Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Maleagi 2:16 - Die Ontrou wat die HERE Verwerp

Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.

Mal 2: 16b

Die volk in geheel is aan liefdeloosheid teenoor die HERE skuldig, gewoon omdat hulle die verbond van die vaders ontheilig deurdat hulle troueloos met mekaar handel. Ja is nie meer Ja nie, en Nee is nie meer Nee nie.

“Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie?” (vs 10). Hierdie is nogal die soort slagspreuk wat mens ook bokant ’n Vrymesselaarslosie en ook ’n sinagoge sal vind, of in ’n politieke beleid wat wêreldgelykvormige universele broederskap wil bevorder. “The brotherhood of all men - the fatherhood of God.” Iets soortgelyk aan die slagspreuke van die intergodsdiensbeweging en die parle­ment van wêreldgodsdienste.

Hoe is kosbare woorde soos hierdie uit die Skrif nie al misbruik nie. Deur die eeue heen het mense dit altyd weer misbruik vir die groot ideaal van die verbroedering van alle volkere en gods­dienste. Mense vra op grond van hier­die uitspraak: Hoort ons dan nie almal bymekaar nie? En dan nie net onder Jode en Christene nie, maar vir baie eeue reeds en ook juis in hierdie dae weer onder Mohammedane en Boed­dhiste, die moderne heidene.

So word hierdie vers egter presies omgekeer tot wat dit juis nie sê nie. Hierdie teks begin om aan die kerk­volk van hulle unieke bestaan, hulle unieke afkoms, hulle unieke identi­teit te vertel. Hulle eksklusiewe eiens­kappe is so anders as die van die onge­lowiges.

Hy het naamlik met hulle vaders sy verbond gesluit. So is dit sy unieke vaderskap vir hulle wat sy verbonds­partyders is, waaroor dit hier gaan.

Want al is dit so dat alle mense op die aarde deur God geskape is, is dit nie waar dat Hy ook ongekwalifiseerd almal se Vader is nie. Al is dit dus waar dat Hy alle mense geskape het en dat elke mens ook na God se gelyke­nis geskape is (Jakobus 3:9), so is dit ook waar dat slegs diegene wat in en deur Jesus Christus versoening ont­vang het, en wat deur die Heilige Gees wedergebore is, waarlik kinders van God is. Dit is slegs hulle wat waar­lik die Nuwe mens het wat na God geskape is in ware geregtigheid en hei­ligheid (Efes 4:24).

Hy is dus eksklusief vir sy kerkvolk ’n Vader soos wat Hy dit in Maleági 1 tot uitdrukking bring. Hy het ons liefgehad sodat Hy ons uitgekies het en ons sy eiendom gemaak het en sy genadeverbond met ons gesluit het.

Dit is immers ook een van die eerste dinge wat iemand moet weet wanneer hulle gedoop word, hulle word naam­lik eerste gedoop in die naam van die Vader. En deur hierdie daad is daar ’n pertinente verbondsbelofte van die Vader, dat Hy ’n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met die goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik.

Aan die ander kant is daar ook dees­dae ’n aggressiewe weersin teen die Vaderlike Godsbeeld, veral van die kant van die bewegings wat vir die bevryding van vroue ywer. (Francis Klopper by die Werkgemeenskap vir die plek van die vrou in die kerk en die samelewing.) Dikwels moet uit hulle monde en geskrifte aangehoor word dat die Godsbeeld tog maar net ’n idee is wat denkers, skrywers, meningsvor­mers aangaande God vir hulself gepro­jekteer het. God is net iets wat die mens uitdink.

Dit is dikwels mense wat nie erken dat die Bybel God se openbaring van Homself is nie. En dan is daar by baie ’n uiters negatiewe konnotasie aan die Vaderskap van God. Vaderskap her­inner hulle aan iets soos 'n toornige aardspatriarg en ’n wrede despoot van ’n vaderfiguur wat kinders aanrand en wat teen vroue diskrimineer. En daarom wil hulle nie hoor van God wat ’n Vader is nie.

Hopelik sal dit uit hierdie Skrifdeel duidelik wees dat die korrekte kennis van God se Vaderskap juis anders is as die negatiewe konnotasies en anders as die beskuldigings van diskriminasie wat Hom deur die bevrydingsteologie toegedig word, ja dat sy Vaderskap juis die beskerming van vroue en kinders verkondig.

Die Vaderskap van God soos Maleági dit aan ons deurgee en soos wat dit in die ganse Skrif openbaar word, is ’n Vaderskap oor ons wat vir ons troos­ryke implikasies het: 1 Petrus 3 sê dat ons dus mede-erfgename van die genade van God is. Ons unieke kinds­kap in en deur Jesus Christus maak ons tot mede-erfgename van Gods heerlike koninkryk. Vaderskap = erfgenaamskap.

Saam met die mede-erfgenaamskap impliseer God se Vaderskap oor ons die heerlike werklikheid dat ons in en deur Hom medebroeders en susters vir mekaar is. Ons is die Familie vir mekaar met die groot F.

