3 bladsye.

Om Jou Kruis te Dra in hierdie Tyd

Voetspoor🔗

As ʼn kind het ek dit eens probeer toe ek saam met ʼn groepie volwassenes op die strand gaan stap het. Langs die vloedlyn het ek die afdrukke van hulle skoene gesien. Soms het ek probeer om in die voetspore van een van die volwassenes saam te loop. Dit was nie sonder moeite nie. Ek moes mooi op die profiel van die sool let om in die goeie afdruk te bly. Dit was op sy beste ʼn besondere inspanning gewees, aangesien so ʼn volwassene veel groter treë as ʼn kind gee. Met groot moeite kon ek egter bybly. Natuurlik moes jy die ander laat vóór loop. Hulle moes die voortou neem en ek het agterna gevolg. Die bedoeling was dus nie om hulle na te dóén nie, maar om hulle na te volg.

Met hierdie jeugherinnering in my gedagte lees ek 1 Petrus 2:21: ‘Juis hiervoor is julle ook geroep, (om onreg te ly) omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ʼn voorbeeld gestel het, sodat julle in Sy voetspore kan volg.’

Kruis🔗

Die kruis wat gedra word, is om agter die Here Jesus aan te gaan, dit wil sê om Hom te volg en om in Sy voetspore te loop. Die Here Jesus het self gesê dat jy daarmee nie sommer net moet dink aan ʼn kinderspel van ʼn onbevange en blye kind tydens ʼn strandwandeling nie. ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem, en My volg’ (Matteus 16:24).

ʼn Paar dinge val my op. Om in die voetspore van Jesus Christus te loop, beteken terselfdertyd dat jy ook bewustelik en aktief ʼn kruis op jou skouers moet hê. Dit hoort bymekaar. Die Woord van Jesus raak elke gelowige. Om sonder ʼn kruis op die skouer agter Jesus aan te loop, is nie moontlik nie en bestaan nie. Om ʼn kruis te dra, en te wil dra, is ʼn karaktereienskap vir elke kind van die Here.

Die kruis gaan dus nie eers op jou skouers wees wanneer ʼn skielike verdriet jou lewe binnedring nie, of wanneer onverwags een of ander leed jou planne in die war stuur nie. Dit is nie: ‘Elke huis het sy kruis’ nie, in die betekenis van ‘agter elke voordeur skuil daar moeite en verdriet’, nie.

Dit val my op dat mense baie gou aan lyding dink as hulle dink aan kruis-dra. Dan gaan dit dus oor die moeite om lyding te aanvaar, en die versoeking om ʼn draai daarom te loop, hoe nader die lyding aan jou lyf gevoel word. En dit is waar. Ook op so ʼn manier kan die Here ʼn kruis op jou skouers lê. Maar nie alleen dan nie. Elke kind van God móét ʼn kruis hê.

Waaruit bestaan dié kruis? Alles wat dit vir jou moeilik maak, en wat ook vir jou pynlik is en waaronder jy gebuk moet gaan, terwyl jy die Here Jesus navolg. Dít wat jy soms met veel stryd en moeite en met ʼn hoop selfverloëning op jou neem, ter wille van Christus.

Houding🔗

Ja, die laaste deel hierbo is belangrik: ter wille van ons Here Jesus Christus. Dit is elke mens se drang om sy eie heer te wil wees. Dít is ʼn werklike doodloopstraat. Om Jesus te volg vra vir ʼn houding waarin jy jou lewe aan Jesus ondergeskik stel. ‘Hy is die Heer van my lewe!’

Dit kan natuurlik bittere gevolge meebring. Wanneer dit by jou as mens aangebore is om die stuur van jou lewe in eie hande te hou, vra dit om selfverloëning om die stuur van jou lewe oor te gee aan iemand anders. So ʼn lewenshouding moet ook uitgewerk word in konkrete situasies. Hoe intens moeilik kan dit wees om die dinge aan die Here oor te gee, as dit in ʼn ander rigting loop as wat jy beoog het, en om Jesus te volg as dit dwars teen jou eie wil ingaan!

