Bron: Waarheid en Dwaling. 6 bladsye.

Neergedaal het na die Hel

Hierdie artikel van die Apostoliese geloofsbelydenis bring ons by die allerdiepste belydenissaak aangaande die Here Jesus. Hy het in ons plek gely sodat ons dit nie hoef te smaak nie.

Aktualiteit🔗

Volgens ’n beskrywingspunt aan ’n Nasionale Sinode is daar ’n meningsopname oor hierdie belydenisartikel gemaak. Baie lidmate is gevra hoe hulle dit verstaan. Die oorgrote meerderheid verstaan dit so: Jesus het nadat Hy gesterf het en begrawe is, neergedaal na ’n plek met die naam ‘die hel’. Hierdie resultaat is tereg skokkend. Dit is nie in ooreenstemming met die verduideliking van die Heidelbergse Kategismus oor hierdie artikel en ook nie met die Skrifopenbaring aangaande die saak nie. Daarom word daarop aangedring dat hierdie artikel geskrap, anders geformuleer of op ’n ander plek of posisie in die 12 artikels geplaas word.

Die probleem loop egter al oor baie eeue. Hierdie artikel is naamlik deel van ’n ekumeniese belydenisskrif wat deur die oorgrote meerderheid Christelike kerke wêreldwyd erken word. Tog word dit verskillend verstaan. Op grond van ’n misverstand kan die artikel nie sommer verander word nie. Dieselfde opname met die Bybel in die hand, sou waarskynlik tot nog groter skokkende ontdekkings lei oor hoe mense die Bybel verstaan. Dit is egter nie ’n rede waarom ons die Bybel moet verander nie. Ons het hier met ’n ekumeniese belydenisskrif te doen wat die wêreldwye kerk nie net oor tale, kulture, nasionaliteite en kontinente en selfs die grootste aantal Christelike kerke heen verbind nie, maar ook oor ’n tydperk van bykans 2000 jaar. Dit sal ’n baie gewigtige saak wees om nou, op hierdie stadium van die wêreldgeskiedenis, te moet besluit om aan die Apostolicum te verander. Dit sal ons posisie in die ekumene, asook ons band met die kerk van alle eeue, regstreeks raak.

Beredenering🔗

Die argument word aangevoer dat die belydenisskrif nie dit wat ons eintlik glo heeltemal volkome formuleer nie. Dit is natuurlik waar, want dit is ’n menslike geskrif (beperk deur die mens se taalkundige onvermoëns) wat poog om die openbaring van die Goddelike Woord in enkele kort sinne weer te gee om daarmee die kern van ons ongetwyfelde geloof uit te druk. Dit is nie ‘bedoel’ om omvattend te wees nie. Selfs die Bybel is nie in alle opsigte omvattend nie (Johannes 21: 25), dog genoegsaam (2 Timoteus 3: 17; NGB artikel 7).

Verder sal ons met die verandering van die één artikel gedwing wees om ook na elke ander artikel te kyk met die oog daarop om dit te verander om meer korrek te wees. ’n Voorbeeld is die eerste artikel: ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Die eerste Persoon van die Goddelike Drie-eenheid is nie outomaties ons Vader en, vir praktiese doeleindes, almal se Vader nie, maar alleen in en deur Jesus Christus. Verder is nie die Vader alleen almagtig nie. Hy het nie alleen in die skeppingswerk gehandel nie, maar al drie die Persone van die Goddelike Drie-eenheid. Hy het ook nie slegs die hemel en die aarde geskep nie.1 Wat van die engele? (NGB artikel 12). So ook die artikel dat Hy onder Pontius Pilatus gely het. Dit sou moontlik meer korrek wees om te bely dat Hy onder Herodus of onder die Jode gely het of dat Hy onder Pontius Pilatus gevonnis is. As ons begin om één artikel te verander, sal ons aan letterlik élke artikel moet verander. Dan praat ons nog nie eers van die groot tekortkominge in die Apostolicum as geheel nie. Ons lees daarin niks van die uitverkiesing, die bekering en die heiligmaking nie. Ons lees byna net van die bestaan van die Heilige Gees en bely niks van Wie Hy is en wat Hy doen nie. Die feit dat Jesus gely en gesterf het sê nog niks dat Hy dit eintlik vir ons gedoen het nie. Tereg is daar mense wat vanuit hierdie kritiese benadering opmerk dat die Apostolicum glad nie kan voldoen aan ’n egte belydenis (credo) wat die dinge wat die Christene glo, akkuraat en voldoende formuleer nie. Om hierdie rede rig Clifton R Loucks 2’n kragtige pleidooi en uitdaging:

 A new Christian creed is necessary to replace the truncated, misnamed and misleading Apostles’ Creed.

