Bron: De Wekker. 3 bladsye.

As 'n Voorbeeld

Van alle kante af word gehoor en gesê dat daar vandag ʼn dringende behoefte aan rolmodelle bestaan. Veral onder ons jongmense is daar ʼn groot behoefte aan mense wat aan hulle goeie voorbeelde stel, en na wie hulle kan opsien.

Hoe afkeurenswaardig sommige jongmense ook al mag voorkom en watter onverskilligheid hulle ook al mag uitstraal, as daar ʼn openhartige gesprek met hulle gevoer word, bring hulle na vore dat hulle weinig mense in die gemeenskap aantref wat goeie voorbeelde stel, en dat hulle ook nie veel mense in die kerk aantref wat hulle aantrek nie. Ook ten opsigte van mense buite die kerk, is daar ʼn dringende behoefte aan gemeentes waartoe hierdie buitestaanders aangetrokke kan voel.

As Ampsdraer🔗

In watter mate dien die voorgangers in die kerk as werklike voorbeelde vir die hele gemeente? By tye is die voorgangers by so veel negatiewe dinge betrokke, dat al jou respek dreig om te verdwyn, aangesien dít wat jy waarneem die waarheid is wat algaande ook negatief op jou inwerk.

Hoe moet jy agting teenoor jou dominee openbaar as hy nie ʼn goeie voorbeeld stel nie? Is hy werklik ʼn herder vir jou? Tree hy tydens katkisasie só teenoor jou op dat jy ʼn begeerte het om ʼn indringende gesprek, van hart tot hart, met hom te wil hê? Daar is soms heelwat op te merk oor sy insette en gedrag.

En, as ʼn ouderling op huisbesoek nie met aandag luister nie, en nie werklik op jou vrae ag gee nie, of ʼn lewe voer wat jy bepaald nie sien as diens aan die Here nie, hoe kan jy dan respek hê vir so ʼn ampsdraer? Daar kan natuurlik nog veel meer voorbeelde gegee word van ampsdraers wat nie ʼn voorbeeldige lewe voer nie. Sommige kom eerder oor as bestuurders in plaas van herders.

Tog word dit baie duidelik gestel in die klasieke formulier tydens die bevestiging in hulle amp: “Wees ʼn voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof en in reinheid.” Dít is nogal ʼn mondvol! Jy sou kon sê dat dit allesomvattend is. En hoe groot is die seën vir die hele gemeente, wanneer sulke mense deel uitmaak van die kerkraad!

Deur die jare heen blyk dit dat hulle hul amp getrou uitvoer en telkens weer die genade ontvang (want dit is wat dit is) om met vrymoedigheid met elkeen in die gemeente te kan omgaan en die vertroue van die hele gemeente daardeur geniet. As jy sulke mense moet mis, is dit baie erg. Hulle is werklik leidinggewend, sonder dat hulle hul daarvoor uitgee.

Paulus kom met die opdrag tot sy jong kollega Timoteus, om ʼn voorbeeld te wees in en vir die gemeente (1 Timoteus 4:12). So roep hy ook in ʼn ander pastorale brief vir Titus daartoe op om ook hierdie plek in die gemeente in te neem (Titus 2:7).

Dit blyk dat Petrus presies dieselfde aan sy medebroeders skryf. In die eerste plek blyk dit dat hy homself nie bó hulle stel nie, maar dat hy uitdruklik praat van “medebroeders” (1 Petrus 5:3). En hulle moet weer op hulle beurt ʼn voorbeeld word vir nog so baie ander mense wat jonk in die geloof is of die evangelie nog nie gehoor het nie.

Verder is dit opvallend dat Paulus nie daarvoor terugdeins om homself as ʼn voorbeeld te stel nie. Dit doen hy nie maar net enkele kere nie, maar selfs keer op keer. Daarmee gee hy die belang van sy voorbeeldige gedrag deur. Gaan dit maar gerus na in 2 Tessalonisense. 3:7 en 9, Filippense 3:17 en 2 Timoteus 1:13. Met ander woorde: Om watter gemeente dit ook al gaan en in watter omstandighede die kerk ook al verkeer, moet hulle as ampsdraers vir Paulus kan nasê: “Volg my voorbeeld na”.

Ons is nie gewoond om só te praat nie. Of durf ons dit juis nie sê nie omdat ons nie oor ʼn voorbeeldige lewenswandel beskik waarop ons mense se aandag kan vestig nie? Dit is van belang dat dié wat in ʼn amp staan hulleself ook ondersoek en hulleself ook afvra: “Is ek ʼn voorbeeld vir die gemeente wat aan my sorg toevertrou is?”

En dit wat geld ten opsigte van diegene wat in die amp staan, is byvoorbeeld nie van minder belang vir dié wat leiding gee aan die jeug van die kerk nie.

As Ouers🔗

Met die doop van ons kinders het ons aan die Here en aan sy gemeente beloof dat ons ons kinders sal opvoed in die vrees van die Here, en om hulle daarin ook as voorbeelde voor te gaan. Ons het hierdie voorneme te midde van die gemeente uitgespreek. Dít is óns voorneme. Nou is daar wel mense wat die standpunt huldig dat jy as ouer wel goeie voornemens mag hê, maar nie in staat is om dit te kan uitvoer nie. Dit is inderdaad nie so eenvoudig om in die opvoeding voortdurend ʼn voorbeeld vir ons gesin te wees nie. Jou kinders sien hoe jy leef en sien dwarsdeur jou, meer as wat jy mag dink. Hulle sien baie duidelik wat in ons leef, al sê hulle nie altyd baie hieroor nie.

