Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

'n Persoonlike Band met Jesus

Geestelike Diepgang🔗

Waaroor praat ons as Christene, as ons saam verkeer.  Nee, ek bedoel nie onmiddellik dat ’n kuier by mekaar dadelik ’n mislukking is wanneer daar geen geestelike noot bygevoeg word nie.  Natuurlik kan jy lekker en verantwoord ’n aand saam met mekaar deurbring sonder dat daar ’n Bybelteks aangehaal word.  Maar neem nou maar die jaarlikse, offisiële huisbesoek.  Hoe gereeld moet jy nie konstateer dat die gesprek moeisaam verloop het nie! 

Diegene wat so ’n ervaring gehad het, moet eerstens homself ondersoek hoekom dit so is.  Oor die algemeen het niemand van ons ’n probleem om ’n gesprek aan die gang te hou nie.  Jy kan praat oor die kerk, oor allerlei sake wat vanuit die kerk georganiseer word.  Die pers lewer ook ’n keur van onderwerpe.  Die probleem ontstaan dikwels wanneer ons die gesprek moet toepas op ons persoonlike geloofslewe: ons verhouding met die HERE God.

Jy kan probleme daarmee ervaar omdat die saak so intiem persoonlik is.  Net soos wat jy ook nie breed uitwei oor die liefde wat jy as man en vrou teenoor mekaar wys nie.  Ja, eintlik is die vergelyking tog ook nie heeltemal reg nie, want die buitewêreld mag definitief wel getuies wees dat julle, selfs na jare se huwelikslewe, nog intens van mekaar hou.

Daar kan egter ook probleme in jou geloofsverhouding wees, omdat jou geloof op die proef gestel word.  Ons sal nie gou daarmee te koop loop nie, soos wat dit byvoorbeeld wel in sekere evangeliese kringe gebeur.

Tog is dit nog nie al nie.  Wanneer ons eerlik teenoor mekaar is, moet ons toegee dat ons dit nogal gereeld teëkom: geloofsgenote wat hulleself nie maklik uit oor hul persoonlike geloofslewe nie.  Dit getuig definitief nie altyd van ’n skraal geloofslewe nie,  maar dikwels is daar wel ʼn (valse) skaamte, gebrek aan moed, ’n drumpel waaroor ’n mens  nie durf gaan nie.

Evangeliese mense sê dan dat ons te min lewe vanuit ’n persoonlike geloof.  As jy immers ’n innige band met Jesus het, kan jy nie anders as om onbevange daaroor te praat nie.

’n Persoonlike Band🔗

Dit is goed dat ons nie die persoonlike element in ons geloofslewe verwaarloos nie.  Dit is wel deeglik ’n risiko wanneer jy in die kerk grootgeword het.

Andersins lê die probleem by die mense wat van buite af kom.  Hulle hoor die evangelie.  En wanneer hulle daarop reageer, vra dit ’n persoonlike keuse, wat diep ingryp in hulle lewe.  Baie gelowiges word egter gebore in die kerk, groei op te midde van soortgenote in die kring van gesin en gemeente en bely dan ook hul geloof in groepsverband wanneer die tyd ryp is daarvoor.  Geloof kan dan so vanselfsprekend lyk, dat jy eintlik nooit “onderstebo” raak daarvan nie.  Dit is dan ook nie ’n wonder nie dat mense wat van buite die kerk tot geloof kom, gereeld verbaas kyk na die lakonieke houding van jong kerklede.  Want deur geloof word jy tog ’n ander mens!  En wie wil dit dan nie laat sien nie?

In die lig hiervan is dit betreurenswaardig dat die kerk nie meer ewewigtig gevoed word vanuit die twee bronne nie: deur geboorte en deur bekering.  Dit is immers ’n seldsame verskynsel dat die volwasse doop onder ons bedien word.  Alleenlik hierdeur al kan daar ’n houding groei dat die kerk slegs uit gelowiges en hul kinders vergader word en nie ook vanuit die heidendom nie.

Ons mag die HERE innig dankbaar wees dat Hy met sy verbond werk, deur gelowige ouers in hul kinders. Selfs so dat jy inderdaad kan sê dat jy in die lewe aan die geloof vasgegroei het. Dit is jammer dat ons in ons direkte omgewing van heidene, wat die HERE leer ken, nie meer kan sien en kan leer hoe groot die verandering immers in ’n lewe is wat aan God toegewy is nie. 

