Bron: De Reformatie. 7 bladsye.

Met Hart en Mond en Hande

Hierdie aanhaling uit ‘n gesang, wat as titel bo die artikel staan, kom baie keer in ons gedagtes op. So werk die Heilige Gees blye stemminge by ons!

Kom, dank nou almal God
Met hart en mond en hande,
loof Hom wat wonders doen
tot in die verste lande

God doen groot dinge. Ook mag ons as mense goeie dade of mooi werke doen. Baie keer het ons organisasies wat namens alle kerkmense groot dinge in ander lande doen. Maar hoe lyk dit in ons eie land, met die naaste by ons? Wat is ons motief om klein dingetjies in God se groot Naam te doen? Daar is genoeg klein dingetjies wat ons kan doen, wat betekenis het in die groot werk van God. Dank ons God regtig ook met ons hande? Gaan die dank aan God ook op, as ons die naaste wat naby ons is, in die geloof dien?

1. Diakonie na Buite🔗

CJ de Ruijter het twee artikels geskryf oor hoe die diakonie 'n taak buite die gemeente het: "Diakonie na buite". Hy formuleer versigtig 'n paar belangrike uitgangspunte. In die eerste plek moet die werk van barmhartigheid nie los gemaak word van die verkondiging van die blye boodskap nie. In die tweede plek moet die gemeente diakonaal ingeskakel word. Ek sou hier wil byvoeg: nie alleen deur te gee nie, maar ook deur iets te doen. Hierdie twee artikels is beslis inspirerend. Tegelykertyd is hulle vaag deurdat De Ruijter net voorbeelde van die daadwerklike diakonie na buite noem. Wel wys hy op die verbinding van evangelisasie met hulpverlening. Evangelisasiewerk kan baie mooi deur 'n plaaslike gemeente gedra word. Maar daardie dra-vlak word steeds groter, as daar 'n diakonale dimensie bygevoeg word.

Een vraag bly staan: loop daar 'n lyn van Woordverkondiging na die barmhartigheidswerk of kan dit omgekeer word? Kan die kerk ook eers begin met diakonale werk onder mense, terwyl dan mettertyd (waar moontlik) die Woord gespreek sal word?

In hierdie artikel wil ek vanuit 'n konkrete plan skets hoe myns insiens die Bybel ons 'n diakonale taak buite die kerk gee. Vervolgens wil ek die opset van die plan toets aan die uitgangspunte wat De Ruijter aangedui het.

Hierdie konkrete plan is 'n hospice, of huis vir ongeneeslike siekes. Die nuwe van hierdie plan is dat dit oor die daadwerklike barmhartigheid gaan, teenoor mense wat moontlik nie lid van 'n Gereformeerde kerk is, mense wat veral nie deel in die voorregte van die gemeenskap van die heiliges nie. Is daar in die Bybel enige aanleidinge om aan barmhartigheidswerk na buite te dink? En lê die Here self miskien ook 'n verbinding tussen die verkondiging van die Evangelie en goeie dinge doen vir die naaste? Die antwoorde op hierdie vrae is noodsaaklik, omdat evangelisasie ons beperkte sig binne die eie kerk nog maar pas deurbreek het. Waar lê die grense om die kerk?

2. Volk en Vreemdeling (OT)🔗

In die Ou Testament word daar sterk gefokus op die een volk, wat deur die Here uitverkies is uit al die volke van die aarde. Hoe sterk hierdie refrein ookal mag wees, daar klink ook 'n ander klank deur. Die wette wat die HERE gee, moet die eie nasionale en geestelike lewe van Sy volk in die nuwe land reël. In die wette van die HERE word ook die ander klanke gehoor: die HERE self gee aandag aan die buitelander, "die vreemdeling wat in jou poorte is". So het God se volk 'n eie samelewing gevorm, Israel. Israel se wetgewing het mense uit die buiteland, meestal die vyandige volke, onderskei in twee groepe: nl. vreemdelinge en bywoners.

