Nuuskierig
Nuuskierig
Hoe nuuskierig is jy? Nee, dis nie nodig om die antwoord in te stuur nie. Maar kom ons wees eerlik. Dalk kom u agter dat u tog wel baie nuuskierig is. Graag alles wil weet. Mens wil dit nie altyd toegee nie.
Verlange⤒🔗
Dis eintlik vreemd dat die woord ʼn negatiewe betekenis gekry het. Volgens die woordeboek is ’nuuskierig' niks anders nie as begerig om te weet. Wat is fout daarmee? Die antwoord is voor die hand liggend. In die praktyk het nuuskierigheid dieselfde betekenis gekry as om 'jou neus orals te wil insteek'. Om dinge te wil weet wat jou nie aangaan nie. Op hierdie manier word dit bemoeisug, wat gewoonlik gepaard gaan met allerhande vorms van skinder. En dit is sleg! Maar gestel dat jy jou baie ingespan het vir ʼn bepaalde saak, sal jy dan nie nuuskierig wees na die afloop daarvan nie? Dit is tog verstaanbaar?
En veral: gestel dat beloftes aan jou gemaak is, sal jy dan nie nuuskierig na die uitkoms daarvan wees nie? Dan sal daar tog ʼn gesonde verlange na daardie bewuste oomblik wees, of hoe?
Verwagting←⤒🔗
Dit is opmerklik dat die Here sy kinders steeds opnuut nuuskierig gemaak het. Toe Abraham geroep is, het hy maar min geweet wat vir hom wag. So het hy in gespanne verwagting uitgetrek.
In die woestyn het God vleis aan sy volk belowe. Die mense was stomverbaas en wou baie graag weet hoe dit kon gebeur het. En God het brood belowe, in die middel van die woestyn. Hy het dit nie onmiddellik gegee nie, maar dit toegesê. So het Hy by elkeen nuuskierige verwagting gewek.
Die profete is na die volk gestuur met boodskappe waarvan hulleself nie oorsig gehad het nie. Jesaja moes vir die mense in ballingskap vertel dat daar meer as genoeg vir al hulle sondes betaal is (Jesaja 40). Maar hoe? En deur wie?
Amos moes profeteer dat die son in die middel van die dag sou verduister by die rou oor ʼn eersgeborene (Amos 8). Hoekom? En wanneer?
Petrus skryf dat die profete gesoek en nagevors het na God se bedoeling van hulle eie woorde. Hulle het hul ingespan om meer daarvan uit te vind, met ʼn gelowige nuuskierigheid. As ons mooi daarna oplet, kom jy agter hoe God stelselmatig handel. Hy belowe wat Hy gaan doen. Hy doen dit in terme wat baie nuuskierig maak. Dit is duidelik dat dit ʼn bedoeling het. So leer ons opsien na God en groot verwagting van Hom te hê. Dit word vir ons ʼn lewenswyse, ʼn hoopvolle lewe met God.
Geloof←⤒🔗
Dit sou dan ook een van die ergste dinge wees as daardie verwagting in ons lewe sou verdwyn. Ongelukkig staan genoeg voorbeelde daarvan in die Bybel. Vir party mense duur dit te lank voordat God doen wat Hy belowe het. Dan vergeet hulle die beloftes, dit boei nie meer nie. Of ander verlangens kom in die plek daarvan; die verwagting word aangepas vanuit eie begeertes.
Toe Jesus gebore is, was daar nog maar relatief min mense oor wat werklik die Verlosser verwag het, terwyl daar oor die eeue heen so veel oor Hom gesê is. Maar die meeste mense het nie meer daaraan gedink nie. Hulle het selfs nie meer ʼn antenne daarvoor gehad nie: die boodskappe van die herders en die wyse manne is nie eens opgevang nie.
So kan dit dus wees: God wek verwagting, maar die mens raak sy nuuskierigheid kwyt. En wanneer God dan uiteindelik gee wat Hy belowe, is daar amper niemand meer aanwesig om dit te raak te sien en op te vang nie.