Daaroor mag geen twyfel bestaan nie: geloof werk diep in op ’n persoon.  Jy word regtig ’n ander mens daarvan.  En jy hoef jou regtig nie daarvoor te skaam wanneer jy daarvan getuig in jou lewe nie.  Diegene wat dit nie kan doen nie, moet homself afvra of hy wel met hart en siel verknog is aan ‘die saak’ van die Here Jesus.

’n Persoonlike Band met Jesus🔗

Ek ervaar ’n groter probleem met die mense wat dit nie daarby laat nie.  Hulle sê persoonlike geloof is ’n moet.  Dit word volgens hul eers regtig persoonlik wanneer jy self ’n band met Jesus het.  ’n Tyd gelede het ek dit self so in die koerant gelees: jy moenie glo in ’n Jesus van papier (die Jesus van die Bybel) nie, maar in ’n gekruisigde Jesus (die regte man van vlees en bloed).  Juis hierdie teenstelling laat duidelik sien waaroor dit gaan: jy glo eers regtig as jy ’n persoonlike band met Jesus self het.

My probleem is dat ek my hierby eintlik niks kan voorstel nie, ook nie wanneer ek mense daaroor hoor praat nie.  Soos wanneer hul dan getuig van ’n verhouding met die Here Jesus soos jy ’n verhouding met jou broer of suster het, of jou beste vriend.  Dit bly vir my ’n vraag of so ’n diep-menslike verhouding wel ’n model kan wees vir die manier hoe ons met ons Heiland moet lewe.  Die gevoel bekruip my voortdurend dat sulke mense vir hulle ’n voorstelling of beeld maak van wie Jesus is en dat hulle dan ’n persoonlike verhouding met hierdie beeld wil aangaan.

Dit is belangrik dat ons saamstem oor die feit dat Jesus ’n Persoon is, nie maar net ’n mens wat geleef en gesterf het en daarna in die gedagtes en ideale van sy volgelinge voortleef nie.  Ons stem saam met die evangeliese dat ons die moderne teologie grondig haat.  Nee, Jesus leef en ons saam met Hom.  Ons vereer Jesus as die Seun van God, wat as ’n nuwe mens in die hemel is.

Die vraag bly egter hoe jy met Jesus ’n persoonlike verhouding aangaan.  Kan jy direk, van mens tot mens, met Hom in kontak tree, of is iets anders daarvoor nodig?

Ek glo dat die Bybelse getuienis ons ’n baie versigtiger houding leer.  Dit mag ons nie ontgaan dat Jesus se volgelinge op ’n baie anderse manier met Hom omgegaan het ná Sy opstanding uit die dood, as daarvoor.  Daar is diegene wat Hom as persoon heel intiem geken het, maar wanneer hul Hom ná Sy opstanding weer ontmoet, word dit baie duidelik dat die tye van voorheen nie meer net so sal terugkeer nie.

Maria van Magdala is die eerste voorbeeld.  Sy wil die opgestane Heer dien soos voorheen.  Maar Hy sê: moenie aan my raak nie.

Petrus kom ook onder die Here se oë, maar van sy ou natuur bly nie veel oor nie.  As Hy later in Sy briewe getuig van sy omgang met die Heiland, beroep hy hom nie op allerlei intieme, intermenslike kontakte nie.  Nee, in die eerste hoofstuk van sy tweede brief wys hy in detail op die momente waar die heerlikheid van sy Heiland duidelik na vore gekom het.

So moet Thomas ook tot die konklusie kom: my Here en my God.

Die apostel Paulus het ’n ontmoeting met Jesus, wat hom sy lewe lank verbly: aan hom verskyn ’n lig soos ’n bliksemstraal wat hom totaal verblindEn ook as hy later sober vertel van sy visioene (2 Korintiërs 12:1-10), wys daar niks van ʼn (mede)menslike verhouding met Jesus nie.

Ten slotte: Johannes, die mees intieme vriend van Jesus, sien ’n oorweldigende verskyning, wanneer hy (Openbaring 5) die hemel sien oopgaan.

