Bron: Kompas, 2003. 4 bladsye.

Navolgers van God soos Geliefde Kinders

God as voorbeeld (Efesiërs 5:1). Dit is aan die orde wanneer gepraat word van die navolging waartoe ons as Christene geroep word. Die konkrete uitwerking van die opdrag om die Here ons God lief te hê met ons hele hart, siel, verstand en krag en ons naaste soos onsself. Ons bewys van liefde het ʼn duidelike voorbeeld in God en Christus. Navolging maak ons bewys van liefde konkreet. Dit voorkom dat liefde ʼn abstrakte filosofie word. Navolging van Christus laat sien hoe radikaal ons liefde en gehoorsaamheid moet wees.

God en Christus as Voorbeeld🔗

Veral in die vroeë kerk, het navolging van Christus gestalte gekry in martelaarskap. Navolgers van Christus moes Hom in sy dood volg. Op hierdie manier was daar ʼn duidelike band tussen die Verlosser aan die kruis en die gelowiges. Tog bly die navolging dan nie vir almal in die gemeente ʼn werklikheid nie. Toe die Christendom in ʼn bevoorregte posisie as staatsgodsdiens kom, het die martelaarskap in ʼn groot mate tot ʼn einde gekom. Die navolging word dan steeds net vir enkeles gereserveer. In die plek van die martelare het die kluisenaars gekom. Die monnik en die non vervang die martelaars as navolgers. In hulle afgesonderde lewe van die wêreld, in armoede en ongetroud, wou hulle navolgers van Christus wees. Deur meditasie oor die wonde van Christus, kom talle so ver as om hierdie wonde in hulle eie liggame sigbaar te laat word. Ons ken dit as die sg. stigmata. Navolging van Christus laat littekens. Dit laat littekens vanweë die weerstand teen Christus. Maar die “littekens van die Here” wat Paulus gedra het, het hy nie gekry deur hom af te sonder van die wêreld nie, maar juis in die volle werklikheid daarvan te staan en te leef uit die evangelie van Christus.

Hoe moet ons dan die oproep om Christus na te volg, verstaan? Ons moet nie dink dat ons die spesifieke woorde gereeld in die Skrif vind nie. Laat ons nie op die klank van woorde afgaan nie. In die Skrif is daar ʼn besondere oproep van Christus tot sy dissipels om Hom te volg. Hulle moes hul beroep as vissers laat en heel letterlik agter Hom aangaan (o.a. Matteus 8:22; 9:9). Die navolging waaroor ons dit egter het, gaan oor ʼn veel meer omvattende saak. Dit gaan oor die hele voorbeeld wat Christus vir ons nagelaat het.

In sy lewe op aarde het Hy vir ons ʼn sekere lewensstyl en gesindheid gewys. Hy gaan ons voor. Ons sien dit veral in sy gesindheid as dienskneg (Filippense 2:5-7). As Hy wat ons Heer en Meester is, die voete van sy dissipels gewas het, behoort ons ook mekaar se voete te was (Johannes 13:14 en 15). Hy het ons ʼn voorbeeld gelaat om te doen net soos Hy gedoen het. Hy is natuurlik veel meer as net ʼn voorbeeld. As ons Christus wil navolg, sal ons ewe veel aan Hom “deel moet hê” (Johannes 13:8). En om deel aan Hom te hê, moet Hy ons was; deur geloof moet ons aan Hom verbind wees. Dit wat Christus juis as dienskneg vir ons deur sy lyding verwerf het, moet die krag wees waaruit ons Hom navolg. Ons navolging is tegelyk deel van die verlossing wat Christus vir ons uitdeel.

