Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

In Memoriam - Oor Die Christelike Rou: n.a.v. 2 Samuel 1:17-27

blomme🔗

Saul🔗

Dawid rou oor Saul wat jarelang sy agtervolger was. Dawid het ’n vyand verloor. ’n Mens kan dit egter nie aan sy rouklag agterkom nie. Hy rep geen enkele woord oor Saul se vyandskap teenoor hom nie. Niks word gesê tot nadeel van die oorledene nie. Nee, ook nie in die trant van ‘die Here het Saul se kwaad op sy eie hoof laat neerkom nie’ (Vgl. 1 Samuel 25:34). Slegs woorde van lof word gehoor: Saul die held, die beminde, die lieflike, die ‘vrygewige’ (1:24).

Is dit ’n gebaar van hoflikheid? Met as motto: ’n mens moet die dooies met rus laat. En: moet niks anders as goeie dinge van die dooies sê nie? Moet ons nou uit vroomheid die kwaad agterlaat by die dooies en slegs die goeie saamneem?

Of is dit eintlik ʼn slim set van Dawid? Is dit Dawid se plan om nuwe aanhangers te verwerf? Hy het eintlik maar net krokodiltrane. Hy is reeds besig om die getal oorlopers tussen sy trane deur te tel. Indien laasgenoemde die geval sou wees, dan vra jy jouself wel af wat hierdie rouklag in die boek van die Opregtes doen (1:17)!

Dit is opvallend dat Dawid nie ʼn onwelvoeglike woord oor Saul laat hoor nie. Maar dit is nie so vreemd nie. Dawid het altyd respek vir Saul gehad as die gesalfde van die Here. En hy het sy houding teenoor Saul tot dusver nie gewysig nie. Waarom laat hy andersins die Amalekiet doodmaak (1:16)? En waarom prys hy die manne van Jabes (2:5, 6)? Dawid bly respek betoon aan Saul as ‘messias’ (gesalfde), ook al het hy reeds gesterf. Hy verander nie van koers nie, selfs nou dat die koningstroon leeg staan.

Saul moet as ʼn held in herinnering gehou word! Sy swaard het groot suksesse beleef. Dawid ondersteun Saul hierin. Hulle het ’n gemeenskaplike vyand, wat nou leedvermakerig is (1:20). Dit maak hierdie gebeurtenis so diep hartseer. Nie slegs dat die helde geval het nie – hulle lê daar, selfs onbegrawe – maar veral dat die wapentuig van hom-wat-met-olie-gesalf-is eenkant weggegooi is.

So sien Dawid vir Saul: Die gesalfde wat die gemeenskaplike vyand moes bestry. Die gesalfde wat God se volk teen die slegte invloede moes beskerm. Hierdie gesalfde het dood op die slagveld agtergebly. Daarom is die verlies so groot! God se volk mis nie slegs ’n moedige en heldhaftige man nie. Hulle mis ’n gesalfde, instrument van God se verlossingswerk. Dawid wil Saul as sodanig in herinnering hou. As die persoon deur wie God verlossing gebring het!

Hierdie toon moes die dogters van Israel ook getref het in hul klaagsang (1:24). God het bevrydend en seënryk gewerk deur middel van Saul. Dit kan nog gesien word aan die weelderige klere, inklusief goudsieraad waarmee hulle hul mog klee. Saul was nie slegs ’n held nie. Hy was ook ’n rojale man wat geweet het hoe om die buit te verdeel. Kenmerkend vir ’n Benjaminiet (Genesis 49:27)!

Maar was dit nou regtig: Saul, die beminde en geliefde? Op één lyn met Jonatan. Is dit nie oordrewe nie? Dawid deins nie daarvoor terug om Saul as simpatiek voor te stel nie. Hy het geen wrok meer oorgehou van die tyd toe ’n bose gees sy lewe versuur het nie. Hy sien Saul voor hom as die beminde en geliefde, die innemende persoonlikheid. Wat byvoorbeeld kon sê: ‘jy is regverdiger as ek’ (1 Samuel 24:18). Dit was ook hoe Saul was!

kroon

Dawid het hom nie laat verlei om hom op Saul die gesalfde te wreek nie. Selfs nie toe hy al gesterf het nie. Geen leedvermaak nie, maar erkenning van God se werk in en deur mense. Dawid het oog vir die werk wat God se Gees deur Saul gedoen het. Hy spreek ook geen veroordeling uit oor Saul nie. Hy bring sy verwerping as gesalfde nie eers ter sprake nie. Laat staan nog sy verwerping as mens. Hy hou hom nie besig met wat vir hom verborge is nie. Hy laat dit aan sy Seun oor, Jesus Christus. Dawid hou hom by die geopenbaarde dinge. Die verlossende werk wat God deur Saul gedoen het.

