2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Maak jou sonde dood

Op 1 Mei 2003 het Aron Ralston, ʼn sewe-en-twintigjarige rugsakstapper iets ondenkbaar gedoen om sy lewe te red. Nadat hy vir vyf dae lank deur ʼn rots van agthonderd pond in ʼn afgeleë kloof in Utah vasgekeer was, het hy sy stomp sakmes geneem en sy regterarm afgesny om homself te bevry.

Eers het hy probeer om die rots weg te kap, maar dit wou nie meegee nie. Uiteindelik het hy besef hy het slegs een van twee keuses. Hy moes óf sy arm afsny óf hy sou sterf. Honger en ontwater het hy op die vyfde dag sy arm net onder die elmboog deurgesaag om homself te bevry.

Hy het uit die kloof gekom sonder sy regterarm, maar met sy lewe. Dit is presies die beeld wat Jesus aan ons voorhou as hy vir ons sê hoe om die oorblywende sondes in jou lewe te hanteer. “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dis beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland” (Mat. 5:29-30).

Jesus praat hier nie letterlik nie. As jy met jou regterhand steel en dit dan laat amputeer sal dit jou nie genees van diefstal nie. Jy sal aanhou steel met jou linkerhand. En as jy jou regteroog verwyder omdat dit ʼn instrument van sinlike begeerte is, kan jy nog steeds jou linkeroog vir dieselfde doel aanwend.

Ons Here se woorde is bedoel om ons tot erkenning te skok van die erns waarmee ons die oorblywende sondes in ons lewens moet hanteer. Ons moet dit onverbiddelik hanteer. Ons moet gewillig wees om selfs goeie dinge (soos oë en arms) op te gee in ons pogings om ons sondes dood te maak.

Die prins van Puriteinse teoloë, John Owen, het in sy klassieke werk oor die afsterwing van sonde geskryf: “Maak sonde dood of dit sal jou doodmaak”. Hy het Jesus se standpunt verstaan, dat hierdie twee opsies die enigste twee is wat ʼn gelowige het as dit kom by die hantering van sy oorblywende sondes.

Veg met oortuiging teen die sonde in jou lewe of lewer jou oor aan spirituele dood. “As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ʼn einde maak aan julle sondig praktyke, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Daar is geen alternatief nie.

Beteken dit dat verlossing nie deur genade verkry word nie, of dat ʼn Christen sy verlossing kan verloor? Nee. Dit beteken dat die genade wat verlossing meebring ons “opvoed om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe” (Titus 2:12). Die genade wat vir ons regverdig maak, maak ons ook heilig.

Die woorde van Jesus is ʼn sobere waarskuwing van die dodelike gevolge as sonde ligtelik opgeneem word. Hy roep almal wat deur genade verlos is op om onverbiddelik teen die oorblywende sondes in ons lewens te veg. Ons moet net so gewillig wees om drasties op te tree om ons spirituele lewe te behou as wat Aron Ralston bereid was om sy fisiese lewe te red.

Wat sal iemand dwing om iets so ingrypend te doen soos om sy eie arm af te sny? Hy moet ten volle oortuig wees van die dodelike gevaar van sy huidige toestand. “As ek voortgaan soos ek is, sal ek doodgaan.” Met ander woorde, hy moet glo dat as hy op sy huidige koers bly – en nie verander nie – hy uitgeroei sal word. Hy moet desperaat voel oor sy toestand.

Jesus probeer hiermee om ons tot begrip te skok. As sonde toegelaat word om sonder teenstand in jou te lewe sal dit jou na die hel toe neem. Om dit te glo is om die spirituele wanhoop te ervaar soos deur Paulus uitgedruk in Romeine 7:13-24.

Maar saam met die desperaatheid moet die Christen ook oortuig wees van die werklike vooruitsig op lewe. As ek nie my sonde doodmaak nie, wag die dood op my. Maar lewe word gewaarborg op die weg van afsterwing van sonde. Ons word nie verlos omdat ons teen die sonde veg nie. Ons veg teen sonde omdat ons verlos is.

Omdat Jesus Christus vir al ons sondes gesterf het, kan ons daarvan verseker wees dat God al ons sondes sal vergewe. Ons kan ook vertrou dat Hy eendag ons finaal sal verlos van die laaste oorblyfsels van sonde. Elke Christen sal eendag volledig en vir ewig vry van sonde wees.

Dit is hierdie hoop, gegrond op die lewe, dood en opstanding van Jesus, wat gelowiges laat aanhou veg teen die oorblywende sondes in hul lewens. Paulus breek uit in danksegging oor hierdie hoop (Rom. 7:25).

Die Evangelie maak ons vry om onverbiddelik op te tree teen die oorblywende sondes. Ons wat op Jesus vertrou is almal vry om ons sondes eerlik in die gesig te staar en volhardend daarteen te stry vanweë alles wat Hy vir ons bereik het. Ons kan so lewe in die wete dat Sy genade ons bemagtig om selfs uiterste stappe te neem om die heiligheid te bereik wat Hy van ons verwag.

Niemand in die hemel sal jammer wees dat hy/sy onverbiddelik teen sonde op aarde geveg het nie. Ons sal eerder God prys vir Sy genade wat ons in staat gestel het om hierdie geveg enduit vol te hou.