En sekerlik nog die mees uitstaande implikasie van hierdie waarheid is dat ons hoë langer hoe meer veronderstel is om aan die karakter en die beeld en die gelykenis van ons Vader gelykvor­mig te word, in alle geregtigheid en heiligheid. Getrouheid, lojaliteit, die Een wat is wie Hy is, wat doen soos Hy sê, die een wie se Ja, Ja is en wie se Nee, inderdaad NEE, en Hy is ons Vader wie se eienskappe ook hoe langer hoe meer in ons gesien moet word.

Dit is die veronderstellinge met hier­die inleidende opmerking dat ons almal een Vader het wat ons almal geskape het. Want dit wil spesifiek verwys na die karakter waarin Hy ons geskape het, na sy beeld en gelyke­nis, in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom dus die toetsvraag aan die kerkvolk, die klagrede aan die kerk in deformasie:

“Waarom handel ons dan troueloos met mekaar, deur die verbond van ons vaders te ontheilig?”

In die vorige hoofstuk het Maleági reeds van hierdie verbond van die vaders gepraat, die verbond met Levi. Onmiskenbaar is hierdie dus ’n verwy­sing na die hele wetboek van Moses, en daarin besonderlik God se verbond met Abram, Isak en Jakob. En waar die vorige hoofstuk veral na die gebrek­kige offerdiens aan die HERE gewys het, die eerste tafel van die wet, so wys Hy hier na die troueloosheid van die lidmate teenoor mekaar, die tweede tafel van die wet.

Nou noem die profeet twee prak­tiese voorbeelde hoedat die lidmate se ontrouheid teenoor mekaar na vore kom: Dit is twee voorbeelde uit die huwelikspraktyke van die kerkvolk. Eerste deurdat hulle met heidense vroue trou (vs 11 - 12) , en tweede dat hulle hul eie vroue verstoot (vs 13 - 16).

Kyk hoe beskryf die Here die eerste voorbeeld van hulle verbondsbreuk:

Vs 11: “Juda het troueloos gehandel, en ’n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg; want Juda het die heilig­dom van die HERE, wat Hy liefhet, ontheilig, en hy het die dogter van ’n uitlandse god getrou.”

Vs 12: “Mag die HERE van die man wat so iets doen, uitroei hom wat roep en hom wat antwoord gee uit die tente van Jakob, en hom wat ’n offer aan die HERE van die leërskare bring.”

Hierdie veroordeling van die huwe­like met ongelowiges herinner aan die stryd wat Esra en Nehemia pas na die terugkeer van die ballinge met hulle gestry het, en dat die manne wat aan hierdie gruwel skuldig was, gedwing is om hulle heidense vroue met hulle kinders weg te stuur (Esra 9, 10).

Ook Nehemia 10 - tydens Nehemia se eerste verblyf in Jerusalem asook sy tweede verblyf in. Jerusalem (Neh 13). En as op goeie getuienis aangeneem kan word dat Maleági as profeet opge­tree het tussen die eerste en die tweede verblyf van Nehemia in Jerusalem, is dit soveel verstaanbaarder waarom hy ook hier teen die huwelike met heidene vermaan.

Hierdie gruwel wat God in die Ou Tes­tament het teen verbondskinders wat met ongelowiges verkeer en trou, het ook in die Nuwe Testament geensins verander nie. Daarom handhaaf   Paulus dit as hy aan weduwees van Korinthe toestemming verleen dat hulle mag trou met wie hulle wil, maar net in die Here (1 Kor 7: 39). Slegs as dit ’n broeder is wat in die genadeverbond met God, in en deur die geloof in die Here Jesus Christus, as lidmaat in die kerk ingelyf is. Slegs met so een mag hulle weer trou.

Die eeue-oue Wet van God deur die diens van Moses, word steeds gehandhaaf - soos dit vervulling gevind het in Jesus Christus. Dieselfde skryf hy ook aan die Thessalonicense (1 Thess 4: 4) dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer... (vs 5) nie in hartstogtelike begeer­likheid soos die heidene wat God nie ken nie. Christen jongmense verkry hulle huweliksgenote met nugtere geloofsliefde, nie met hulle hormone wat hulle verstand benewel nie.

Wie nie hierna luister nie, moet weet dat hulle ’n ramp op die kerk bring en op hulleself. Die profeet spreek ’n vloek oor sulke ontroue lidmate uit. Hulle kinders sal nie meer deel wees van die kerkvolk nie, en hulle sal daarom ook nie die diens van die HERE waarneem nie.

Ons moenie vir onsself mislei nie. Ons sien hierdie ding deesdae al hoe meer onder ons neuse gebeur. Kinders wat hulle ouers se onderrig in die wind slaan en ’n goddelose nageslag voort­bring wat van God en sy gebod niks meer wil weet nie.

Dan verwyt die HERE sy volk ook nog ’n tweede sonde van ontrouheid:

Vs 13: “En boonop doen julle dit: julle bedek die altaar van die HERE met trane, met geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van julle hand nie aan­neem as welgevallig nie.”

Vs 14: “En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.”

Daar is lidmate in die kerkvolk van Juda wat van hulle vroue, mede-erfge­name en geloofsgenote, skei. Egbreuk. Die man verstoot die vrou wat die HERE aan Hom gegee het.