Bywoners is die wat deur allerlei lotgevalle by Israel aangekom het maar ook weer vertrek. Die vreemdeling is die buitelander wat ondertussen 'n vaste plek onder God se volk gevind het. Die lotgeval wat hom in Israel gebring het, is meer as net 'n toevalligheid. Die leiding van die HERE, die God van Israel, moet in sy lewe gesien word. God het immers in sy wette al vantevore ruimte vir hulle geskep, ruimte om temidde van God se eie volk 'n bestaan op te bou. 

Die seën van die HERE in die land mag ook uitstrek oor die vreemdeling. Die Sabbat is ook daar vir die "vreemdeling wat in jou poorte is" (Ex. 20:10). In die uitwerking van die 10 gebooie sê die HERE: "Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van 'n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het" (23:9). Nasionaal mag die gevoel om vreemdeling te wees, nie vergeet word nie. Positief sê die HERE: "En as 'n vreemdeling wat by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland" (Lev. 19:33-34). Die HERE lê dit vas, want "Ek is die HERE julle God, wat julle uit Egipteland uitgelei het" (vs. 36). Ook as die volk op die punt staan om die beloofde land binne te trek en hul geslote samelewing op te bou, kom die HERE hulle nog 'n keer daaraan herinner hoe dit later moet wees: julle moet "die vreemdeling liefhê deur hom brood en klere te gee" (Deut. 10:18-19).

Wat 'n duidelike motief: die herinnering aan eie bevryding deur die HERE. "Julle weet hoe 'n vreemdeling voel". Hierdie wette wil voorkom dat die buitelander 'n buitestaander binne die bevoorregte volk van God bly. Die vreemdeling word deur die HERE op een lyn geplaas met die weduwee en die wees en soms selfs met die Leviet. Deur die besnydenis kon hulle heeltemal in die volk opgeneem word. U volk is my volk, u God is my God, het 'n vrou gesê - Rut. Maar ook sonder dat daar volledige opname in die volk was, moes die vreemdeling die godsdienstige wette, soos offers en feeste onderhou (Lev. 16:29; 17:8; 22:18) en afsien van heidense gewoontes (Lev. 20:2; 24;16).

God se volk het in Kanaän 'n eie samelewing geken, sosiaal geslote en beskerm teen die buitewêreld. Die ander volke was oor die algemeen vyande van God se volk. Vir die vreemdeling gaan die grense 'n klein rukke oop. Hy mag bly, en as hy deel wil word van hierdie volk, ook deel in God se seëninge. Opvallend is: binne die beskerming van die HERE mag ook ander hul lewe lei en God se sorg en seën geniet. Die liefde van die dubbelgebod vir Israel bereik ook die vreemdeling. Wat gebeur daar met die geslote samelewing van God se volk wanneer in die Here Jesus die nuwe verbond begin en die liefde van God volkome openbaar word?

3. Preek en Genees (die Evangelies)🔗

Die lewenswerk van ons Here Jesus Christus, die werk wat Hy met al sy kragte, tydens heel sy lewe gedoen het, kan saamgevat word as: preek en genees. "En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees" (Mat. 9:35). Deur die evangelies heen is dit opvallend hoe die twee hand aan hand gaan. Jesus doen van harte in God se naam groot dinge: met mond en hande! Die mense het na Hom gekom "om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word" (Luk. 5:15). Sonder om enige onderskeid te maak, deel Jesus Sy gawes uit. Ook sonder om eers geloof in Homself te vra. “En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak” (Luk. 6:19). Dit het beslis krag van Hom geneem om gesond te maak.

As Johannes die Doper na Hom laat vra, staan daar: “En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die sig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig” (Luk. 7:21-22).  So wyd strek die Genesende hande van die Here hul uit. Hy maak die lewe weer nuut wat mense besondig en beskadig het.

Daarna gee Hy ook sy twaalf apostels die twee take in hul hande. “En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (Luk. 9:1-2). Die konklusie is dat genesing van siekes én prediking van die Evangelie hand aan hand gaan.

