Bron: Die Kerkblad, 2007. 4 bladsye.

Ná die Duisternis, die Lig!

Lees Romeine 1:1-17; Heidelbergse Kategismus Sondag 23 (vr. 59-61) Teks: Romeine 1:16, 17 (vgl. die 1953-vertaling)

Post Tenebras Lux - Ná die Duisternis, die Lig!🔗

Ons bevind ons met Sondag 23 (vr. 59-61) van die Heidelbergse Kategismus in die hart van dit waaroor die Reformasie gegaan het - daardie groot genade van die Here dat Hy sy kerk gelei het uit die verstikkende don­ker van honderde jare se onderdrukking van die Woord deur kerklike     hië­rargie; daardie onverdiende liefde dat Hy weer sy Lig, sy Woord sentraal in die kerk, op sy regmatige plek, geplaas het. Die vrae waaroor Sondag 23 handel, is presies dit waaroor die vreeslike groot stryd vanaf die 14de en 15de eeue gegaan het, toe voorlo­pers van die Reformasie soos die Waldense (Noord-Italië) en soos John Wycliffe (Engeland) en Johannes Hus (Praag, Bohemië, vandag Tsjeggië) al gestry het vir die Woord van God.

“Hoe is jy regverdig voor God?” Hierdie vraag het ook Luther sò aangegryp dat hy letterlik menslik ge­sproke alles probeer het wat daar gedoen kan word om seker te wees van sy regverdigheid voor God. Maar steeds het hy al hoe meer onseker geraak. Want die vraag word al hoe harder: As God regverdig is (en sy Woord leer vir ons. Hy ís), en ek hou aan om sonde te doen (God se Woord leer dit vir ons) - hoe kan ek dan nog geregverdig word, heeltemal vrygespreek en as onskuldig verklaar word?

Paulus en Luther🔗

Dit is bekend dat Luther met Ro­meine 1:16, 17 geworstel het. Waar vers 16 nog relatief “makliker” ver­staanbaar, ondubbelsinnig is, verskaf die uitleg van vers 17 meer hoofbre­kens. Veral vir ons as Protestante staan hierdie vers sentraal, vervul dit ’n deurslaggewende rol in ons ver­staan van die Skrif as Woord van God. ln ’n sekere sin sou ons kon sê dat die deurbraak van die Reformasie his­tories direk terug te voer is na Romei­ne 1:17 en sy betekenis.

Wanneer die evangelie in vers 16 genoem word as ’n “krag van God tot redding vir elkeen van elkeen wat glo”. dan sluit Romeine 1:16, 17 af met Habakuk 2:4: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Die sinsnede direk vooraf (“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof” - vers 17a) het die groot intense worsteling vir Luther versterk. voordat die lig van die evangelie, volgens sy eie latere vertellinge, tot hom deurgedring het. Die Bybelse antwoord op die vraag oor wat die “geregtigheid van God....” behels, sou soos ’n blitsstraal die Reformasie inlei.

Die Geregtigheid van God en 2007🔗

“Maar hoe raak dit ons?” sou u dalk wil vra. Wat is die “geregtigheid van God” wat geopenbaar word? En wat beteken “uit geloof tot geloof”? Ja, dat dit vir die gemeente daar in Rome belangrik was, dit aanvaar ons, maar dit is tog al byna 2000 jaar gelede ons het tog weer ander vrae en probleme. Dat dit in die tyd van die Reformasie in die brandpunt gestaan het - nou ja, dis interessant en leersaam, maar dis tog ook reeds bykans 500 jaar gelede. Wat het dit dan nou met ons in die jaar 2007 te doen?

Die antwoorde op hierdie vrae – “Wat is geregtigheid?” en “Wat is geloof?” - raak elkeen van ons ten nouste: dit raak ons lewens ten diepste, hoe ons onreg, aanvegtinge, leuens, terugslae, twyfel, siekte, sonde, swaarkry, eensaamheid, versoekinge of kommer hanteer.

