Bron: Nader Bekeken. 4 bladsye.

'n Bedelaar Vind Rus

Op 18 Februarie 1546 sterf Maarten Luther in Eisleben, in die stad waar hy op 10 November 1483 gebore is.  Die laaste woorde wat hy in hierdie lewe op ’n papiertjie neergeskryf het, was: “Ons is bedelaars.  Dit is die waarheid”.  Luther het rus gevind.  Getroos het hy heengegaan, wetende hy is veilig in God se hand.

Die betekenis wat hy vir die kerke van die Reformasie gehad het, is groot.  Wie ken nie die feit dat Luther in die middag voor Allerheiligen in 1517 sy 95 stellings aan die slotkapel in Wittenberg vasgespyker het nie?  Vanuit Wittenberg is ’n geweldige beweging deur hom op gang gesit met pen en papier.  Die boodskap van sy liedere, troosbriewe, traktate, stryd-geskrifte, lesings, preke en Bybelvertaling het orals deurgedring.

Doodsangs🔗

Voordat Luther tot rus gekom het in die geloof, het hy geworstel met die werklikheid dat ons sterf. Die dood was vir hom ’n aanvegting gewees.  Vrees vir die oordeel het hom in die somer van 1505 in die klooster ingedwing.  Tydens hewige onweer het die weerlig hom rakelings gemis.  Op die nippertjie het hy van die dood ontkom.  In doodsangs het hy die heilige Anna aangeroep.  Veertien dae na dié onweer, klop hy aan die poort van ’n klooster in Erfurt.  Die angs vir die dood en hel het hom daartoe gedryf om monnik te word.  In die klooster bly die vuur van die hel hom agtervolg.

Die oordenking van die vier uiterstes – dood, oordeel, hemel en hel, was daar (in die klooster) ’n vaste onderdeel van die vroomheidsoefening.  Die dood was angsaanjaend en definitief.  Dit bring ’n mens nader aan God se regterstoel.  Doodsangs en angs vir God het by Luther baie sterk saamgeval.  Al die antwoorde wat Luther vanuit die kerk op sy twyfel-vrae gekry het, het ontoereikend gebly.  Tussen God en ons mense het hy die sondeskuld sien staan.  Die wêreld gaan ’n groot afrekening tegemoet, die onthulling van God se majesteit in die eindgerig.

Luther het reeds van jongs af aan die angs vir die komende laaste gerig geleer.  Middeleeuse afbeeldings en tekste het die mense op uiteenlopende manier gekonfronteer met die menslike sterflikheid.  Dit was altyd ’n konfrontasie in die lig van die goddelike geregtigheid en die oordeel.

Op allerlei gravures en skilderstukke uit die tyd, kom ons die dood teë.  Voorgestel as ’n persoon, sit hy aan die voetenend van die siekbed en wag.  Daar waar die lewe tot ’n einde kom, sal die balans opgemaak word.  Die sterfbed is beleef as die plek waar die duiwel en goeie magte met mekaar stry oor die siel van die sterwende.  Hierdie skrikwekkende tekening van die eindtyd het ’n appél gedoen op die angsgevoel. 

Die mense het gevrees vir die verwerping in die eindgerig.  Om dit te voorkom, moes hulle met erns strewe na berou en boete.  Deur boete en goeie werke word ’n vrome se dood moontlik.  Tydens die oordeel sal die verdienste beloon word.  Die hemel sou hiervolgens “verdien” kon word.  Maar daar was geen waarborg nie.

Geloofsekerheid🔗

Die boeke waaruit Luther daagliks gelees, gesing en gebid het, het konkrete voorstellings gegee van die plek waar die saliges woon.  Die hemelse Jerusalem is voorgestel as ’n ommuurde stad, die stad van God.  Die uitverkorenes geniet die salige aanskouing van God.  Die uiteindelike bestemming van die mens was: om rus te vind by God.  Maar wie waag dit om homself te reken by die skare van heiliges en saliges?

Hierdie voorstelling van die dood het Luther in sy greep gehou, totdat hy die genade van God ontdek het.  Tydens die bestudering van die brief aan die Romeine, het hy dit skielik verstaan: “Die regverdige sal uit die geloof lewe”, (Rom. 1:17).  Luther herontdek die Evangeliewoord, die blye boodskap.  Jy hoef nie meer self vir die sondeskuld te betaal nie. Jy mag rus in die Woord van genade.  Alles berus op geloof.  Geloof in God en nie vertroue in eie krag nie – dit is die antwoord!