Die Here Jesus weet dat Hy gestuur is na die verlore mense van die huis van Israel.  Het Hy ook oog gehad vir die vreemdeling? Die Romein, die hoofman van Kapérnaüm, asook sy kneg kry aandag van die Here.  ‘n Romein is in die oë van die Joodse volk eerder ‘n vyand as ‘n vreemdeling. Maar op die geloof van die heer ontvang sy kneg,  genesing (Matt. 8).  As Jesus in die land van die Gadaréners ‘n besetene van duiwels bevry het, stuur Hy hom vervolgens na Dekàpolis, om daar die blye boodskap te gaan vertel. Dié gebied was vroeër deel van Israel, maar nou is dit ‘n Grieks, heidense gebied (Mark. 5). Op ‘n keer trek die Here Jesus hom terug in die streke van Tirus  en Sidon. Ja, Hy kom ook in die buiteland! Daar, in die heidense buiteland wys Hy die vrou nie weg nie, ook nie as Hy onderstreep dat Hy self eintlik alleen gestuur is na die mense wat die verlore skape van die huis van Israel is (Matt. 15). Sy word Kananése genoem, volgens die ou heidense bewoners van Palestina. Maar deur haar geloof word haar dogter van die bose gees bevry.

Die Here Jesus self sou nie in die buiteland werk nie. Nee, daar moes die apostels heengaan! Vir die vervolg op sy werk van prediking en genesing het Hy sy vriende gereedgemaak. As die Heilige Gees gekom het, gaan die Evangelie momenum opbou om tot aan die einde van die aarde te kom. Dit wil sê: te midde van elke heidense samelewing op aarde. Ook deur die een keer wat Jesus self gegaan het is dit duidelik: die prediking en genesing - die mond en hande van die Evangelie - sou spoedig oor die grense na die buiteland gaan.

4. Gemeente en Gasvryheid (die Briewe)🔗

Die wonderlike van die kerk van Christus is, is dat dit nou hulle is wat die vreemdelinge van hierdie wêreld vorm. Dit is ‘n pragtige naam: “vreemdelinge in die verstrooiing”. Ek wil nou ook die motief van gasvryheid aan die vreemdeling in hierdie ondersoek betrek.

Hoe beoefen christene vandag gasvryheid? Ons huise het veral ons privaat-tuistes geword. Vriende, familie en bekendes is nog  welkom, maar selfs vir broeders en susters in die Here, stel ons baie gou perke. Ja, vroeër in die oorlog is daar onderduikers gasvry in ons huise ‘n tuiste gegee. Toe is dit nog gedoen, maar daarna het die welvaart gekom. Werklike gasvryheid het in die kerke amper uitgesterf. Sê ons nie maar alte gou: ons huise is mos te klein, nie?! Of is daar in werklikheid ander redes?

Aan die einde van die pragtige Hebreërbrief, oor Christus ons priester, staan die oproep: “Die broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg” (13:1-2). Abraham, Lot en nog ander het inderdaad engele in hul huise gehad, hoewel hulle gewoon gasvry wou wees. Herberg-saamheid beteken dieselfde as gasvryheid, vir ons ewe ongewoon. In die Griekse taal word daar ‘n woord gebruik wat dit so omskryf: liefde vir die vreemdeling (filo-ksenia). Van die oudstes (1 Tim. 3:2; Tit. 1:8) en die weduwees (1 Tim. 5:10) in die gemeente word verwag dat hulle moet opval deur hul gasvryheid. “Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer” skryf die apostel Petrus (1Petr. 4:9).

Ja, die gasvryheid word uitgeleef as daar medegelowiges van hul reis aankom. In die eerste plek het die Here Jesus self die gasvryheid en sorgsaamheid van baie geniet op sy reis deur die ou beloofde land. Nou geniet sy getuies van hierdie deug wat Israel as Oosterse volk geleer het.

