6 bladsye.

Mediese Etiek

dokters

In Nederland was die boekie Medische ethiek voor die sestigerjare die gids vir alle dokters in hulle praktyke as huisdokters en spesialiste. In dié boekie word aandag gegee aan onderwerpe soos onder andere die optrede van die dokter teenoor sy pasiënt, die vergoeding wat hy kan vra, die vestiging of verandering van sy praktyk, en beroepsgeheime. Die boekie het al vóór die Tweede Wêreldoorlog verskyn en het 'n paar drukke beleef wat onderling nie veel van mekaar verskil nie, want daar was in die mediese wêreld groot eenstemmigheid oor etiese sake. Sake soos aborsie en genadedood is nie eens in die boekie genoem nie. Dit was tog vir almal duidelik dat 'n mens jou nie aan die lewe van ongebo­renes en geborenes mag vergryp nie.

Ingrypende veranderings na die sestigerjare🔗

In die sestigerjare het groot verandering plaasgevind in Nederland. Groot verskille oor medies-etiese vrae sal daar vandag nie meer wees tussen u land en my land nie, vermoed ek. Moontlik het die verandering by u 'n bietjie later plaasgevind. In elk geval: ons kan die huidige situasie nie meer vergelyk met die vreedsame situasie op die gebied van die mediese etiek soos dit in die genoemde boekie beskryf is nie. Die lite­ratuur wat vandag verskyn, handel nie meer oor die vergoeding en die beroepsgeheime van die dokter nie, maar oor voorbehoedmiddels, vrugwaterondersoeke, abortus provocatus, reanimasie, oorplantings, ge­slagsverandering, genetiese manipulasie, bevrugting in vitro en ander onderwerpe. As u my vra waarom boeke oor mediese etiek vandag so anders daar uitsien as twintig jaar gelede en langer, dan moet ek twee faktore noem.

Ten eerste het die sekularisasie daartoe gelei dat hindernisse, waarvoor die mense vroeër gestuit het, nou afgebreek is. Dit sien ek die duidelikste by abortus provocatus.

Tog sou ek onvolledig wees as ek slegs die enkele faktor van sekularisasie noem. Daar is nog 'n faktor, naamlik die steeds voort­skrydende tegniek, wat ons óók voor probleme sou geplaas het — voor nuwe probleme dus — as die sekularisasie nie toegeneem het nie.

By vrywel alle onderwerpe in die moderne etiese tegniek moet ek met albei genoemde faktore rekening hou. Anders oordeel ek eensydig. 'n Mens kan "ag tog!" uitroep omdat alles vroeër so rustig was in die mediese etiek, en 'n mens kan alle nuwe probleme aan die sekularisasie toeskryf; maar dit is baie eensydig. 'n Mens kan ook alles toeskryf aan nuwe tegniese ontwikkeling, maar dit is net so eensydig. Want in die gebruik van hierdie ontwikkelinge al dan nie, en ook in die manier waarop 'n mens dit doen, blyk duidelik watter soort mens jy is: wil jy jou aan God se wet bind, of besluit jy op humanistiese wyse self wat mag en nie mag nie?

Begin en einde van lewe🔗

Ek kan in een artikel natuurlik onmoontlik nie alle sake aanraak wat van­dag in die mediese etiek 'n rol speel nie. Ek moet selekteer. Beide die faktore sekularisasie en tegniese ontwikkeling kom voldoende aan die orde as ek u aandag vra vir probleme wat daar is rondom die begin en die einde van die menslike lewe. Wat die begin betref, wil ek dan nog weer 'n indeling maak, naamlik

  1. die voorkoming,
  2. die veroorsaking en
  3. die beëindiging van swangerskap.

En wat betref die einde van die menslike lewe, wil ek aandag gee aan die genadedood, met die vir my belangrike verskil tussen

  1. die beëindiging van behandeling en
  2. die beëindiging van die lewe.

pil🔗

Voorkoming van swangerskap🔗

Vir die voorkoming van swangerskap is daar as gevolg van die ontwik­keling van die tegniek vandag baie meer middels as vroeër. Ek dink hier aan die pil en aan sterilisasie. In die algemeen kan ons sê dat die voorkoming van swangerskap vandag saamval met die behoud van die seksuele genot van gemeenskapsbeoefening. Vroeër was geboorte­beperking dikwels 'n opoffering vir getroude mense, omdat hulle hulle van seksuele gemeenskap moes onthou, maar teenswoordig is nog onthouding nóg coitus interruptus nóg die kondoom nodig om seksuele gemeenskap sonder vrees vir swangerskap te beleef. Geboortebeper­king was daar vroeër ook, maar deur Christene is dit deurgaans veroor­deel as Neo-Malthusianisme. Nou wys statistieke dat ook die Christene kleiner gesinne het en dat die gebruik van voorbehoedmiddels vir hulle baie minder onaanvaarbaar is as vroeër.

