Bron: Kompas, 2002. 2 bladsye.

'n Bevrugte Akker en Gebaande Weg

God laat Homself nie van ons wêreld skei nie. “Ons” wêreld is die eiendom van die Here. Hy het dit self deur sy almag en wil gemaak. Hierdie God het gekies om hier op aarde by ons te kom woon. Hy kom van bo om hier op aarde saam met ons te leef. God se Woord is geen donderslag wat oor my slaan nie. Hy kom saai en plant sy Woord in my lewe. Hy veroorsaak met sy Woord geen kloof langs my voete wat vir my ’n bedreiging is nie. Met sy Woord kom bevrug Hy my lewe en baan Hy vir my ’n weg om saam met Hom te mag gaan.

Vir Schilder staan of val alle ware godsdiens met die verbond. Daar is geen godsdiens, geen diens aan die Here moontlik nie, of dit sal uitgeoefen word in die vorm van God se verbond met ons. Die werklikheid van die verbond moet baie goed deur ons raakgesien word. Sommige sê, en Schilder verwys hiermee met name na die Switserse teoloog Karl Barth, dat die verbond nie iets werkliks is nie. Die grote God in die hemel kan volgens Barth geen verbond met die klein mens op aarde aangaan nie. Dit sien Barth as dwaasheid. Hoe kan die magtige grote God met ’n mens wat vir elke asemteug wat hy in- en uitasem van God afhanklik is, ’n party naas God wees? Vir baie mense is en bly God se verbond daarom net baie mooi beeldspraak.

Schilder wil nooit die oneindige verskil tussen God en mens ontken nie. Maar moet ons nou op grond hiervan sê dat die verbond onmoontlik is? Natuurlik is dit nie moontlik dat daar van die mens se kant ’n inisiatief kan kom om met God ’n verbond van genade te sluit nie.

Maar dit wat by die mens onmoontlik is, is by God moontlik. Ons kan nie van ons kant vir die Here sê: “Kom U nou na my. U gaan op my inisiatief saam met my en my kinders rondom ’n tafel sit om afsprake te maak” nie. Weg met enige sulke gedagtes! Uit dit wat ons bedink kom nooit ’n verbond tot stand nie.

God Skep die Verbond🔗

Wat mense nie kan doen nie, doen God. Net God kan en wil van ’n verbond praat en ’n verbondsverhouding skep. Dit doen Hy vir redes waaroor Hy nie teenoor ’n mens hoef verantwoording af te lê nie en ook nie vir redes wat Hy in die mens vind nie. Dit is uit Hom en deur Hom. Die Here doen twee dinge. Hy skep die mens. Die Here kom sê vir Abram van die verbond wat Hy met hom en sy nageslag sluit as ’n ewige verbond. Dit is nie so dat God die mens maak en dan vind die twee saam ’n moontlikheid om met mekaar in vrede te leef nie. God is die Skepper van die mens en tegelyk ook die Skepper van die verhouding tussen Hom en die mens. Omdat ons deur God gemaak is, kan Hy met ons ook ’n verbond maak.

Regsverhouding🔗

Die Here gaan ’n verhouding met ons aan. Dit is werklik ’n persoonlike verhouding. Wat kan meer persoonlik wees as dat God sy Naam aan my naam kom verbind toe ek gedoop is!? Maar hierdie persoonlike verhouding is tegelyk ’n regsverhouding. Daarmee bedoel Schilder dat God hulle met wie Hy ’n verbond gesluit het voor die regbank kan daag wanneer daar van die mens se kant ontrou is. Net soos wat ’n man sy vrou met wie hy ’n huwelik gesluit het, voor die regter kan daag wanneer sy ontrou geword het.

Schilder illustreer dit met die woorde van die profete net voor en tydens die wegvoering van die volk van die Here in ballingskap. Die profeet Miga daag die volk voor die regbank van die verbond. Hy daag die volk uit om die Here te kom beskuldig. Laat die volk nou maar die Here beskuldig oor die sogenaamde laste wat Hy hulle opgelê het (Vgl. Miga 6).