Was hierdie wye gasvryheid in die jong kerk beperk tot alleen die broederskap?  Word in Hebr. 13:1 ‘n beperking op vers 2 gelê: "Die broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie”? Nee, dit kan geen inperking van die wye karaktertrek van die gemeente wees nie. In ‘n lys van liefdesbewyse, sê Paulus: "Streef na gasvryheid" (Rom. 12:13).  Dit staan in die middel: tussen bydraes maak in die nood van die heiliges, en die seën van vervolgers. So staan die christen in die middel van die wêreld: die Bybel noem hom die vreemdeling èn dra hom liefde op vir die wat net so los van sy eie agtergrond geraak het. Die brief van die Hebreërs en die van Petrus noem aan die een kant die christene vreemdelinge en dra aan die ander kant die gasvryheid, die liefde teenoor vreemdelinge aan hulle op.  Ook Paulus en Johannes het op hul reise vir die Evangelie self ondervind wat gasvryheid beteken. Dit is belangrik dat hierdie karaktertrek van die kerk lewendig bly. Dit hoef nie engele te wees vir wie ons onderdak aanbied nie. Laat dit liewer mense wees wat christene só leer ken het.

Gal. 6:10 was, soos De Ruijter sê: die oer-prinsipe van die diakonie in die oud-christelike kerk. “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof”.  Hierdie patroon herken ons in ons bewyse om gasvry te wees. Gasvryheid het in diens gestaan van die gesamentlike taak om die Evangelie te verkondig. Tegelykertyd het dit ‘n fundamentele karaktertrek van die christelike kerk gebly, soos dit in Israel was. Gasvryheid in die huise van christene is die helpende hand vir die vreemdeling wat los geraak het van sy eie maatskaplike sekerheid. En ‘n christen weet wat dit is, omdat hy self ‘n vreemdeling op aarde geword het.

5. Bybel en Barmhartigheid🔗

Naas genesing as gawe van die Here en gasvryheid (ook teenoor die vreemdeling), gaan ons nou kyk na barmhartigheid as ‘n gawe van God se Gees.  Die begrip “barmhartigheid” neem in die Bybel ‘n belangrike plek in.  Of nog beter, die HERE gee die barmhartigheid ‘n plek in ons lewe!  Van Hom staan daar “dat die Here vol barmhartigheid en ontferming is” (Jak. 5:11).  Dit kenmerk ook die insette van die Here Jesus Christus in sy werk onder die mense.  Hy was dit wat die gelykenis eers bedink  en vervolgens vertel het: van die barmhartige Samaritaan, die man wat eers self gesorg het en daarna ‘n herberg gesoek het vir die verdere verpleging.  Die Samaritaan is die buitestaander, wat die mense van God se volk beskaamd gemaak het deur sy inset sonder voorbehoud.

God se volk behoort te weet dat God “barmhartigheid wil hê en geen offerande nie” (Matt. 9:13).  Barmhartigheid en ontferming as Christelike deugde ken geen voorwaardes en geen beperkings nie.  Die naaste in sy nood leef in God se wêreld langs ons wat die geroepenes is: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10).  Die prioriteit vir medegelowiges is geen grens vir die ongelowiges nie.  Waarlik, kerkgrense mag geen grense trek in die betoning van liefde nie.  Christus het nie die grens van sy ontferming getrek by getroue kerkmense nie, maar juis by die afgedwaalde en ontspoorde mense.  Ons mag die liefdesgebod nie tot die Christen-naaste beperk nie.

Ja, in die tyd toe die heil beperk was tot Israel, was barmhartigheid vernaamlik gerig op die mense van God se volk.  Maar ook die vreemdeling en bywoner, die 'buitelander' wat die geloof betref, word deur God se eie wette beskerm.  Noudat die heil in die wêreld gekom het en die Christene ‘n plek in die wêreld ontvang het, het die gebod tot naasteliefde veel wyer geword.  Soos Christus ons Here soms die grense oorgesteek het om daar mense met Woord en daad te help, so sal ook die kerk na buite toe moet beweeg om goed te doen.  “Jy moet jou vyande liefhê”:  hierdie woorde van die Here maak Christelike liefde grensloos.

6. Evangelie en Eensaamheid🔗

Die grens rondom die volk van die nuwe verbond kan nie by die mure van die kerk getrek word nie.  Hoeveel het immers al die spoor byster geraak, miskien al generasies gelede?  Vir wie is die doop nog altyd daar om opnuut ‘n sprekende teken te word?  En is die grense van die kerk nie juis daarom oop nie, omdat die Here wil soek dié wat verlore is?!  Wat verlore is: ja, dit is in sonde.  Maar kan dit nie net so goed bedoel wees vir ‘n verlorene in siekte nie?  Dan is die verlorenheid van die lewe konkreet in siekte en eensaamheid sigbaar.

