Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Matteus 5:38-42 - Vergeld die Kwaad met Liefde

Julle het gehoor dat daar gesê is: oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.

Matt. 5:38-42

bokshandskoene

Geweld en aggressie en vergelding is aan die orde van die dag. Suid-Afrika is loshande die mees gewelddadige land in die wêreld!

Maar juis vir ons as Christene in hierdie verskeurde samelewing sê Christus: Ek vra van julle oorvloediger gehoorsaamheid as dié van Skrifgeleerdes en Fariseërs. Ek vra iets wat niemand maklik verteer nie: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Beantwoord die kwaad met liefde!

Die Fariseërs het hierdie liefdeswet verdraai.

Die Here Jesus het Exodus 21 hier in vs 32 aangehaal.

As ’n swanger vrou deur twee vegtende mans so gestamp word dat sy ’n letsel opdoen, dan moet hy gee lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek. (Sien ook Deut 19:21)

Die Fariseërs het die verband waarin Moses ons tekswoorde gesit het, totaal geïgnoreer en die volk geleer: So moet elkeen dit persoonlik gaan toepas: As iemand jou tand uitslaan, dan slaan jy syne uit.

Dit is jou reg, ja, dit is selfs jou plig, veral in die rugby of sokker van vandag! Wreed en bloeddorstig moet die onreg so “reggestel word”.

Dit was nie, soos die woord Thora sê, God se Vaderlike onderwys nie. Inteendeel, dit het God se volk teruggevoer na die geweld en die bloeddors van die mense van kort na die sondeval. Ek dink aan Lameg uit Génesis 4: Kaïn sal sewe maal gewreek word. Maar elkeen wat Lameg leed aandoen, sal sewe-en-sewentig maal terugbetaal word. As daar ’n vermeende onreg was, is dit dubbel en dwars terugbetaal. So sien jy dit nog in die wilde weste films van Hollywood. So sien ons dit by die bendegeweld in Suid-Afrika.

Maar het die Heilige Gees daardie Lamegsgees by u en my al volledig oorwin wanneer kwaaijongens ons vrugteboord stroop of booswigte jou kitsbankkaart steel en jou van ’n paar honderd rand beroof? Kweek die TV dié oeroue drange nie opnuut nie?

Die oog vir oog- en tand vir tand-beginsel in die Thora was nooit bedoel om ’n onbeteuelde wraaksug in die hand te werk nie. Dit was juis bedoel om die ongebreidelde bloedwraak hok te slaan, om te verhoed dat die skuldige dalk met albei sy oë of selfs met sy lewe sou boet as die bloedwrekers hom sou bykom. Nee, dan moes daar net ’n oog vir ’n oog betaal word: ’n straf eweredig tot die misdaad. Maar nog belangriker: Dit was nie ’n saak wat die individu, of hy en sy stamgenote kon afhandel nie. Die verband wys: dit was die saak van die REGTERS. Hulle moes die straf uitmeet. Exodus 21 was vir die bevoegde owerheidsinstansies. Net hulle moes toesien dat ’n oog vir ’n oog betaal word. Buitendien was dit nie noodwendig dat dié reël altyd letterlik toegepas moes gewees het nie. Soms kon ’n geldboete ook die onreg vergoed. Slegs as ’n lewe verloor is, moes ook weer met ’n lewe betaal word. Dit kon nie met geld reggestel word nie.

gereg

As die landsowerheid van Suid-Afrika vandag na die wyse Wet van die HERE sou luister kan meeste van die geweld onmiddellik ’n end kry.

Want net soos die Ou Testament leer dat die owerheid die taak het om elke misdaad met ’n straf van dieselfde gewig te vergeld, so leer die Nuwe Testament dit nog steeds. Dit is nie so dat die Ou Testament vergelding leer en die Nuwe Testament die liefde nie.

Beide Ou Testament en Nuwe Testament leer die liefde. Maar ook albei leer ewewigtige vergelding, maar dan slegs deur die bevoegde regsinstansies.

Selfs op die laaste dag sal God ons elkeen billik vergeld, sê die Bybel.