Beoordeling🔗

Daaroor kan nie net gunstig geoordeel word nie. Die mense word gemak­liker en beskou 'n gesin van vier of meer kinders reeds gou as 'n las. Sekularisasie oefen ook hier 'n invloed uit. Die materialistiese denke voorkom dat 'n mens die huwelik en gesinslewe in diens stel van God, die kerk en die naaste. Juis nou dat ons voorspoed geniet, en nie in armoede leef nie, sou ons in staat moes wees om 'n gesin met meer as twee of drie kinders te onderhou en die kinders ook nog op te voed. Moet ons nie onder andere ook aan die kerk se toekoms dink nie? 'n Mens kan wys op die dreigende oorbevolking, maar dit is net so belang­rik om te onthou dat die kerke leegloop en dat daar juis behoefte is aan jongmense wat geestelik lewenskragtig is en in hul ouers se spore volg, wat hulle self dinge ontsê om 'n goeie gesin te vorm tot eer van God en tot heil van die kerk en die naaste.

Daarmee word die gebruik van swangerskapvoorkomende middels nie veroordeel nie. 'n Swangerskap vereis voorbereiding en swangerskap is nie altyd verantwoord nie. Kinders word nie net gebore nie; hulle moet ook grootgemaak word. Faktore soos onvermoë, swakheid, siekte en die kanse om 'n gestremde kind te kry, moet in ag geneem word. As dit verantwoord kan word om géén swangerskap te laat intree nie, ls dit goed om voorbehoedmiddels te gebruik as seksuele verkeer ver­lang word. Terwyl ons grootouers nie oor die pil beskik het nie, kan ons dit wel gebruik en ons kan dankbaar wees dat seksuele omgang en die kans op bevrugting nie meer so sterk aan mekaar gekoppel is soos vroeër nie. Ons deel nie hier die Rooms-Katolieke standpunt dat seksuele gemeenskap altyd op voortplanting gerig moet wees nie.

Watter voorbehoedmiddel 'n mens gebruik, is myns insiens sekondêr. Wie hom laat steriliseer, moet natuurlik begryp dat dit baie ingrypender is as om die kondoom of die pil te gebruik. Die onderskeid tussen natuurlike en onnatuurlike middels, soos die Rooms-Katolieke Kerk dit beskou, is m.i. onhoudbaar. Is byvoorbeeld die algehele onthouding, wat volgens die pouslike sendbrief Humanae Vitae "natuurlik" genoem word, werklik so natuurlik? Kan ons nie ook sê dat dit onnatuurlik is vir 'n man en vrou om nie meer een vlees te word as daar betroubare middels is om dit verantwoordelik moontlik te maak nie?

Veroorsaking van swangerskap🔗

Baie mense wil swangerskap voorkom, of dit eties verantwoord is of nie. Maar daar is ook baie wat swangerskap wil veroorsaak, terwyl dit op die normale manier nie moontlik is nie. Maar ook hier sorg die medies-­tegniese vernuf soms vir verrassende uitweë. Ek volstaan met die noem van bevrugting in vitro. Is dit vir 'n Christen moontlik om hiervan gebruik te maak en kan dokters dit aanbeveel? In my land voel gereformeerde Christene verskillend hieroor. So byvoorbeeld wys my mede-etikus, prof. dr. W.H. Velema, bevrugting in vitro af. Ek kan ook die naam van prof. dr. E. Schuurman noem, wat bekend is vir sy beskouinge oor die teg­niese ontwikkelinge waarin hy 'n Babel-kultuur sien opkom. Ek respek­teer die opvatting van beide genoemde deskundiges op etiese en teg­niese gebied, maar aarsel tog om hulle in hul veroordeling na te volg. Bevrugting in vitro kan verkeerd gebruik word. 'n Mens vernietig dik­wels die embrio's wat gevorm is — en dit noem ek 'n vorm van abortus provocatus in die heel eerste stadium. Mense eksperimenteer met em­brio's — en ook daarvan is ek afkerig. Maar sluit hierdie verkeerde dinge 'n goeie gebruik totaal uit? Ek is daarvan nie oortuig nie.

