Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Matriekafskeid: Maak die Vere die Voël?

Lank, lank gelede was die matriekafskeid ’n gesellige geleentheid wat teen die einde van die jaar deur die (toe nog) standerd neges vir die matrieks gereël is. Die onderwysers het flink saam beplan. Dit was vir “volgende jaar se matrieks” ’n oefening in vindingrykheid binne die raamwerk van ekonomiese beplanning iets soos ’n verbeeldingryke, formele ete in die keurig versierde skoolsaal, met die ouers in die agtergrond as koks en spyseniers. Dit was nie belangrik om ’n metgesel van ’n ander geslag te hê nie. Groepies meisies en seuns het net so vrolik meegedoen as die paartjies. Die meisies het spoggerig gelyk in fleurige rokke met wye rompe - tuisgemaak of deur ’n betroubare kleremaakster - en die seuns in kerkpakke of netjiese broeke met mooi hemde en dasse of strikdassies. So onthou ek my eie matriekafskeid.

’n Generasie later (in die tagtigerjare) soek ons vir ons seuns hemde uit wat by die meisies se rokke pas - pienk en wit gestreep met ’n wit kraag vir ons eerste matrikulant en twee jaar later ’n dramatiese geel-bont hemp met ’n swart kraag vir die tweede. Die kompetisie het intussen sterker geword. Nou word talle lang of enkellengte aandrokke op die matriekfoto’s gesien – foto’s wat sommer spontaan tussendeur van mekaar geneem is. ’n Onderwyseres vertel geamuseerd dat sy gevoel het dat sy darem nie by die dogters wou afsteek nie, maar nie ’n nuwe rok kon bekostig nie. Sy koop toe spesiaal nuwe grimering - en sit die aand daar met allergie-trane en toegeswelde oë.

En nou weer ’n generasie later - is dit ons kleinkinders se matriekafskeidsfunksies. Met twee (in ons land) agter die rug en twee (een hier en een in Amerika) in die jaar wat voorlê, het ons kundiges geword. Die dae van tuisgemaakte of kettingwinkelrokkies wat met Ma se geleende juwele of ’n skouerruiker opgegradeer is na partytjiestatus, is verby. In baie gevalle word duisende rande aan uitrustings bestee ook deur mense wat dit eintlik nie kan bekostig nie, maar swig voor die groeps­druk. Die naam van die ontwerper word by die ritse kompeterende koerant- en tydskriffoto’s (in bestudeerde ateljeehoudings) genoem. Dis nou mode om vir die geleentheid na ’n stileerder cum grimeerder te gaan. Vervoer in duur motors is deel van die welvaartprentjie. Die funksies word in luisterryke lokale gehou en die prys per paartjie laat ’n mens steier. ’n Mens wonder: as die matriekafskeid so lyk, hoe gaan die troues lyk?

Doelgerigte klere🔗

Dis nie dat ’n mens krities staan teenoor stylvolle drag vir ’n spesiale geleentheid nie. Kleding speel in die Bybel van Genesis af ’n funksionele rol, soos die vyeblare waarmee Adam en Eva hulle na die sondeval bedek het en die velklere wat die Here God vir hulle gemaak het. Klere praat (by wyse van spreke). Josef se lang klere met moue dra die boodskap oor van sy pa se voortrekkende liefde (Gen 37). Die kosbare, geborduurde priestersklere van blou, pers en bloedrooi wolstof (Eks 39) – “die werk van ’n vakman” is volgens Goddelike voorskrif gemaak, met die inskripsie op die tulband: “Aan die Here Gewy.” Koningin Ester dra “koninklike klere” (Ester 5) om ’n gunstige indruk te maak met haar waagmoedige besoek aan koning Ahasveros om te pleit vir haar en haar volk se behoud.

In die Nuwe Testament dra Johannes die Doper, gepas vir sy woestynoptrede, klere van kameelhaar (Mark 1:6). Die pa in die gelykenis trek met sy afgedwaalde seun se terugkoms vir hom gulhartig “die beste” klere aan (Luk 15:22). Die purper spotkleed wat tydens sy géseling vir Christus omgehang word (Joh 19), word met negatiewe bybedoeling gebruik. ln Openbaring 3 is wit klere die kenmerk van diegene wat “die oorwinning behaal”. Dié wat gered is, het hulle klere wit gemaak in die bloed van die Lam (Openb 7). In Openbaring 19 dra die bruid van die Lam “fyn, helder blink klere” – “die regverdige dade van die gelowiges”.

Wat het dit alles met die matriekafskeid te make?🔗

Daar is duidelik toepaslike klere vir verskillende geleenthede, maar daar is ook grense - finansieel en moreel. Die uitdruklikste afwysing van veruiterliking kry ons in 1 Petrus 3:3-4: “Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees.”

Dis nie ’n lessie wat mens jou kind die eerste keer skuins voor die matriekafskeid kan leer nie. Ons moet hulle grootmaak met die regte waardes, ook as dit by koop en aantrek kom. Daar is niks verkeerd met haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. Mooi lyk en smaakvol aantrek is deel van ’n mens se selfrespek en respek vir ander. As ek slordig en onversorg na ’n geleentheid gaan, beledig ek diegene wat my genooi het. As ek daar aankom met oordadige juwele en buitensporige duur klere, kan ek die ander gaste minderwaardig laat voel. ’n Mens kan so gewaagd aantrek dat jou gespreksgenoot nie weet waar om ordentlikheidshalwe te kyk nie. Dis waar blywende “beskeidenheid” ter sake is.

Ons kinders word met wêreldlike tydskrif-, film- en televisiemodelle groot en weet alles van ontwerpersklere. Hulle meet mekaar in terme van Reeboks en Adidas, Nikes en Levi’s en al die ander groot name. Dit mag dalk nie ’n probleem vir die ouer met die stywe beursie wees nie, maar dikwels is dit juis die minder gegoedes wat die statussimbole nastreef om nie af te steek nie.

As ons ons kinders gee wat ons eintlik nie kan bekostig nie of die matriekafskeid ’n twisappel of nagmerrie word, leer ons hulle nie om oordeelkundig te beplan, te spaar en te geniet nie. Ons dra by om hulle veeleisend, selfsugtig en materialisties te maak. Lees maar vroeg al in Efésiërs 6 vir hulle waaruit die Christen se wapenrusting ons eintlike Ontwerpersklere - bestaan.

Dis nodig dat ons kinders besef: die vere mag die voël “maak” - dat ’n mens na sy klere beoordeel word - maar dat die voël nie net uit vere bestaan nie. Sy vliegkapasiteit, vlerkspan, rigtingbewussyn, uithou- en singvermoë en talle ander eienskappe “maak” hom ook.

Te midde van al die buitensporigheid is daar jongmense wat blymoedig onderling klere uitruil of leen vir die matriekfunksie en ander partytjies - veral as die ruilgenoot in ’n ander skool is. Ons skoondogter het ons pragtige rokke gewys wat reeds in die dogters se kas hang - byna ’n jaar vooruit gekoop by “70% af”- verkopings. Nou hou hulle hul oë oop vir en eksperimenteer met bykomstighede.

Die aankope en beplanning kan vir ouers en kinders gesellige spanwerk wees. Onderwysers en skoolhoofde en kategete (en baie van hulle is ook ouers) behoort taktvol riglyne aan die hand te doen om die geleentheid so feestelik maar ekonomies as moontlik te maak. As groepsdruk na die positiewe kant verskuif, kan ons kinders leer om steeds mooi te lyk en die geleentheid te geniet, maar die innerlike mens in die mooi uitrustings te sien.