Bron: Die Kerkblad. 1 bladsye.

My Planne - en God se Plan

Dit is nogal verbasend om te sien hoeveel keer dit in die Bybel gebeur dat gelowiges mooi planne maak, gelowige planne maak, net om te sien dat God se plan heeltemal anders is as hulle planne. 'n Voorbeeld hiervan word aangetref in 2 Samuel 7, waar Dawid die plan gekry het om vir die Here 'n tempel te bou. Dit het vir hom na 'n goeie plan gelyk, want dit was nie vir hom reg dat hy self 'n mooi paleis het terwyl die ark van die Here in 'n tent moet staan nie. Die plan het so goed gelyk dat die profeet Natan dit dadelik ondersteun het. Tog was God se plan anders. Dit was nie vir Dawid beskore om die tempel te bou nie.

Iets van dieselfde aard het Paulus ervaar aan die begin van sy tweede sendingreis, soos dit beskryf is in Handelinge 16:6-8. Nadat hy van die plekke besoek het wat hy tydens die eerste sendingreis besoek het, wou hy verder in Klein-Asië rondgaan by van die plekke wat hy nog nie besoek het nie. Hy wou na die Romeinse provinsies Asië en Bithínië gaan, maar ons lees dat die Heilige Gees hulle verhinder het. Op die ou end het hy en sy reisgenote half moedeloos in Troas gekom, want hulle planne wou nie werk nie. Dit het gebeur omdat God wou gehad het dat Paulus die evangelie in Europa moes gaan verkondig. Daar in Troas het Paulus die gesig gehad van die Masedoniese man wat hulle ge­smeek het om na Masedonië, in Griekeland, te kom om hulle te help. Paulus se eie planne het misluk omdat God 'n ander plan gehad het.

Is dit nie iets wat meermale in elke gelowige se lewe gebeur nie? Ons het mooi planne, mooi ideale, maar op die ou end moet ons uitvind dat God se plan heeltemal anders is. Dit is iets wat ouers ervaar met hulle kinders. Soms kom daar maar weinig van die mooi ideale wat hulle vir hulle kinders het. In ander gevalle gebeur dit weer dat die kinders 'n pragtige pad deur die lewe loop, dat hulle studeer en op die punt staan om te begin met 'n belowende loopbaan – en dan word hulle deur die dood weggeneem. Dit is natuurlik iets wat 'n mens moeilik kan verstaan – eintlik moet 'n mens nie eers probeer om dit te verstaan nie. Al wat vasstaan, is dat God se plan weer anders was as ons planne.

Wat die gelowige egter weet en wat hom krag gee in sulke tye, is die wete dat God se plan die regte plan is. Soos Asaf in Psalm 73 duidelik maak, moet ons nie teen ons vrae en planne vaskyk nie, maar ons moet ons rus vind in God, in die wete dat dit vir ons goed is om naby God te wees. Met dié wete kan ons oor die skerwe van ons eie planne klim om troos te kry by ons God en Vader.