In Amsterdam (Nederland) het die gereformeerde kerke deur die werk van evangelisasie meer sig op die nood in die stad gekry.  Ja, ons moes buitentoe beweeg om te ontdek dat medemense sonder God in nood is.  Die Here het op hierdie manier, of op Sy manier, ook mense met vigs onder ons sorg geplaas.  Deur hul spesifieke nood het die Here hulle baie naby ons gebring.  Hier gaan siekte en verdwaald wees immers hand aan hand.  Rondom die siekbed tree eensaamheid immers ook so gou in.  Dit geld nog meer daar waar ‘n stigma aan ‘n siekte kleef.

In die eerste plek het die verlange ontstaan om daadwerklik te help, nadat gesien is hoeveel nood daar is.  Omdat die versorging-sektor van die staat so breed is en omdat daar reeds so baie kerke en groepe in allerlei vorms van barmhartigheidswerk aktief is, is daar vir die opvang van ongeneeslike siekes gekies.  Breër dus as slegs vigspasiënte.

Naas die verlange om te help, is hierdie motief voorop geplaas: om gewone broeders en susters in die geleentheid te stel om self daadwerklik saam te help.  Daarom is in die praktiese opset van ‘n hospies gereken op die insette van vrywilligers.  Ja, daar moet ‘n struktuur van professionele hulpverlening wees, maar die geheel word gedra deur Christene wat vrywillig en hulpvaardig met hart en mond en hande liefde wil bewys.  Byvoorbeeld in die huishouding, die administrasie, die kombuis, die fondsinsameling, gesprekke en inkopies; daar is genoeg werk om te doen.

Nee, die verkondiging van die evangelie is nie die eerste doel nie.  Maar daarom hoop ons wel om, te midde van versorging, ook die liefde van Christus te kan uitspreek!  Die gaste in die huis sal besef dat dit ‘n Christelike huis is wat gasvryheid aan hulle bied.  Gebed en Skrifoordenking word elke dag in die algemeen en, as God dit gee, persoonlik aangebied.  Dit is hoe Christene in Amsterdam hulself geroepe weet om goed te doen.

7. Hospies en Pasiënte🔗

Dit is verhelderend om ook in ons kerkgeskiedenis te kyk of daar al voorheen sprake was van ‘n verbindingslyn tussen die diakonie van die kerk en ‘n vorm van siekeversorging.  In die 16de eeu, toe die groot Reformasie verhelderend in die lewe ingewerk het, was daar in groot stede lankal ‘n vorm van arme- en siekeversorging aanwesig.  So was daar ook in Genève ‘n hospitaal.  Die reformator van Genève, Johannes Calvyn, wou hierdie instelling onder die sorg van die diakens, en dus van die kerk, bring.  Dat hy nie daarin geslaag het om hospitale onder die uitsluitlike verantwoordelikheid van die kerk te bring nie, doen nie afbreuk aan die feit dat ook die sorg vir die siekes vir Calvyn ‘n saak van die hart was nie.1

Midde-in die konkrete situasie in die stad, en vanuit sy uitleg van die Skrif, het Calvyn tot die stelling gekom: daar moet in die kerk twee soorte diakens wees.  Hy het hierdie tweedeling ook in sy Bybel gelees.  Romeine 12:8 spreek immers van die verskillende gawes in die gemeente: “wie uitdeel, in opregtheid… wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid”.  Calvyn se gevolgtrekking was dat daar twee soorte diakens in die jong kerke was, omdat die apostel Paulus hier oor ampte spreek waarin die gawe sigbaar word.2 Konkreet beteken dit in Genève: die eerste groep diakens is daar om die gawes vir die armes in te samel, te beheer en uit te deel; die ander “om siekes te versorg, in hul nood hulp te verleen en om voedsel aan die armes te gee”.3

