Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

'n God Genaamd: Verandering

Van liefde was daar geen sprake nie. Die antieke heidense volke het hulle gode gevrees en nie uit liefde gedien nie. Die afgode sou, na bewering, magte en kragte hê wat in woede kom uitbreek teen die mens. Daarom moes die gode gepaai en gepamperlang word Soos 'n honger dier het die afgode mense verslind. Wat die gode gevra het, het die gode gekry. Geen offer sou te hoog wees om die gode gelukkig te hou nie - selfs die gruwel van kinderoffers het plaasgevind. Vrees vir 'n god wat vernietigende magte sou hê, laat jou vreemde dinge aanvang. Dit laat jou van dinge afskeid neem (en selfs doodmaak) waaraan jy geheg is. 'n Vretende vrees wat die deurslag gee, kan 'n hele bevolking in kettings bind.

Vrees vir Verandering🔗

Die antieke volke is 'n tydige herinnering aan wat die mag van afgodery is. Vandag is daar nog vele vasgevang in die greep van 'n god genaamd Verandering. Dit word dikwels gehoor dat die mens van vandag 'n vrees het vir verandering. In ons tyd is dit nogal aktueel, veral waar die mense begin agterkom dat met die ANC se rewolusionêre oorname (en optrede) steeds meer as net 'n regeringsverandering plaasgevind het - daar het 'n totale ordeverandering gekom. 'n Vreemde orde met nuwe reëls.

Afgesien daarvan het die verandering op tegnologiese gebied astronomies geword. Mense wat nog met die ossewa nagmaal gevier het, het in hulle leeftyd pendeltuie beleef, die laserstraal en die elektroniese inligtingsrewolusie (kompleet met sy sender, boodskap, dekodeerder en ontvanger). Die tempo van verandering is verbysterend. In die rekenaarwêreld kan 'n nuwe uitvinding binne maande selfs al verouderd wees. Verandering klop dramaties, vinnig en verleidend, bedreigend aan die deur - ook van die kerk.

Oplossings of maniere hoe om op hierdie klop aan die deur te antwoord, het nie uitgebly nie. Van 'n moedelose terugtrek in die ou bekende skilpaddop, tot cliché-stellings dat die verandering bestuur en beheer moet word, en dat daar geen rede tot vrees vir verandering is nie. Talle wil die kerk laat inpas en aanpas by die aandrang op verandering. En natuurlik is daar die ou staatmakerstelling: gebruik die verandering as 'n geleentheid. Maar sulke windmaker uitlatings het hoogstens maar 'n verdowende propagandistiese waarde - enige substansiële rigtinggewing bly uit. En van konserwatiewe kant word die hart vasgehou en die oë toegeknyp in die hoop dat die verandering binnekort gaan uitwoed en daar weer 'n terugkeer sal wees na die goue oue verlede. Dié hoop gaan beskaam.

Bly en Bely🔗

Dis in hierdie verwarrende, veranderende wêreld waar gereformeerdes leef, en belangriker nog - bly en bely. Daar is 'n verskrikking vir verandering.  Ignorering van die verandering bring geen oplossing nie.  Die vrae na aktuele prediking, vrae na die relevansie van die kerk vandag en die krimpende kerk hier, is 'n bewys dat verandering nie geïgnoreer kan word nie. Hoe moet die gereformeerde, die Calvinis, staan teenoor hierdie verandering wat haas elke deel en onderdeel van ons bestaan binnedring, bepaal en verander?

Onafwendbaar?🔗

Daar is 'n verskrikking vir verandering - juis omdat dit onafwendbaar blyk. Die marxiste (wat hulle transformasie-verandering met sataniese ywer dryf) munt uit daarin om die gevoel te skep dat dit 'n historiese noodwendigheid is dat dinge in 'n sekere rigting moet beweeg. "Adapt or die" is die dreigkreet. En die dood is mos darem erger as die vrees om te verander. Karl Marx self kon dit nie beter vir Suid-Afrika voorgeskryf het nie. Waarom is daar hierdie verskrikking vir verandering, vir die onbekende toekoms? Waarom word toegegee aan hierdie ideologiese afdreiging?

Bang om Nie te Verander Nie🔗

Die antwoord is eenvoudig: Die mens is nie vreesagtig oor verandering nie, die mens is juis doodsbang: om nie te verander nie. Hierdie tipe verandering is geen historiese gegewe nie, hierdie rigting is nie iets onafwendbaars nie. Dis 'n afgod. 'n Afgod wat rook en dreiging blaas. En 'n afgod wat offers vra. 'n Afgod wat met die dood dreig as daar nie aan sy eise voldoen word nie. Verandering is 'n afgod wat tans al sy offers kry - ook van gereformeerdes. Verandering is 'n afgod wat vele volke hier aan kettings van vrees bind.

