Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Numeri 11 - Eet God se Brood met Vergenoegdheid

Read Numeri 11:4 - 35

Die volk Israel is deur die magtige dade van die HERE uit Egipte verlos. Hulle het tot by Sinai getrek en daar het die HERE sy verbond opnuut bevestig en die verbondseise gegee. Die tabernakel is gemaak, die offerdiens en priesterdiens is ingestel. Daarvandaan het hulle die tog deur die woestyn na die beloofde land voortgesit - streng onder die aanvoering van die Engel van die HERE. Elke keer as die wolk van die tabernakel af opgetrek het, het hulle laer afgeslaan en agter die wolk aangetrek. As die wolk stilgestaan het, het hulle weer laer opgeslaan. Die eerste murmurering op hierdie tog na die beloofde land ontstaan by Tabèra waar die HERE die buitenste tente van die laer met vuur getref het omdat die volk gekla het (Numeri 11: 1 - 3). Nie lank hierna nie lees ons van die tweede opstand by Kibrot-Hattaäwa.

Die Volk se Honger🔗

Die opstand begin by die mense wat nie deur afstamming Israeliete was nie. Hulle was van gemengde afkoms en het saam met die volk getrek. Deur hulle gekla sweep hulle die hele volk op om voor die HERE te begin kla. Hulle gekla is nie daaroor dat hulle niks het om te eet soos toe hulle die manna ontvang het nie. Hulle kla oor die manna self. Hulle kla: ‘Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë’ (vers 6). ‘Net die manna is voor ons oë’ is die ondankbaarste woorde wat die volk kon sê. Die HERE gee aan die volk manna om te eet toe hulle wou sterf van die honger. Die manna was ’n teken van die Engel van die HERE wat vir sy volk sorg. Manna was ’n genadebewys - ’n bewys van God se goedertierenheid (troue verbondsliefde).

Die HERE het die manna egter ook as ’n beproewing gestuur. Daarom sê Hy vir Moses in Eksodus 16: 4 dat Hy die volk met die manna gaan beproef. Om die manna dag in en uit te moes eet kon seker nie meer lekker gewees het nie. Die punt is dit: God gee dit en Hy gee dit in sy goedertierenheid. Daarom is sy manna genoeg. Daarom moes die volk die beproewing gehoorsaam gedra het en tevrede wees met sy genadebrood. Hoe vreeslik egter! Hulle wil die volheid van die wêreld hê, maar sonder God. Nog erger. Ons het genoeg van sy genadebrood en goedheidsteken gehad. Gee ons nou iets anders. Die HERE se genadebrood verdor ons siele. Ons is moeg daarvoor. Ons honger nie meer na die HERE se genadebrood nie.

Die Middelaar Versaak Sy Amp🔗

Daarom is dit nie vreemd dat die HERE se toorn grootliks ontvlam nie. Ons kan ook vertaal: Sy toorn het geweldig ontvlam. Die HERE het dus verskriklik woedend kwaad geword. Dit is nog meer verbasend dat die HERE die volk nie uitroei as ons sien wat Moses doen nie. In hierdie krisistye het Moses nog altyd vir die volk ingetree. Hy het gebid en gepleit sodat die HERE die volk moet vergewe. Hy het gesmeek dat die HERE die volk tog nie moet uitroei nie. Maar nie dié keer nie.  Moses kan hierdie onreg en ondankbaarheid van die volk nie uitstaan nie. As hy die volk by hulle tente hoor kerm en kla, vra hy vir die HERE in vers 11: ‘Waarom het U, u kneg kwaad aangedoen, en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?’ Selfs Moses bevraagteken nou God se genade. Moses is so moedeloos met die opstandige volk dat hy wil doodgaan (vers 15). Hy is so moedeloos dat hy nie mooi dink wat hy sê nie: Het ek hierdie volk gebaar (vers 12)? Die onreg van die volk is net een te veel vir hom. Hy kan dit nie dra nie. Die volk se ondankbaarheid en sonde knak Moses. Die middelaar doen nie sy werk nie. Hy versaak sy amp.

Hulle Gulsigheid Beantwoord🔗

Die HERE verdelg Moses en die volk nie. Hy bly getrou. Vir die moedelose Moses gee Hy sewentig Geesvervulde manne. Hy spaar die volk van totale uitwissing. Die volk moes egter leer met Wie hulle te make het. Die HERE gee vir hulle kwartels om te eet. Soveel dat die HERE sê dat hulle daarvan sal walg. Die kwartels word in God se toorn aan die volk gegee. Die volk sal eintlik self ook aan hierdie straf meedoen. Hulle sal so eet dat dit naderhand by die neus sal uitkom (vers 20). Ja, hulle sou stik in hulle gulsigheid. Hulle sou stik in hulle ontevredenheid omdat hulle eintlik die HERE verwerp het. Hulle het hul honger na die HERE vir vleis verruil.

Die volk vererger die straf nog meer. Hulle hardloop soos ’n klomp uitsinniges vir amper twee dae agter die kwartels aan. Asof die manna van die HERE nie genoeg is nie. Die persoon wat die minste bymekaar gemaak het, het ’n ton vleis gehad sê, die Bybel.