Luther het hierdie Woord vir baie mense nader gebring.  Tydens sy gedwonge verblyf in Wartburg, vertaal hy in ’n kort tyd die Nuwe Testament in die taal van die volk.  Later volg ook die Ou Testament.  Vanuit die oortuiging dat die Skrif díé instrument is waarin God hom aan die mense wil openbaar, het Luther vele gestimuleer om ’n Bybelvertaling in die volkstaal aan te skaf.

Deur sy uitleg van die Skrif, is die mense se harte geraak.  Hy is herken as die dokter wat die kern van die evangelie blootgelê het.  Luther se aktualiteit lê veral daarin.

Christelike Doodsbelewing🔗

Teen die donker agtergrond van die laat-Middeleeuse doodsangs, beteken hierdie verstaan van die kern van die Skrif, ’n deurbraak.  Wat Luther oor die christelike doodsbelewing gesê het, is verfrissend. 

Hy respekteer die angsgevoel, hy verkleineer nie die dood nie.  Maar die troos oorheers:

Dit is ’n sterk aanvegting dat ons so jammerlik heengaan.  Ons kan huil en ween en dit wat voor oë is, raaksien.  Maar as ons goed daaroor nadink, dan is dit nie ’n doodse graf nie, maar ’n skoon kruietuin waarin ’n mooi kruieplantjie gelê word.  Op Paasfees sal dit te voorskyn kom.

Teenoor die afskrikwekkende beelde van dood, sonde en hel, plaas Luther geen verdiensteleer nie, maar die Persoon van Christus.  Hy het Opgestaan, die Genadige, die Hemelse.  Die dood mag benader word as ’n moeilike en tog ook blye gebeurtenis.  Luther roep op om haar blymoedig te oorweeg.  Die weg van die sterwe lei immers na God toe en bring ons by Hom.  Hy staan by die nou poort, by die smal weg wat ons omhoog voer na die volle lewe.

Ons mag dit bly oorweeg, want die pad is wel baie smal, maar nie lank nie en dit voer na die ruimte.  In vergelyking met die hemelse heerlikheid, is die aardse bestaan maar heel beperk.  Sterwe is ’n nuwe geboorte wat ons in die ruimte plaas.

Goeie voorbereiding op die sterwe bestaan uit ’n gelowige aanvaarding van Woord en sakrament.  Die kerk hou die mense soet met baie sakramentele seremonies.  Volgens die gangbare sakramentsopvatting is die genade in die sakrament uitgestort.  Dit het iets outomaties, iets uiterlik en formeel. Teenoor die sakramentekerk, stel Luther die kerk wat leef volgens die beloftewoord en uit die geloof.  Sakramente het geen outomatiese uitwerking nie, hulle krag lê in die onverdiende toesegging van God.  In die sakramente staan die Woord sentraal, wat geloof vra. Deur dit so te stel, korrigeer Luther op fundamentele wyse die middeleeuse sakramentsleer én die kuns van die sterwe.

Die Spel van Edijnghe 🔗

In die voorrede van sy vertaling van die Ou Testament haal Luther 2Corinthiërs 3:7-9 aan.  Hierdie gedeelte praat oor mense wat die wet in eie krag probeer vervul.  Hulle bedek haar, omdat hulle haar aangesig nie kan verdra nie.  Hulle vervul die wet slegs uiterlik.  Maar as die wet werklik ontdek word, blyk dit dat al hul werke sondig is.  Hierdie Bybelgedeelte wat vir Luther so sentraal was, vind ons weer terug in die sogenaamde Spel van Edijnghe.  Dit behels ’n godsdienstige toneelspel van die “Rederijkerskamer” van Edijnghe, ’n plek in die sestiende-eeuse Suidelike Nederlande.  Die spel is in 1539 voor die stadshuis van Gent opgevoer en, met nog agtien spele wat daar gehou is, vervolgens ook uitgegee. In ’n sentrale kwessie in die reformasietyd moes die kamers kleur beken: hoe oorwin die mens sy twyfel en doodsangs?  Wat is in sy lewe en sterwe die enigste troos?