Die Nasionale Sinodes van 2000 en 2003 van die Gereformeerde kerke het besluit om die formule aangaande Christus se neerdaling na die hel te herformuleer, sodat dit in ooreenstemming kan wees met wat ons werklik daarby bedoel. Om dan steeds kort en bondig te bly sonder om in die herformulering in ander slaggate te val is egter bykans onmoontlik.

Aard en Bedoeling van die Apostolicum🔗

’n Belydenis moet dit wat Christene vanuit die Woord glo, helder en akkuraat definieer. Mense moet nie daarmee verwar word nie. Inteendeel, ’n belydenis wil juis verwarring en dwaling uit die weg ruim. ’n Belydenis is naamlik ’n slagspreuk of simbool wat bedoel om ’n wêreld van inligting daaragter aan te dui, soos byvoorbeeld ’n landsvlag of ’n verkeersteken. ’n Belydenis kan nie betekenis op sigself hê as die wêreld van inligting wat daaragter lê nie ook verduidelik en ontsluit word nie. ’n Belydenis pleit om nader verduidelik te word.3 Die Reformatore het daarom die wyse weg opgegaan om nie die simbool van die Christendom te verander nie, maar in hulle geskrifte die betekenis daarvan, soos die Skrif dit openbaar, uitgelê en nader verklaar.

Historiese Agtergrond🔗

’n Oorsig deur die geskrifte van die Kerkvaders in die eerste vier eeue na Christus lewer bewyse dat hierdie spesifieke artikel oor die neerdaling na die hel nie van die begin af deel was van die Apostoliese Geloofsbelydenis nie. Volgens Rufinus, ’n briljante taalkundige wat Griekse werke na Latyn vertaal en in die jaar 410 gesterf het, het hierdie woorde nie in die kerk van Rome of in die kerke van die Ooste voorgekom nie.4

Hierdie woorde het egter in dieselfde tyd wel reeds in die belydenis van die Sinode van Sirmium (359), Nicea (359) en Konstantinopel (360) voorgekom. Daarna het dit na al die lesings van die Apostoliese geloofsbelydenis oorgegaan.5In die verstaan en die uitleg daarvan het daar egter ’n groot verskil van gevoele bestaan.

Die verduideliking uit die Griekse kerk lui dat Christus met sy Goddelike natuur en met sy menslike siel na die onderwêreld gegaan het. Hy het daar die siele van die heilige voorvaders gaan bevry en die een moordenaar wat saam met Hom gekruisig is na die Paradys oorgebring.

In die Weste is die realiteit van die neerdaling na die hel gehandhaaf. Op die vierde Lateraanse konsilie van 1215 is vasgestel dat Christus na sy dood werklik in sy siel – maar nie na sy liggaam nie – na die hel neergedaal het.

In die Roomse kategismus word die sinsnede soos volg omskrywe: Christus het onmiddellik na sy sterwe in sy siel na die hel neergedaal en daar so lank gebly as wat sy liggaam in die graf gebly het. Hy het egter nie daarheen gegaan om te ly nie, maar om as ’n oorwinnaar die demone te verslaan en hulle hul buit te ontneem. In besonder het Hy die demone van die heilige voorvaders van die ou verbond ontneem. Alhoewel hulle nie gely het nie, het hulle die salige aanskouing van God gemis en was deur verlange na die heerlikheid gekwel. Deur Christus is hulle verlos en later by sy hemelvaart ook na die hemele oorgebring. Uit die tradisie van die Roomse kerk is verskeie tekste aangevoer om hierdie sienswyse te bevestig, byvoorbeeld Hosea 13: 14; Psalm 16: 10; Handelinge 2: 27, 31; Matteus 27: 52; Lukas 23: 43; Johannes 8: 56; Romeine 10: 7; Efesiërs 4: 9; 1 Petrus 3: 18 – 22; Hebreërs 11: 40; 12: 22. Daar is vasgestel dat al hierdie tekste met ’n verkeerde uitleg aangebied is.