in vitro bevrugting🔗

In vitro — drie voorwaardes🔗

Ek het in 'n ander artikel oor hierdie saak drie voorwaardes genoem waaraan beslis voldoen moet word om bevrugting in vitro te kan verdedig:

  1. Die embrio's wat 'n mens in 'n vrou plaas, moet afkomstig wees van haar en haar eie man. Kinders mag nooit los van die huwelik gesien word nie. Elke inbreuk deur 'n derde persoon — ook al is hierdie in­breuk kunsmatig-tegnies, dit wil sê sonder die hartstog van owerspel moet as 'n skending van die huwelik beskou word. Maar is dit 'n inbreuk op die huwelik as die saadsel en eiersel op 'n baie beson­dere wyse saamsmelt en die embrio daarna in die moederskoot geplant word? Is daar 'n prinsipiële verskil tussen hierdie proses en ander buitengewone prosesse soos kunsmatige inseminasie met sperma van die eggenoot, die stimulering van die eierstokke, die opereer van eierleiers of geboorte deur 'n keisersnee?
  2. Die embrio's moet sonder uitsondering in die moeder ingeplant word. Dat 'n gedeelte van hierdie embrio's nie tot innesteling kom nie, is iets wat na gewone bevrugting ook dikwels voorkom. Ons praat dan van spontane aborsie en nie van abortus provocatus nie. Is dit dan abortus provocatus as 'n mens meer embrio's in die moeder inbring, waarvan die meeste deurgaans verlore gaan? Of hulle verlore gaan, weet 'n mens nie vooruit met sekerheid nie, want meer as een keer is twee-, drie- of selfs vierlinge gebore ná bevrugting in vitro. Ek is daarom nie oortuig daarvan dat die medikus wat meer as een embrio inplant om die kans op swangerskap groter te maak moreel 'n grens oorskry nie.
  3. Die embrio's moet so gou as moontlik ingeplant word. Die derde voor­waarde sluit aan by die tweede. As 'n mens die embrio's nie so gou as moontlik inplant nie, dan is die gevaar groot dat daarmee geëksperimenteer word. Ek dink ook dat dit verkeerd is om embrio's te vries om daarmee nog 'n kind van 'n man te kry wat reeds dood is. Die pad van die bevrugting in vitro na die inplanting in die moederskoot moet so kort as moontlik wees.

As ek hierdie kwessie saamvat, dan kan ek getroude mense nie veroor­deel as hul op dié manier probeer om hul kinderloosheid op te hef nie. 'n Huwelik gekenmerk deur liefde en trou, word nie eensklaps verander in 'n laboratoriumhuwelik as die kry van kinders as 'n hoogs tegniese skakel in die lang ketting van die proses opgeneem word nie.

Beëindiging van swangerskap🔗

Vervolgens moet ek, na die sake rondom die voorkoming en opwekking van swangerskap, iets sê oor die beëindiging van swangerskap. Wat vroeër as moord beskou is, word nou ongelukkig vry algemeen aan­vaar, selfs deur Christene. In ons land is die wetgewing so, gewysig dat abortus provocatus vir byna elke swanger vrou moontlik is. In u land, verstaan ek, is die wet nog goed, maar in die praktyk gaan dit nie veel beter as in Nederland nie. Dit is 'n treurige toestand in albei lande. Sonder om te aarsel, veroordeel ek hierdie lewensafsnydende hande­ling. Sonder om te aarsel wys ek op die sekularisasie — die feit dat God en sy gebod nie meer belangrik is nie — waar owerhede aborsie moontlik maak deur wette te wysig, of deur negering van wette die kwade van aborsie aanvaar of daarin berus.

Met die moderne mediese tegniek het dit alles baie min of niks te make nie. Die aborsie-ingreep is meer perfek as vroeër en seker ook veiliger (vir die vrou natuurlik) as in die obskure vertrekke waarin vroeër ge­aborteer is. Dit is egter nie die tegniek nie, maar wel die veranderde mentaliteit van die mense wat veroorsaak het dat aborsie nou ook in die openbaar goedgekeur word en in hospitale en klinieke uitgevoer word.

