Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Nicéa - Baken in die Geskiedenis van Christus se Kerk

’n Somersinode🔗

Dit was vroeg-somer. In die warm, soel, Mediterreense klimaat het hulle in Nicéa (vandag Isnik in Turkye) bymekaargekom. Daar was sowat 250 tot 300 van hulle, dalk ’n raps meer, oorwegend biskoppe, maar ook ander ampsdraers: priesters, ouderlinge, dekens Byna almal uit die Oosterse Kerk. Uit die Westerse Kerk was Rome wel deur twee priesters verteenwoordig, met verder nog vyf ander biskoppe, waaronder veral Ossius van Corduba wat as keiserlike raadgewer bekendheid verwerf het.

By ’n kruispad🔗

Dié byeenkoms in Nicéa sou later in die geskiedenis bekend staan as die eerste van die sogenoemde “Ekumeniese” Konsilies. In hierdie kerklike vergadering, bymekaargeroep deur die Romeinse Keiser Konstantyn die Grote in die jaar 325 nC, het die kerk by ’n kruispad gekom. Daar het die paaie uitmekaar gegaan, daar het die geeste geskei. In die brandpunt het die vraag na wie Christus werklik is, gestaan. Sommige was op grond van die Skrif daarvan oortuig dat Hy van ewigheid af God is. Ander het voorbehoude gehad.

Die hooffigure van die stryd oor die Christus-vraag - ’n intense worsteling wat die grootste gedeelte van die vierde eeu die kerk besig gehou het - sou uiteindelik Arius en Atanasius word. Teenoor Arius, afkomstig uit Libië (wat groot steun en populariteit onder die gewone bevolking geniet het) met sy standpunt dat die Seun van God nie van ewigheid af bestaan nie en ondergeskik is aan die Vader, het Atanasius te staan gekom.

Maar alhoewel die teenstanders van die geloof in Christus-as-God Atanasius as “verstoorder van vrede en vyand van God” afgemaak het, het die ander eretitel wat hy gekry het, sy tyd oorleef: “Atanasius vader van die regsinnigheid.” En nie ten onregte nie. By die Sinode in Nicéa, ’n stad tussen die Egeïese See en die Swart See waar ook die handelsroetes gekruis het, is gevolg gegee aan die kern van die Belydenis van Nicéa wat ons vandag nog ken en bely.

Die eeue-oue vraag: Wie is Christus?🔗

Wat was op die spel in daardie eeu van krisis, die vierde eeu, byna 1 700 jaar gelede? Atanasius sou sê, alles, alles was op die spel. Waaroor dit gegaan het, is die geloof in Christus, en spesifiek: die belydenis dat Christus as Seun van God self God is, van ewigheid af, één met die Vader. Dit was die vraag van alle tye, die vraag van Jesus Christus Self: “Wie sê julle is Ek?” (Matt 16:15). Die antwoord op hierdie vraag gee die Skrif in die volgende vers: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Die hoofvraag wat by Nicéa op die tafel was, was of Christus as Seun van ewigheid af bestaan, of Hy God, één in wese met God die Vader is. En die antwoord van Nicéa? Volgens die Skrif - ongetwyfeld en ondubbelsinnig: Ja! Nicéa was dus nie net ’n kulminasie van die vraag oor Christus nie, maar ook oor die erkenning van die gesag van die Skrif - Christus as God en sy Woord (die totstandkoming van die Skrif onder leiding van sy Gees, vgl. 1 Pet 1:10-12) kan immers nie van mekaar losgemaak word nie.

Trouens, ’n groot fout wat ons vandag nog gereeld maak, is om te dink dat dit in ons belydenisse en in die kerk maar net oor “dogmas” gaan, net oor formuleringe, maar net ’n gestry oor woorde, ’n dogmatiese (dogmatistiese!) geredekawel, ’n klompie teoloë wat hulle besig ge­hou het met onbenullighede. “Laat ons liewers uitgaan en liefde betoon”, skryf ’n teoloog onlangs in ’n dagblad. “Kom ons wees liewers aktueel, relevant in die wêreld …”, sê andere. Asof dit in ons geloof nie uiteindelik oor die Christus-vraag gaan nie, die mees sentrale vraag wat elke mens sal moet antwoord, die belangrikste vraag vir elkeen van ons, die één vraag wat niemand kan ontkom nie: “Wie sê julle is Ek?”

