4 bladsye.

Moet Suigelinge van Verbondskinders ook Gedoop word?

… en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus.

Kolossense 2

Die tema van die kinderdoop kom telkens in die Nuwe Testamentiese kerkgeskiedenis weer aan die orde. Dit is tegelyk ’n hartseer en interessante verskynsel. In die tyd van die Reformasie van die 16e eeu, is hierdie saak teenoor die optrede van die wederdopers grondig bestudeer en beskryf. As vrug daarvan het ons hieroor vandag ’n helder en eenvoudige beskrywing, onder meer in die Heidelbergse Kategismus.

Sondae 26 en 27 van die Kategismus handel oor die Heilige Doop. Hierdie sakrament het die Here Jesus vir ons gegee in die plek van die besnydenis en is bedoel om aan ons te verkondig en te verseël hoedat God sy salige verhouding met ons begin het. Die nagmaal is weer aan gelowiges gegee om aan ons te verduidelik en te verseël hoedat ons salige verhouding met God voortgesit word.

In Sondag 24 behandel die Heidelberger die plek van goeie werke in ons geloofslewe. Daaruit is duidelik dat ons die plek van ons goeie werke eers sal verstaan as ons besef dat ons salige verhouding met God uit twee duidelike momente bestaan:

Die Ontstaansmoment van die Verhouding🔗

  • dit is eenmalig en onherhaalbaar;

Die Voortsettingsmoment🔗

  • dit is eintlik ’n herhalende en voortdurende aksie.

Die ontstaansmoment van ons salige verhouding met God is ’n daad, suiwer van sy kant alleen. Daarom praat ons van daardie ontstaansmoment as die monopleuriese aksie van God by die ontstaansoomblik van sy genadeverbond met ons. Dit is ook die rede waarom ons as mense geen goeie werke kan verrig of prestasies kan lewer by die beginpunt van ons saligheid nie. Geen saligheid deur goeie werke nie. Selfs nie eens enige hulp of bydrae van ons kant daarin nie. Alleen maar die volmaakte soenverdienste van Jesus Christus wat aan ons toegesê word maak ons salig. Sola gratia! Alleen genade! Dit is die betekenis van die doophandeling, net soos dit ook die betekenis van die besnydenishandeling in die Ou Testament was.

Die mense wat die kinderdoop verwerp doen dit deels omdat hulle nie bereid is om te erken dat die besnydenis van die Ou Testament oorgegaan het in die doop van die Nuwe Testament nie. Hulle vernaamste argument teen die besnydenis is dat hulle die besnydenis net as ’n kulturele en ’n volksteken vir Israel sien. Hulle meen dat die besnydenis niks met ons geestelike verhouding met God te doen gehad het nie, maar dat dit net ’n aardse en natuurlike teken was. Daarom weier hulle om dit in verband met die Nuwe Testamentiese doop te bring.

Dit is jammer dat hierdie verdwaaldes nie deeglik gaan lees en verstaan wat daar in die Ou Testament aangaande die besnydenis geskryf is nie. Verder ag hulle ook nie die verklarings daarvan in die Nuwe Testament na waarde nie. Die besnydenis is by Abraham vir Abraham as ’n teken van die verbond gegee. Hierdie handeling was gebruiklik onder die destydse volkere, maar die HERE het dit met spesiale betekenis aan Abraham opgedra. Sowel die instelling van die verbond asook die besnydenis, is bekende konsepte wat God uit die alledaagse lewe van destyds geneem het. Hy het dit met geestelike betekenis verhef tot ’n hoër vlak en betekenis as die alledaagse gebruik.

So hoor ons nog in ons gedagtenis die verbondswoorde wat God tot Abraham gespreek het. Die spreekstyl sowel as die formele vormgewing kom uit die alledaagse wêreld, maar Hy vul dit met diepe geestelike en ewige betekenis. ‘Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou’ (doopformulier). God as die hoë en verhewe party neem inisiatief en reik Homself monopleuries uit na Abraham en maak ’n salige belofte aan hom en sy nageslagte tot in ewigheid.