Wat die 'pasiënte' betref: daar is in die stadshospitaal nie alleen siekes verpleeg nie, maar dit was ook ‘n plek waar hulpbehoewende mense op breë skaal hulp kon ontvang.  Ook bejaardes en weduwees, armes en weeskinders is bedags, of permanent, in aparte ruimtes gehuisves.  Boeiend is hoe Calvyn homself kon inleef in die nood van die stad.  Hy het daarom ‘n besondere reël vir ‘n waarskynlike pes-epidemie neergelê: 'wat die hospitaal ten aansien van die pes betref, moet dit in sy geheel geïsoleer word, veral wanneer dit gebeur dat die stad (epidemies) deur hierdie roede van God besoek word.'  Dit verbaas ons dan ook nie dat so ‘n lewensegte orde vir die kerk ook reëls gehad het vir die hospitaalbesoeke.4

Dit is ook vanuit hierdie agtergrond van die Reformasie dat ons vandag nog in die kerk by elke bevestiging van diakens praat van: ''die betoon van gasvryheid, offervaardigheid en barmhartigheid' en dat  “niemand in die gemeente van Christus ongetroos onder die druk van siekte, armoede of eensaamheid mag lewe nie”.  Dit geld dus vir die gemeente, maar wat weet ons van mense buite die gemeente, om byvoorbeeld maar net van die mense in ons stad te praat?

8. Diakonie en Daadkrag🔗

Ds. De Ruijter gee in sy artikels  5twee reëls vir die kerklike hantering van barmhartigheidswerk.  In die eerste plek:  “Die diakens moet hul in hul werk nie te veel losmaak van die woorddiens nie.”  Vervolgens:  “Die diakens funksioneer nie as mense wat die barmhartigheidswerk vir die gemeente waarneem nie.  Hulle het die taak om die gemeente self ook toe te rus tot diensbetoon.”  Is die konkrete plan van ‘n hospies vir ongeneeslike siek mense, soos dit in die vorige bydrae geskets, dan verantwoord?

Die verkondiging van die evangelie van ons Here Jesus Christus is nie die eerste doel van ‘n hospies nie.  Voorop staan die bewys van liefde en die aanbied van totale versorging aan mense wat deur siekte losgeraak het van die sosiale houvas aan die lewe.  Tog staan die verkondiging van God se Woord nie los hiervan nie.  Die huis waar aan hierdie mense gasvryheid gebied word, het die geloofsgrondslag van God se heilige Woord waarvan belydenis afgelê is in die Drie Formuliere van Eenheid.  Hierdie Woord motiveer die werkers en sal dus  die werk van liefde dra.  Vir sover die Heilige Gees die geleentheid gee, sal persoonlik met die mense gebid en gepraat word.  Die “roep tot bekering en geloof” (DL I par. 3) moet, wanneer dit ongelowige gaste betref, met sagmoedigheid vanweë die nood en met respek vir die persoonlikheid van die sieke gebeur.  Ons mag deur bekeringsywer geen mense uit die huis van gasvryheid jaag nie, maar moet eerder die liefde van die Christelike geloof wys.  Bybelstudie en gebed sal ook die werkers in die huis daagliks moet toerus.

Ook die inskakeling van die gelowiges om goed te doen het in die opset van hierdie plan ‘n groot plek.  Tereg waarsku ds. De Ruijter vir ‘n sodanige professionalisering dat die gewone mense nie meer geleentheid kry om hulp aan te bied nie.  Die professionele insette van ‘n paar verpleegkundiges is onmisbaar, maar die werk van vrywilligers net so.  Daarom is daar ook gedink om hul idees voortdurend by die werk te betrek.  Ook hulle moet toegerus word.  Byvoorbeeld deur ‘n kursus in sterwensbegeleiding.  Nie almal sal dieselfde werk kan doen nie, maar die verskillende talente sal nodig wees, elkeen op sy eie plek.

In die Bybel word die gemeente nie sonder rede die liggaam van Christus genoem nie.  Soos Christus op aarde die evangelie gebring het en met sy hande genees het, so is die kerk nou Christus se persoonlike instrument op aarde, sy liggaam.  Om met die mond die evangelie te spreek, met die oë sy liefde uit te straal en die nood raak te sien, en om ook met die hande te sorg wanneer op aarde geen genesing meer moontlik is nie. 

