Bron: Die Kerkblad, 1990. 1 bladsye.

Numeri 12:1-2 - 'n Nadere Aanduiding Omtrent Die Kusietiese Vrou Van Moses

vrou

In Numeri 12:1 en 2 word melding gemaak van 'n twisgesprek van Miriam en Aäron teen Moses oor leierskap. Hulle opper twee besware teen hom as die leier van die volk:

  1. “Vanweë die Kusietiese vrou wat hy geneem het” en
  2. “Het die HERE dan alleen met Moses gespreek? Het Hy nie met ons ook gespreek nie?”

En dan volg daar: “En die HERE het dit gehoor”, en hoe Hy toe in die guns van Moses en met ’n skrikwek­kende bestrawwing teen Miriam veral, geoordeel en beslis het. Ons kyk nader na die twee besware.

1. “Vanweë die Kusietiese vrou wat hy geneem het.”

Dit is duidelik dat dit volgens hulle oordeel ’n ongeoor­loofde ‘egverbintenis’ was. Op geen plek elders in die Bybel word na so ’n vrou en huwelik verwys nie. Wat kan dan aanleiding tot so ’n beswaar teen Moses gewees het? Geen By­belse kommentaar bied daaroor enige helderheid nie.

Nou kom na aanleiding van Arti­kel 6 van die Nederlandse Geloofs­belydenis die vraag of nadere getuienis buite die Bybel wel hier tot moontlike opheldering bygebring mag word.

Sodanige getuienis word blykbaar gebied in die geskrifte van die Joodse historikus, Flavius Josephus. Hy maak melding van ’n Ethio­piese prinses wat terwyl Moses in Ethiopië militêre diens gedoen het, hom wou oorreed om met haar te trou. Maar omdat Egiptiese vervolgers dáár warm op sy spoor gekom het, het hy na die land Midian uitgewyk waar hy toe met die pries­ter Rehuel/Jetro se dogter Sippora getroud is soos ook in Eksodus 2 vermeld word.

Ook in Die boek van die opregte wat in Josua 10:13 en 2 Samuel 1:18 as stawende getuienis genoem word, word breedvoerig beskryf hoe Moses op vlug ná die doodslag van die Egiptenaar in die land Kus asiel gevind het en, by koning en volk weens sy buitengewone begaafdheid en hulpvaardigheid sodanig in die guns gekom het dat by die vroeë af­sterwe van die Kusietiese koning, sonder dat daar 'n wettige opvolger vir hom was, die onbestrede keuse van vorste en volk toe op Moses as die nuwe koning van Kus geval het, met as toegif aan hom die oorlede koning vrou, wat toe reeds op Moses verlief was. “Maar omdat Moses die God van sy vaders ge­vrees het, het hy met haar geen omgang gehad nie, selfs nooit na haar gekyk nie.” En om hierdie rede het die vrou hom eindelik by die vorste aangekla met die byvoeging dat Moses “ook nie die gode van ons land en volk dien nie.” Die gevolg was dat Moses van die land Kus uitgewyk het na die land Midian waar hy met Sippora getroud is.

2. In verband met Miriam se tweede beswaar, naamlik: “of God dan nie ook met ons (Miriam en Aäron) gespreek het nie” is dit uit die Boeke van Moses ook nie duidelik na welke bepaalde aangeleenthede sy verwys nie as sy die vraag stel.

In hierdie verband kan gemeld word dat Die boek van die opregte breedvoerig uitwei oor Amram en Jogebed en hul kinders Miriam, Aäron en Moses in Egipteland, onderwyl die koninklike bevel om alle seuntjies, wat vir Israeliete gebore word dood te maak, van krag was. Uit vrees vir hierdie bevel het die ouerpaar na die geboorte van Aäron besluit om nie meer kinders die wêreld te bring nie. Maar nadat eers die jongdogter Miriam, en toe ook die seun, Aäron ’n godde­like openbaring ontvang was hulle en die ouerpaar gerusstel van God se beskermende sorg, is Moses toe ook vir hulle gebore.

Is dit moontlik dat Miriam in die tweede deel van haar beswaar teen die leierskap van Moses na hierdie twee geleenthede verwys het, sy dit vraenderwys gestel het “Het Hy dan nie ook met ons gespreek nie?”