Waar het Rufinus aan Hierdie Formule Gekom?🔗

Dit is die moeite werd om te probeer soek waar Rufinus hieraan gekom het. Waarskynlik het hy dit by die kerkvader Cyrillus van Jerusalem gevind. Cyrillus het in sy tyd in Jerusalem (± 348) 23 leerredes of onderwysings oor die Christelike geloof geskryf. In sy 14de leerrede het hy ’n uiteensetting van die opstanding gegee:6

And after this He says most plainly, For Thou wilt not leave My soul in hell; neither wilt Thou suffer Thine Holy One to see corruption. He said not, neither wilt Thou suffer Thine Holy One to see death, since then He would not have died; but corruption, saith He, I see not, and shall not abide in death. Thou hast made known to Me the ways of life. Behold here is plainly preached a life after death. Come also to the 29th Psalm, I will extol Thee, O Lord, for Thou hast lifted Me up, and hast not made My foes to rejoice over Me. What is it that took place? Wert thou rescued from enemies, or wert thou released when about to be smitten? He says himself most plainly, O Lord, Thou hast brought up My soul from hell. There he says, Thou wilt not leave, prophetically: and here he speaks of that which is to take place as having taken place, Thou hast brought up. Thou hast saved Me from them that go down into the pit. At what time shall the event occur? Weeping shall continue for the evening, and joy cometh in the morning: for in the evening was the sorrow of the disciplines, and in the morning the joy of the resurrection.

Now take also another testimony in the 88th Psalm, where Christ speaks in the Prophets, (for He who then spoke came afterwards among us): O Lord, God of My salvation, I have cried day and night before Thee, and a little farther on, I became as it were a man without help, free among the dead. He said not, I became a man without help; but, as it were a man without help. For indeed He was crucified not from weakness, but willingly and His Death was not from involuntary weakness. I was counted with them that go down into the pit. And what is the token? Thou hast put away Mine acquaintance far from Me (for the disciples have fled). Wilt Thou shew wonders to the dead? Then a little while afterwards: And unto Thee have I cried, O Lord; and in the morning shall my prayer come before Thee.

Wat hier sterk opval is die verklaringsbeginsel wat Rufinus by Cyrillus in verband met die Psalms oorgeneem het: ‘for He (Christus, HLJM) who then spoke came afterwards among us’.

Na bewering het Rufinus hieruit sy gedagtes gekry wat hy in sy verklaring van die Apostolicum oorgeneem het:7

That He descended into hell is also evidently foretold in the Psalms, where it is said, “Thou hast brought Me also into the dust of the death.” And again, “What profit is there in my blood, when I shall have descended into corruption?” And again, “I descended into the deep mire, where there is no bottom.” Moreover, John says, “Art Thou He that shall come (into hell, without doubt), or do we look for another?” Whence also Peter says that “Christ being put to death in the flesh, but quickened in the Spirit which dwells in Him, descended to the spirits who were shut up in prison, who in the days of Noah believed not, to preach unto them” where also what He did in hell is declared. Moreover, the Lord says by the Prophet, as though speaking of the future, “Thou wilt not leave my soul in hell, neither wilt Thou suffer Thy Holy One to see corruption.” Which again, in prophetic language he speaks of as actually fulfilled, “O Lord, Thou hast brought my soul out of hell: Thou hast saved me from them that go down into the pit”.

Dit is opvallend dat die leerstuk oor Christus se neerdaling na die hel sterk berus op ’n uitleg van die dele in die Psalms waarin Christus sy lyding en helse smarte vooruit verkondig het. Anders as die bykomende fraserings wat die Roomse kerk daaroor uitgedink het, was die vroeë kerk se oortuiging van Christus se neerdaling in die smarte van die hel hoofsaaklik gegrond op die betekenis van die Psalms (‘for He who then spoke came afterwards among us’)8.  Vandag sou baie kritiek oor die moontlike allegoriserende verklaarwyses wat die kerkvaders gebruik het, uitgebring kon word. Laat ons dan ten minste erken dat die Here hulle geseën het met die verligting van sy Gees en die deursigtigheid van die Skrifte om die waarheid van die omvang van die Skrif te herken. Die ononderhandelbare argumentpunt dat Christus die volle impak van die helse smarte gely het, het blykbaar by Calvyn die deurslag gegee.

Ten aansien van die Roomse ketterse versinsels van hierdie belydenis het die Reformatore duidelik na die eenvoudige Skrifopenbaring terugbeweeg. As daar ooit ’n tyd was dat hierdie frase met goeie rede gewysig of geskrap kon word, was dit juis tydens die Reformasie.

Op daardie stadium het die meeste mense juis uit die Roomse kerk gekom en was met die Roomse opvatting besmet.

Daarby kon die meeste mense nie lees om een of ander nader verklaring hiervan te bekom nie.