Christus stel weer die liefdeswet.

Maar wat het Christus dan bedoel met: “Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe?”

Letterlik: “....dat julle jul teen die bose nie moet verset nie”. Christus illustreer dit met drie praktiese voorbeelde:

Maar dan gaan dit nie meer, soos by die oog vir ’n oog en tand vir ’n tand, oor die owerheid se taak nie.

Dit gaan oor die vraag: Hoe reageer jy as jy PERSOONLIK ’n onreg aangedoen word? Kyk dan is ons gewoonlik reg om die een wat ons 'n vuishou in die gesig gegee het, twee of selfs drie terug te gee? Is ons houding een van: Ek is wel ’n lankmoedige mens, maar ek laat ook nie op my trap nie. En dan sit ons hom so op sy plek dat hy ons nie sommer weer sal probeer nie! Telkens word geredeneer dat hierdie opdrag van Christus te gek is om waar te wees.

Kom ons wees konkreet: ’n Booswig wil u dogter verkrag.

Moet sy dan, as sy Christus wil gehoorsaam, hom maar sy gang laat gaan?

Juig ons dit nie eerder toe as ons die berig oor die radio hoor dat ’n jong vrou ’n paar inbrekermans wat haar probeer oorval het, met ’n sambok goed afgeransel het en die skrik op die lyf gejaag het nie?

Laat ons nie juis daarvoor ons meisiekinders karate leer nie? Hulle moet hulleself kan verdedig! Maar dink ons ook daaraan dat sommige van ons dogters dalk met hulle houding en hulle kleredrag sulke aanrandings uitlok? ’n Meisie wat met uittartende kleredrag op straat gaan, soek vir moeilikheid.

Sekerlik, daar is ’n reg tot selfverdediging, selfs ’n plig daartoe.

En dit geld ook vir ’n volk en ’n land🔗

Maar Christus vra na die instelling van ons hart in ons persoonlike omgang met ander: Is daar by ons, soos die berymde Psalm 139 sê, nie dalk ’n “skadelike weg” nie? Is daar by ons wraaksug of ’n gees van vergelding? Of is ons houding een van VERSOENING, van liefde?

Dit kom ook na vore in die ander twee voorbeelde. Die van die onderkleed en die owerheidsbevel wat jou opkommandeer om een myl saam te gaan.

In al drie gevalle, die hou in die gesig, die onderkleed en die een myl, mag jou toeskietlike houding jou teëparty skaam maak. Jou houding kan die oorsaak wees dat die ander persoon sy hardheid en wreedheid gaan insien.

iemand in gesig slaan

As dit gebeur, dan is die kwaad deur die goeie oorwin.

Onthou dat Christus hier gebruik maak van die masjaal, die spreuk. So het Hy nie bedoel om ons ’n wet te gee waarvolgens ons altyd en oral en onder alle omstandighede moet handel nie. Trouens Hyself het dit by geleentheid van sy verhoor ook nie gedoen nie. Hy is toe op ’n lae manier in die gesig geslaan. Hy het nie teruggeslaan nie, maar Hy het ook nie die ander wang gedraai nie. Hy het sy aanrander op ’n waardige manier tot besinning gebring en nie gemoedere nog meer opgejaag nie. Een ding is seker: Om hier die regte houding te hê, verg baie wysheid en onderskeidingsvermoë.

Dit beteken in elk geval nie dat ons as ouers ons kinders maar moet laat begaan in boosheid nie. Of dat ons maar elke keer weer ons geld op ’n verkwister moet mors nie. Of dat regters oortreders maar moet oorsien nie. Nee, dit gaan oor die Christelike lewenshouding. Juis in ons tyd is daar so ’n geweldige behoefte aan versoening tussen mense, aan ’n ontwapenende houding. En nie alleen tussen volke en volke nie, maar ook tussen enkeling teenoor enkeling. Dié versoening is slegs moontlik as ons ons buig onder God se versoening in Christus Jesus. Dan kan daar deur sy Gees in ons iets groei van die gesindheid van ons teks, van ons Here self.