Dit is die Here wat sy volk uit die slawehuis van Egipte uitgelei het. Daaruit het Hy hulle losgekoop. Hy het Moses, Aäron en Mirjam voor die volk uitgestuur. Die Here het alleen maar regverdig opgetree met en teenoor sy kinders. Hy het hulle nooit vermoei deur die vrug van hulle liggame (hul kinders!) te vra as offers vir die sonde van hulle siel nie. Al wat die Here gevra het van sy kinders is om te leef volgens die verhouding waarin Hy hulle geplaas het. Hulle moes reg doen. Lewe uit die genadige verhouding waarin Hy hulle geplaas het. Hulle moes in liefde met hierdie Here leef. In hierdie heel persoonlike verhouding met die genadige Here het dit gepas dat hulle ootmoedig met die Here leef (Miga 6:8).

Die Here lok en trek ons met ’n genadige belofte. Sy Woord is sy belofte. Sy Woord kan vertrou word. Hy verbind heel letterlik Homself aan sy Woord. Hy sal doen wat Hy sê. Tegelyk hou sy verbond ’n waarskuwing in. God dreig met straf wanneer sy genade afgewys word. Hy roep ons tot verantwoordelikheid. In die woorde van die Hebreërskrywer: “Hoe sal ons dan kan ontkom as ons só ’n groot saligheid verontagsaam?”. Hier, sê Schilder, hoor ons die magtige woord van die profeet: “Jou Maker is jou Man.” (Jesaja 54). Die Een wat ons gemaak het soos wat ons is, is die Een wat altyd trou aan sy beloftes sal bly. Tegelyk verwag Hy trou van sy bruid. Hy wat vir Hom ’n gemeente deur sy Woord gemaak het, verwag dat sy bruid getrou aan haar Bruidegom, haar man, sal wees. Hierdie verhouding wat die Here deur sy Woord maak, is God se verbond met sy gemeente. Dit is ’n band, ’n verbintenis, wat die Here geskep het en daarom is dit nie bloot mooi beeldende taal om oor die Here te praat nie. Die verbondsverhouding is as skepping van die Here ’n aangrypende werklikheid.

Verlowing word Huwelik🔗

Kenmerkend van die verbond, is vir Schilder dat daarin meer as een party optree. Hy vergelyk die verbond met ’n verlowing van ’n man met ’n jong vrou. Die verbond is nie soos maagderoof nie. By ’n verlowing word daar teenoor mekaar gesê: “Ja, ek wil”. Deur sy verbond roep die Here ons om “ja” te sê. Ons word verantwoordelik gehou. ’n Verlowing ontplooi hom tot ’n huwelik waarin die man ’n vader en die vrou ’n moeder word.

In die verbond is daar nou ook só ’n ontplooiing. God word nie iets wat Hy nie was nie. Maar Hy ontplooi Hom in wat Hy van Homself bekend maak. Hy kom maak Homself bekend voor mense-oë. Hy openbaar Homself in sy verbond as die Skepper wat Herskepper word. Die Skepper wat Verlosser word. Die Skepper wat ons uit ons sondes kom uithaal en ons voet plaas op die pad wat Hy met ons wil gaan.

Ook die een met wie die Here sy verbond kom sluit het, kan tot ontplooiing kom. Die mens kan of “ja” of “nee” sê vir sy Maker wat sy man wil wees. Nie op ’n humanistiese manier waar die mens uit eie krag en wil “ja” kan sê nie. Maar uit die krag van wat die Here kom gee het in sy verlowing met ’n sondige meisie. Schilder wil alleen maar beklemtoon dat die Here die verbond “tweesydig” maak. Die verbond kan nie uit die krag van ’n mens “tweesydig” word nie. Die Here kom sluit geen verlowing wat die mens dan uit eie krag ’n huwelik laat word waarin saam met mekaar in gemeenskap geleef word nie. Die Here wat die verbond gemaak het, maak dit ook tot ’n huwelik. Hy gee ook alles wat die verlowing tot ’n huwelik maak. Hy gee alles wat die verloofde ook ten volle tot huweliksmaat laat ontwikkel. In die woorde van Schilder: “Hy maak my tot die ander party”.

Deur die krag en wil van die Here is die tipiese verhouding wat deur die verbond gemaak word dié van tweerigtingverkeer. Daar is ’n weg van die Here na my. En Hy maak óók weer ’n weg van my na Hom.

Hierdie liefde met die hele hart, siel en al ons kragte vir ons Bruidegom, hierdie trou bly aan Hom wat Homself vir ons as man gegee het en die nederige ootmoedige lewe met Hom… dit is die verbond van genade volgens Schilder.