Ons is bang vir wat sal gebeur as ons nie verander nie. Ons is vreesbevange vir wat sal gebeur as ons nie (gewillig of dwangmatig) verander nie. En ons vrees kom voort uit die feit dat ons nie weet wat moet gebeur nie. Die neo-marxiste voer hulle verandering deur met 'n heilige erns vir die afgod en vee alles voor hulle voete uit die weg. Die inligtingsprofete en priesters-van-verandering probeer om so veel as moontlik en so vinnig as moontlik op die "golf"  te ry in die hoop dat die gewillige onderwerping heil sal aanbring. Maar afgode kan nie red nie. Hulle kom uit mensehande en hulle verslaaf die mens. Deur die satan se strik vernietig die mens homself met sy vrees vir sy god.

Bankrot🔗

Dis op hierdie punt dat ons die skokkende moet sê: die gereformeerde denke in Suid Afrika het merendeels bankrot geword. Die neo-marxistiese sosialiste weet presies wat hulle met die samelewing gaan doen (al verskil hulle in nuanses van mekaar). Weet ons nog wat God se wil vir die samelewing is? Is dit enigsins ons ywer om dit uit te voer? Beskou ons dit as prakties uitvoerbaar om God te dien soos wat Hy dit wil hê in 'n moderne ekonomie? Is ons bereid om byvoorbeeld die hele ekonomie te verander (reformeer) as God se wil dit vereis? Of is ons net tevrede om van ons eie persoonlike saligheid te hoor? Dit laat mens wonder of dit nie van ons gesê kan word dat ons die volgende stelling waar maak nie: Die kerk vir Christus, die res vir satan.

Ons weet waarvan ons nie hou nie, maar weet ons wat moet gebeur? Begeer ons nog God se wil vir ons bestaan? Ons beleef die verandering wat op ons afgedruk word as negatief maar onderwerp ons, ons tog daaraan? Hoekom? Omdat ons nie weet wat móét gebeur nie. Die gereformeerde denke het sy ywer verloor om God se skepping na God se wil te reformeer. Van die ou strydkreet "elke duim grond is God s'n" het haas niks oorgebly nie. Pragmatisme het die gereformeerde denke uitgekalwe. Ons het bly vassteek by wat verkeerd is.

Bewyse🔗

Om die bankrotskap te bewys, kan die volgende voorbeelde genoem word:

  • As dit by stakings kom, kan ons gou sê dat ons "toi-toi" nie kan verdra nie. Maar het ons antwoorde op vrae soos wat 'n billike werksweek is? Hoe moet die verhouding werker-werkgewer gereël word? Wat sê gereformeerdes oor skofwerk?

  • Ons hou nie daarvan as vakbonde praat van minimum lone vir die bediendes nie. Maar het ons antwoorde oor wat regverdige besoldiging is? Weet die gemiddelde gereformeerde wat word bedoel met die produktiwiteitsdebat?

  • Ons hou nie daarvan as die regering in die skole en universiteite inmeng nie. Hou ons net nie van hulle beleid nie, of is ons gekant teen enige staatsinmenging in die skool omdat dit vir ons 'n beginsel is? Sê die gereformeerdes dat die skool 'n unieke lewensverband is?

  • Ons hou nie van hoë belastings nie, en kla steen en been daaroor. Het ons al gedink, geskryf en gesê wat God verwag met betrekking tot die owerheid se plig tot belasting? Want die keiser kan ook steel!

  • Ons is teen geweld gekant as dit ons raak. Hoeveel gereformeerdes het gerou toe ons land besluit het om kinders met staatsgeld te begin vermoor (aborsie)? Pla geweld ons enigsins as dit in 'n plakkerskamp plaasvind, of kom daar dan vindingryke rassisme tot die redding?

  • Hoeveel gereformeerdes is besorg daaroor dat God se rusdag ontheilig word in die werkplek? Hoeveel van ons skryf ingenieursfoute (wat fabrieke bou om aanmekaar te werk) nog steeds af as dat "die ratte van die nywerheid sewe dae moet loop"?

  • Ons is verbaas en verskrik oor wat die rekenaar en elektroniese inligting as moontlikhede bied. Wie het ons al geleer dat tegnologie 'n werktuig in die mens se hand is en nie 'n baas wat alles moet oorheers nie? Ons het slawe van ons eie uitvindings geword. Ons word geleef. Wat het in die rekenaarbedryf van die belydenis van Christus se redding en koningskap geword?

  • As dit by arbeidsverhoudinge kom, is daar die nuutste Amerikaanse, Europese en Japanse modelle ingevoer om die werkers gelukkiger te maak sodat hulle meer geld kan maak. Waar is die gereformeerde stem om te sê wat verwag God hoe moet die werkplek tot sy eer lyk? Na die Wiehann-verslag in die tagtigs het die rewolusie via die werkplek ons oorspoel. Ons het nou nog nie 'n antwoord daarop nie.

  • Hoeveel van ons noem onsself - wat na God se beeld en gelykenis geskape is - sonder om te blik of te bloos "verbruikers", asof die somtotaal van die mens se bestaan verorberende ekonomiese aktiwiteit is?

  • Hoe lank moet ons nog wag voordat die Calviniste nie net sê dat kapitalisme 'n verderflike euwel is nie, maar ook skriftuurlik begin dink oor hoe God die samelewing wil sien? Dis ook nie genoeg om sosialisme af te maak as godloos nie. Natuurlik is dit, maar hoe lyk 'n ekonomiese stelsel waar Christus se koningskap geëer word?

