Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Om hulle in hierdie Leer te Onderrig en te Laat Onderrig…

Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Nee, maar slegs dié wat deur ʼn ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.

vr en antw 20 van die Heidelbergse Kategismus

Ons weet almal dat ons nie geloof aan ons kinders kan gee nie. Geloof word deur die Heilige Gees bewerk. Dit neem egter nie ons verantwoordelikheid weg nie. By die doop van ons kinders het ons aan God en sy gemeente belowe dat ons ons kinders in die geloof sal onderrig. In dié artikel wil ek probeer om ʼn paar gedagtes oor geloofsopvoeding weer te gee.

In handboeke sien ons dikwels prente wat die leerinhoud verduidelik. So verstaan die kinders dit wat geleer moet word, beter. By geloofsopvoeding werk dit ook so. Die ouers is die prentjies. Dit wat ons doen of nie doen nie, beïnvloed die geloofslewe van ons kinders. Ek sal ʼn paar voorbeelde gee.

God is ons Vader. Hoe weet ʼn kind wat ʼn vader is? Hy leer dit by sy eie pa. ʼn Kind wat geborgenheid by sy vader ervaar, sal ook by God veilig voel. ʼn Kind moet veilig en geborge voel by sy ouers. Hy kan sy ouers volledig vertrou. Kinders wat dit nie geleer het nie, vind dit as volwassenes moeilik om hom in vertroue aan God oor te gee.

God se Vaderliefde is onvoorwaardelik. Ons kan dit vir ʼn kind sê, maar ʼn kind sal hierdie begrip nie verstaan nie. Ons moet dit vir die kinders leer. Is ons liefde vir die kinders onvoorwaardelik? Hou ek van my kind soos hy is, of moet hy eers ʼn bietjie verander? Stel ons voorwaardes aan ons liefde? Ons moet ook oppas dat ons nie te hoë prestasies/eise, op watter gebied dan ook, van ons kind verwag nie. Dit kan die kind die idee gee dat hy eers iets goeds moet doen voordat sy ouers van hom hou. Dit kan by die kind die gedagte laat ontstaan dat God ook eers iets van hom verwag voordat Hy van hom hou.

Die kerk is die bruid van Christus. Die liefde wat God vir ons as sy kinders voel, is baie groot, so groot soos die liefde tussen man en vrou. Die liefde is so groot dat Christus selfs vir ons sondes betaal het. Hierdie begrip “liefde” leer kinders weer by die huis. Ons kinders moet ervaar dat ons as ouers van mekaar hou. Dan sal hulle ook die grootheid van God se liefde vir ons verstaan.

Ons eie geloofslewe is ʼn voorbeeld vir kinders. Wat beteken God in ons lewe? Watter plek het God in ons daaglikse lewe? Leef ons uit Christelike tradisies, uit sleur? Is ons lewe so gejaagd dat ons by God verbyhardloop? Dan is ons geloof leeg. Die kinders kom dit agter. Ons voorbeeld sal hulle dan van God laat wegdwaal.

Of is ons vol van God se trou, liefde en grootheid? Probeer ons, met gebreke, te lewe tot God se eer? Wandel ons met God? Dit sal die kinders ook sien. Hulle sal agterkom dat dit nie net woorde is nie, maar ook dade.

In bostaande voorbeelde het ons gesien hoe belangrik ons voorbeeld is. Die moeilikste is dat ons 24 uur per dag die regte voorbeeld moet gee.

Om kinders groot te maak, is nie ʼn maklike taak nie. Ons moet vir God krag vra om dit heeldag vol te hou.

Behalwe ons voorbeeld moet ons ook met die kinders oor God praat. Ons moet hulle die Bybel leer ken. Vanuit die Bybel leer ons God ken. Om God lief te hê, moet ons Hom eers leer ken. Hierdie taak kom ook voort uit die doopbelofte wat ons gemaak het.

Daar is verskillende lewensperiodes in ʼn kind se lewe. Elke periode het sy eie moontlikhede wat betref die geloofsopvoeding.

Baba tot Kleuter (0-4 jaar)🔗

In hierdie tyd word daar nog nie bewus veel aan geloofsopvoeding gedoen nie. Die kinders volg alles na wat die ouers doen. Hulle leer deur die voorbeeld van hulle ouers. Met Bybellees wil hulle ook ʼn Bybel voor hulle hê. Ons kan hulle maklike gebedjies, geestelike liedjies en Psalms leer. Hulle sal dit nog nie alles verstaan nie, maar hulle voel veilig met hierdie dinge. Op dié ouderdom is kinders sfeergevoelig. Ook nou al moet ons sorg vir die sfeer van geborgenheid. Hierdie periode is die voedingsbodem vir geloofsopvoeding.

Kleuterleeftyd (4-7 jaar)🔗

Die kleuterleeftyd is vir die geloofsopvoeding van groot belang. ʼn Mens kan dit ʼn “gevoelige” periode noem. Die kleuter is gevoelig vir nuwe ervarings en ontdekkings en sal dit in sy spel verwerk. Die kleuter het ʼn oop houding ten opsigte van verhale. Deur die Bybelverhale wat ons vir die kleuter vertel, ontstaan daar ʼn band met die Here Jesus en met God die Vader. Die kinders begin van God hou as gevolg van die verhale. Hulle kan nie glo dat daar mense is wat nie van God hou nie.

