Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Om te Leef Uit die Woord

Gereformeerdes se godsdiens staan nie los van die praktiese lewe nie.  Anders as piëtistiese Christene is ons oortuig dat ons geloof nie net met die ewige dinge van die hiernamaals te doen het nie. Nee, ons daaglikse lewe is ook 'n lewe vanuit die geloof.  Maar hoe leef 'n mens uit die geloof?

In Romeine 12:1 beskryf die apostel Paulus die wesentlike van ons godsdiens soos volg:

om julle liggame te stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer.

Hierdie definisie van ons godsdiens is een van die hoekstene van die gereformeerde beskouing dat ons godsdiens ook met ons lewe hier en nou te doen het: ons moet ons liggame in hierdie lewe as 'n offer vir God beskikbaar stel.

Ten einde 'n lewende, heilige en Godwelgevallige offer te kan wees, moet 'n mens ten minste weet wat vir God heilig en wat vir Hom welgevallig is.  En dit (wat vir Hom heilig en welgevallig is) maak God duidelik en ondubbelsinnig aan ons bekend in die Bybel.

Om ons lewe dus as 'n of­fer tot God se beskikking te stel, is om te lewe volgens sy Woord. Ons godsdiens is om uit die Woord te leef.

Die Biblisisme: 'n Bybelteks vir Elke Saak🔗

Maar hoe leef 'n mens uit die Woord? Die tipies Biblisistiese resep is om vir elke ding wat jy doen, 'n Bybelteksie te hê. Die probleem hiermee is egter dat die Bybel nie 'n teks vir elke praktiese situasie in 'n mens se lewe voorsien nie. Waar ek moet bly, watter soort werk ek moet doen, wat­ter fabrikaat motor ek moet ry, daaroor spreek die Bybel hom nie uit nie.

Die Bybel is nie 'n teksboek vir wiskunde, chemie, sosiologie, taalkunde of ander wetenskappe nie. Daar is ook geen Bybelwoord oor atoomsplitsing, surrogaatmoederskap, kloning en ander moderne verskynsels nie.

Hoe dan nou gemaak?

Die Biblisisme gryp na die eerste die beste Bybelvers wat maar net lyk of dit van toepassing op die probleem kan wees, ongeag of dit die bedoeling van die Bybelteks is of nie. Bloot op sigwaarde of klankwaarde word 'n teks bygesleep by 'n saak waarmee dit niks te doen het nie.

Die gevolg is dat die Bibli­sisme die Bybel uit verband ruk en sodoende aan misbruik en selfs verdraaiing van die Skrif skuldig staan.

Een van die bekende voorbeelde van sulke Skrifmisbruik is waar Galasiërs 3:28 gebruik word as 'n "Skrifbewys" vir sosiale ordening: "Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man of vrou nie". Wat by so 'n Skrifberoep buite rekening gelaat word, is dat hierdie woorde nie as 'n resep vir die ideale sosiale ordening bedoel is nie, maar slegs aantoon dat gelowiges, ten spyte van verskeidenhede, in Christus een is.

Gereformeerdes wil egter nie meedoen aan 'n Biblisistiese misbruik van die Bybel nie. Elke Skrifwoord moet binne sy verband verstaan en gebruik word.

Boonop moet ons ook besef dat die Skrif dikwels lig op 'n saak werp sonder om 'n direkte uitspraak daaroor te maak. Ons moet maar net die basiese beginsels wat God in sy Woord vir ons gee, raaksien en dit dan op die moderne situasie toepas.

So kan 'n mens wel op geldige wyse moderne verskynsels soos kloning en "skiet na die wolke" aan die hand van duidelike Skrifbeginsels beoordeel.

Oordrewe Weerstand teen Skrifberoep🔗

Die gevaar van Biblisisme kan egter tot 'n onvanpaste huiwering by gereformeerdes lei. Uit vrees dat ons dalk 'n Skrifdeel buite sy verband gebruik, wil ons liewer geen Skrifdeel ge­bruik nie. Dan liewer maar net te werk gaan met die algemene Skrif­beginsels.

Soms lei hierdie huiwe­ring selfs tot weerstand teen die Skrifberoep van ons gereformeerde Belydenisskrifte (vgl. die Bybeltekste onderaan elke antwoord in die Kategismus).

Hierdie huiwering mag egter nie bestaan nie. Ons moet immers erken dat daar sekere praktiese sake is waaroor die Skrif duidelik spreek, soos afgodery, die ontheiliging van die Here se Naam, moord, diefstal en leuenagtigheid. En wat die gereformeerde belydenis betref - dit berus meesal op direkte Skrifuitsprake wat met vers en kapittel aangedui kan word.

Of die gegewe tekste altyd die beste ondersteuning bied, daaroor kan 'n mens wel besin. Maar dat Skrifbewyse wel gegee kan en moet word, daaroor kan daar nie twyfel wees nie.

Die neiging om liewer nie Bybeltekste aan te haal nie en net te werk met die algemene Skrifbeginsels (soos in die Teologie beskrywe word) hou 'n ander nog groter gevaar in. Dit kan naamlik die gesag van die Bybel in gedrang bring. Dit bied groeiruimte vir die idee dat die teologiese interpretasie van wat die Bybel die eintlike maatstaf van ons geloof is.

Menslike interpretasie word dan gekanoniseer en gelykgestel aan die gesag van die Bybel self. Daarmee is ons terug by Rome van die Middeleeue.

Die grootste gevaar van die huiwering tot Skrifbe­roep is dat dit uiteindelik heeltemal by die Skrif verbystuur. Teologiese interpretasie word dan nie net met die gesag van die Bybel gelykgestel nie maar heeltemal in die plek daarvan gestel.

Dan word alle Skrifbe­roep as Biblisisties afgemaak en word 'n beroep op breë teologiese (selfs filosofiese) denkstrukture as die ware maatstaf van ons lewe voorgehou. Dan is dit nie meer 'n lewe uit die Woord nie maar 'n lewe uit die teologie.

Hierteenoor is ons gere­formeerde staanplek dui­delik 'n staanplek wat primêr in die Bybel as Woord van God gegrond is. Ons lewe uit die geloof is 'n lewe uit die Woord. Dikwels maak God in sy Woord vir ons duidelik bekend wat Sy wil oor 'n saak is en watter optrede vir Hom welgevallig is. Sulke Skrifwoorde neem ons ter harte en ons leef daaruit sonder enige hui­wering.

Waar God nie 'n saak direk in sy Woord aanspreek nie, het ons die verantwoordelikheid om beginsels uit die Skrif af te lei en dan daarvolgens op te tree. Die gerefor­meerde lewe vra van ons in die woorde van Romeine 12:2 dat ons "kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is."