  • Baie is ontstig oor grondverdeling. Besef ons dat daar naas tradisionele (emosionele) nasionalistiese uitsprake geen belydenis op tafel is oor wat ons glo God in die Skrif oor grond en bewoning sê nie? Wie praat nog in die politiek van die mens se kultuuropdrag?

  • Die politiek is nog steeds gepla oor beleid en nie soseer belydenis nie. Word die belydenis nog enigsins as relevant beskou in die vergadersale?

  • Dit lyk of die gereformeerde denke net daarin belangstel om teologies kerklik (soteriologies) te probeer oorleef, met hier en daar 'n etiese korreksiekie op die gruwelikste uitwasse van ons tyd. Dit is nie goed genoeg nie.

Die Antwoord is Nee🔗

Stel die gereformeerde denke werklik belang om die samelewing te hervorm?

'n Eerlike antwoord is "nee", ons doen dit nie. Ons is te bang om nie te verander nie. Ons is bang 'n afgod maak ons dood. Vrees om nie te verander nie is nie versoenbaar met die geloof in Jesus Christus nie. Voordat hierdie veranderingsgod nie stukkend geslaan word nie, sal die situasie ook nie verbeter nie. Wie vrees om nie te verander nie, sal nooit reformeer nie.

God verwag 'n ander tipe verandering. Deur die Woord en Gees sê God wat moet gebeur. As die gereformeerdes weer helderheid kry oor waarheen die samelewing moet gaan, en waar die trein van die spoor afgegaan het, sal ons weer ons krag terugkry. Laat ons nie naïef wees en dink ons gaan die Marxistiese rewolusie stuit met 'n opgewarmde nasionalisme nie. Daar is ingrypende vernuwende denke nodig vir elke lewensfeer. Christus het vir sy uitverkorenes gesterf om sy volkome verlossing ook oor die hele skepping te laat blyk. Is dit nog ons erns? Pla dit ons dat ons intellektueel bankrot is, dat ons, soos ons tans aangaan, merendeels, hou vir hou, nie deurtastende antwoorde teen die rewolusionêres het nie? En dit is ongelukkig nie meer genoeg om hulle af te maak as goddelose swape nie. Hulle het werklike (politieke, militêre en eersdaags ekonomiese) mag, en hulle is vas van plan om hierdie streek onherkenbaar te verander vir hulle afgod

Christus se dood en opstanding dring die kerk om verantwoording te gee oor Sy verlossing op alle lewensterreine. Ons moet positiewe antwoorde skriftuurlik begin uitdink. Dis die enigste pad. 'n Harde en steil pad, maar tog klimbaar. Die verandering wat tans skynbaar onafwendbaar op ons afstorm, is nie 'n wet van God nie. Nie alle verandering is 'n "moet" nie. Inteendeel, die vernuwing wat die Heilige Gees bewerk, die ware verandering wat die Gees van Christus teweegbring, staan in skril kontras met hierdie afgod "Verandering".

Roeping🔗

Wat is die oplossing? Dis die verkeerde vraag. Wat is ons roeping? Wat wil God sien moet gebeur in die samelewing? Daarvoor moet ons, ons denke, ons energie, ons gebede, en as dit daarop neerkom, ons bloed gee. Christus die Koning se eer bo alles. Daar wag 'n bekeringsweg vir baie gereformeerdes. Of hulle die liefde vir God daartoe gaan hê, is 'n ander vraag.

Laat die vuur van reformasie wat die Heilige Gees aansteek, weer in ons harte begin brand, in ons monde wees en ons hande en voete rig. Vergeet die afgod "Verandering". In Christus moet ons so besig wees om sy skepping tot sy eer te beheers dat ons nie tyd sal hê om verandering te vrees nie. Hier is die kruispad: afgodiese vrees om nie te verander nie, OF vrees vir God om wel te verander ter wille van Jesus Christus. Vreeslike offers aan 'n afgod OF dankbare offers aan die lewende Here. Vrees oor die onbekende OF vertroue omdat ons weet wat God wil sien gebeur.

Magtige Ideaal🔗

Gereformeerdes sal kragte moet begin saamsnoer. Ons sal ordelik moet begin "dink"- verenigings, partye, vakbonde, skole, dalk weer 'n universiteit moet oprig. Daar moet nie net gereformeerdes in die samelewing wees nie, ons moet gereformeerd belydend optree in die samelewing. In kort - 'n hervormde samelewing, wat 'n staat insluit, moet gebore word. 'n Magtige ideaal. Wie in Christus se opstanding kan glo - feitlik onmoontlik, maar tog het dit gebeur - kan ook in  samelewingsreformasie glo.

Vrees of liefde - wat sal ons antwoord wees? Ware liefde tot God sal die HERE se wil soek in sy hele skepping om Hom te behaag. Dis die kruispad van reformasie, want dis die enigste pad vanaf Christus se kruis.