So word jou aandag gefokus op die weg wat God met jou loop. Soos ʼn kind op die strand gefokus is op die voetspore van die volwassene, en sy uiterste bes doen om dit te volg, so is daar iets daarvan in jou kruis-dra, om gekonsentreerd die weg te volg waarop die Here Jesus jou voorgaan.

Selfs ook wanneer die gevolge pynlik is, of wanneer dit teen die grein van die tydsgees ingaan, of wanneer dit bots met jou ou natuur.

Jy sou dalk vra: ‘Maar hoe kan Jesus dít van my verwag?’ Natuurlik kan Hy dit van jou verwag! Omdat Hy die lewe is, en omdat Hy die enigste weg na die lewe aanwys. Buite Hom om loop alle weë uiteindelik dood.

Aktief🔗

Kruis-dra in ons tyd? Blykbaar het Petrus al voor die versoeking te staan gekom om die kruis van sy skouer af te haal (Matteus 16:21v). Hy neem liewers regstreeks die weg na die oorwinning in plaas daarvan om die vernederende weg agter Jesus aan te neem, via Golgota.

Dit is ʼn menslike eienskap in ons tyd om lyding te ontwyk. Ek het eens gelees dat ‘sommige Christene God sien as ʼn soort spesiale afleweraar’. Dit moet gemaklik en liefs op bestelling by die voordeur afgelewer word. Iemand anders noem ons Westerse kultuur ʼn ‘borrelbadkultuur’: ons koester ons in die warm borrels van ons welvaart en tegniek.

Dit laat my dink aan ʼn artikel wat ek enkele jare gelede in die hande gekry het: ‘Die Weste brom in ontevredenheid, terwyl hulle voorheen gebid het’. ʼn Veelseggende opmerking, meen ek. Lyding, pyn, moeite, teleurstellinge en traumas: vroeër het ons dit biddend in die hande van God geplaas. Ons het die heling van Hom verwag.

Vandag word daar in ontevredenheid gemor. Die volmaakte lewe, die pure genot, ʼn onaangetaste lewe: so moet dit hier en nou ʼn werklikheid wees. Alles wat daaraan afbreuk doen, lewer kritiek en ʼn gemor van ontevredenheid op. Om in ʼn onvolmaakte lewe te leef, was nog nooit maklik nie, en vandag verseker ook nie.

Om in so ʼn kultuur as Christen jou kruis aktief en bewustelik op te neem, verg vertroue op die Here Jesus, deur te besef dat ons lewe deur die Hoërhand gelei word om in die geloof gehoorsaam aan Christus te wees.

En wanneer begin ʼn mens sy kruis opneem? Ek is geneig om te sê dat jongmense by hulle openbare geloofsbelydenis hulle kruis openlik opneem. Hulle keer hulle van hulleself af en soek hulle lewe buite hulleself, by Jesus Christus. Hulle wil Hóm volg, waar die Lam ook al heengaan. God teken Sy spoor in jou lewe, terwyl ons al kruisdraende volg.

Konkreet🔗

Tot nou toe was ek nog nie regtig konkreet gewees nie. Of miskien tog wel? Die lyding is deel van die teenwoordige tyd (Romeine 8:18). Dit word op allerhande maniere sigbaar. As dit goed is, ly elke kind van God onder sy sonde, en weet elke gelowige van skuldbesef. As jy om jou kyk, sien jy hoe baie daar nog kortkom aan God se uiteindelike doel met hierdie aarde. Jy merk op hoe ver jy nog is van God se doel met jou. Jou geloof word aangeval en jy ervaar die twyfel, en jy wil graag die lyding ontwyk. Watter gelowige weet nie hoe moeilik dit soms kan wees om jou eie wil te verloën en God se wil, wat alleen goed is, gehoorsaam uit te voer nie?

U sal merk dat ek ʼn bietjie versigtig is vir ʼn konkrete toepassing van ons kruis-dra. Daar is net soveel voorbeelde soos wat die lewe breed is. Kruis-dra gaan oor alles van ons lewe. Maar laat ek tog ʼn paar voorbeelde noem.