Met die herhaling en bevestiging van hierdie verbond in Genésis 17 het die HERE beveel dat almal wat manlik is besny moet word - Abraham toe hy al baie oud was, maar ook al die mans van sy huishouding en alle seuntjies (op die agtste dag na geboorte).

Paulus, die formidabele kenner en eksegeet van die Ou Testament, verklaar geïnspireer die betekenis hiervan vir die Nuwe Testamentiese gemeentes. In Romeine 4:11 stel hy: ‘En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ’n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word’.

Paulus praat oor die besnydenis in die betekenis van God se geregtigheid. ’n Geregtigheid wat - veral in die situasie van die gemeente van Rome, met die bekende Romeinse regstelsel in gedagte - daarop neerkom dat ons voor God se regterstoel vrygespreek word. Die ewige dood is nie meer ons lot nie, maar ons kan die ewige lewe beërwe. Dit is die betekenisraamwerk waarin Paulus die besnydenis inbring. God het dit eerste aan Abraham as volwasse gelowige gegee. God se Ou Testamentiese verbondsvolk begin met die besnydenis van ’n volwassene. Dit is vir Abraham die bewys dat God sy belofte gestand sal doen. Abraham verkry vryspraak, nie op grond van sy eie werke nie, maar op grond van die plaasvervangende offer. Die lewe van ’n ‘plaasvervanger’ is in Abraham se plek aan God geoffer. Abraham kan hierdie vryspraak in ontvangs neem slegs deur in God te glo, deur God op sy Woord te neem. As dit die betekenis van die besnydenis vir Abraham was, moet ons ook die verdere implikasies hiervan bekyk. Nie net Abraham moes as volwássene besny word nie, maar ook kleine Isak op 8-dae ouderdom. Ons weet dat die HERE geen ander betekenis aan Isak se besnydenis gegee het as aan dié van Abraham nie. ’n Teken en seël van die geregtigheid wat God vir ons in Christus bewerk het, waaraan ons deel kry deur in Hom te glo.

Die besnydenis was beslis nie maar net ’n aardse nasionale volksteken nie, maar het in die egte Nuwe Testamentiese sin, heilshistoriese en heilsordelike betekenis gehad.

Geestelike betekenis. So ’n betekenis dat dit in alle waaragtigheid kon verduidelik en verseël hoedat God sy ewige salige verhouding met sy geliefde kind begin het.

Wat het dan van die besnydenis in die Nuwe Testament geword? ’n Groot worstelstryd het in die Nuwe Testamentiese kerke ontstaan oor die vraag of die nuwe bekeerlinge tot die christelike geloof steeds besny moet word of nie. Eindelik het die kerke besluit om in dieselfde gees as wat ons dit vandag in artikel 48 KO verwoord, afgevaardigdes na Jerusalem te stuur om die mening van die apostels en van die ouderlinge in hierdie saak te verneem. Die hele saak is omstandig in Handelinge 15 beskrywe. Nadat die Woord van die Here voorgelees is, het die apostels en die ouderlinge aanvaar dat dit die Heilige Gees se mening is om die broeders verder geen las ten aansien van die besnydenis op te lê nie. Wat was die motivering vir hierdie besluit? Die inhoud van hierdie besluit moes aan al die gemeentes oorgedra word. Dit is inderdaad wat Paulus in sy brief aan die Kolossense doen. Hy verskaf die eksegetiese onderbou waar die besluit van Jerusalem op rus.

In Kolossense 2:9 en 10 begin die grondslae van die argumentasie. Die vertrekpunt is dat ons, Nuwe Testamentiese gelowiges, die volheid van die Godheid ontvang het - nie meer in die offers en seremonies van die Ou Testament nie, maar in Christus liggaamlik vervat. Ons hoef nie meer iets van die Godheid te soek wat buite Christus om verklaar moet word nie. Die Vader het daarvoor gesorg dat sy Seun, as die afdruksel van sy wese, Hom in volheid aan ons sou kom bekendstel en verklaar.