Drie konsilies, twee eeue, een naam🔗

Die geloofsbelydenis wat ons vandag as een van ons Drie Ekumeniese Belydenisskrifte bely en wat bekend staan as die Geloofsbelydenis van Nicéa (só ook agter in ons Psalmboeke), se korrekte naam is eintlik die Niceens-Konstantinopolitaanse Geloofsbelydenis.

Die uiteindelike stryd sou ná Nicéa (325) nog lank duur. Meer as ’n geslag of twee en verskeie konsilies sou met groot worsteling verbygaan voordat ons belydenis, dat die Seun van God op grond van die Skrif self God is, één in wese met die Vader, sy finale beslag sou kry. Dit sou wees by die Konsilie van Konstanti­nopel (vandag Istanbul) in 381.

En eers in die volgende eeu is hierdie geloofsbelydenis in sy finale vorm by die beroemde Konsilie van Chalcedon (451 nC) finaal aanvaar.

Mees ekumeniese geloofsbelydenis - met ’n kinkel🔗

Van alle geloofsbelydenisse is die Geloofsbelydenis van Nicéa uiteindelik die “mees ekumeniese” (bely in die hele bewoonde wêreld), die enigste wat aanvaarding gevind het en nog steeds bely word by sowel die Oosterse Kerk (waaronder vandag die Grieks-Ortodokse en die Russies-Ortodokse Kerke) as by die Westerse Kerk (vandag onder meer die Rooms-Katolieke Kerk en die Protestantse kerke).

Een uitsondering in hierdie “ekume­niese” gebruik het egter ontstaan en sou nog ingrypende, onpeilbare gevolge hê. In die belydenis van ons geloof in die Heilige Gees, soos in die geval van die hele Westerse Kerk (Rooms-Katoliek en Protestants) het daar sedert die vyfde eeu een belangrike woordjie bykom: “filioque” (= “en vanuit die Seun”). Die betekenis hiervan is dat die Heilige Gees nie net van die Vader uitgaan nie, maar ook vanuit die Seun. In 1054 sou hierdie een woordjie (met dit wat daarmee geïmpliseer word) een van die redes wees van die skeuring tussen die Westerse en Oosterse Kerk.

Betekenis van die Geloofsbelydenis van Nicéa🔗

Vier besondere aspekte van die Belydenis van Nicéa as mees ekumeniese belydenisskrif kan uitgelig word:

  • Nicéa beklemtoon die feit dat Christus God is, van ewigheid af: “voor al die eeue uit die Vader gebore, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader ...”
  • Nicéa beklemtoon die Messiaanse eenheid van die Skrif: “Op die derde dag het Hy (Christus) volgens die Skrifte (= Ou Testament, vgl. 1 Kor 15:3, 4) opgestaan ...”
  • Nicéa beklemtoon dat die Hei­lige Gees volledig God is, “Here is en lewend maak Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik”.
  • Nicéa beklemtoon die Goddelike oorsprong van die Skrif as Woord: “Hy (die Heilige Gees) het deur die profete gespreek.”

Implikasies daarvan dat Christus God is🔗

Hoe maklik dink ons vandag dat belydenisskrifte stowwerige dokumente uit die geskiedenis is, nie meer aktueel nie, sogenaamd nie relevant genoeg vir vandag se probleme nie. Wat egter vergeet word, wanneer sommer oppervlakkig gepraat word oor dogmas en belydenisskrifte, is hoe direk dit ons en die wêreld rondom ons en elke medemens van ons raak.

Met Arius se geloof dat die Seun ondergeskik is aan die Vader (m.a.w. dat die Seun nie waarlik God is nie), kom sowel die openbaring in Christus asook die verlossing deur Christus in gedrang. Dit raak God se eer - en ons verlossing - direk. As Christus nie God is nie, kan Hy nie sonde vergewe nie, nie die dood oorwin nie …

Teenoor Arius het Atanasius tereg bely: “as die Seun nie ook waaragtig God is nie, dan kan Hy God nie aan ons openbaar nie. Die Ariaanse leer het nie net die waaragtigheid van die openbaring in die gedrang gebring nie, maar ook die hele leer van die verlossing.” (LF Schulze, 1990, Geloof deur die eeue. p. 57.)

Onvervangbare baken🔗

As ons vandag kerk van Christus wil wees, kán ons en dúrf ons en móét ons saam met die kerk van alle eeue en oor die hele wêreld heen met die Nicea, onvervangbare baken, bely:

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword;
onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.
Ons glo aan een heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies
en die lewe van die toekomstige bedeling.
Amen