Bron: Wegwijs. 2 bladsye.

Met Trane Saai vir die Oes

waterdruppel🔗

Tussenstasie🔗

As jy van iemand hou, gun jy hom of haar net die beste. Die wat in Christus sterf, is die beste af.

“Hulle is in die hemel, by die Here, dit is daar beter vir hulle” is wat ons dikwels sê. Veral as iemand ’n erge lydensweg hier op aarde moes deurmaak.

Dit lyk vir my asof mense dit deurgaans as die grootste troos beleef: Hy/sy is nou by die Here in die hemel. Ek kom dit by myself agter dat ek tydens my begrafnis-toesprake baie aandag aan hierdie kwessie gee. Meer gereeld as aan die troos van die opstanding.

Dit is seker te verstane, want in–die-hemel-wees is nou, vandag. Volgens ons tydsberekening is dit baie naby: op hierdie oomblik geniet die gestorwene van die hemelse rus. En van die paradys. So dink ons vandag aan die gestorwene. En hierteenoor kom die opstanding eers later. Buitendien het ons nie ’n idee wanneer dit gaan wees nie.

Tog plaas die Kategismus die nadruk op die opstanding (Sondag 22, vraag en antwoord 57).

Die feit dat my siel dadelik na my sterwe na Christus toe gaan word eintlik maar net terloops genoem. Nie omdat dit onbelangrik is nie, inteendeel, dit is van uiterste belang. Maar die opstanding is die einddoel. Ons leef daarnatoe.

Ook ons reeds gestorwe broers en susters leef na die einddoel. Die gestorwenes het ook nog verwagtings en vooruitsigte. Die lewe in die hemel is groots, iets besonders. Dit is baie, ontsettend baie, maar nie alles nie. Dit is nog ’n lewe buite die liggaam. Dit is nog nie die einddoel van ons Skepper nie. Die hemelse verblyf is nog nie ’n lewe in ’n volledig voltooide kerkhuis nie. Die “saam met al die heiliges” is nog nie voltooi nie. Dit is ook nog nie ’n lewe in ’n volledige herskape wêreld nie. Dit moet nog kom.

Die hemel is ’n tussen-stasie. ’n Tussen-stasie wat bestaan omdat daar ’n eindstasie is. As daar later nie ’n opstanding op hierdie aarde sou wees nie, dan sou daar ook nie nou ’n opname in die hemel wees nie. Ons gaan by ons afsterwe hemel toe sodat ons later weer terug op die aarde, verder mag lewe. Vir die finale einddoel word ons bewaar. Die siel rus ’n kort tydjie by die Vader, “totdat…” (Openbaring 6:11).

As daar dus nie uitsig na ’n opstanding was nie, was daar ook geen enkel troos by die afsterwe van ons medegelowiges nie. Dan was dit oor en uit na ons afsterwe. Dan maar eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons. Laat ons dan maar vergeet van die gedagte dat jou lewe reeds nou al geraak word deur die dood. Laat ons maar vergeet van die feit dat die hele wêreldse bestaan reeds deur die dood geraak word. Maar hoe lank kan mens aan die gedagte vashou? Hoe lank kan ons vergeet en onsself so probeer bluf?

Maar dit is nie soos God dit wil hê nie. God het – so het ek ’n slag êrens gelees – meer vir ons in die vooruitsig gestel as net ʼn klein bietjie lewensvreugde te midde van die bitterheid van die dood.

God stimuleer ons nie om die gedagte van die dood in ons lewe tot ’n vae werklikheid te reduseer nie. Hy leer ons juis om met die dood rekening te hou. Hy moedig ons juis aan om die werklikheid van die dood te besef, onder oë te sien. En dan troos te vind in die evangelie van die opstanding wat Hy belowe.

doodskis🔗

Saai om te Oes🔗

Van daardie opstanding lees ons in 1 Korintiërs 15. Daar gebruik Paulus die bekende beeld van die akker. ’n Akker waar gesaai en ook ge-oes word. Die Eersteling is al ingebring. Dit was Christus (vers 20). ’n Wonderlike Eersteling: Hy het uit eie krag van die dooie akker af gekom. En die eersteling van die oes hou altyd die belofte in: word vervolg! Die res van die oes kom nog.

Daarom saai ons in vertroue. ’n Boer wat saai moet ook vertroue hê. Hy sien nie wat met die saadjie gebeur nie. Hy sien net die korrel (vers 37). ’n Onooglike dingetjie. Jy kan nie aan die saadjie sien dat daar ’n liggaam uit kan groei nie (vers 38).

Wat ons saai, het sy glans verloor. So is dit met iemand wat gesterf het. Pa kan sy mooiste pak klere aan hê en mooi opgemaak wees, maar die doodskleur lê duidelik op sy gesig. Uit daardie “saad” kan mens glad nie iets moois sien groei nie. Ons saai verganklikheid. Van die begin af was dit een en al verganklikheid. Hierdie lewe is ’n voortdurende sterwe. Ons saai in swakheid. Hoeveel het ons nie al van die swakheid gesien nie! Selfs by ’n altyd lewenslustige en gesonde sterweling. Hoe dikwels is ’n sterk groot man nie al uitgeteer deur ’n verterende siekte, totdat daar van hom feitlik niks meer oorgebly het nie. Ons saai met trane, vanweë ons swakheid. As gevolg van die verganklikheid wat met die dood beseël word.

En miskien gaan ons daarna nog “wenend langs die akker”. Maar betraande oë kan ook oor grafte heen kyk. Ons het in vertroue gesaai. Die Eersteling het ’n belofte nagelaat: Ons het gesaai vir die oes. God roep die gesaaide wakker.

saai

En hoe groot sal die verskil dan sigbaar wees: Ons word opgewek in onverganklikheid, want die dood sal daar nie meer wees nie. Ons word opgewek in krag, onaantasbare krag. Want siekte en moeite en watter belasting ook al – dit lê vir altyd agter ons. En daar is krag om God te dien, soos wat ons dit nog altyd graag wou gedoen het, want die sonde maak ons nie meer swak nie. En die glans van God se heerlikheid is vir altyd sigbaar oor ons lewe.

Groot en duidelik sal die verskil sigbaar wees, maar ook groot en duidelik sal die ooreenkomste sigbaar wees. Want dit is nog steeds dieselfde persoon. Dieselfde persoon wat ons in die graf neergelê het. Herkenbaar. Miskien sal jy nog weet of dit jou pa of man was. Maar op daardie moment is hy jou broeder in Christus, en dit is dan oorgenoeg.

So sal ons altyd by die Here wees (1Thessalonisense 4:17). Saam met al die heiliges.