Kleuters hou van enige soort verhaal. In hul belewingswêreld is alles moontlik. ʼn Sprokie is vir hulle ook ʼn ware verhaal. Ons moet verstandig hiermee omgaan. Ons moet altyd vir die kind duidelik maak dat die Bybelverhale ware verhale is, maar dat sprokies versinsels is. Dit het nie regtig gebeur nie. Dit kan gebeur dat, wanneer ʼn kind agterkom dat die tandemuis nie regtig bestaan nie, hulle dink dat die Here Jesus dan seker ook maar nie bestaan het nie. Sorg dus altyd dat die kind aanvoel dat enige verhaal iets anders is as die Bybel.

Die Laerskoolkind (7-12 jaar)🔗

In die sesde/sewende jaar is daar ʼn verandering in die gedagtewêreld van die kind. Tot nou toe het hulle onvoorwaardelik geglo wat die volwassenes vir hulle sê. Nou raak hulle krities. Hulle begin vrae vra om agter te kom of dit wel waar is wat vertel word. Hulle het God mos nog nooit gesien nie. As ons in die kleuterleeftyd nie duidelik ʼn verskil tussen die Bybel en ander verhale gemaak het nie, kan daar nou ʼn probleem ontstaan. As Doringrosie nie bestaan het nie, waarom sou God dan wel bestaan?

Die spontaniteit van ʼn kleuter verdwyn in sy sesde jaar. Die kind kom agter dat ander hom met hulle eie oë bekyk. Die kind wil nie hê ander moet dink hy is anders nie, daarom sal hy nie meer spontaan reageer nie. Die kind sal net spontaan oor die Here praat met mense waarvan hy weet dat hulle net soos hy dink.

Ook in hierdie periode is die opvoedingsklimaat belangrik. Moenie net die verkeerde in die kind sien nie, moenie net straf nie. Sien ook die positiewe raak, gee ook komplimente. In ʼn omgewing waar net met ʼn kind geraas word, kan nie Bybel gelees en gebid word nie.

Kinders van hierdie ouderdom het die vermoë om met hulle geheue te werk. In hierdie periode kan hulle maklik iets memoriseer. Dit is die periode waartydens gesorg moet word dat die kind Bybelkennis verkry.

Die Tiener (12-18/21 jaar)🔗

Vanaf die twaalfde jaar begin die tienerjare, ʼn stormagtige periode. Die kenmerkende van hierdie tyd is verandering. Liggaam en gees is besig om te verander. Behalwe liggaamlike verandering is daar verandering op sielkundige vlak. Baie tieners dink niemand hou van hulle nie. Dikwels ontaard gesprekke tussen ouers en kinders in ʼn woordestryd. Die tiener vergelyk hulle gesin met dié van hulle vriende. By die vriende is dit natuurlik beter.

ʼn Mens hoef nie bekommerd te wees oor die woordestryd wat ontstaan nie. ʼn Tiener is besig om sy eie mening te ontwikkel. As hulle dan met hulle ouers praat, sal hulle teëpraat. Die ouers moet wel met goeie argumente kom. Die kind luister beslis na hierdie argumente. As daar op ʼn dag by die skool oor dieselfde onderwerp gepraat word, sal die kind die argumente van sy ouers gebruik. Ouers het dus beslis nog ʼn groot rol in die opvoeding van die tiener.

Vir ʼn tiener is dit belangrik om deel van die groep te wees. Die stryd rondom deel wees van die groep, neem al sy aandag in beslag. Daarom moet die kind tuis veilig voel, sodat hy daar kan ontspan. ʼn Positief-Christelike lewenstyl, met die oog vir die goeie van God en met aandag vir die naaste, sal saamwerk aan die harmoniese ontwikkeling van die gevoelslewe.

In sy tienerjare beleef ʼn kind baie onsekerheid. Hulle kom in aanraking met allerlei nuwe invloede en inligting. Dit kan via skool, radio, televisie, koerant of boeke kom. Dit kan bots met dit wat hulle oor die Bybel geleer het. Dink bv. aan die Da Vinci-kode, of aan inligting op wetenskaplike gebied. Dan is dit goed dat die kind weet en vertrou dat hy ʼn kind van God is. Dit moet hy by die huis ervaar. Ouers moet weet wat in die wêreld van die tiener aangaan om hom te kan help en hulle moet die kinders leer dat ʼn geloofstandpunt nie bewys kan word nie.

Soos ek in die begin van die artikel al genoem het, is geloofsopvoeding nie maklik nie. Ons maak gereeld foute. Maar ook vir die foute is daar vergewing. Geloofsopvoeding is gelukkig nie iets wat ons alleen doen nie. Ons doen dit saam met God; ons moet altyd ons kinders in die gebed aan God opdra. Ons staan ook nie alleen in die gemeente nie. Ons kan met ander gelowiges oor ons probleme praat, en saam en vir mekaar bid.