2 bladsye.

Met die Voete Bid

Oproepe tot gesamentlike gebed in ’n tyd van buitengewone nood het nie op dowe ore geval nie. Duisende mense het op die eerste Sondag van Junie op meer as 810 plekke in sowat 620 Suid-Afrikaanse dorpe en stede bymekaargekom om te bid vir oplossings van maatskaplike probleme soos misdaad, rassisme en armoede. Soortgelyke bidbyeenkomste is op meer as 4 000 plekke in Afrika en elders ter wêreld gehou.

Om as gelowiges saam te kom en te bid is ’n besondere voorreg waarvan ons elke Sondag by uitstek mag geniet. Om op sekere tye, as die nood dit eis, ’n dag van verootmoediging en gebed te hou is eweneens ’n besondere voorreg. Menigmaal het die volk Israel hulle op so ’n manier voor die Here verootmoedig, veral in die jare rondom die ballingskap. Die Gereformeerde kerkorde (artikel 66) maak spesiaal daarvoor voorsiening dat in tye van oorlog, pestilensie, algemene volksrampe en ander groot beproewings waarvan die druk in die kerke oral gevoel word, ’n dag van verootmoediging en gebed gehou word. Dit ly geen twyfel dat ons in Suid-Afrika en in Suider-Afrika tans sulke omstandighede beleef nie.

Tog moet daar voortdurend teen eensydighede en verkeerde aksentuerings gewaak word – veral waar dit kom by die organisering van sogenaamde wêreldbiddae. Gesamentlike aanbidding mag nooit aangemoedig word bo of in die plek gestel word van persoonlike gebed nie. Dit mag eweneens nie in ’n menslike demonstrasie van massa-optrede teen wie of wat ook al ontaard nie. Dit mag allermins ’n manier wees om die Vader, tot Wie ons bid, te probeer manipuleer.

Uiteraard gee die media – gedruk, gebeeldsend, sowel as gesproke – ’n eiesoortige weergawe van die biddae wat gereël en gehou word. Alles wat die media daaroor sê moet beslis nie as waar aanvaar word nie. Nietemin laat ’n terloopse opmerking soos ‘die byeenkoms in Kaapstad het 45 000 mense gelok’ ’n mens dink. Daar kan ook iets soos demokratisering van gebed plaasvind. Een van die nuutgevonde en besonder gewilde slagspreuke van ons tyd is: ons stem met ons voete. Daarmee word bedoel: getalle praat.

Demokrasie. Die volk sê sy sê, en dit durf nie geïgnoreer word nie. Tel die voete, deel deur twee – en jy weet wat die volk wil. Dit is seer seker nie uitgesluit dat daar ook met die voete gebid word nie. Die syfer van 45 000 praat.

Met hierdie enkele verwysing na die waarneming van ’n joernalis word daar geensins afbreuk aan die noodsaak van gesamentlike verootmoediging en gebed gedoen nie. Daar word wel ernstig gepleit vir suiwer motiewe en doelstellings. In die verlede het dit menigmaal gebeur dat daar biddae in tye van droogte gehou is, maar ’n dankdag vir reën en ’n goeie oes het nie op ’n soortgelyk georganiseerde wyse voorgekom nie.

Christus beveel ons: ‘gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde’ (Matthéüs 6:6). In dieselfde asem waarsku Christus ernstig teen demonstrasies op straathoeke en in sinagoges. Die Vader wat die gebede ontvang en verhoor kyk in die hart van die bidder(s).

Buitendien: een man het gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op aarde drie jaar en ses maande nie gereën nie. En hy het weer gebid, hy alleen. Die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit (Jakobus 5:17-18).

Ons durf nie met voete bid nie. Daar moet uit geloof gebid word.

As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind (Lukas 18:8)?