Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Nogeens: Kerklike Sake op Kerklike Wyse

Dit is ’n meedoënlose waarheid dat die storms van die wêreld tans met orkaansterkte aan die mure van die kerk begin ruk. En juis dan is daar twee dinge waarvan die kerk doodseker moet wees: dit is die bodem waarop die kerk staan en die winde wat oor hom waai. Die gelykenis van die huis op die rots en die huis op die sand (Matt 7:24-27) kom duidelik in die gesigsveld. As die tydsgees wat tans die gees van rewolusie - oor die kerk waai, sal dit alleen op die rots van die Woord van God kan staande bly. Jesus sê dit self: “Elkeen wat na hierdie woorde van my luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het” (vers 24).

So staan Christus se kerk midde in die storms van die geskiedenis. Ons kan die nood van die tyd nie ontglip nie. In die aandskemering van die 20e eeu, as ons rondom ons die aaklige silhoeëtte van kerkruïnes sien en ons vaskyk teen die puinhope van ingetuimelde tradisies en so baie lewenswaardes in brokstukke rondom ons lê, dan kom daar weer eens die dringende vraag: Wat is die kerk?

Ja, wat is tog die Kerk?🔗

Selfs te midde van oorspanne kerkaktiwiteite en die drukdoenery van besige kerkleiers en ook die grootse demonstrasie van so baie kerkvergaderings, konferen­sies en berade, staan die kerkvolk dikwels verslae en voel soos skape sonder ’n herder.

Die kerk is nie ’n oorhoofse struktuur soos ’n groot besigheidsfirma met sy direksie en bestuurders nie. Dit is geen pragmatiese ‘stelsel’ met menslike beplanning wat van ’n wêreldse organisasietegniek afhanklik is nie. Die kerk is eenvoudig nie ’n menslike vereniging nie.

Ja, wat is tog die kerk?

Dit is God se volk van wie Christus die Koning is ...

Dit is die liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is ...

Dit is die gebou van God waarvan Christus die hoeksteen is ...

Dit is die kudde van Christus waarvan Hy die Herder is ...

Dit is die bruid waarvan Christus die Bruidegom is ...

Met die kerk is Christus besig om in hierdie wêreld ’n geweldige ding te doen! Dit is dat Hy vir Hom ’n ge­meente wat tot die ewige lewe uitverkies is deur sy Gees en Woord vergader, beskerm en onderhou (Sondag 21, HK).

Hoe doen Christus dit?🔗

Christus doen dinge anders as ons sondige mense. Ons huiwer nie om die kerk dikwels vir ander doeleindes te gebruik nie. Ons gebruik selfs die liggaam van Christus, sy gemeente, vir aardse politiek. Ons eksploiteer die kerk vir sosialistiese ideologieë. Ons misbruik die kerk vir baie menslike motiewe. Daarvoor gebruik ons selfs gewigtige Bybelse woorde. Dikwels wil ons die kerk voor ons mense se karretjie span, en ons propageer ’n “sosiale evangelie” waarin alles alleen horisontaal op die samelewing gerig is.

By sogenaamde kerklike konferensies gebruik ons die begrip “Koninkryk van God” heerlik en maklik in ons humanistiese (menslike) debatte asof dit juis ons is wat die knoop vir die kerk moet deurhaak. Dikwels is die manier waarop ons die dinge doen nie kerklik nie, en ook die saak waarvoor ons op die ‘kerklike’, sakrale terrein voor stry, is selfs nie kerklik nie - landspolitiek, staatkundige konstitusies, besit van eiendomme, ekonomiese stelsels en so baie dinge wat nie tot die roeping en taak van die kerk behoort nie.

Artikel 30 van die Dordtse Kerkorde🔗

Eers as ons besef wat die kerk is, dan begin ons raaksien wat een van die grootste gevare is wat die kerk bedreig, nl. verwêreldliking. Dit gebeur wanneer die kerk nie meer kerklike sake op kerklike wyse aanpak nie, maar wêreldse sake op wêreldse wyse. Dan laat die kerk hom deur die tydsgees, die heersende landspolitiek en menslike ideologieë op sleeptou neem. Hy span sy seile volgens die betogings van die massa.

‘Kerklike sake op kerklike wyse’ is ’n Bybelse begin­sel. Dit is deel van die Skriftuurlike orde wat God vir sy kerk ingestel het. Hy beveel sy kerk: “Laat alles wel­voeglik en ordelik toegaan” (1 Kor 14:40). In die 16e eeu het die Hervormers dit baie goed raakgesien: Op die agenda van ons vergadering alleen kerklike sake. En die manier waarop ons hierdie sake moet hanteer? Alleen op kerklike wyse! Nie maar sommer enige soort vergade­ring nie, maar vergaderings van werklike kerke (ge­meentes). Bly weg met julle politieke programme om die staat te begin voorskryf! Uit met rewolusionêre ideolo­gieë om die samelewing in ’n sosialistiese stelsel te ver­ander! Hou asseblief vas aan die Gereformeerde begin­sel van artikel 30 van die Kerkorde - dan sal die kerk baie ellendes gepaar bly.

As Ander dan die Pad wil Loop ...🔗

Nog nooit was die politieke versoekings vir kerkmense so groot soos vandag nie, want ons land is in ’n ‘politieke krisis’. Politiek het alreeds skeurings gebring. Maar laat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gewaarsku wees: As ander dan daardie pad (die buite-kerklike wyse) wil loop en die kerk wil saamsleep om in ’n poli­tieke koor te sing, dan mag ons nie toegee nie. Deur alles heen moet die kerk steeds kerk bly. Die grense met an­der samelewingsverbande mag nie uitgewis word nie. Geen KERKstaat nie, maar ook geen STAATSkerk nie.

Alleen kerk van Jesus Christus!