Laat ons altyd onthou: ons het ons voorneme bekend gemaak voor die aangesig van God. Vroeër was die betekenis van “voorneme”, om dit “vir jou te neem”, of “op jou te neem”. Daarby hóú God jou, en daaraan mag jou kinders jou ook hou.

Wanneer jongmense dit ervaar dat hul ouers, of selfs net een van hulle, nie ʼn goeie voorbeeld stel nie, wat dan? Waar moet hulle dit as kinders dan vind? ʼn Mens leer tog alles van huis uit, nie waar nie?

Selfs as jy as ouer faal, is dit steeds ʼn goeie voorbeeld om dit openhartig aan jou kind(ers) te bely en om hulle vergifnis te vra. So leer hulle om dít ook te doen.

Jongmense kla, meer as wat ons graag wil weet, daaroor dat hulle ouers nie vir hulle ʼn voorbeeld is nie, al sorg hulle op baie terreine goed vir hulle. Is dit ten onregte wanneer jongmense sê dat hulle niks van die vrees van die HERE by hulle ouers merk nie?

Dit is juis hierdie innige omgang met die HERE wat só aansteeklik is dat jy van jongs af sterk daarna verlang om ook so gelukkig soos jou ouers te lewe, al sou jy dit nie altyd uitspreek nie. ʼn Goeie voorbeeld bring goeie gevolge! Dat die HERE ʼn godvresende opvoeding seën, ontdek ons dikwels in die geskiedenis van die kerk en, nie minder nie, ook vandag.

Hoe groot, en selfs lewenslank, is die invloed van diegene wat op voorbeeldige wyse voor ʼn klas gestaan het én staan. Daar gaan baie uit van Godvresende onderwysers!

As Gemeente🔗

Paulus spreek ook die gemeentes oor hulle roeping, na binne én na buite, aan. Hy vermaan die gemeentes om ʼn voorbeeld in hulle eie omgewing te wees. Die onderlinge liefde trek mekaar aan, maar, nie minder nie, ook die goeie voorbeeld waartoe hy hulle oproep (1 Korintiërs 4:16; 11:1). Dit geld nie net van die gemeente in Korinte nie, maar ook die gemeentes elders in Europa, soos ons lees in Filippense 3:17; 1 Tessalonisense 1:16; 2:14; 2 Tessalonisense 3:7.

Hoe mooi sal dit wees as dit geld van die kerke waaraan ons behoort. Net soos by die Tessalonisense kan miskien nog iets by die gemeente tekort skiet, maar tog sou dit ʼn voorbeeldige gemeente kan wees. Is dit nie juis in hierdie tyd van die grootste belang dat ons só in ons samelewing moet lewe nie? Wat mens dan ook van die kerk kan sê (en daar sal altyd iets gekry word), sal daar ʼn voorbeeld van sulke gemeentes uitgaan. Jesus sê immers vir sy dissipels dat hulle ligtende lig en soutende sout moet wees (Matteus 5:13, 14, 16).

Paulus skryf aan die hele gemeente van Tessalonika. Dit beteken dat hierdie voorbeeld-funksie waar was van die ouer gelowiges én die jeug. Ons moet die voorbeeld-funksie nie tot ʼn deel van die gemeente beperk nie. Die hele gemeente in dié stad was as voorbeeld bekend (1 Tessalonisense 1:7).

Die roeping van die gemeente is vandag nie anders nie. Laat u lig skyn, sê die Here.

Paulus skryf aan die hele gemeente dat mense navolgers van God moet wees (Efesiërs 5:1). Dit hou baie in. Die vraag is of ons, in ons tyd en in ons samelewing waarin so oor waardes en norme gepraat word, só in die wêreld staan en of God daarmee geëer word.

Christus Self🔗

Paulus maak dit baie duidelik dat hy self vir Christus navolg (1 Korintiërs 11:1). Let op die voorbeeld van Christus!

Die Here het self ook sy dissipels op ʼn baie sprekende manier hierop gewys: Ek laat julle ʼn voorbeeld na. Dissipels wat onder mekaar praat oor wie van hulle die belangrikste is, sien hoe die Meester vóór hulle húlle voete was. Petrus wil eers niks hiervan weet nie, maar Jesus was sy voete en sê dan vir hulle:

As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.Johannes 13:14

Só het Hy hulle vóórgeleef. As hulle werklik volgelinge van Hom wil wees, moet hulle op dáárdie spoor gaan.

Petrus het hierdie les verstaan. Wanneer hy later aan Christene wat dit moeilik het, skryf, druk hy hulle op die hart om in die voetspore van hulle Here te gaan. Toe Hy geslaan is, het Hy nie teruggeslaan nie; nie met sy hande of sy mond nie. Hy het nie gedreig nie, maar alles aan God, wat regverdig oordeel, oorgegee.

Wanneer ons sing ‘o Seun, maak ons u beeld gelyk’ bedoel ons dat ons ons Heiland volg. Ek loop my skrede in Sy spoor!             

Ons wil U needrig wy ons lewe,
U volg waar U ons ook mag lei –
Aan U, o Here, hoog verhewe,
En aan U diens steeds toegewy.
Spreek deur ons woorde, rig ons dade;
Voleinder, gee dat deur U krag
‘die heerlik’ werk van Gods genade
In ons volbring word dag na dag.

Dit gaan daarom dat Christus in ons doen en late sigbaar word, dat ons leesbare briewe van Hom sal wees.

As dít uit hierdie wêreld verdwyn, hoe sal die wêreld dan nog weet hoe om te leef?