Die spel van Edijnghe was opvallend afhanklik van Luther gewees.  Dit was ’n spel van sonde, wet en evangelie; met geloof as kernwoord, heeltemal in die gees van Luther.  Die spel stel die toeskouers voor ’n geloofskeuse.  Die mens moenie vertrou op goeie werke, verdienste en deug nie.  Die sentrale vraag is nie of jy wel genoeg gedoen het nie.  Die Bybel hou die mens iets anders voor.  Menslike prestasie sal nie hou voor die regterstoel van God nie.  Die lewe gerig op ’n goeie dood is slegs moontlik vir die wat vertrou op die geregtigheid van Christus.  Om dit te glo is die enigste, ware troos in lewe en sterwe.

Rus in die Woord🔗

Luther se weg wat hy daagliks gevolg het, was die weg van luister en stil word by ’n Skrifwoord. Dit het hom tot gebed gebring.  Bid is vir Luther om tot God te kom, maar ook tot jouself; buitentoe gaan, maar ook binnetoe; vra en roep, maar ook nadink en stil word.  Maar altyd weer vanuit die Skrif.  Dit is die vaste punt.  Daaraan het hy homself telkens weer opgetrek.  Hy sê self daaroor die volgende:

Ek weet nie hoe sterk ander in hulle gees is nie, maar so heilig kan ek nie word nie. Dit oorkom my tog maar altyd weer as ek sonder die Woord is, (om nie daaraan te dink nie en geen omgang daarmee te hê nie), dat daar dan geen lus en geen gees is, dat Christus dan nie tuis is nie...  Maar sodra ek ’n Psalm of ’n teks uit die Skrif neem en lees, dan begin dit te skyn en brand in my hart, sodat my instelling en my wil weer verander.

Met so ’n opmerking gee Luther ’n eerlike kyk op homself.  Omgang met God vereis ons hart, die kern van wat ons is.  Luther wil rus in God, maar hy het ook geweet: ons verwarde gees moet telkens weer op die spoor na God geplaas word.  Deur die Skrif het hy hom aangesproke gevoel deur ’n barmhartige en genadige God.  Hierdie sekerheid het hom ’n rustige gewete geskenk.  Juis in die openheid na God se Woord toe, kom sy bestaan tot rus.

Die Doop: die Gesig van God🔗

Geloof verloop nie outomaties by Luther nie.  Om in die Christus van die Skrifte te glo, is nooit ’n saak van ’n ‘koue’, uiterlike geloof nie.  Dit geld ook vir die verkryging van ’n houvas op die sigbare Woord, die doop.  Die manier waarop Luther oor die doop geskryf het, raak die innerlike.  Hy omskryf die doop as die gesig van God.  Ons hoor in die doop God se stem.  Hy praat persoonlik met ons.  Met al ons aanvegtinge in ons lewe, is Hy by ons. In die arena waar ons die geloofstryd stry, kan die doop ons help.  Luther noem dit: “’n Burg teen al die aanvegtinge”.  Hy sien die doop as ’n deur God gegewe skuilplek, waar sondige mense Hom veilig mag ontmoet.

Luther het die mense wat met aanvegtinge lewe, teruggeroep na hulle doop: “As iemand in sonde val, moet hy des te meer oor sy doop dink.  Hoe God met hom ’n verbond gemaak het om hom al sy sondes te vergewe.  Hy moet wel tot sy dood bly veg teen die kwaad.  ’n Mens moet vrymoedig durf vertrou op hierdie verbond met God.  Die doop kom immers opnuut in werking en dan met krag.  Hierdie vertroue moet ’n mens kragtig vashou, ook al stry alles teen hom en val alle sonde hom aan”.

Ons mag altyd terugval op ons doop.  Luther het gesê: “Ek glo in Christus, al sien ek Hom nie.  Ek sien nou ook nog weinig of niks van wat Hy belowe het.  Ek voel eerder die teenoorgestelde.  Maar ek moet bly stry en veg teen wantroue en twyfel.  Ek het immers Sy doop, die troos van die woord van vergewing”. Ons moet die feit dat ons gedoop is, dan ook nie opsluit in die verlede nie.  Luther sê: “Ons hele lewe is ’n lewe in die doop.  Die christelike lewe is ’n voortdurende terugkeer en ’n gerig wees op die doop.  Die een wat sy doop nie gebruik nie, mis ook die krag daarvan”.

