Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Matteus 5:6 - Versadiging vir die wat Honger en Dors

Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid. want hulle sal versadig word.

Matt 5:6

kraan🔗

Die geregtigheid waarna gedors word🔗

Daar is verskriklik baie ongeregtigheid in die wêreld. Mense word misken, geminag, verwaarloos, ens. ens. Die Here Jesus verkondig die belofte van versadiging vir wie honger en dors, in ’n kerk en wêreld vol ongeregtigheid.

Die honger en dors na die geregtigheid waarvan die Here Jesus praat, lê dieper as om moord en brand te skreeu oor talle vorme van onreg.

Wat het die Here bedoel met geregtigheid?🔗

Geregtigheid in die Bybel veronderstel altyd ’n verhouding. Dit beteken dat jy in daardie verhouding reg staan, dat jy lojaal is aan die een aan wie jy verbind is. Jy kom jou afsprake met hom na.

As God regverdig is of geregtigheid doen, dan hou Hy Hom aan sy afsprake met die mens. Want hy het Hom aan ons verbind. En as ’n mens regverdig is of geregtigheid doen, dan beteken dit: Of dit nou God is of ’n mens, met wie hy afsprake gemaak het, hy hou daarby! Hier in Matt 5:8 gaan dit oor die mens se geregtigheid of lojaliteit, of hy in al sy handel en wandel lojaal optree teenoor sy hemelse Vader, of hy Sy Koningsregte erken? En doen hy dit ook teenoor sy naaste?

Weet u, geregtigheid beteken vir ons meestal: Was die ander party lojaal aan MY?! M.a.w. geregtigheid is die geregtigheid waarop EK reg het.

So staan ons SELF in die middelpunt. En so was die Fariseërs. Hulle geregtigheid was dat hulle begaan was oor hulleself, oor hulle groep, oor hulle party, oor almal wet soos hulle gedink het. Dié was hulle naaste. Maar die volk, wat die wet nie geken het nie, is deur hulle afgeskryf!

Nee, hier gaan dit veral oor die geregtigheid waarop God en ons medemens reg het. Christus vra: Is jy lojaal teenoor HULLE?!

Die hele res van hoofstuk 5 laat dit sien:

Christus vra meer as die Fariseërs. Nie net of jy jou broer nie doodslaan nie, maar hoe behandel jy jou broer? Hoe behandel jy jou vrou, al pleeg jy nie egbreuk nie. Ja, die Here Jesus wou selfs weet: Watter behandeling ontvang jou vyand van jou? (vs 44) Hy vra volmaaktheid in die liefde, soos ons Vader in die hemel volmaak is. Geregtigheid – d.w.s hoe ons teenoor die ander en daarin teenoor God staan. Hongeriges en dorstiges na die geregtigheid – dit is die mense wat nie tevrede is as hulle hulle vriendjies gehelp het nie, maar wat selfs oor hulle vyande bekommerd is, dat hulle verlore mag gaan. Daarom bid hulle vir sulkes.

soldaat

So is ons by die kern waarin Christus al die gebooie van die wet saamvat, die gebod van die liefde. Liefde vir God en liefde vir ons naaste, maar dan prakties, konkreet. Dis die eis van die verbond.

Honger en dors.

Maar nou noem die Here Jesus dié salig wat “honger en dors” na die geregtigheid. Wat bedoel Hy?

Luk 6:21 lui: “Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word.” Geregtigheid word daar glad nie genoem nie.

Lukas praat van fisiese honger en dors, ’n leë maag en droë keel. Maar Matthéús van die wat honger en dors na die geregtigheid.

Matthéús beklemtoon die SOORT armes en die SOORT honger en dors wat die Here Jesus bedoel het. Dit was nie mense wat net hulle maag wou vul en hulle dors wou les nie. Hulle prioriteit was nie brood en water nie, al was baie van hulle honger en dors. Ook in Jesus se dae was daar baie armes en ellendiges, uitgebuit deur hulle ryk broeders wat God se Tora manipuleer het. Lees maar Psalm 10 en 11. Sulke goddelose kerklede het die fondamente waarop God die Israelitiese samelewing gegrondves het, die Tora, omvergegooi. Hulle het geleef asof God dood is en hulle wandade nie sien nie. Daaroor het die regverdiges getreur. Ondanks hulle eie nood het hulle gehuil oor die ongeregtigheid in die kerk. Nie ongeregtigheid wat hulle persoonlik aangedoen is nie, maar dat God se Koningsregte aangetas is en dat broers se regte in die verbond vertrap is, het hulle ondergekry. Dat daar in die kerk ’n skromelike tekort was aan die liefde - dit het hulle so ter harte gegaan. Hulle het eerste die geregtigheid van die koninkryk van God gesoek, vertrouend dat die HERE die res vir hulle sal byvoeg.