Geen vleiery nie, geen skynheiligheid nie. Dawid bedryf messiaanse of Christelike rou. In sy rouklag bewys hy hom as die gesalfde, die man na God se hart.

Jonatan🔗

Jonatan, ’n juweel van ’n man. Hy lê verslaan op Gilboa. Dawid kan nie sterk genoeg verwoord nie. Sy boesemvriend lê neergevel op die slagveld. Hoe gaan hy ooit hieroor kom? “Ek is benoud om u ontwil.” So diep ontroer is hy, dat hy inmekaar krimp. Hy is in die wurggreep van die rou. Intense hartseer omdat hy afstand moet neem van die man wat nog altyd baie na aan sy hart gelê het.

Dawid verloor ’n held. Sy posisie as prins, het Jonatan nooit van die oorlogsfront af weggehou nie. Hy was nie té beroemd om saam te stry nie. Jonatan, ’n befaamde boogskutter. ’n Dapper stryder (1:22). ’n Pronkstuk in die slagorde. ’n Man wat dit gewaag het om man-alleen ’n groot aanval te loots (1 Samuel 14).

Dawid verloor ’n vriend, ’n baie besondere vriend. Omdat hulle mekaar gesoen het (20:41)? Asof dit die mees besondere van die vriendskap was! Wanneer hierdie vriendskap verklaar word as ’n homoseksuele liefde, toon dit slegs aan hóé ver verwyderd ʼn mens is van die kultuur waarin dit baie normaal is dat vriende mekaar omhels. Ja, maar praat Dawid dan nie van ’n liefde wat wonderliker is as die liefde van vroue nie?! Gee hy dan nie self te kenne dat die liefde van manne dié van vroue oortref nie?

Dawid bedoel heeltemal iets anders. Jonatan se liefde is so besonders omdat dit verder as die seksuele liefde gaan. Sy liefde is van ’n ander orde. Dit is die liefde van selfopoffering. Die soort liefde wat homself soos ’n kers verteer. Dit is dit wat Jonatan so besonders maak. Hy het getrou gebly aan sy pa, in lewe en in sterwe. Maar tegelykertyd het hy nooit sy verbond met sy vriend verbreek nie. Daardie verbond het vir Jonatan geen eiebelang ingehou nie, net selfopoffering. Want dit het beteken dat hy sy plek as kroonprins aan Dawid moes afstaan. As hy hom aan sy verbond met Dawid wou hou, moes hy sy hoë posisie prysgee. Jonatan is daardie soort vriend wat ander uitnemender geag het as homself.

Daarom – Dawid verloor met Jonatan ook ’n broer. Dit is nie te veel gesê nie, want dit wat hulle die intiemste aan mekaar verbind het, was hulle gemeenskaplike oortuiging. Dawid is deur die Here gesalf. Die Here plaas hom op die troon! Dit wat hulle saam gebind het, was één rotsvaste geloof, soos dit in hul heldedade na vore gekom het! Dawid:

Die HERE sal my red uit die hand van hierdie Filistyn.1 Samuel 17:37

Jonatan: Want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.1 Samuel 14:6

Dawid prys vir Jonatan. Is dit vleiery? Hemel Dawid sy vriend op? Prys hy hom in die hemel in? Dawid leer ons nie om so krampagtig te wees in die gedenk van ’n oorledene nie. Hy sien Gód se werk raak in hierdie man, Jonatan. Wie se selfopofferende liefde so besonders was? Beter nog: deur wie God se Gees so wonderlik gewerk het!

broers

Dit is Christelike en messiaanse rou. Dawid herken en erken die werk van die Gees wat so groots in mense werk. Dawid rou soos dit ’n messias (gesalfde) betaam, wat deur dieselfde Gees gegryp is (1 Samuel 16:13; 2 Samuel 23:2). Hierdie rou blyk heel menslik te wees. Dit word intens belewe. Dawid krimp inmekaar daardeur. Hy skaam hom nie vir sy diep verdriet nie. Net so min soos Dawid se Seun, Jesus Christus (Johannes 11:35). Hy neem alle ruimte daarvoor.

Dawid skaam hom nie vir sy gewonde hart nie. Ook nie teenoor God nie. Waarom sou hy? Want daarin vertoon hy juis God se beeld. Want God self kan ook maar baie moeilik afstand neem van sy gunsgenote:

Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.Psalm 116:15

Jonatan, Jonatan, my broer!