Dit sou in daardie tyd met goeie reg meer sinvol kon wees om hieraan te verander. Tog het die Reformatore dit nie gedoen nie. Nee, hulle het dit behou omdat dit deel is van ’n ekumeniese belydenisskrif. Hulle het egter moeite gedoen om ’n korrekte verklaring daarvan te gee wat inderdaad die Bybelse waarhede in verband met Christus se sielelyding naspreek.9

Sedert die Reformasie was dit ’n belangrike doel dat lidmate met kundigheid, met insig en met volwassenheid aan die korrekte betekenis van die geloofswaarhede blootgestel word, sodat hulle nie meer soos leke nie, maar soos mondige lidmate kerk kon wees. Hier word nie verder op die Lutherse of Zwingliaanse beskouinge ingegaan nie – wel die wyse waarop Calvyn dit verklaar en hoedat Ursinus hom hierin nagevolg het met die verklaring wat ons in die Heidelbergse Kategismus vind.

Die Ordelike Posisie wat die Neerdaling in die Apostolicum Inneem🔗

Ten eerste is dit belangrik dat hierdie artikel oor Christus se neerdaling na die hel op hierdie spesifieke plek ná die sterwe en begrafnis geplaas is en ook daar tuishoort; nie soos wat Rome dit verklaar het dat Christus in tydorde eers ná sy begrafnis in sy siel na ’n plek met die naam hel of gehenna of die inferna afgedaal het nie. Vir Gereformeerdes het hierdie formule nie te doen met gebeurtenisse wat mekaar in tydorde die een na die ander so opgevolg het dat Jesus eers na sy begrafnis ’n volgende gebeurtenis, naamlik die neerdaling beleef het nie. Ons kyk na hierdie belydenis van Jesus se neerdaling na die hel as ’n duidelike logiese, sowel as ’n dimensionele onderskeiding van die vorige artikels. Die vorige artikels konsentreer in hulle betekenis veral op die liggaamlike kant van Christus se lyding, terwyl hierdie laaste een veral op sy sielelyding konsentreer. Al die vorige artikels oor sy lyding beklemtoon veral die uitwendige kant daarvan met allerlei sake wat ewe maklik op enige ander mens toegepas kon word. Daar was immers baie mense wat onder Pontius Pilatus gely het, gekruisig is, gesterf het en begrawe is? Daarom is dit nodig dat hier ’n artikel bygevoeg moet word wat na al die liggaamlike lyding, veral ook die sielelyding van die Here Jesus en sy helse smarte in sy diepte-dimensie verwoord. Hierdie spesifieke geloofsartikel gee in ’n sekere sin die diepste hart van Jesus se lyding weer – wat Hy in ons plek gesmaak het. Ons moet stellig nog verder gaan. As dit nie vir hierdie presiese dimensie in Jesus se lyding was nie, het Hy inderdaad nog niks in terme van sy hele versoeningsdaad bewerk nie. Hy sou dan niks anders as ’n gewone held soos Wolraadt Woltemade of Rageltjie de Beer of een of ander ‘vryheidsvegter’ gewees het nie. Trouens, daar is reeds teoloë wat beweer dat Christus se lyding niks anders of meer as ons gewone menslike lyding was nie. Dit is alleen moontlik om tot so ’n dwase afleiding te kom as ’n mens hierdie artikel oor Christus se sielelyding en helse smarte nie meer ag nie.

Wat die besondere posisie van hierdie artikel binne die belydenis betref, is dit logies en ordelik om ná al die ander liggaamlike aspekte van Jesus se lyding ook sy sielelyding, wat terselfdertyd as sy liggaamlike lyding plaasgevind het, te bely. Hiermee kyk ons dus by nabaat terug na elke ander lydingsartikel, sodat ons in die lig hiervan die ware diepte en die eintlike karakter van Jesus se lyding kan begryp wanneer ons dit bely. Die artikel van Jesus se neerdaling in die hel, dui die diepte-dimensie van sy geboorte, sy lyding onder Herodes, Pilatus, Annas en sy ander tydgenote en sy kruisiging, sterwe en begrafnis aan. By al hierdie dinge moet ons lees dat Hy met alles óók in sy siel helse smarte en bange Godverlatenheid gely het.