Navolging van Christus is daarom geen nabootsing van wat Hy vir ons gedoen het nie. Die lyding en sterwe van Christus is uniek. Onherhaalbaar. Ons kan nie “nadoen” wat Jesus gedoen het nie. Ons mag ook nie. Ons lewens moet nie ʼn kopie wees van wat Hy gedoen het nie. Dit is nie die manier waarop Christus se lewe verloop het, wat ons moet probeer herhaal nie. Nie sy lewensverloop nie, maar wel sy lewensstyl. Elkeen wat sê dat hy in Christus en sy liefde bly, moet self ook só lewe soos Christus geleef het (1 Johannes 2:6). Jesus se offer hoef nie oor gedoen te word nie. In die manier waarop Hy sy unieke offer gebring het, is Hy wel vir ons ʼn voorbeeld.

Die liefde is die vervulling van die wet. As ons nou die wet volbring deur in liefde te leef, sal ons liefde wel die “styl” moet aanneem van die voorbeeld wat Jesus vir ons nagelaat het. Dit gaan veral oor die gesindheid van sy liefde – ʼn gesindheid wat ons kan sien in sy selfverloëning, nederigheid en ootmoed. Die gesindheid wat in Jesus was, moet ook in ons wees (Filippense 2:5). Hy wat in die gestalte van God was, het Homself leeg gemaak deur die gestalte van ʼn dienskneg aan te neem. Hy was gehoorsaam tot die dood aan die kruis (Filippense 2:7-8). Ons word nie in hierdie gedeelte opgeroep om Christus se menswording en lyding “oor te doen” nie. Elkeen van ons moet sy eie taak en roeping doen met dieselfde gesindheid waarmee Christus sy unieke taak gedoen het.

Navolging en Armoede🔗

Wat hou hierdie navolging van Christus konkreet vir ons vandag in Suid-Afrika in? Ons konteks is die van grootskaalse armoede. Hoe sal ons as navolgers van Christus moet optree? Oor ʼn bekende “navolger”, Franciscus van Assisi, skryf prof. K Schilder ʼn opmerklike artikel. In Franciscus se navolging word daar ʼn belangrike plek ingeruim vir die ideaal van armoede. Schilder het ʼn fyngevoelige oog gehad vir die verering van Franciscus deur protestante tydens die Franciscus-herdenking van 1926. In sy reaksie wil Schilder hom nie keer teen Franciscus self nie, maar wel teen die verering van die man. Vir Franciscus self het Schilder veel waardering. Die verering van Franciscus is egter totaal onvanpas. Veral omdat talle van sy vereerders nie doen wat Franciscus gedoen het nie. Schilder vind onder die “lofredenaars” nie ʼn enkele “broederbedelaar” nie. Die vereerders kan die mooiste dinge skryf oor die navolging van Franciscus, maar sal self “’n paar uur later in ʼn mooi bed lê, gestileer volgens Louis XIV”. Schilder vind dit goedkoop lof wanneer die vereerders nie self die weg van armoede volg nie.

Tog bly Franciscus vir Schilder ʼn dwaalleraar. Nie omdat hy met hierdie uitspraak die hemel vir Franciscus wou toesluit nie. Die dwaling van die armoede-ideaal is volgens Schilder in die eerste plek ʼn belemmering om die wêreld in te gaan! Dit verhoed ons om deur die lewe te gaan soos God dit wil. Franciscus het deur sy armoede-ideaal homself verhoed om navolger van God en Christus in hierdie wêreld te wees. Franciscus het die armoede liefgehad en die legende gevestig dat Christus selfs die Bruidegom is van armoede. Dit is gewoon nie waar nie. Christus het wel die armes lief, maar nie die armoede nie! God haat armoede. Dit is God se werk om juis ryk te maak!

As Franciscus sy besittings weggee vir die armes, doen hy goed. Wanneer hy dan daarna op die armoede self verlief word, gaan hy reguit in teen God en sy genade. Armoede is juis bedoel om uitgeroei te word soos dorings en dissels en die dood. Elkeen wat die getal van die armes met een vermeerder, bedek die evangelie van dié God wat die armes ryk wil maak. Rykes moet hul besitting met die armes deel. Geseënd is elkeen wat sy roeping raaksien om sy arm naaste te dien met sy geld en besittings. Dit is egter ʼn dwaling om armoede tot eis te maak in ons navolging van Christus. Wie siek is moet nie op die siekte verlief word nie en ewe min op die medisyne. Schilder sou wou dat Franciscus verlief word op die verering van Christus se wonde wat volmaak genees is toe Hy gaan sit het aan die regterhand van die Vader in die hoogste hemel. As verheerlikte Christus, kom Hy elkeen wat in Hom glo ten goede.

