Bron: Die Kerkblad, 2007. 2 bladsye.

Misdaad: Foutiewe diagnose

dokter

Dit is met ’n swaar gemoed dat ek vandag hierdie artikel – wat oor misdaad handel – skryf. Maar dit moet nou maar duidelik gesê word: waarmee ons tans in die land te doen het, is nie meer “misdaad” nie, maar oorlog – ’n guerrillaoorlog. Wat tans plaasvind, is nie net individuele moorde nie, maar moordbendes wat op banke, kitsbanke, winkelsentrums, townships, dorpe, stede, paaie, plase en strate toesak. Die beskikbare statistiek vertel die verhaal: byna 19 000 moorde per jaar, naby aan 100 000 in vyf jaar. Dis nie meer “misdaad”- statistiek nie, dis oorlogstatistiek.

Daar is beweer dat ons samelewing siek is; en dis seker waar, want ’n samelewing met soveel slagting kan nie gesond wees nie - wat die oorsake ook al mag wees.

Daar is beweer dat die regering siek is, en daar skuil seker ook waarheid in hierdie bewering, want ’n regering wat nie die erns van die probleem besef en nie sy basiese verantwoordelikheid nakom om sy burgers se lewens- en werksruimte te beskerm nie, kan nie gesond wees nie.

Daar is beweer dat die moordenaars siek is, en ook dit sal waar wees, want hoe kan mense gesond wees as hulle ander, meesal weerlose mense, op dikwels wreedaardige wyse, vermoor, soms vir niks en soms vir ’n selfoon?

Die regering was lank in ’n fase van ontkenning: die probleem is nie so groot nie, in elk geval nie buite beheer nie – is gesê. Maar as die diagnose van die probleem nie reg is nie, sal die medikasie vir die siekte ook niks help nie. As ’n pasiënt wat aan tering ly van die dokter moet hoor dat sy ’n ligte verkoue het en dat een of twee Panado’s die ding sal doen, sal die pasiënt nooit gesond word nie. Wat tans in ons land plaasvind, is nie meer “misdaad” nie, dis oorlog. En voordat hiérdie besef nie tot die regering deurgedring het nie, sal die oorlog dag na dag vererger.

Waar sal die genesing van so ’n siek samelewing vandaan kom? Wie sal as geneesheer na vore tree?

Die antwoord begin by elke individu. Elke individu wat tot die Here bid dat Hy in sy genade vrede in ons land sal gee; elke individu wat veel meer veiligheidsbewus is en die nodige voorsorgmaatreëls tref; en elke individu wat sy hand vir die armes oopmaak en gee (as dit kan, 1% van sy inkomste), aan die armes self, aan diakonieë en welsynsorganisasies wat armes help. Ons kan nie rustig slaap solank duisende mense die nag met ’n leë maag tegemoet gaan nie.

Die antwoord begin ook by individue wat saamstaan, wat as gemeenskap protesoptogte hou teen “misdaad”, vreedsaam en op verantwoordelike wyse. Ek bepleit al sedert 2003 massa-protes teen “misdaad” en dit wil voorkom asof hierdie vorm van protes momentum opbou. Dit moet uitgroei tot een groot golfbeweging wat deur die land swiep en, soos die see, al die rommel op die strand uitspoel.

Die antwoord begin by maatskappye en banke wat hulle stem dik maak teen “misdaad”, dit openlik afkeur en fondse beskikbaar stel om die probleem te help bekamp – en hulle nie deur die regering laat voorskryf oor wat reg en verkeerd is nie.

handboeie

Die antwoord begin by kerke wat vir die regering voorbidding doen, wat oor “misdaad” preek en wat hulle profetiese roeping teenoor die regering uitvoer en die regering aanspreek om sy verantwoordelikheid in hierdie verband na te kom. Kerke moet ook die voortou neem om ’n morele gedragskode vir die land op te stel waarin onder andere die waarde van menslike lewe beklemtoon word.

Kerke sal ook al hoe meer aan die internasionale gemeenskap en aan buitelandse kerke die boodskap moet oordra dat Suid-Afrika tans in ’n noodsituasie verkeer en dat ons hulp en voorbidding uit die buiteland dringend nodig het.

Die antwoord begin by die regering wat sy verantwoordelikheid aanvaar en uitleef. Dan sal die regering nie langer in ontkenning leef nie, maar die probleem met mag en mening aanpak. Die rege­ring beskik immers oor die vermoë om alle onwettige wapens in die land binne een maand uit te snuffel en te vernietig. Waarom word dit nie gedoen nie? Weet niemand werklik iets van die ope­rasiebasisse en skuilplekke van die moordbendes nie?

Einde verlede jaar het kerkleiers die staatspresident ontmoet en hy het gesê: “Vertrou my.” Die vertroue het helaas nog niks konkreet opgelewer nie. Januarie vanjaar het die staatspresident verklaar: “Misdaad is nie buite beheer nie.” Toe die hele samelewing daarna in woede met duisende sms’e en protesbriewe reageer, en die staatspresident ontdek dat die samelewing van mening is dat die situasie wél buite beheer is, reageer hy in sy staatsrede van Februarie met die opmerking dat “dit duidelik is dat ons die stryd teen misdaad moet voortsit en verdiep”; ons kan nie toelaat dat gemeenskappe in vrees lewe, toegesluit agter mure en doringdraad, altyd angstig in hulle huise, op die strate en op ons paaie nie. Die nuwe aangekondigde maatreëls moet verwelkom word, maar dit sal ons insiens nie die probleem oplos nie, want die diagnose is verkeerd.

Die gevolge van die huidige guerrilla-oorlog is vernietigend vir die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit veroorsaak dat bekwame en kundige mense die land verlaat, dit benadeel die ekonomie, dit blaas rassehaat (hoog) aan, dit traumatiseer oorlewendes oneindig, dit skep ’n angspsigose in die land, dit ontwrig elke faset van die menslike lewe. Op baie plekke begin dit al die kerklike bediening nadelig raak.

Mense is na die beeld van God geskape. Elke mens wat vermoor word, wit of swart, is ’n klap in die gesig van God.

Ons moet die Here smeek dat die menseslagting in ons land sal ophou - ter wille van sy Naam en sy saak. Ons moet dag en nag bid dat sy koninkryk – van vrede – mag kom. En dat ons samelewing iéts van die vrede, vryheid en geregtigheid van daardie koninkryk sal weerspieël.

En ons moet daarvoor werk.