Hierdie praktyk is vir die HERE so erg dat Hy nie meer sulke mense se offers as welgevallig aanneem nie. Hy noem hierby drie onregte wat sulke mense aan hulle vroue pleeg:

Eerste stel Hy dat hierdie vrou wat hy verstoot, die vrou van sy jeug is... dit meen - die vrou wat hy deur die sogenaamde eerste liefde verkry het. Die onreg is dat die man aan sy eie brandende liefde wat volgens Hooglied 8:6 so sterk soos die dood is, soos ’n gloed van vuur is, wat die vlam van die HERE is, tragies ontrou geraak het. Waar die eienskap daarvan is dat groot waters die liefde nie kan uitblus nie, en riviere dit nie kan oorstroom nie, en al gee ’n man ook al die goed van sy huis in ruil vir hierdie eerste liefde - die mense sou so ’n persoon diep verag! Hieraan het die gelowige nou skuldig geraak. Dis die eerste onreg wat die egbreker pleeg.

Die tweede onreg wat hy pleeg is dat hierdie vrou sy metgesel is wat hy ver­stoot. Sy het lief en leed met hom saam beleef en oorleef. Saam het hulle ’n huisie in karigheid en armoede opge­sit, tamatiekissies en oorgetrekte kar­tonbokse vir meubels gehad, ’n don­kiekarretjie vir vervoer en hulle moes allerhande planne maak om te oor­leef.

Sy het haar bestaan, haar veilige ouerhuis verlaat en saam met jou ’n toekoms begin uitkap, met geduld en liefde die omstandighede verdra - jou kinders in die lewe gebring en met liefde versorg: jou metgesel! Wat ’n growwe onreg pleeg jy dus om haar te verstoot! Die vrou van jou verbond? Jou Ja is nie meer jou Ja nie!

Dan is daar volgens vs 15 ook ’n derde onreg wat die egbreker pleeg teenoor die vrou van sy jeug - daarin dat hy die groot soeke van God vernietig. Dit was immers die doel van die Christe­like huwelik, dat dit aangegaan word tussen persone wat saam erfgename van die genade van God is, en dus ook hulle kinders wat die HERE hulle gee, in sy vrese grootmaak. Hy het ’n geslag van God gesoek!

Deur die vrou wat die HERE jou gegee het in jou jeug, en wat vir jou verbondskinders in die lewe gebring het, te verwerp, te verstoot, deur dit te doen, kweek jy ’n nageslag wat by hulself dink dat egskeiding nie so erg is nie, ’n nageslag wat by hulleself die standaarde wat God stel, minder erg, minder ernstig neem!

Jy kweek ’n geslag wat deur hul bele­wenisse, leer hoe om ontrou aan God se voorskrifte te raak.

Hierdie is dan die tweede klag van ontrou wat die HERE aan die kerkvolk rig: Hulle verstoot hul huweliksgenote. En die resultate wat hulle daaruit ont­vang, is dat God hul offerdiens nie aansien nie, dat Hy dit nie welgevallig aanneem nie.

Die baie konkrete wyse waarop Petrus dieselfde sê, is dat die manne in wys­heid en eer saam met hulle vroue moet lewe sodat hul gebede nie verhinder word nie.

Gebedsdiens is die vernaamste deel van ons dankbaarheidsdiens aan die Here (HK Sondag 45). Dit is dus die vernaamste deel van ons Nuwe Tes­tamentiese offerdiens. Maar wanneer jy jou huweliksgenoot verwerp, wan­neer jy jou man of jou vrou verag of verstoot, dan word jou gebed verhin­der. Nie alleen verloor jy (as jy eerlik is) die vrymoedigheid om te bid nie, maar as jy dan tog wel bid, bid jy in die plafon vas.

Onversoenlikheid en onbereidheid teenoor mekaar veroorsaak ’n verwer­ping van ons offerdiens. Ons gebede, die offer van ons lippe en ons hart, word verhinder, en ons bestaan van dag tot dag wissel van die een stuk chaos tot die volgende ramp.

En wat is dan die huweliksberading wat die HERE deur die diens van Male­ági gee?

“Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.”

Vs 16: “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ’n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.”

Die HERE verwag by sy gemeente ’n bekeerlike lewe.

Hy wil weer Homself by ons sien gestalte kry.

Hy wil sy trou, sy oorgawe, sy besorgd­heid oor ons - dit wil Hy ook in ons raaksien. Daarvoor het Hy sy Gees gegee. Om ons te reinig en te heilig.

Hy is ons Vader - en Hy soek ’n geslag van God.

Hy soek by ons seuns en dogters van God.

Hy soek by ons verbondskinders wat hulle verwantskap met ons hemelse Vader hoe langer hoe meer betoon deur die Heilige Gees.

Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is. So het die Here Jesus dit in sy bergrede uit­gedruk. Die heiligmaking dus, waars­onder niemand die Here sal sien nie. Reformasie. Bekering. Daaglikse beke­ring.

Dit is die offerdiens wat vir Hom wel­gevallig is en wat Hy graag verhoor en volgens sy beloftes met sy seëninge beantwoord.