Daarom die vraag: hoe nuuskierig is u? Nie in die negatiewe sin nie, maar gelowig nuuskierig. Hoe belangrik is die belofte dat u God sal sien in u lewe? Dat u sal lewe in God se heerlikheid, op ʼn nuwe aarde? Waar daar geen dood meer sal wees nie, geen siekte en geen verdriet meer nie? Dat by Jesus se koms alles nuut sal word?
Die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God en na die bevryding van alles wat verganklik is (Romeine 8). Dit sal dan tog ook kenmerkend wees vir die kinders self?
God laat verkondig wat Hy doen en wat Hy sal doen. Sy beloftes laat hy verseël in doop en nagmaal. 'Oppas, moenie dit vergeet nie! Dit is waar Ek mee besig is!' Dus is dit belangrik om in ons aandag bewus ruimte te skep vir die gelowige oordenking van God se beloftes. As jy dit nie doen nie of nouliks, dan verander jou lewe totaal. Met die nuuskierigheid verdwyn dan ook die belangstelling. In die praktyk word dit ʼn lewe sonder God.
Geduld←⤒🔗
Maar hoekom neem dit alles so vreeslik lank? Op Jesus se koms is eeue gewag en nou is ons alweer 2000 jaar verder.
En nie net dit nie. Ook in ons persoonlike lewe kan dit so lank neem voordat die lig deurbreek. Teëspoed en teleurstelling kan jarelank die oorhand hê. Kry jy nie juis die teenoorgestelde van ʼn gesonde verlange as dit so lank duur nie?
Dan moet ons aan nog iets dink, naamlik dat God ons laat weet en voel dat Hy nie op bestelling werk nie. Niemand het by Hom genade bestel, of vergewing van sonde, of aanneming tot kind, of vervulling met die Gees, ens. nie. Alles wat God belowe en gee, het Hy self uitgedink en dit was Sy wil. Dit sou nie eers in ons gedagtes opgekom het nie en ons sou dit ronduit geweier het. Dáárom gee God op Sy tyd, om ons voortdurend daarby te bepaal dat dit hierin gaan oor Sy inisiatief. Geloof en geduld sal hand aan hand moet gaan (Hebreërs 6:12). Wag kan lank neem, maar wie op God wag sal dit nooit vergeefs doen nie.
Volharding←⤒🔗
Was dit alles net maar ʼn saak van geduld! Maar dit kan nog baie moeiliker raak. Vir Maria is gesê dat daar ʼn swaard deur haar siel sou gaan. Wat verwag jy nog van jou Seun as Hy gekruisig word? Is dit nie die einde van alle verwagting nie? Aan Maria is dit vertel, vir ons is dit opgeskryf. Alles wat jy hoop kan teen jou gebruik word. Die vyandskap ontsien niks en niemand nie. Alles wat vir jou dierbaar is, kan aangetas word. Selfs jou eie vlees en bloed sal jy moet oorgee. Gaan jy dan nog baie nuuskierig na die verdere verloop wees?
Bekend is die teëstem, wanneer die heilsbode die terugkeer uit die ballingskap mag aankondig (Jesaja 40): 'Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ʼn blom van die veld...' Met ander woorde: daar het al so baie dooies geval en soveel dinge het stukkend gegaan, sal hierdie mense ooit nog kan bly wees? Is daar geen verdriet wat vir altyd bly soos ʼn wolk voor die son nie?
Ja, dit is waar, as jy net na menslike moontlikhede kyk. Tog moet die heilsbode sy boodskap bring aan die stede van Juda: 'Hier is julle God!' Dit is die antwoord op alle teëstemme. God kom. Hy kom self. En as Hy kom, is dit so oorweldigend en allesvervullend dat die lig alle donker verdryf.
Hoe is dit moontlik! Hoe sal dit wees? Onmiddellik is die nuuskierigheid weer gewek. Kom ons hou dit so! Want dit is juis die bedoeling.
Nooit kan die geloof teveel verwag nie.
Die verwagting kan alleen maar te min wees.