Bron: Kompas, 2008. 4 bladsye.

'n Rein Gewete ʼn Skrifstudie uit Lukas 22:47-62

brein

ʼn Rein gewete voor God is baie belangrik. Paulus, wat voorheen die Christene vervolg het, roem daarop dat hy God met ʼn rein gewete dien.

Ek dank God, wat ek van my voorouers af met ʼn rein gewete dien, wanneer ek onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink. 2 Timótheüs 1:3

Sou jy dit nie ook graag met groot vrymoedigheid van jouself wou sê nie?

“Ek dien God met ʼn rein gewete”

In Lukas 22:54-62 sien ons die geweldige rol van die menslike gewete. Ons dink hier aan daardie stem in jou hart wat jou vertel wat goed of sleg is. Die rooi lig wat aangaan as jy sonde doen. Die vrede wat jy ervaar as jy goed doen.

Om met ʼn skuldige gewete rond te loop, is immers uiters gevaarlik. Dit word mettertyd swaar bagasie, ʼn lomp vrag wat jou vreugde wegneem. En dan nog gevaarliker omdat die duiwel, wat ons nou nie meer by God kan aankla nie, ons wel deur ons eie gewete so kan aankla dat ons heeltemal hopeloos en verlore voel en selfs so kan twyfel dat ons ons geloofsekerheid begin verloor!

Lukas 22:61 bied ons duidelik die reaksie van Petrus se gewete as Jesus na Hom kyk nadat hy die Messias verloën het. Dadelik daardie skuldgevoel, die skuldige gewete! ʼn Mens kan jou skaars die hartseer en pyn in Petrus voorstel. Dadelik onthou Petrus wat Jesus voorheen gesê het en hy het uitgegaan en bitterlik gehuil.

Daar is egter ʼn groot verskil tussen die hantering van die gewete as ons ʼn vergelyking tref tussen die Priesters, Judas en Petrus.

Die Priesterhoofde – Versmoorde Gewete🔗

In die drie jaar van sy bediening het die priesterhoofde ʼn vyand in Jesus gevind. Hy maak nie net méér volgelinge as hulle nie (jaloesie), maar Hy het die priesters en Jode telkemale direk aangespreek en vermaan oor hulle skynheiligheid. Hulle kan nie vergeet dat Jesus hulle as “wit gepleisterde grafte” getipeer het nie. So geweldig word die haat teenoor Jesus dat hulle enigiets sou doen om Hom uit die weg te ruim. Hul gewetens het hulle sekerlik goed laat verstaan dat hulle nie moord mag pleeg nie, maar hul woede en emosies neem die oorhand.

Die emosie versmoor die gewete. Hulle vra nie meer na reg en verkeerd nie. Hulle doen net. Hulle reageer net. Hulle tree gewetenloos op! Die drifte en drange oorspoel die gewete tot dit heeltemal versmoor is.

So lewer hulle selfs ʼn eie volksgenoot oor aan die Romeine – iets absoluut ongehoords. Dit is volksverraad. En boonop is Jesus onskuldig, maar daaroor dink hulle nie eers meer nie. Hulle kyk toe hoe Hy ter dood veroordeel word en vind selfs bevrediging daarin.

Die versmoorde gewete is ʼn onaktiewe gewete.

Dit kan jou dinge laat doen wat totaal teen jou beginsels is! Die enigste maatstaf is: of my drif en emosies en gevoelens bevredig word. En so hoop die mens sonde op sonde.

Judas – Gewete wat Pla🔗

Daarteenoor kry ons by Judas weer ʼn baie aktiewe gewete. Sy daad van verraad begin hom vreeslik pla. In Matteus 27:3 staan daar dat hy “spyt” gekry het. Hy was werklik jammer oor dit wat hy gedoen het. En dan ry sy skuldige gewete hom. Waarskynlik het hy nie gedink wat gaan gebeur nie. Hy het dit net ter wille van die geld – dertig silwer munte – gedoen.

geld in sakkie

En noudat hy die resultaat van sy dade sien, kry hy spyt. Jesus word ter dood veroordeel. Sy gewete pla hom. En dan brand die geld in sy hand. Sy gewete knaag in selfverwyt. Sy gewete word ʼn doring wat hy self in sy vlees gesteek het!

En dan gaan hy terug! Hy draai om! Maar dan kies hy die Joodse raad as sy biegvaders. Hy kies mense en nie die Here nie! Hy kry spyt, maar nie ware berou nie. Hy sê dit self: …ek het onskuldige bloed verraai (Matteus 27:4). En so smyt hy die geld daar in die tempelhof neer.

Sy afgestompte gewete laat hom alles te menslik beoordeel. Hy sien nie vir God raak nie. Sy diepste sonde is nie die verraad nie, maar sy ongeloof. Hy sien alles net materieel, die geld wat sy hande brand… Maar die rykdom van God se genade sien hy in sy ongeloof nie raak nie.

Dit word ʼn saak van sonde op sonde. Sy ongeloof ly tot wanhoop en bring hom tot selfmoord!

Die uiteinde van so ʼn plaende, selftergende gewete is totale wanhoop en chaos en selfvernietiging.