Navolging en Littekens🔗

Franciscus word veral ook bekend deur die littekens van Christus (stigmata) wat aan sy liggaam verskyn het. Deur sy mistieke meditasie oor Christus se lyding, “pryk” die wonde van die gekruisigde Christus aan sy hande. Schilder wil ook beklemtoon dat daar by elke gelowige veranderings moet plaasvind. Hy verwys na die “metamorfose” waarvan die apostel Paulus praat:

Terwyl ons met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.2 Korintiërs 3:18

Paulus weet van die Gees van God wat ons verander. Nie volgens die model van die gekruisigde en verwonde Christus nie, maar juis vanuit die beeld van die verheerlikte Christus. As verheerlikte Christus is Hy totaal genees in sy heerlikheid, om ons weer te bring tot die heerlikheid wat ons moet wees. Franciscus wil die trane, sweet en bloed van Christus in ʼn kruik bewaar, maar God wil ons trane in sý kruik bewaar (Psalm 56). Franciscus se “littekenwerwing” is nie evangelies nie, maar gaan teen die evangelie in.

Paulus het dit ook nog gehad oor ander littekens van ons Here Jesus wat hy letterlik in sy liggaam gedra het (Galasiërs 6:17). Dit is “stigmata” wat grootliks verskil met Franciscus se littekens! Paulus doen sy littekens op al werkende. Franciscus stop sy sendingwerk waarin die evangelie van Christus verkondig word, wanneer hy sy stigmata kry. Paulus se littekens kry hy van sy volksgenote, die Jode, wanneer hy die evangelie uitdra na die heidene. Franciscus se stigmata word iets “aanskoulik en aanneemlik”. Paulus se littekens getuig teen die Jode wat die evangelie nie na almal wil laat uitgaan nie.

Navolging van Christus, beteken volgens Schilder dat ons soos Paulus teen alle teenstand in, die wêreld moet ingaan met die evangelie van Christus:

Ons moet in die wêreld wees en op die breë straat stry vir God. Want Christus is gedood, nie op die smal weg nie, maar op die breë. In die midde van die wêreld. En wie in die wêreld is en tog nie ‘van’ die wêreld nie, hulle is die gestigmatiseerdes.

Navolging met ʼn prys – Nachfolge Elf jaar na Schilder se artikel, verskyn vir die eerste keer Dietrich Bonhoeffer se Nachfolge. Bonhoeffer het lesings aan studente van die “Belydende Kerk” by die seminarie in Finkenwalde (Duitsland) gegee. Dit gebeur te midde van politieke en kerklike ontwikkelinge onder die regering van Hitler. Sy boek “Navolging” is die vrug van hierdie lesings. In hierdie boek protesteer Bonhoeffer teen wat hy “goedkoop genade” noem. Goedkoop genade is die dodelikste vyand van die kerk. Goedkoop genade is genade sonder ʼn prys. Goedkoop genade kom neer op ʼn ontkenning van die lewende Jesus Christus wat mens geword het. Wanneer Christus ons roep om na te volg, dan roep Hy ons om te kom sterf. Daar is verskillende maniere om te sterf, maar die essensie van navolging word wel in die oproep om te sterf uitgedruk. Goedkoop genade is ʼn regverdiging van die sonde sonder die regverdiging van die sondaar.

In die plek van die navolging van die Lewende Christus, wil die Christen slegs die troos geniet van die regverdiging van sy sonde. Dit is goedkoop genade. Genade wat die sondaar nie laat skei van sy sondige weg nie.

Goedkoop genade is die prediking van die vergewing van sonde sonder berou, dit is doop sonder kerklike tug, dit is nagmaal sonder belydenis van ons sonde, dit is absolusie sonder persoonlike bieg.