Teenwerkinging🔗

Luther beleef sy roeping in die breedte van God se skepping en van die menslike samelewing.  Hy druk dit kernagtig uit: “’n Diensmeisie wat dien, ’n kneg wat getrou sy werk doen of ’n moeder wat haar kind in die wêreld bring, doen iets baie beter as ’n biddende monnik, wat net oog het vir sy eie inbeeldinge, terwyl die ander kyk na God se gebod en sy verordeninge”.

God het ons op hierdie aarde geplaas as mense van vlees en bloed.  Ons mag hier asemhaal, voedsel eet, wortel skiet.

Luther was bereid om rekenskap te gee van die geloof.  Hy het nie die risiko’s wat dit meebring, ontwyk nie.  Deur dit wat hy geskryf en geglo het, is hy voëlvry verklaar.  Vroeër was hy selfs ’n duiwel genoem.  ’n Spotprent uit die tyd beeld hom uit waar hy staan by ’n kookpot.  Hy berei kos voor, saam met die duiwel. 

In aanvegtinge en teenkantings het Luther die krag van die bose ondervind.  Maar hy het ook die teenkrag van God se Woord ervaar.  Sy optrede het die reformasieproses in die Nederlande versnel.  Die Reformasie word egter ook teengewerk.  Die invloed van die man uit Wittenberg moes gestuit word. In Leuven, Antwerpen, Bruggen en Gent is tientalle van sy boeke verbrand. Sommige vlug, ander herroep.  Maar daar was ook dié wat standgehou het tot die einde toe.  Die martelaarskap het realiteit geword.  Eers in die Suidelike Nederlande: Hendrik Voes en Johannes Esch.  In die somer van 1523 word hulle op die Groot Mark in Brussel, lewendig verbrand.  Hulle het die eerste martelaars van die Reformasie in die Nederlande en ook in Europa geword.

Toe Luther van hul teregstelling uitgevind het, reageer hy geskok.  Volgens ’n ooggetuie gee hy te kenne: “Ek meen dat ek die eerste sou moes wees om vir die Heilige Evangelie gemartel te word.  Ek is dit egter nie waardig geag nie”.  Luther dank God tegelykertyd dat Hy Sy vrug van die Woord aan hom verskaf het.  Aan die wat ontsteld op die teregstelling gereageer het, adviseer hy: “Moenie met satan twis nie, maar hou die oog gerig op Christus.  Moenie daaraan twyfel dat hy deur die onskuldige Lam behou word nie”.  Later sing hy ook daarvan:

n Vaste brug is onse God, ons skuil in Hom die Sterke. Hy is ’n vesting in die nood, vir ewig staan sy werke.

Navolging as Lewenshouding🔗

Ons leef 450 jaar later.  Baie bevind hulle in ’n voortdurende krisis om sin te gee aan hulle lewe.  Hulle is eintlik nie meer regtig aan iets verbonde nie. ’n Werklike geloofwaardige wêreldbeeld moet aan die mense van ons tyd voorgehou word.  Nie deur die herstel van die ou situasie nie.  Die 20ste eeu is nie die 16de eeu nie.  Daar is reeds ’n pad afgelê deur die tyd.  God nooi ons uit om verder te gaan.  Ons kan baie dinge agterlaat.  Maar dit wat in die 16de eeu oor die navolging van Christus belewe is, het ook vir ons ’n boodskap.  Luther is ’n indrukwekkende voorbeeld van Bybelse verset teen sy tyd. Onsself leef in ’n situasie van groot ontwrigting, ’n God-vergetende tyd.  Die oorgawe van Luther aan die Evangelie nooi uit tot eenvoudige getuienis, tot gelowige opstelling in woord en daad.  Wie Christus navolg, staan in die wêreld van ’n barmhartige God.  Genade hou ’n mens regop.  Luther se geestelike testament, sy laaste nota: “Ons is bedelaars. Dit is die waarheid” is van groot belang, ook vir vandag.