Vrou: Baas van eie buik?🔗

Met die voorafgaande wil ek nie sê dat daar geen nood onder swanger vroue is nie en dat 'n swanger vrou haar met plesier sal laat aborteer nie. Maar die nood was vroeër ook daar en dit was dikwels nog groter. Maar toe was daar ook meer geloof in God en vrees vir sy gebod "jy mag nie moord pleeg nie".

abortus

In Nederland sê baie mense vandag dat die vrou moet baas wees van haar eie buik. Dat daar in die buik 'n ander mens is, en nie 'n ding waaroor die vrou vry kan besluit nie, is vir baie mense nie meer 'n realiteit nie. Die "ek"-denke het die "ons"-denke verdring. Selfs dit wat 'n vrou onder haar hart dra, word aan willekeur uitgelewer. Dit is 'n ander hou­ding as wat ek êrens by Calvyn gelees het. In sy kommentaar op Ekso­dus 21:22 skryf hy:

Dit is erger om 'n mens in sy eie huis dood te maak as op die slagveld, want vir elkeen is sy eie huis die veiligste toevlugs­oord.

Maar so 'n voor-die-hand-liggende gevolgtrekking van Calvyn klink vandag vir mense vreemd. Mense dink dat die begin van 'n mens net 'n bolletjie slym is, 'n konglomeraat van selle, en niks meer nie. Maar die Franse professor Lejeune sê tereg dat die mens héél klein gebore word.

Dit mag oorbodig klink, maar nogtans sê ek weer dat vir my die mediese indikasie, waar gekies moet word tussen die lewe van die moeder en die kind, 'n geldige indikasie vir abortus provocatus is. Grensgevalle is daar beslis, maar dit gaan vir my nou oor aborsies waarvan ek met oortuiging kan sê dat dit in stryd is met wat God vir ons oor die besker­ming van die lewe gesê het.

"Genade"-dood🔗

Ons gaan nou van die begin van die menslike lewe na die einde, met ander woorde vandat lewe wat gebore is en 'n tyd lank geleef het, tot sy einde kom. Onder die medies-etiese vrae is dié oor die genadedood van groot belang. Genadedood is nie eers van 1965 af aktueel nie. Van De Stoa tot Nietzsche is die vrywillige dood verdedig. Ons is miskien geneig om in die genadedood, net soos in abortus provocatus, sonder meer 'n sekularistiese verskynsel te sien. Ek dink dat ons daarmee seker die kern van die saak aanraak. Maar ook die ander faktor, naamlik die voortskrydende mediese tegniek, mag nie ongenoem bly nie.

Mediese mag — voorbeelde🔗

Laat ek verduidelik. Die mediese mag is in staat om kinders aan die lewe te hou wat vroeër baie gou na hul geboorte sou gesterf het. Pas­geborenes met ernstige vorme van rugmurggewasse, waarby 'n waterhoof of uitgebreide verlamming voorkom, of kinders met skade­like uitgebreide bloeding op die brein, waardeur skade aan vitale brein­dele veroorsaak is, sou vroeër gesterf het, maar kan nou met behulp van mediese tegnieke aan die lewe gehou word. Moet ons hierdie lewens in stand hou, terwyl hierdie swaar gestremdes voortdurend van medikasie afhanklik bly, of mag ons 'n dergelike mediese behandeling beëindig?

'n Ander voorbeeld. Deur reanimasie is dit moontlik om twee belangrike funksies, naamlik die bloedsirkulasie en die asemhaling, weer aan die gang te kry. Mense wat na ernstige verkeersongelukke vroeër beslis sou gesterf het, kan nou dikwels gered word deur reanimasie. Maar … daar is ook 'n moontlikheid dat die asemhaling en die bloedsomloop aan die gang gekry word, maar dat die pasiënt verder bewusteloos bly. Moet die kunsmatige behandeling dan voortgesit word, of is dit moreel verantwoordbaar om dit te beëindig? Daar was reeds hofsake oor hier­die vraag. Ek dink hier aan die beroemde geval van Karin Ann Quinlan in die Verenigde State wat langer as 'n jaar in 'n koma was en aan 'n asemhalingstoestel gekoppel was. Na die regter se uitspraak is die reanimasie beëindig, maar teen alle verwagting in het Karin nog 'n langer tyd bly leef.