Dit gebeur nie meer so baie om in ʼn moeisame huwelik te veg vir God se wil en vir trou en liefde nie. Hoe maklik word aborsie en eutanasie (genadedood) vandag as ʼn redelike alternatief gesien vir die lewensituasie waarin ons verkeer. Sekerlik kan tegnologie baie lyding versag of verbloem, maar tegnologie maak dit ook moeiliker om te aanvaar dat in ernstige gevalle genesing nie bewerkstellig kan word nie, en dat om kinders te verwek ook nie binne ons vermoë val nie.

Nog voorbeelde. Dit kan nogal ʼn stryd wees om jou groot seer in God se hande te plaas en dit daar te laat. Of om te sien dat jou kwesbare eie eergevoel altyd ʼn swak plek sal bly. Of dat die spore van die jeug nooit heeltemal uitgewis sal word nie. Of dat, ondanks jarelange terapie, die onderlinge verhoudinge tussen mense in hierdie lewe nie méér harmonieus sal word nie.

Ek dink aan jongmense wat in hierdie tyd suiwer en Godvresend wil lewe, en aan Christene wat merk dat hulle Christenwees verhoging-moontlikhede in hulle loopbaan afsny. ʼn Mens kan die vyandigheid van die wêreld soms baie hard en genadeloos en konkreet ervaar.

Is sulke lyding ʼn kruis? Ja, maar die kruis is eintlik ook meer die moeite om dit gelowig te verwerk. Om werklik volledig te bly vertrou dat dit Jesus Christus is wat in jou lewe hierdie spoor trek. Die stryd en moeite om Hom op hierdie weg gelowig te volg. Om onderweg na jou heling, die feit dat Hy Heer is oor jou, volledig te respekteer.

Leerskool🔗

Dit is maar goed dat ons al kruisdraend nie sommer enige iemand nie, maar Jesus volg. Hý, wat die Redder en Heelmaker is. Die weg agter Hom aan, lei, deur die lyding, na ons heerlikheid.

Wie hom alleen maar op die kruis blindstaar, kan ʼn swaarmoedige gelowige word. Maar wie in die voetstappe van Jesus trap, mag ook besef dat die Seun gehoorsaamheid geleer het uit dit wat Hy gely het. En toe Hy die doel bereik het, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam, die oorsaak van ewige heil geword (Hebreërs 5:8, 9).

Die lydensweg ken ʼn eindstreep. Christus se volgelinge het iemand wat hulle belange in die hemel behartig. En sy Gees behartig die saak van Christus in ons lewens.

Kruisdraers kyk nie alleen voor hulle op die grond nie. Hulle kyk veral na bo: ‘die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof’ (Hebreërs 12:2). Jy loop in die spoor van die Heiland. Al kruisdraende is jy voorbestem vir ʼn lewe sonder pyn en verdriet.

Die Here Jesus vestig ons aandag op sy terugkeer (Matteus 16:27). En ons Heiland bind ons dit op die hart: ‘wie sy lewe wil behou sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry’ (Matteus 16:25). Wie ter wille van Christus gebuk gaan onder sy of haar kruis, mag vol van verwagting vooruit kyk.

Gesprekspunte:🔗

  1. Hoe moet jy die woorde van Christus, oor ons kruis-dra, rym met Sy uitspraak dat sy juk sag is en sy las lig is (Matteus 11:28)?

  2. Wat ervaar u persoonlik as ʼn kruis wat deur u geloof in die Here Jesus Christus op u skouers lê?

  3. Ons vra by elke doop en by elke Nagmaalsviering of ons, met ons navolging van Christus, ons kruis met blymoedigheid mag dra? Hoe doen jy dit? Of kan ek dit duideliker vra: hoe kry jy hierdie “kruisdra-met-blydskap”?

  4. Hoe kan jy in die gemeente van Christus ander ondersteun en bemoedig met die dra van die kruis? Watter belemmeringe ervaar jy daarmee in die praktyk? Hoe kan jy dit uit die weg ruim?

  5. Hoe belangrik is dit vir jouself dat jy as Christen met groot verwagting vooruit mag kyk?

  6. Hoekom is dit so dat daar eintlik maar min aktuele literatuur te vinde is oor dinge soos selfverloëning, kruis-dra en ons navolging van Christus?