Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Mag Ons Volstaan met 'n Minibelydenis?

Dalk het u ook al die slagspreuk gehoor: “Nie die leer, maar die Heer.” Daarmee wil gesê word dat die uitgebreide belydenis van die ware leer gans te veel van ‘n remskoen is in gereformeerde kerke. Dit rem die christelike vreugde. Dit rem die ekumene. Dit bring net (onnodige) skeiding tussen kerke. Ons glo immers tog nie aan ‘n leerstellige sisteem nie? Ons glo in ‘n Persoon: Jesus Christus. Laat ons, so word daar soms geredeneer, volstaan met ‘n minibelydenis waarmee alle gelowiges sal kan instem. Iets soos die 12 Artikels of net “Jesus is die Heer.”

Vir die doperse en evangeliese mens is “geloof in Jesus” genoeg. Daarby maak dit nie saak aan watter kerk jy behoort nie, solank jy net “glo.” Die vraag waarop geantwoord word tydens die aflegging van belydenis van geloof, naamlik dat geglo word in al die “artikels van die Christelike geloof,” sou dan goedskiks vervang kon word of weggelaat word. Die geloof moet tog nie té ingewikkeld gemaak word nie! Dit gaan tog om die eenvoud van geloof in Jesus!

Ander voel weer dat die uitgebreide belydenis ‘n agterhaalde manier is om die geloof te verwoord. Vandag se gelowige verskil tog hemelsbreed van die 16e eeuse gelowige. Ander reken weer dat die ware leer ondergeskik moet wees aan die konkrete belewing van die geloof. Dit wat uitgeleef word met ‘n warme hart behoort kop en skouers bo die gesonde leer te staan. So voel sommige. Op al hierdie maniere word daar egter kwaai druk geplaas op die kerk se volstrekte binding aan die gereformeerde belydenis. Daarom verdien hierdie gedagtegang enkele kantaantekeninge.

Vanuit ‘n kerkhistoriese oogpunt is dit interessant dat die oorsaak van verdeeldheid nie verdwyn wanneer die binding aan die belydenis prysgegee word nie! Dink maar net hoeveel verdeeldheid en diversiteit in die Gereformeerde Kerken (Synodaal) ontstaan het ná die prysgawe van binding aan die belydenis. Dink ook aan die diversiteit binne sovele konfessielose Pinksterkerke. Skynbaar is dit nie die binding aan die belydenis wat die verdeeldheid veroorsaak nie.

Die gesonde leer doen mos juis die teenoorgestelde: dit verenig. Daarom praat ons van die “Drie Formuliere van Eenheid.” Judas lê ook nie die oorsaak vir skeuringe voor die deur van diegene wat trag om te stry vir die oorgelewerde leer nie (v.3), maar voor die deur van die spotters wat na hul eiesinnige begeertes leef (v 18). Dit is natuurlik ook nie die belydenis self wat verenig nie. Dit is Christus wat ons verenig in die eenheid van die geloof wat in die belydenis bely word! ( Sondag 21 HK).

Efesiërs 4 is ‘n verdere insiggewende Skrifgedeelte. Hier bring die Apostel die mondige kerk ter sprake. Dit is opvallend hoe hy die mondige kerk uitbeeld in terme van handhawing van die gesonde leer! Paulus lê ‘n duidelike verbindingslyn tussen “onmondig wees” en “heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer.” Om volwasse te wees in die geloof beteken daarteenoor om opweg te wees na die eenheid van die geloof en die ware kennis van die Seun van God. Wie “in liefde by die waarheid bly” groei sodoende na Christus toe (v 15). “Mondigheid” is dus nie om jou te ontworstel aan die gesonde leer nie, maar om juis des te meer daaraan gebonde te leef!