Die Betekenis van die Formule dat Christus na die Hel Neergedaal het🔗

Wat is die betekenis van die formulering van hierdie artikel? Weereens is dit belangrik dat die gereformeerde vaders die Skrif op hierdie formuleringe nagespreek het. Die woord ‘neergedaal’ is om besondere redes belangrik. Dit kan nie net uitgeneem word nie. Nie omdat daarmee een of ander fisiese neerdaling of selfs ’n rigting van neerdaling van bo na benede na ’n plek, die hel, bedoel word nie, maar neergedaal in terme van sy heerlike en Goddelike gestalte wat Hy by sy hemelse Vader geniet het (Filippense 2: 6, 7; Efesiërs 4: 9, 10). Hy het Homself daarvan ontledig en is onder ons verneder (Jesaja 53). Hy bid sy Vader juis om Hom weer te verheerlik met die heerlikheid wat Hy gehad het voordat Hy na die aarde gekom het (Johannes 17: 5). Paulus getuig teenoor die Filippense dat Jesus dit nie as ’n berowing geag het om sy Goddelike gestalte te verlaat en die menslike gestalte aan te neem nie. Hy het mens geword en onder ons kom woon. Onder ons is Hy verder verneder tot die dood toe – ja, die dood van die kruis. Die aflegging van sy eer en sy voorregte word telkens as ’n neerdaling gesien. Hy het vandat Hy in die maagd Maria deur die Heilige Gees ontvang is en elke verdere belewenis daarna vir die res van sy aardse lewe, hoe langer hoe dieper en intenser in die smarte van die hel neergedaal, totdat Hy die heel diepste en ergste daarvan aan die kruis, tydens die drie ure duisternis, beleef het. Teen die einde daarvan het Hy uitgeroep waarom sy God Hom verlaat het. Die dieperwordende diepte merk ’n mens by die evangeliste op. Hoe nader aan die dood, hoe meer detail en gebeurtenisse word beskrywe. Jesus smaak in toenemende intensheid die volle felheid van die hel. As pasgebore babatjie is daar vir Hom geen plek nie. Sy bedjie is ’n voerkrip in ’n dierestal. Daarna word Hy deur Herodes in woede vervolg sodat hulle na Egipte moes vlug. Net na sy doop in die Jordaan, is Hy deur die Satan in die woestyn versoek. Sedertdien het die bombardement van die Satan nie opgehou nie. Jesus het die helse smarte beleef soos wat mense in die hel dit beleef. In die eerste plek het Hy die sataniese haat van die duiwel en sy magte gesmaak. Verder het Hy die haat en afguns van vyandige mense gesmaak soos wat sy eie volksgenote Hom verag, verwerp, vervolg en gespot het. Dan het Hy die ergste beleef – ook sy Vader het sy geseënde nabyheid omgedraai. Hiervoor was daar doodse stilte. Die son is vir daardie drie ure verduister. In daardie drie ure van stilte het Hy die toorn van sy God en hemelse Vader in die naakte werklikheid volkome gesmaak. Daarin het die betekenis van die kruisvloek tot sy volle reg gekom.

So het Hy in alle werklike terme in God se wraakstraf maar ook die angste en smarte van die hel al hoe dieper en al hoe intenser neergedaal. Nie na die plek van die hel nie, maar in die toestand van die hel. Alles wat my as Goddelike straf moes toekom, die volle belewenis van die poel van vuur en van die buitenste duisternis – dit alles het Jesus in my plek gesmaak. Daarin het die Vader sy eniggebore Seun al hoe dieper laat insak totdat dit hom heeltemal in duisternis en Godverlatenheid oordek het.

Die Nut van Jesus se Neerdaling vir Ons🔗

Die lyding van Jesus het vir my soveel meer betekenis as wanneer enige ander iemand sou gely het. Al my aanvegtinge en al my benoudhede wat ek van dag tot dag ervaar is nou nie meer ervarings van helse smarte en bange Godverlatenheid nie. Die vloek van God is daaruit. Wanneer ek nou in die dal van doodskaduwee ingaan hoef ek geen onheil te vrees nie. Geen doodsvrees of verskrikking nie, want U is met my, u stok en u staf is my troos, my tugtiging, my beskerming. Daarom ook my roeping: As dit die gesindheid van Jesus was om vir my in die hel neer te daal, wil Hy juis dat dieselfde gesindheid van selfverloëning in ons moet wees (Filippense 5: 5 e.v.). Dan sal ons ook ons krag van Hom ontvang om onsself te ontledig en te stroop van eiewaan en selfdunk. Dan is ons nie meer selfbevryders nie, maar soek ons die volle saligheid en geluk buite onsself in Hom wat ons so volkome liefgehad het.