Petrus – Gelowige Gewete🔗

En dan is daar Petrus. Ook hy het ʼn skuldige en baie aktiewe gewete. Maar die verskil is die geloof. Sy gewete stel hom voor God. Jesus het hom aangekyk. Hy voel daardie oë wat dwarsdeur hom kyk. Hy weet Jesus weet alles. Aan die een kant moes dit soos ʼn verterende vuur gevoel het. En tog kon hy seker ook iets sien van Jesus se liefde en begrip.

En dan lei sy gewete hom na buite waar hy bitterlik aan die huil gaan. Sy gewete was nie net ʼn verwyt nie, maar ook ʼn goddelike vermaning in liefde. Uit die konteks van die hele verhaal kan ons aflei dat, in teenstelling met Judas, ons by Petrus diepe berou en sondebelydenis kry.

Sy liefde vir Jesus het gebly.

Daardie liefde wat hom sy swaard laat trek het in die tuin van Getsémané. Daardie liefde wat hom Jesus laat volg het tot in die hofsaal. Sy liefde wat gegrond is in die geloof in Christus.

En met daardie kyk het Jesus vir Petrus nie net veroordeel nie, maar ook vasgehou.

Daarom lees ons dat Petrus dadelik die woorde van Jesus onthou het! Dit is sy gewete wat hom laat dink aan die Woord van die Here.

Die gewete is dus gegee as jou hulp, sodat jy die Here bly onthou. Daarom is dit nodig dat jy jou gewete vol maak met die Woorde van God! Die lees van en luister na die Bybel en prediking maak jou gewete soos ʼn skerp potlood. En deur die werking van die Heilige Gees word dit jou onderskeidingsvermoë.

Dan word jou gewete nie net ʼn vuur wat in jou brand nie, maar wel ʼn vuurtoring in die donker van jou sondelewe. Dan word jou gewete hierdie ligstraal wat jou help dat jou lewensbootjie nie op die rotse loop nie.

Jou gewete herinner jou daaraan dat jy deur die geloof aan Christus behoort. Jy onthou dat jy sy gedoopte eiendom is. Dit wys jou sonde uit en herinner jou daaraan dat daar by Christus verlossing is. (1 Petrus 3:20 – doop is ʼn bede tot God om ʼn skoon gewete)

Hier praat ons van ʼn aktiewe gelowige gewete!

Dan bly daar nie net selfverwyt oor nie, maar dit lei jou weer na Christus toe! Dit roep om vergewing. Dit vra om sondebelydenis en berou. Maar dan moet jy nie jou gewete versmoor nie, maar jou sonde erken en daaroor huil voor God.

Hy is groter as jou gewete. Hy vergewe sondes en reinig jou van alle onreinheid.

Petrus

Kyk wat doen Jesus met Petrus!

Later, na die kruis en opstanding, maak Jesus die afspraak met sy dissipels:

Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galilea. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het. Markus 16:7

Die term gewete kom nie in die Ou Testament voor nie

Nogtans kom die idee van gewete definitief in die Ou Testament voor:

Volgens:🔗

  • Génesis 3:7, 10; 39:9

  • 1 Samuel 24:17; 26:21

  • 2 Samuel 24:10

  • Job 42:5, 6

  • Jesaja 6:5

  • Daniël 9:19

Die Term Gewete kom in die Nuwe Testament dikwels voor,🔗

  • Twee maal in Handelinge, naamlik 23:1; 24:16 Vyf maal in Hebreërs, naamlik 9:9; 9:14; 10:2; 10:22; 13:18

  • Drie maal in 1 Petrus 2:19; 3:16; 3:21 Twintig maal in Paulus se geskrifte.

  • Ses maal in die Pastorale briewe: 1Timótheüs 1:5, 19; 3:9; 4:2; 2 Timótheüs 1:3; Titus 1:15

  • Vier maal in die briewe van Johannes: 1 Johannes 3:19-21

En by daardie afspraak herstel Jesus vir Petrus, bevry Hy hom van sy skuldgevoel. Hy bring Petrus by ʼn ontlading van sy gewete. Drie maal vra Jesus: Het jy my lief? En drie maal kry hy die opdrag voor sy mededissipels. Ook hulle moet weet dat Petrus vergewe is. Hulle moet sy gewete nie verder belas of belaai nie.

Sien, erkenning van sonde ontlaai die siel. Jy gooi jou bagasie af. Gaan na Christus toe en weet dat sy Woord wat jou aankla, ook die Woord is van genade en vrede.

Glo in Christus en weet dat Hy jou ken. Hy is groter as jou gewete. Hy weet alles.1 Johannes 3:20

Hy weet ook dat jy opregte berou het en tog so sukkel met die sonde. Hy is ons Hoëpriester wat nie net betaal het nie, maar wat ook medelye met ons swakhede het.

Hy gee genade op genade! Hy is ons hoop!

Hy is ons enigste troos in lewe en sterwe.

As jou gewete jou aankla en jy voel om te vlug, vlug dan nie weg nie, maar vlug na Christus jou Verlosser toe. Dit is Hy wat reeds 2000 jaar gelede ten volle betaal het vir al ons sonde! (Nagmaalsformulier)

Ja, vir dit wat ons gedoen het, wat ons nog sal doen en vir die sonde wat ons nie weet ons doen nie!

Sy genade is so groot dat God ons om Christus wil totaal verlos en ons sonde so ver verwyder as wat die ooste verwyder is van die weste! Hy reinig ons so van ʼn skuldige gewete dat ons dan, soos Paulus, met vrymoedigheid kan sê dat ek God met ʼn rein gewete dien.