Verskil tussen beëindiging van behandeling en beëindiging van lewe🔗

Hierdie laaste voorbeelde maak die verskil duidelik wat ek in die begin genoem het, naamlik die verskil tussen die beëindiging van die behan­deling en die beëindiging van die lewe. 'n Mens kan die behandeling beëindig sonder dat die lewe beëindig word. Ook al het Karen gesterf, dan sou ek in so 'n geval nog nie van genadedood praat nie. Die beëindiging van behandeling kan tot die dood lei, en in verreweg die meeste gevalle gebeur dit ook as die reanimasie stopgesit word. Maar die in­tensie verskil. Genadedood is 'n opsetlike beëindiging van die lewe. Die doel is die dood as verlossing van lyding en van 'n sinlose verdere lewe. Maar dit is nie die doel as 'n dokter opsetlik behandeling beëindig om­dat verdere behandeling sinloos is nie. Dit kan wees dat die pasiënt as gevolg daarvan gou sterf; dit kan ook wees dat hy bly leef. Dink aan Karen. Sy het verdere versorging nodig gehad, maar is nie weer aan 'n reanimasietoestel gekoppel nie.

genadedood

Ek dink dat die onderskeid tussen die beëindiging van die behandeling en die beëindiging van die lewe belangrik is. Nie net as dit oor reanimasie gaan nie, maar ook as 'n mondige pasiënt moet besluit of hy hom moet laat opereer of nie. Medies is daar vandag baie moontlik­hede. Dit is in baie gevalle 'n seën, maar dit kan ook frustrerend wees. As 'n kankerpasiënt verskillende behandelings ondergaan het, kan hy ook later sê: nou is dit genoeg. Ons moet mense nie doodmaak nie, maar ons moet hulle wel laat sterf. Om die lewe te verleng, is iets anders as om die lewe uit te rek en vir die laaste dae en minute te veg.

Is eerbied vir die lewe dié maatstaf?🔗

Daar word dikwels gepraat van "absolute eerbied vir die lewe". Dit is myns insiens nie 'n goeie term nie. Niemand kan so 'n absolute eerbied in die praktyk handhaaf, as 'n mens onder "absoluut" ook "ab­soluut" verstaan nie! Absolute eerbied sou beteken dat alle menslike lewe gelykgemaak, op een lyn gestel moet word. Daar sou vir 'n dokter dan nie meer verskil wees tussen die lewe van die moeder en die lewe van die vrug as hy met mediese indikasie te doen kry nie. Daar sou vir hom ook geen verskil wees tussen 'n bloedoortapping om 'n kind te red en 'n bloedoortapping om die lewe van 'n honderdjarige uit te rek nie. Net so min sou hy mag voorkeur gee aan die redding van 'n jong drenkeling bo die toevoeging van enkele ure aan die lewe van 'n sterwende.

Almal voel dat absolute eerbied vir die lewe, in die sin van "alle lewe is lewe en uit en gedaan", onmoontlik is. Die medikus, en ook ons, kan voor 'n keuse gestel word. En dit kom vandag indringender voor ons te staan as twintig jaar gelede, juis as gevolg van die ontwikkeling van die mediese tegniek. Pasiënte wat vroeër gou sou gesterf het, kan nou só behandel word dat hulle lewens gered word, maar dikwels ook dat hulle dood uitgerek word deur die een na die ander ingreep. Dan is dit nie 'n simptoom van sekularisasie nie as die dokter of die pasiënt of, nog beter, altwee saam sê: dis nou genoeg, die behandeling word verantwoord beëindig.

Drie moeilike grensgevalle🔗

Hier is allerlei probleme waarop 'n algemene antwoord nie gegee kan word nie, beslis nie deur die etikus sonder mediese kennis nie. Ek het gepraat van reanimasie. Dit kan wees dat die hart bly klop en die bloed bly loop, terwyl die elektroënsefalogram "vlak" of "leeg" blyk te wees, dit wil sê daar is geen sprake meer van enige breinaktiwiteit nie. As dit die geval is, kan ons sê die pasiënt is dood. Die dood van die brein beteken die dood van die persoon, ook al bring dit nie direk die dood van die hele organisme en al die organe mee nie. Dit is geen genadedood om die reanimasietoestel af te skakel nie, want die pasiënt is reeds dood.

