in Wie Hy ʼn welbehae het!”

ʼn Mens moet kies: is dit met of sonder ʼn s? Dit gee ʼn besonder ongemaklike gevoel. ʼn Mens kan naamlik nie sê: “Eintlik staan daar in Lukas 2 vers 14…” Dit is nie seker wat daar staan nie, terwyl ʼn mens tog die gevoel het dat dit wel so behoort te wees wat die Woord van God betref. Die onsekerheid kan jou onseker maak. Uit nood hak jy dan die knoop deur. Dit is wat baie Christene (en ook baie teoloë) doen as hulle met teksverskille te doen kry. Hulle maak ʼn keuse op wankelrige gronde.

Dr A. van de Beek het ʼn mooi voorbeeld daarvan gegee (ND 28 Januarie 2011). Hy het op grond van dogmatiese oorwegings voorkeur gegee aan die lesing met die s in Lukas 2:14 en die lesing sonder die s (die weergawe van die Statevertaling) skerp veroordeel. Hy wil niks weet van die weergawe wat deur die SV gevolg word nie, omdat dit volgens hom in ooreenstemming is met die liewe aardse vrede waarvoor mense so lief is. Hy is daarenteen baie entoesiasties oor die ander weergawe, omdat hierdie weergawe ooreenkom met sy beeld van die kerk as vreemdelinge wat geen vrede in die wêreld ervaar nie, maar met geweld te doen kry (sien raampie 1).

Hoe Kies ʼn Mens?🔗

ʼn Mens moet ʼn keuse probeer maak tussen die weergawe met die s en die een daarsonder. Laat ons eers na die feite kyk.

Uit die tydperk tot en met die negende eeu het daar ongeveer 140 handskrifte bewaar gebly waarin die teks van Lukas 2:14 voorkom. Slegs in vyf hiervan kom die weergawe met die s voor (‘in die mense van die welbehae’): in vier handskrifte uit die vierde eeu en in een handskrif uit die sesde eeu. Die weergawe sonder die s (‘in die mense ʼn welbehae’) kom vir die eerste keer voor in ʼn handskrif uit die vierde eeu; hierdie weergawe kom voor in sowat 134 handskrifte wat op verskillende plekke geproduseer is (sien raampie 2).

Ter verklaring word daar dikwels verwys na die kerklike gesag. In Konstantinopel het die kerkleiers ongeveer in die jaar 400 ingegryp in die tekste van die Nuwe Testament. Daar is toe voorkeur gegee aan handskrifte met ʼn bepaalde karakter. Dit sou die verklaring daarvoor wees dat die teks wat in die oudste handskrifte voorkom nie meer te vinde is in die groot meerderheid van die latere handskrifte nie. In daardie verband word Eusebius se naam as die dryfkrag daaragter genoem.

Hierdie verklaring is nie voldoende nie. Dit sou immers inhou dat daar ʼn eenheidsteks van die Nuwe Testament sedert die jaar 400 in Konstantinopel moes bestaan het. Maar uit die geskrifte van die kerkvaders is aangetoon dat daar deur die eeue heen glad nie eenstemmigheid in Konstantinopel was oor die teks van die Nuwe Testament nie.

Tydens my doktorale navorsing het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ander argumente ook nie voldoende is om die meerderheid van die handskrifte opsy te skuif nie. Dit sal verstandig wees om wat die teks van die Nuwe Testament betref, te bly by wat daar in die meerderheid van die handskrifte staan.

Dit beteken dat ek wat Lukas 2:14 betref die weergawe sonder die s verkies: ‘in die mense ʼn welbehae’ (sien raampie 3).

Moenie die Verskille Oordryf Nie🔗

Hierdie keuse het uiteraard gevolge vir die uitleg van die teks. Hierdie gevolge moet nie oordryf word nie.

In hierdie verband vind ek die kanttekeninge van die ou Statevertaling leersaam. In die SV word die weergawe sonder die s in die teks gegee, dus: ‘in de menschen een welbehagen’. Die volgende kanttekening is daarby gemaak: ‘Dat is, het welbehagen Gods worde door hem aan die menschen vervuld, 2 Tessalonisense 1:11.’ Maar die Statevertalers was ook bewus van die weergawe met die s. Dit word eerlik genoem in die vervolg van die kanttekening: ‘Anders, des welbehagens; dat is in de menschen, die God naar zijn welbehagen heeft uitverkoren, Efesiërs 1:5.’

Daar is probeer om albei weergawes uit te lê in ooreenstemming met die geheel van die Bybel. Dit getuig van nugterheid. Daar is wel ʼn mate van onsekerheid oor die presiese teks van Lukas 2:14. Maar hierdie teks is nie ʼn losstaande strydkreet nie. Dit staan binne ʼn teksverband. Laat ons dit daarom uitlê in daardie teksverband, sonder om een van die weergawes te verketter.

Uitleg Met ʼn S🔗

Kom ons veronderstel dat die weergawe met die s die oorspronklike teks is. Die woordelikse vertaling van Lukas 2:14 lui dan: ‘Eer in die hoogste aan God en op aarde vrede in mense van welbehae.’ Hoe moet ʼn mens dit uitlê? Laat ons die laaste woord as ons uitgangspunt gebruik. In die NAV word ‘welbehae’ verklaar as die houding van God. God rig Hom welwillend en liefdevol tot ʼn bepaalde groep mense; Hy belowe sy vrede aan hulle. Hierdie uitleg pas in die geheel van die Bybel. Die engel het met goeie nuus gekom wat groot vreugde gebring het vir die hele volk. Vir daardie volk (die volk wat God uitverkies het) is sy vrede hier op aarde bestem: vrede met God deur Jesus Christus. Dit beweeg die hemelse leër om God lof toe te swaai. Dit het ʼn eersteklas uitleg tot gevolg waarin die Kersevangelie voluit opklink.