Ná sy uitvoerige dankwoorde aan God en bemoedigende woorde aan die gemeente van Rome (vs 8 ev.), brei Paulus onder leiding van die Gees meer uit oor sy begeerte om weer na Rome te kan gaan. Hy meld dat hy die evangelie aan Grieke sowel as nie-Grieke verkondig (vs 14), met ander woorde aan alle mense. ln vers 16 herhaal hy hierdie omskrywing van sy teikengehoor: Want, sê hy, “oor die evangelie van Christus skaam” hy hom nie. Dit is immers die “krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek”. Vir ’n tweede maal sluit Paulus alle mense in, want deur na die “Grieke” te verwys, word ook al die gelowiges wat nie van Joodse afstamming is nie, ingereken. Dit is weer omvattend. Die evangelie moet aan almal verkondig word. Teen hierdie agtergrond kom die “geregtigheid van God” in vers 17 aan die orde.

Vir ons, wat dankbaar moet wees dat ons kan deel in die vrug van die Reformasie as genade van God, is dit miskien maklik om hierdie verband tussen “geregtigheid” en “evangelie” raak te sien (of om te dink ons sien dit raak). Die probleem is dat “die geregtigheid van God” maklik verkeerdelik as ’n eienskap van God verstaan word, soos baie gelowiges oor die wêreld heen dit doen (en nie net Rooms-Katolieke gelowiges nie).

Met só ’n idee is ons egter onmiddellik terug by die dilemma dat ons ons redding wil verdien, of minstens een of ander (geringe) bydrae daartoe wil lewer. As dit werklik God se geregtigheid is, soos dit op die klank van die woorde blyk te wees, wat sal van ons word? Hoe kan ons as ellendige sondaars (vgl. vr. 5 van die Heidelbergse Kategismus) enigsins voor die “geregtigheid van God” standhou?

Nou moet ons versigtig wees om nie maar net ’n formule of ’n kitsantwoord hierop te gee wat ons miskien een of ander tyd gehoor of geleer het nie. Te maklik kan ek of u die werklike diepte van hierdie vraag met ’n vooraf ingedrilde antwoord vermy of omseil, sonder om grondig genoeg - ook in my Bybellees en gebed - daarmee te worstel, sonder om werklik deeglik daaroor na te dink. Trouens, te maklik kan ons dit waaroor die prediking behoort te gaan, vermy, sonder om werklik te kyk na die eise wat God in sy Woord aan die prediking stel. Te maklik kan ons in die gewoonte verval om maar “in ons gehoor gestreel” te wil wees (2 Tim 4:3) deur allerhande kwinkslae en pittige, gevatte formules, terwyl ons vergeet dat die prediking die Woord van God. Christus as die Woord, moet bring. Hoe maklik vergeet ons dat dit God is wat aan die Woord moet kom, en nie ’n mens met populêre sêgoed nie?

Die Psalms en Luther🔗

Die vraag oor die “geregtigheid van God” volgens Romeine 1:17 tref die hart van ons geloof en ruk aan die fondamente van ons belydenis. By Luther het die deurbraak tot die verstaan van hierdie “geregtigheid” gekom toe hy Psalm 71 bestudeer het. Skrif met Skrif vergelyk het. Psalm 71:2 lui naamlik: “Red my deur u geregtigheid en bevry my; neig u oor tot my en verlos my!” Eensklaps - en ook dit was net deur die genade van God - het dit vir Luther duidelik geword: Die geregtigheid waaroor dit in Psalm 71:2 gaan, beteken nie God se geregtigheid as ’n eienskap van Hom nie. Dit beteken dié geregtigheid wat God aan sy kinders skenk. Ook op Romeine 1:17 is hierdie insig van toepassing: die “geregtigheid van God” beteken ’n geskenk aan die gelowige waardeur hy deur God se genade die lewe, die redding ontvang. Ons sou kon sê, die “geregtigheid van God” in Romeine 1:17 is ’n “passiewe geregtigheid” waardeur ons deur die geloof regverdig gemaak word - deur God; waardeur God ons enkel en alleen deur die geloof vryspreek.

Hierby sluit Romeine 1:17 se beroep op Habakuk 2:4 dan aan: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Die geregtigheid van God (dat ons vrygespreek word deur God se genade) moet ons dus teen die agtergrond van die “evangelie (die blye boodskap) van Christus” (Rom 1:16) verstaan én gló (Rom 1:16, 17).