'n Baie moeiliker geval is 'n hospitaal vir pasgeborenes met ernstige afwykings. Ek het daarvan reeds 'n voorbeeld gegee. Wat hier moet gebeur, sal van geval tot geval beoordeel moet word. Maar dit is van groot waarde dat dokters en verpleegkundiges onderling weet wat hulle hou­ding in die algemeen is teenoor gestremdes. En juis dan is dit weer duidelik hoe diep die sekularisasie ingedring het. Wie die menslike ge­luk van die kind en (veral) sy omgewing beslissend vind, sal makliker op genadedood besluit as hy wat ook in die swaar gestremde God se skepsel sien wat die reg het op lewensbeskerming. Ook so iemand sal, as gevolg van die ontwikkeling van die mediese tegniek, soms voor baie moeilike besluite te staan kom wat hom tot op die rand van genadedood en, in grensgevalle, miskien selfs oor die rand sal voer. Maar verleentheid in grensgevalle is ietwat anders as om genadedood ná deeglike oorweging in die hospitaalpakket op te neem.

Wat ek hier van die gestremde pasgeborenes gesê het, geld met die nodige veranderinge ook vir die lewe van ons senieles of van die bejaardes wat miskien nie seniel is nie, maar tog erg afgetakeld bly voort­leef. Dit is onmoontlik om 'n antwoord te kry op die sin van die lewe in bg. gevalle, maar dit is wel moontlik om uit eerbied vir die Skepper en Onderhouer, ook van sulke lewens, versigtig met mense om te gaan. Ons kan hulle pyn, as hulle pyn het, versag met pynstillers wat soveel beter is as vroeër. Ons moet ook probeer om hulle wat gebuk gaan onder hulle afgetakeldheid geestelik te help. Ongelukkig weet ons dikwels self nie raad met hulle lyding in die wêreld nie en wil ons hulle uit ons omgewing ban. Ons is slegte vertroosters, omdat ons baie minder as ons voorouers met die dood te doen kry en te doen wil kry.

reanimasietoestel🔗

Vashou aan God se norme🔗

Mediese etiek — dit sal duidelik wees uit wat ek hier bo gesê het ­te doen het met ons geloof. Ek moet kennis dra van die moderne ont­wikkeling as ek oor baie van die onderwerpe wil oordeel. Maar die skip van my kennis het 'n roer nodig.

Dit geld vir gesinsvorming waar ons moet nadink oor 'n nuwe men­selewe. Is ons bereid om moontlike offers te bring vir gesinsuitbrei­ding? Is ons bereid om die huwelik te respekteer deur byvoorbeeld kuns­matige inseminasie met die sperma van 'n skenker af te keur? Is ons bereid om 'n swangerskap te aanvaar omdat ons 'n medemens moet aanvaar? Vergeet nie die gasvryheid nie! Dit sê die skrywer van die Hebreërbrief waar dit gaan oor swerwende gelowiges en engele. Jy kan dit ook toepas op die ongebore kind, maar ook op die bejaardes, wat soms te maklik in inrigtings geplaas word, terwyl hulle daar soms te vroeg kontak verloor met jonger mense en met die hele lewe.

Die mediese etiek stel ons inderdaad telkens voor nuwe vrae. Algemene oplossings is dikwels nie meer toereikend nie. So maklik soos voor die oorlog is dit nie meer nie. Tog kan ons ons pad deur die probleme heen vind — vir ons self en vir ander, ook deur Christelike gesprekke met mekaar — as ons vashou aan die norme in God se Woord. "U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad" (Psalm 119:105) — met hierdie belydenis sal ons die pad deur probleme waarvoor die mediese etiek ons te staan bring, vind.

Bibliografie🔗

  • Bakker, D.J. e.a. 1985. Nieuwe medische ethiek. Voortgaande bezin­ningen. Amsterdam.
  • Douma, J. 19841. Abortus. Kampen: Kok.
  • Douma, J. 19842. Rondom de dood. Kampen: Kok.
  • Noordegraaf, A. 1985. Ethiek en reageerbuisbevruchting. Kampen: Kok.
  • Sporken, P. 1977. Ethiek en gezondheidzorg. Baarn.