Maar: daar is niks in die teks wat daarop dui dat ‘welbehae’ betrekking het op God se houding nie. Daar is sterk gronde daarvoor om ‘welbehae’ te verklaar as die houding van die mense. Dit is wat gebeur in die tradisionele Rooms-Katolieke uitleg, byvoorbeeld in die Canisius-vertaling: “Glorie aan God in den hoge, en vrede op aarde onder de mensen van goede wil!” Dit wil sê: God gee sy vrede aan mense wat welwillend en liefdevol is. ʼn Mens kan ʼn bietjie huiwerig voel oor hierdie verklaring omdat dit so Rooms klink. Maar hierdie uitleg pas ook goed in die geheel van die Bybel. Iemand wat sonder God lewe, ken volgens Jesaja (48:22 en 57:21) geen vrede nie. Vrede is vir alle mense wat (deur God se genade) ʼn welwillende en liefdevolle ingesteldheid het. Hierdie vrede met God is vir die hemelse leër die aanleiding tot lof op God. Met hierdie uitleg is daar ook niks verkeerd nie.

Uitleg Sonder ʼn S🔗

Daar is egter genoeg rede om te aanvaar dat die weergawe sonder die s die oorspronklike teks is. Die woordelikse vertaling van Lukas 2:14 lui dan: ‘Eer in die hoogste aan God en op aarde vrede in mense welbehae.’ Hoe moet dit verklaar word? Laat ons weer die laaste woord as ons vertrekpunt gebruik.

1. Die Dogmatiek Moet Volg!🔗

Die direkte aanleiding tot hierdie bydrae is ʼn rubriek van dr. A. van de Beek (ND 28 Januarie 2011) oor die vraag “Wat het die engele gesing?”. Uit hierdie rubriek kry ʼn mens die indruk dat dit vreeslik is dat ons nog steeds die tradisionele teks sing van ‘Ere aan God’. Hierdie teks strook nie met Van de Beek se dogmatiek nie. “Ons sing die bekende teks in die kerk – in die mense ʼn welbehae. Want ons wil nie van hierdie teks afsien nie: die welbehae geld vir almal en die vrede is nie die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan nie, maar die vrede op aarde waarvan staatshoofde in hulle Kersboodskappe praat – of kerkvorste, want hulle staan nie agter wanneer dit kom by die geloof in vrede op aarde wat deel van die mag is nie.” Self gee Van de Beek bewustelik voorkeur aan die ander weergawe: ‘vrede op aarde in die mense van die welbehae’. Hierdie weergawe pas beter by sy dogmatiek. Hierdie lied is volgens hom ʼn verwysing na die gemeente wat leef vanuit God se welbehae; dit is ʼn gemeenskap wat as vreemdelinge in die wêreld leef.

Ek het op hierdie rubriek gereageer (ND 9 Februarie 2011), maar ek het my voorgeneem om ʼn bietjie meer uitgebreid in hierdie rubriek daarop terug te kom. Ek het nou die geleentheid om die aandag te vestig op die belang van tekskritiek. Die dogmatiek mag nie die resultaat van die tekskritiek dikteer nie.

2. ʼn Belangrike Detail🔗

Ek het gedink dat die weergawe sonder ʼn s vir die eerste keer aangetoon kan word in die sesde eeu. Maar hierdie lesing (net soos die weergawe met ʼn s) kom reeds in die vierde eeu voor en kan in die Codex Sinaiticus gevind word. Hierdie beroemde handskrif is een van die handskrifte uit die vierde eeu waarin die weergawe met die s van Lukas 2:14 voorkom. Daar staan oorspronklik ‘eudokias’, met aan die einde ʼn s wat ʼn bietjie kleiner is as die ander letters van die woord. Die s is by ʼn eerste korreksie in die vierde eeu geskrap. Dus kom die weergawe sonder s ook voor in een van die handskrifte uit die vierde eeu.

3. Wenke vir Verdere Studie🔗

Ek het in my proefskrif Assimilation as a criterion for the establishment of the text verslag gedoen van my navorsing op die terrein van die Nuwe-Testamentiese tekskritiek. My gevolgtrekking is dat dit verstandig sal wees om ʼn mens in die geval van die Nuwe Testament te laat lei deur wat daar in die meeste handskrifte staan. Globaal gesproke is dit die grondteks wat vir die Statevertaling gebruik is.

ʼn Kortbeskrywing van hierdie navorsing is gepubliseer in Verkenningen in die evangeliën (in 1990 uitgegee onder redaksie van Andries Knevel e.a.).

Oor Lukas 2:14 is daar heelwat geskryf, ook oor die tekskritiese aspek. Prof. dr. J. van Bruggen het heelwat aandag daaraan bestee in sy kommentaar op Lukas in die reeks CNT (1993). Verder verwys ek graag na prof. H.J. Schilder se bespreking van Lukas 2:14 in sy boek Ik kom thuis (1981).