Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Om Waarlik Kerk Te Wees

Van baie kante kom deesdae die dringende oproep dat die kerk in Suid-Afrika moet optree. Daar moet ver­soening bewerkstellig word tussen die groepe wat teen­oor mekaar staan en die kerk het hierin ’n belangrike rol. Baie keer kom daar die aandrang dat die kerk dinge moet doen wat vir ons gevoel nie deel van die kerk se opdrag is nie. Het die kerk die opdrag om staatkundige strukture te verander of om in hierdie verband voor­skrifte te gee?

Hierop wil ’n mens dadelik antwoord: Nee, dit lê op ’n ander terrein. Die kerk het nie so ’n politieke taak nie. Die kerk se primêre opdrag het te doen met die uit­dra van God se Woord, van die blye boodskap dat son­dige mense met God versoen word deur die bloed van die Seun. Die kerk moet kerk wees en nie ’n politieke drukgroep of 'n instrument vir verandering of opheffing in die samelewing nie. Wat/wie is egter hierdie kerk wat kerk moet wees? Gebeur dit nie te dikwels dat die kerk vir ons die strukture word nie? Dan werk die kerk deur besluite op papier, pragtige besluite in beginsel wat egter nie leef in die harte van mense nie. Nee, die kerk is nie iets nie, dit is iemand.

Die kerk is mense wat gedryf word deur die liefde van God wat hulle oorgeplaas het uit die dood in die lewe. Wanneer werklik gesien word dat die kerk die verga­dering van gelowiges is, kom die wete dat die kerk nie deur besluite werk nie, maar deur dade. Dit sluit in die daadkragtige verkondiging van die Evangelie in die vergadering van die gelowiges en daarbuite en geloofsdade wat getuig van ’n lewe waarin die Evangelie daag­liks deurwerk.

Om waarlik kerk te wees hou dus in dat ons mense van die Woord moet wees - wat die Woord hoor en uitdra en daarvolgens leef. Hieraan moet ons onsself gaan toets. Hoor ons nog werklik die Woord, of word die Woord te veel verduister deur ons eie vooroordele en voorkeure? Sien ons sending nie dalk te veel as die werk van ’n kommissie of dalk ’n sendeling waarvoor ons dalk nog ons geld sal gee maar nie ons tyd en onsself nie? Is evangelisasie nie te veel die taak van ’n paar eksentrieke enkelinge wat genoeg selfvertroue het om in ander mense se persoonlike sake te krap nie? Is ons werklik bereid om na die Woord te luister ook deur ’n hand van vriendskap en hulp en ondersteuning te reik na daardie broeders en susters van ons wat oordeel dat hulle in ons samelewing verdruk word?

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Matt 28 : 19). “Julle sal my getuies wees ... tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1 : 8). “Solank as wat ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges” (Gal 6 : 10).  Ons word geroep om waarlik kerk te wees en hieraan moet ons onsself elke dag toets.

Om waarlik kerk te wees ...🔗

Ons weet almal dat die kerk, die gelowiges, met ’n doel op die wêreld geplaas is. God het ons geroep om hier sy kinders te wees. Hier moet ons in sy koninkryk bou en sy Woord verkondig. Hoekom lyk dit egter so dikwels asof hierdie werk van die kerk nie juis veel ingang vind nie, asof ons nie eintlik ’n merk op die wêreld maak nie? ’n Mens kan natuurlik praat oor die hardheid van die sondige mens se hart, die teenstand wat deur die duiwel en sy trawante gebied word, die vyandskap van die wêreld, die gebrokenheid van hierdie bedeling.

Kom ons draai ’n slag eerder die spieël om en kyk na onsself. Moet ons nie die fout, of minstens ’n deel daar­van, by onsself ook soek nie? Is dit nie dalk dikwels waar dat ons nie ’n merk op die wêreld maak omdat ons nie is wat ons voorgee om te wees nie?

Ons sê dat ons God se kinders is, maar word dit werklik in ons lewe gesien? Spreek ons lewe van die liefde van Jesus Christus, of is ons dalk te veel besig met onsself en ons eie gedagtes en begeertes? Ons sal baie praat oor politiek en standpunt teen standpunt en selfs mens teen mens stel. Hoekom praat ons nie net so vurig oor die verkondiging van die Evangelie aan die wat afgedwaal het of wat die Evangelie nog nie gehoor het nie? Ons kan baie kla oor politiek en kerk wat vermeng word veral as die Woord my op my eie self­sug wys. Maar wat dóén ons werklik om God se konink­ryk uit te brei hier waar ons geplaas is? Lééf ons elke dag uit die Woord, of staan die Woord maar agter in ons lewens?

Ons moet onsself die volgende vrae stel: Is ons waar­lik nog kerk? Is ons as kerk, as gelowiges, nog vir die wêreld geloofwaardig? Wanneer ons een ding sê maar ’n ander doen, plaas die wêreld ’n vraagteken agter dit wat ons verkondig! Ons kan alleen waarlik kerk wees wanneer ons woorde en dade saam die groot dinge van God verkondig. Hierdie eenheid van leer en lewe, van gedagte en daad het Paulus aan die Filippense voor­gehou: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is ... daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en, gesien het, dit moet julle doen” (Fil. 3 : 8, 9). By Paulus het hulle die Evangelie gehoor en gesien. Om waarlik kerk te wees moet ons hoor - God se Woord hoor, die Evangelie suiwer bewaar. Ons moet hoor, maar ons moet ook laat hoor en laat sien: dat ons God se heerlike genade het en dat ons hele lewe daarom anders is.