9. Voorregte Verplig🔗

Christus noem Homself: die Seun van die mens.  In hierdie sin is Hy ook ons broeder.  Hy het “aan die mense gelyk geword” (Fil. 2:7).  Of: “aan sy broeders” (Hebr. 2:17).  In die eerste plek is dit die Jode, maar dan wel as mense wat die naaste aan Hom was.  Sy menswording is die eerste steen onder alle evangelisasie en barmhartigheid.  Ek dink dat ons baie keer vergeet dat die Here aan die mense gelyk geword het, en dat Hy eers so ons broeder geword het.  Hy het Hom nie geskaam om ons sy broeders te noem nie (Hebr. 2:11), ook voordat ons die genade ontvang het om ‘n plek in sy kerk te kry.

Wie sou die grens van God se verbond en verkiesing by die gemeente durf trek?  Sy volk word immers nog steeds gewen uit alle volke op die aarde.  Sy liefde soek dié wat verlore is.  Die kerk is nie die beloofde land van die gemeente nie, asof dit net so ‘n geslote samelewing soos die land Israel mag word nie.  Die kerk staan in die wêreld, die gelowiges woon en werk daar.  Daar mag ons uitgaan, bid en mense ontmoet.  Om van die hoop wat in ons is, te getuig.  So mag medemense gewys word op wat die kerk is: die gasvrye huis van die God van alle genade, waar die Seun die Heer van die huis (Kurios) geword het.  Die kerk  mag bly wees om 'kuria' genoem te word: die vrou van die huis (2 Joh. vers 1).

U ken die Sondag-gebed: “Seën almal wat verpleeg word in inrigtings van barmhartigheid, en verleen aan hulle wat daar arbei, wysheid en bekwaamheid vir hulle veeleisende en verantwoordelike werk.  Leer hulle om te wandel in die voetstappe van Hom wat die land deurgegaan het, wat goed gedoen het en genees het al die siektes en kwale onder die volk”.6 ‘n Pragtige gebed wat aan ons ‘n breër sig gee.

Endnotes🔗

  1. ^ Sien: Elsie A. McKee, John Calvin on the Diaconate an Liturgical Almsgiving. Droz. Genève 1984, 107v. en 127v.  Calvyn uiter sy teleurstelling oor die feit dat Genève die sorg vir die siekes nie aan die kerk wou oorlaat nie, soms in sy preke.  Sien die preek (nr. 24) oor 1 Timotheüs 3:6-7 (Calvini opera 53, 292).
  2. ^ Institusie IV iii 9.  Vir die geskiedenis van die uitleg van hierdie teks in die Reformasietyd sien: Elsie McKee, a.w. 186-197.  
  3. ^ Calvyn noem hulle 'procureurs et hospitalliers' of beheerders en siekebroeders.  Die laaste woord dui in Frans eerstens op gasvryheid en word vervolgens ‘n uitdrukking vir hospitaal.  Een van die 'procureurs' moes ook die geld van die hospitaal beheer.  Nie in die kerkorde nie, maar wel in sy uitleg van Romeine 12 wys hy by die 'hospitalliers' op die weduwees (1 Tim. 5: sien ook sy kommentaar op 1 Korinthiërs 12:28).  In sy ontwerp vir die kerkorde is dit manne wat in die amp van diaken leiding gee.  Daarom word ook bepaal dat 'daarop gelet moet word dat die gesinne van hierdie sieke-diakens eerlik en godvresend geregeer word, omdat hulle as taak het om die huis te bestuur wat aan God gewy is'.
  4. ^ Sien ook my artikels:Thuis aan Tafel. Een studie over het zieken-avondmaal I-IV, in: De Reformatie 63 (1987-88). 726v., 743v., 763v. en 779v.
  5. ^ Diakenen werkloos? En Diaconie naar buiten, in: De Reformatie  66, nr. 29-30, 612-614, 630-632.
  6. ^ Gereformeerd Kerkboek, p. 562.