Honger en dors na die geregtigheid was dus nie ’n vae, onpeilbare begeerte na geregtigheid nie, maar ’n erkenning van verbondsverlating. Die Maria’s en Elisabeth’s en Sagaria’s en Simeon’s en Anna’s – hulle het gehonger en gedors na die geregtigheid en verlang dat die Messias, God se Gesalfde sou kom, Hy wat sondaars, soos Jes 61:10 sê, sou beklee met klere van heil, wat hulle sou verlos, wat hulle treurigheid in blydskap sou verander, hulle "in die mantel van geregtigheid wikkel.

Hy sou hulle gee wat hulle tekortskiet, waarna hulle honger en dors.

Die mense van wie Christus praat, is dieselfde wat die Ou Testament al genoem het: gebroke, regverdige verbondskinders teenoor die ongebroke of goddelose verbondskinders. Die wat getrou was aan God en sy Woord en sy verbond. En wat saam met God bedroef was oor die skreiende gebrek by hulleself, maar ook by ander.

Het die Fariseërs gehonger en gedors na die geregtigheid? Nee, hulle was kinders van Abraham, het hulle gesê. Hulle godsdiens was ver bo die gemiddelde! Hulle kon die Here soveel bied ... tweemaal se vas per week, en tiendes van alle ontvangste (Luk 18:12). Vergeleke by die tollenaar met sy bedrieglike belastingpraktyke het die Fariseër nie in geregtigheid tekort geskiet nie. Hy het vir sy eie besef heeltemal genoeg daarvan besit. Hy was ’n hoogs godsdienstige man.

Die tollenaar in die gelykenis was verpletter; hy het hopeloos gefaal en nie eers ’n klein begin van geregtigheid gehad nie. Daarom sy verslae gebed: O God, wees my sondaar genadig! Luk 18:13. Hy is geen heilige boontjie nie. Hy ken sy skuld voor God. Maar by hom sien ons die skreiende honger en dors daarna om reg te staan voor God en teenoor die mense.

’n Vraag: Is daar dalk by sommige van ons iets van die houding van die Fariseër? Verhef ons ons dalk oor konkrete geregtigheid wat ons bewys, soos omsien na siekes, soos opsoek van afdwalendes, soos erns met attestasies. Is sulke selfvoldaanheid nooit by sommige van ons gaande nie? En as dit is, weet ons dan nog wat honger en dors is na die geregtigheid?

Intussen was dit alles so diep tragies: Die Fariseërs was nie bewus daarvan hoe arm hulle was nie. Alleen as ons treur oor die agteruitgang by ons broeders en susters – ook in ander gemeentes, alleen as ons honger en dors dat daar meer geregtigheid moet wees, alleen as ons ons saam met hulle verootmoedig, kan Christus se belofte en sy saligprysing ook vir ons waar word.

leë bord🔗

Die versadiging🔗

Die wat arm van gees is, wat treur, wat sagmoedig is, wat honger en dors na die geregtigheid – want dit is almal dieselfde mense – hulle gaan iets wonderliks belewe, sê die Here Jesus. Hulle gaan versadig word.

Vir sulkes is ons Here Jesus, die Koning van die hemelse koninkryk, die antwoord op al hulle honger en dors. Hy is die HERE, ons GEREGTIGHEID.

Sy offer op Gólgotha bedek al ons onvolmaaktheid. Wie daardie offer in die geloof aanneem, is dadelik gevul met daardie geregtigheid. Vir hulle word die geregtigheid van Christus toegereken. Dit vul dan ons hart met die sekerheid dat ons vrede met God het. Dit is die versadiging waarvan Christus praat.

Maar Christus is ook ons geregtigheid daarin dat Hy ons deur sy Gees beklee met geregtigheid. Ja, dit is God die Heilige Gees wat in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. En dan lê ons ons nie neer by enige ongeregtigheid nie, nie teenoor broeders nie, maar ook nie teenoor ons naaste buite die kerk nie. Juis omdat die Here ons versadiging in Christus gegee het, bly ons teen alle ongeregtigheid inroep en ook ingaan!

Maar dan wag daar ook vir ons die heerlike dag dat ons op die nuwe aarde sal kom. daar waar die geregtigheid sal woon, daar waar ons ten volle versadig sal wees. Daar sal nooit meer tekorte wees in ons liefde vir God en ons naaste nie. Daar sal geen honger en dors wees na die geregtigheid nie. Want ons sal God volmaak gehoorsaam. In ons hart sal net plek wees vir Hom en sy Woord.