Luther oor Geloof en Aanvegting
Luther oor Geloof en Aanvegting
Luther het eenmaal gesê:
Hoe groter Christen, soveel meer aanvegtings.
Al het ons God se Woord en al wil ons in Hom glo, tog verloop ons lewe nie sonder sonde nie. Aanvegtings en versoekings kom steeds op ons af. Ons geloof bly voortdurend onderhewig aan woelinge en stryd.
Aangeval, maar Gedoop⤒🔗
Aanvegtinge oorwin jy deur oefening in die geloof. Alleen so oorwin ons alle mag van die duiwel en alle angste. Die geloof worstel en wen. En met die oog op die geloof het die Here ons die doop gegee.
Bedink daarom in sulke aanvegtinge dat jy nie meer ’n mensekind is nie, maar ’n kind van God, deur jou geloof in Christus in wie se naam jy gedoop is. Die dood kan nie meer sy angel in jou slaan nie, omdat jy aan Christus behoort. Jy glo in Hom, en is in Hom gedoop. Die dood kan nie meer oor jou heers nie.
In die arena waar ons die geloofstryd stry, kan die doop ons baie goed help. "’n Burg teen alle aanvegtinge" het Luther die doop genoem. Dit is deur God aangewys as die plek waar sondige mense Hom veilig kan ontmoet.
Soms dink ons dat God ver en vreemd is, onwillig om ons te hoor of te help. Volgens Luther mag ons dan sê:
Here God, U het in u Woord dit belowe. U het u beloftes nie verander nie. Ek is gedoop, ek is deur U verlos.
Luther het die doop as die gesig van God omskrywe. Daarin hoor ons sy stem. Hy praat persoonlik met ons. In ons aanvegtinge staan Hy ons by.
In die Doop Lewe←⤒🔗
As Luther oor God se aanwesigheid in die doop praat, beperk hy dit nie tot die oomblik waarop die water oor die gedoopte kom nie. Die God van ons doop is lewenslank werksaam. Aanvegtinge ten spyt, mag ons terugkom op wat hy gesê het:
Ek glo in Christus, al sien ek Hom nie. Ek sien niks of weinig van sy beloftes. Ek voel eerder die teenoorgestelde, maar ek moet bly stry en veg teen wantroue en twyfel. Ek het mos sy doop, die troos van die woord van vergewing.
Die doop is dus nie ’n eenmalige saak nie. Ons moet die feit dat ons gedoop is, nie in die verlede opsluit nie. Ons hele lewe is ’n lewe in die doop:
Die Christelike lewe is ’n voortdurende terugkeer na die doop. Daarom mag elkeen sy doop beskou as sy daaglikse kleed, waarin hy leef. Wie sy doop nie gebruik nie, mis dan ook die krag daarvan.
Die Blywende Krag van die Doop←⤒🔗
As iemand in sonde val, moet hy des te meer sy doop oordink. Hoe God met hom ’n verbond gesluit het om al sy sondes te vergewe. Die mens moet met vrymoedigheid op hierdie verbond met God ten volle vertrou. Want die doop kom elke keer weer met krag in werking. Hierdie vertroue moet ’n mens met alle krag vashou, ook al stry alles teen hom, val alle sondes hom aan.
Luther het die blywende krag van die doop in ’n Christen se lewe ontdek. Mense met aanvegtinge het hy na hulle doop toe teruggeroep.