Duur genade konfronteer ons met die genadige oproep om Christus te volg; om sý juk op ons te neem en sý las te dra. Die kloosterlewe van die Middeleeue was bedoel as protes teen die versekularisering in die kerk. Dit het egter grootliks bygedra tot die goedkoop maak van genade. Genade word deur die klooster-ideaal beperk tot die prestasie van ʼn uitgesoekte klein groepie met ʼn meriete van sy eie.

Die koms van die Reformasie van die 16de eeu bring hierin ʼn verandering. Bonhoeffer beklemtoon dat slegs die een wat Christus in gehoorsaamheid volg, ook glo. Navolging is ʼn opdrag wat tot elke Christen kom, sonder enige onderskeid. Die klooster-ideaal het die nederige roeping van navolging verander in ʼn verdienstelike werk van “heiliges”. Die selfverloëning van navolging moes plek maak vir die selfhandhawing van die “godsdienstiges”. Volgens Bonhoeffer kon Luther eers God se genade aanneem, toe die hele wêreld van die kloosterlewe in duie gestort het. Luther het besef dat hy wat gedink het hy volg Christus die klooster in, nou juis Christus moet navolg die wêreld in. Die self-verloëning van Luther toe hy die klooster ingegaan het, was maar kinderspeletjies in vergelyking met wat hy moes doen toe hy Christus uit die klooster gevolg het.

Eers wanneer ons ons plek vierkantig in die wêreld agter Christus aan gaan inneem, volg die volle prys van die navolging. Die enigste manier om Christus na te volg, is om in die wêreld te leef. Navolging word nie gereserveer vir ʼn klein groepie heiliges nie, maar word deur Bonhoeffer gesien as die roeping van elke gelowige. Navolging van Christus het te doen met gehoorsaamheid in ons daaglikse roeping. Dáár kom die duidelike konflik tussen ʼn wêreldse lewe en ʼn lewe in geloof die skerpste na vore. In ons daaglikse roeping kom die gelowige van aangesig tot aangesig in stryd met die wêreld. Nie die regverdiging van sonde nie, maar die regverdiging van die sondaar, het Luther uit die klooster gedryf. Genade met ʼn prys. Hierdie genade het van Luther die prys van sy lewe gevra. Elke dag weer.

Navolging beteken vir Bonhoeffer dat my hele lewe te staan kom in die lig van Christus se menswording. Die lewende Jesus Christus moet nagevolg word, juis omdat Hy mens vir ons geword het. As Middelaar kom staan Christus nou nie net alleen tussen my en God nie. Hy kom neem ook sy plek in tussen my en die wêreld. Tussen my en my volk. Christus tussen my en my roeping van elke dag. Ek kan en mag met niks meer besig wees sonder om Christus radikaal na te volg nie. Hierdie navolging laat my my plek inneem teenoor die wêreld in die gemeenskap van die heiliges. Christus eis van ons ons sigbare plek in die gemeente van die gehoorsames. Tussen hierdie gemeenskap van die heiliges en die wêreld, loop daar ʼn heel skerp skeidslyn.

Tussen Schilder en Bonhoeffer, is daar groot ooreenkomste in hul sig op die navolging van Christus. Albei beklemtoon tereg dat ons ons plek moet inneem agter Jesus aan wat die lig is vir die wêreld. Tussen Schilder en Bonhoeffer lê daar egter ook die kloof van die gehoorsaamheid aan die Skrif as Woord van God. Schilder wil die navolging konkreet maak deur te luister na wat Christus in sy Woord sê. Dít is werklik duur genade! Christus wat reg het op sy gemeente wat na Hom alleen wil luister. In ons dag het ons hierdie navolging so dringend nodig. Navolging van alles wat Christus ons geleer het in sy Woord. Een met die apostel Paulus wat die littekens gedra het toe hy die Woord van Christus gehandhaaf het teen die ongeloof van Jood en Griek.