Daarom tref die HERE hulle met ’n groot plaag. Die vleis was nog tussen die tande toe hulle gestraf word. Dié plek word Kibrot-Hattaäwa, die grafte van die gulsiges, genoem. Die grafte van die wat teen die HERE begeer het, van die wat die HERE se genadebrood nie genoeg geag het nie. Die grafte van die wat gesê het hulle is moeg vir God se genadebrood.

Die Engel van die Verbond🔗

Tog vernietig die Heilige nie die hele volk nie al versaak Moses sy amp op daardie tydstip. Waarom dan nie? Ja, dit was nie Moses wat hierdie volk gebaar het nie, maar dit was die HERE self gewees. As Moses, die aardse middelaar, nie meer kan nie, dan is die Engel van die HERE steeds daar. Die Engel van die HERE is die Middelaar wat vir die volk en vir Moses intree op grond van dit wat Hy nog op Golgota gaan doen. Jesus Christus, die Engel van die HERE, is die Middelaar ook van die Ou Testament. Daar was en sal altyd net een Middelaar wees. Een verbond en een Middelaar. Sonder die Engel van die HERE sou die volk inderdaad vernietig gewees het!

Hoe groot is ons Middelaar nie. Moses knak onder die ondankbaarheid en die begeerte van die volk. Hy breek onder hulle sonde. Die Engel breek of knak nie. Hy kom woon onder ons. Hy word waarlik mens. Christus ween ook oor die onreg van Jerusalem en die ongeloof van die mense by Lasarus se graf. Die Here Jesus word verraai, verlaat en verloën deur die wat die naaste aan Hom was. Die onreg word nie een te veel vir Hom nie. Hy beswyk nie onder die las van hierdie volk se sonde nie, maar Hy dra hulle straf tot aan die einde, totdat die laaste oortjie betaal is.

Hy is die ware manna van God uit die hemel. Ek is die brood van die lewe sê Hy vir die mense in Johannes 6. Hy sê: ‘Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en gesterwe’ en verder: ‘As iemand hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid’. Jesus Christus is die ware genadebrood van God uit die hemel. Hy is die voedsel van God se guns en goedertierenheid. Hy is die brood van die lewe. Daar is vir ons niks heerliker en niks beters as hierdie Manna uit die hemel nie. Dit is na Hom dat ons honger. Wie gemeenskap met Hom het sal leef tot in ewigheid.

Ons Woestynreis🔗

Ons tog na die nuwe aarde is ook in ’n sekere sin ’n woestynreis - ’n pelgrimstog. Ons moet glo en na niks anders honger as die Brood uit die hemel nie. God se Manna uit die hemel is vir ons genoeg. Net Christus, Hy is ons lewe. Ja, al ly ons dalk nou vir Hom, al regeer ons nie nou aan sy regterhand nie, al sien ons Hom nie - Hy is vir ons genoeg. Slegs deur Christus sal ons geloofstog voleindig word.

Bogenoemde vra aandag vir veral twee dinge. Eerstens moet die ampsdraers nie murmureer asof hulle geen genade in God se oë gevind het nie. Die volk behoort aan God al sou hulle ondankbaar wees. Die volk se Middelaar hou nooit op om vir hulle in te tree nie. Hoe kan die ampsdraers dan moedeloos word asof God se genade te min is? Laat die ampsdraers maar net Christus bedien en verkondig. Net die Woord en sakramente is nodig, niks meer nie. Christus is genoeg. Tweedens: Hoe maklik raak mense nie ontevrede met God se Manna uit die hemel nie.

Ek soek sensasie.  Ek soek tekens en wonders, gesigte en visioene. Ek soek buitebybelse belewenisse. Sommiges maak van die teologie ’n afgod, teologie sonder die honger na Christus. Intellektualisme met ’n geloofsklankie of gemeentelike aktiwiteite en gebeurtenisse waarin Christus nie meer plek het nie, hoogstens miskien ’n sweem van godsdienstigheid.

Sommiges meen weer op ’n ander manier dat Christus nie genoeg is nie. Die konserwatisme wil regulasies, gebooie en tradisies byvoeg asof dit die Kanon is. Ek leef nie my belydenis nie. Ek leef iets wat ek maar bloot aangeleer het. Maar Christus alleen is vir ons genoeg.

In hierdie woestynreis na die nuwe aarde skenk God ons alles wat ons nodig het. Ja, veel meer as wat die volk van ouds ooit ontvang het. Hy gee ons sy Seun. Hy gee sy Woord en Gees sodat ons Hom in die geloof kan omhels. Dink ’n bietjie na hoeveel ander dinge u saam met Christus uit sy hand ontvang. Sy genadebrood is waarlik vir ons genoeg.

Daarom moet ons waak om nie te kla terwyl God se genadebrood wit om ons lê nie. Ons moet waak om nie gulsig te word nie. God laat jou stik in jou gulsigheid. Ons moet tog waak om nie meer as Christus te wil hê nie, want daar is niks en niemand meer as Hy nie. Ons moet dankbaar wees vir alles wat Christus ons daagliks in sy genade skenk. Die genadebrood van elke dag moet ons met vergenoegdheid eet.

Laat ons verlang na die rykdom van die HERE se Woord. Laat ons smag na die gemeenskap met die lewende God.

Laat ons daagliks honger na Christus, die brood van die lewe. So sal ons met dankbare en blymoedige harte ook die genadebrood van elke dag kan eet totdat ons tuis kom.