Hiermee vind ons die kern van die evangelie van ons salige verlossing. Deur Jesus Christus verkry ons toegang by God. Deurdat die versoeningsbloed van Christus ons sondes bedek, het ons weer vrymoedigheid om na God te gaan.

Ons word deur twee kardinale gebeure met Christus verbind:

  • Ons word saam met Hom verbind aan sy sterwe en begrafnis (in besnydenisterme);
     
  • Ons word ook verbind aan sy opstanding uit die dood (in doopterme). So ondergaan ons saam met Christus sy state van vernedering asook van sy verhoging.

Met Christus se sterwe het Hy hierdie gevalle en sondige natuur van ons, waarin Hy ook net soos ons gebore is, finaal afgesterf - Hy is weliswaar in die gevalle natuur gebore maar sonder sonde; ons sonde is alles op Hom gelaai. Die besnydenishandeling van die Ou Testament verwys veral hierna. Die afsnyding van die voorhuid is die heenwysing na die aflegging van ons ou natuur in die dood. So praat Paulus in vers 11 oor die besnydenis. Julle christene, julle wat aan Christus verbonde is, julle is reeds deur julle verbondenheid aan Hom, ook besny. Hy praat tog met christene - ook uit die heidendom? Hoe kan hy sê dat hulle besny is? Dit is nie die letterlike besnydenis nie. Hy sê dit ook. Dit is nie die besnydenis wat met die hande verrig word nie, maar die ware besnydenis waarvan die Ou Testament nog al die tyd gepraat het; die geestelike besnydenis; die besnydenis van die totale oue menslike natuur waardeur ons na die innerlike mens gereinig word. Die besnydenis van Christus se afsnyding aan die kruis op Gólgota. Christus reinig ons van ons sondige natuur. Sy bloedvloeïng word vir ons as ons besnydenis toegereken en geskenk. Deur ons inlywing in Christus is ons sondige natuur ook afgesny. Sy reiniging word op hierdie manier vir ons toegereken en geskenk. Daarom kon Paulus vir die christene sê dat hulle reeds besny is omdat hulle in Christus is. Daarom is dit nie nodig dat hulle weer ’n keer besny moet word nie.

Wanneer het hierdie inlywing en besnydenis in Christus en die aflegging van my sondige vlees in die besnydenis van Christus met ons plaasgevind? Hoe is dit moontlik dat sommer so vir ons gesê kan word dat ons eintlik reeds besny is?

Paulus beantwoord dit in vers 12: ‘omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop’. Tydens hulle doop het alles wat hier van die besnydenis beskrywe is en die betekenis daarvan ook met hulle gebeur. Kyk hoe hy die betekenis van die doop in vers 12 beskryf. Ook van die doophandeling word die geestelike betekenis weergegee - die afsterwe van ons ou natuur in die begrafnis van Christus en die opstanding van die nuwe mens in die opstanding van Christus uit die dode.

Maak dan die vergelyking. In vers 11 handel dit oor die geestelike betekenis van die besnydenis wat heenwys na die versoeningsdaad van Christus. Daarna gaan dit oor die geestelike betekenis van die doop wat ook heenwys na dieselfde versoeningsdaad van Christus - dat ons in en deur Christus aan al hierdie geestelike dinge deel het. Julle hoef nie meer uitwendig besny te word nie, omdat julle die geestelike betekenis van die besnydenis reeds ontvang het toe julle gedoop is.

Daarom bely ons dat die besnydenis oorgegaan het na die doophandeling, dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het.

Dit is heerlik om te weet dat God sy kinders van die Ou Testament nie op ’n ander manier in sy verbond van genade opgeneem het as wat Hy doen met sy kinders van die Nuwe Testament nie. Dit is heerlik om Petrus op pinksterdag uit Joël 2, die Ou Testament, te hoor preek. Vir die Nuwe Testamentiese kerk wat in die Gees van Christus gereinig is sê hy: ‘Want die belofte kom [nie net die Ou Testamentiese gelowiges en hulle kinders nie, maar ook] julle toe en julle kinders [julle suigelinge - vergelyk Joël 2:16] en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep’ (Handelinge 2:39).