Die derde en laaste kantaantekening gaan dan oor die vraag van ‘n minibelydenis. Sou so iets voldoende wees? Is die geloof in Jesus nie genoeg nie? Is Christus nie die kern van die geloof en al die ander geloofsartikels maar net sekondêr tot hierdie kern nie? Voeg die kerk nie met sy eie gesag baie meer tot die eenvoud van die geloof toe as wat geoorloof is nie? Wat is die verband tussen eenvoudige geloof in Christus en die binding aan ‘n uitvoerige belydenis? Dit klink so eg Bybels: om maar net Christus lief te hê. Om in Christus te glo. Dit klaar meteens alle probleme op, want alle gelowiges uit alle kerke kan dit sê. Wat ‘n heerlike eenheid is daar nie nou in die kerk nie!

Lees ‘n mens die Bybel, klink dit asof die Bybel ook hierdie taal praat. In 1 Korintiërs 2:2 verklaar die Apostel byvoorbeeld dat hy hom voorgeneem het om van niks anders te weet as Christus die gekruisigde nie! Dit klink so eenvoudig. Geen belydenisse is nodig nie. Tog, wie die hele brief lees, sal merk dat hierdie kompakte opmerking veel meer inhoud het as wat ‘n mens aanvanklik vermoed! Alles is ook glad nie so maklik verstaanbaar nie! Dit verklaar Petrus van Paulus se geskrifte ( 2 Petrus 3:15ev).

Om “in Jesus te glo” omvat baie meer as wat ‘n mens aanvanklik dink. Dit omvat die ganse leer van die Skrif. Die leer van die Skrif is immers ‘n eenheid. Jesus is immers die Christus van die Skrif. Die Skrif is nie maar net ‘n versameling van ‘n aantal losstaande leerstellinge nie, maar vorm die een leer van Christus. Daarom bely ons ook dat ‘n gelowige alles moet glo wat in die evangelie beloof word (Sondag 7 HK). Dit behels nie ‘n aantal losstaande en opsigself staande dogma’s nie. Daarin onderskei die gereformeerde leer hom van die evangeliese fundamentalisme wat ‘n aantal onopgeefbare “grondwaarhede” aanhang om sodoende “Bybelgetrou” te probeer wees. Eintlik is dit niks anders as ‘n seleksie van ‘n sekere aantal losstaande geliefkoosde leerstellings nie. Daarenteen is die gereformeerde geloof ‘n eenheid. Ons moet ook op ons hoede wees om ook nie van die 12 Artikels so ‘n fundamentalistiese “minimumvereiste” te gaan maak nie! In die Kategismus word die 12 Artikels nie gesien as ‘n seleksie “grondwaarhede” nie, maar ‘n samevatting van alles wat in die evangelie beloof word. Wie gelowig met die 12 Artikels instem, kan dit nooit doen losstaande van die eenheidsleer van die totale Skrif nie.

“Leer” en “lewe” staan dus nie teenoor mekaar nie. Die gesonde leer skep die ware lewe, want die gesonde leer is die leer van Christus. Wie “leer” en “lewe” teenoor mekaar stel, beland onvermydelik in die vaarwaters van die Wederdopers. Dit is mos ‘n tipies “doperse” teenstelling wat vreemd is aan die Reformasie. Paulus skroom nie om van “leer” te praat nie (sien o.a Titus 1:9, Kolos 2: 6-7, 2 Tim 2:8). Ons ken juis die Here vanuit die onderwys van die Apostels en profete. Die inhoud van hierdie onderwys is Christus. Dit is geen dooie teorie nie! Waar die leer aangetas word, mag ons nie net toekyk nie. Dan moet ons stry vir die oorgelewerde leer (Judas 1:3). Want, dit gaan om Christus. Hoe maklik laat vaar ons deeglike Kategismusprediking omdat ons vermoed dat dit dalk dorre dogmatisme, evangeliese moralisme of piëtistiese oppervlakkigheid in die hand kan werk. Nee, in die Skrif gaan die gesonde leer hand aan hand met ‘n egte Christelike lewensstyl. Want, in die gesonde leer, ontvang ons Christus!

(Met erkenning aan ds P Niemeijer (Dordrecht) vir die kerngedagtes van hierdie artikel).