Met ander woorde: almal leer die persoon van Jesus ken in sy nuwe heerlikheid, as God se Seun en ons Heer.  En dié wetenskap bepaal hul verhouding met Jesus.  Maar tegelykertyd word dit duidelik dat hierdie Jesus in sy verhoging meer is as in Sy vernedering, waar Hy op hierdie aarde in ons plek die laste van die sonde gedra het.

Die wat Jesus wil leer ken, moet die evangelies lees.  Maar wie in hierdie tyd ’n band met Jesus wil smee, moet homself in geloof aan die Seun verbind, wat op die troon geplaas is, aan die regterhand van die Vader.

Van Sy mag en heerlikheid, het ons nog maar net ’n glans gesien.  Maar tog soveel, dat ons nie anders kan as om ons in groot beskeidenheid aan Hom te onderwerp nie.

Ek is so bang dat mense, wat hoë prioriteit stel aan ’n persoonlike verhouding met Jesus, te (mede)menslik van Hom bly dink.

Natuurlik glo ons dat die Here ’n mens geword het soos ons.  Ons glo ook dat Hy ons daarom so goed kan verstaan.  Ons is sprakeloos dankbaar dat Hy Hom tot ons vlak verneder het.

Maar nou moet ons wel daarvoor oppas dat ons Jesus nie op daardie vlak laat bly verkeer nie.  Hy was één van ons.  Dit is in ’n sekere sin verlede tyd!  Ons mag nou gelykvormig word aan Hom.  Dit is in die toekomende tyd.  Ons moet nie daardie verskil laat vergete gaan nie.

’n Band deur die Gees🔗

Dit is baie opvallend dat die Here Jesus self baie moeite gedoen het om die band met Sy volgelinge te bewaar.

Hy praat dan van geloof en van ’n diepe eenheid.  Maar die band word nie gesmee tussen twee persone op ʼn, laat ons sê, psigologiese manier nie, maar deur die Gees.

Dit moet ons ook opval.  As dit gaan oor persoonlike geloof, dan kom die Heilige Gees sterk na vore.  Dit is die Gees wat in hulle wat deur God geroep is, se harte gaan woon.  Jy word aan die persoon en werk van Christus verbind deur die werking van die Heilige Gees.

Dit is ook die Gees wat, om sy doel te bereik, God se Woord as middel neem.

Daarom word ek hartseer as ek ’n opregte mede-christen die teenstelling hoor maak tussen die Christus ‘van die Skrifte’ en Jesus ‘in my hart’.

Die mens Jesus, wat op aarde rondgewandel het, is nie meer op die manier by ons nie.  So gaan ons Hom ook nooit weer terugkry nie.  Daardie Jesus het gesterf en is begrawe.  Uit die graf het die verheerlikte Seun van God egter opgestaan.  Ons glo dat Hy dieselfde Persoon gebly het:  beide God en mens.  Nou egter wel ’n verheerlikte Menseseun, wat deur die Vader met eer en heerlikheid gekroon is.

Daarom: ons verswak ons posisie teenoor die moderne teologie (wat niks van Jesus se opstanding uit die graf wil weet nie) wanneer ons geen oog het vir die voortgang van God se heil nie. 

Thomas mog die Here herken deur middel van Sy wonde: dit is dieselfde Jesus.  Tegelykertyd sien hy méér: sy Here is sy God.  Die verhouding kry ’n dieper en hoër inhoud: salig is hulle wat nie gesien het nie en tog glo.

Persoonlike Geloof🔗

Wanneer ons praat oor ons geloof, mag ons ook aandag gee aan wat diep in ons hart gebeur.  Geloofstaal hoef nie slegs te bestaan uit aanhalings uit die Bybel nie.

Vir gereformeerde mense moet dit duidelik wees dat daar geen teenstelling bestaan nie.

Wanneer ons eerbiedig luister na die Woord van God, bring die Heilige Gees alles in beweging in jou hart en lewe.  Van hierdie effek mag jy ook getuig, wanneer mense daarna vra.

Persoonlike geloof is ’n volstrek wettige saak.

Diegene wat te min daarvan ervaar, moenie probeer om op te klim na die hemel, in die hoop om Jesus te ontmoet nie.  Jesus is nie ver nie. Hy is in ons mond, in ons hart: die Jesus wat aan ons verkondig word deur God se Woord.  Wanneer Hy ‘jou vlees en bloed’ word, dan het jy ook geen probleem daarmee om te vertel wat Hy in jou lewe tot stand gebring het nie.