Nie Skaam vir die Evangelie nie🔗

Terwyl ons in die genade kan deel om te weet dat God sy geregtigheid, sy vryspraak in Christus skenk, kan ons onsself afvra waarom Paulus vir die gemeente in Rome skryf dat hy hom nie vir die evangelie van Christus skaam nie. Sowel die voorafgaande verse (Rom 1:14 en 15) as ander teksgedeeltes in die Nuwe Testament werp lig hierop. Paulus is geroepe om die evangelie aan geleerdes en ongeleerdes te verkondig (vs 14). En ofskoon die evangelie vir die wêreldse geleerdheid dwaas mag lyk, sê Paulus dat hy hom nie daarvoor skaam nie.

Vir die Griekse geleerdes van daardie tyd moes die evangelie van die kruis inderdaad na dwaasheid geklink het. As daar iets is waarvan ’n geleerde nie hou nie, is dit wanneer hy op sy beperkinge gewys word. Dit druis teen die menslike natuur in om die evangelie net te glo op grond van Christus se open­baring. Wie wil tog glo aan iets wat hy nie met sy verstand kan begryp nie? Vir die moderne mens wat reken dat hy met sy verstand of geleerdheid ’n verklaring vir alles het of kan vind, is die evangelie werklik iets waarvoor hy hom eintlik skaam.

Paulus praat nie verniet oor die “dwaasheid van die prediking” nie, want in die oë van die wêreld is die “woord van die kruis” dwaasheid - daaroor moet ons as kerk van Christus geen illusies hê nie. Ons moet tog nie dink dat ons in die oë van die wêreld die “dwaasheid” van die evangelie kan uitskakel deur die kerk gelykvormig aan die wêreld te maak nie. ln 1 Korinthiërs 1:17-25 staan uitdruklik: “17 Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie. 18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; 19 want daar is geskrywe (Jes. 29:14; vgl. ook Matt. 11:25): Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? 21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo te red ...”

Die Evangelie en die Geloof🔗

Die evangelie van Christus, die blye boodskap dat Hy as Redder homself verneder het deur mens te word (Filip 2:8), dat Hy in ons plek “geoffer” is en die kruisdood gesterf het, dat Hy die dood oorwin het - hoe dwaas ook al vir wêreldse geleerdheid - is ’n krag van God. En, soos die geregtigheid as onverdiende geskenk van God aan sy kinders, so ook word die “evangelie as krag van God tot redding” in Ro­meine 1:16, 17 in ’n direkte verband met die geloof geplaas. God skenk sy geregtigheid aan ons: God openbaar sy evangelie aan ons. Uit onsself kan ons inderdaad geen bydrae daartoe lewer nie - al is dit tipies van die mens­like (sondige) natuur dat ’n mens tog so graag ook ietsie wil bydra. Dit stuit die mens, veral die moderne, soge­naamd bevryde, mondige mens een­voudig teen die bors om te verneem dat hy uit homself tot niks in staat is nie.

Dit is vir die selfstandige mens van die 21ste eeu vernederend om te besef dat hy afhanklik is, ten volle afhanklik is. Dit is - in die oë van die wêreld - ’n “dwaasheid” wat van alle kante af bestry word, dat ons heil, ons redding net by Christus, by Hom alleen berus.

Regverdig en Gehoorsaam🔗

Daarom is die eis van gehoorsaamheid op grond van Romeine 1:16 en 17 se bevrydende boodskap soveel groter. Gehoorsaamheid hier word in beide verse met die eis van die geloof uitgedruk: Net “uit die geloof sal die regverdige lewe”. Dat ook die geloof deur God in sy genade geskenk en bewerk word; dat ook die geloof nie verwerf of verkry kan word nie; dit is baie duidelik uit die Skrif (Ef 2:8- 10).

Maar dit maak die eis van God nie minder dringend en sy appèl op ons tot gehoorsaamheid nie minder erns­tig nie. Juis die geloof, die geloof dat God ons sy geregtigheid geskenk het, roep ons op tot gehoorsaamheid aan God, aan sy Woord.

Dit leer God ons in Romeine 1:16 en 17: God het ons vrygespreek - vry om Hom konsekwent te dien, vry om altyd van Hom te getuig: vry om in ons lewens, in ons beroep, in die onderwys, in ons optrede teenoor ander mense te “roem in die Here”, te luister na sy Woord. Dit is ware Godsdiens, ware diens aan God. Want ons skaam ons nie oor die evangelie van Christus nie!