Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Omhein die Tafel van die Here

Maak dit regtig saak op watter manier die Nagmaal gevier word? Maak dit soveel saak op watter manier die gemeente die Tafel van die Here in stand hou? Is dit nodig om daaroor hare te kloof?

Vir ’n gemeente en kerkraad wat trou aan die Here en Sy Waarheid wil leef, is dit wel baie belangrik. By die Tafel van die Here word die gelowiges se eenheid in die Waarheid immers sigbaar gevier. Vind hierdie viering nie suiwer plaas nie, word die Here daardeur onteer en kom die Waarheid in gedrang. Dit is dus belangrik dat die kerkraad toesig moet hou oor die Nagmaal. Die gemeente het tog die kerkraad verkies vir hierdie doel. Hulle heers nie baasspelerig nie. Hulle kom uit die gemeente en dien die gemeente en sodoende oefen Christus Sy heerskappy uit. Die kerkraad staan dus nie teenoor die gemeente nie, maar kom op uit die gemeente. Dit is hoe Christus kies om Sy kerk te regeer. Dit beteken dat gelowiges wat nie onder die kerkraad se toesig val nie, nie sonder meer aan die plaaslike Nagmaalviering deel kan hê nie. Gaste uit ander gereformeerde gemeentes of gaste van ander nie-gereformeerde kerke kan dus nie sonder meer deelneem nie. Prinsipieel is die Tafel van die Here toeganklik vir lidmate van die plaaslike gemeente wat onder die toesig van die kerkraad staan. Oor hulle alleen kan die kerkraad verantwoording doen. Dit is dus belangrik dat gelowiges wat die Nagmaal vier, in die Waarheid een moet wees en onder toesig staan van die kerkraad.

Waarom is dit so? Dit hou verband met die manier waarop die heilige Skrif na die kerk kyk. Baie gelowiges neem erg aanstoot aan hierdie manier van toesig oor die Nagmaal. Hulle voel daar word gediskrimineer. Dit hang alles af van hoe ’n mens die kerk sien. Sommige mense dink aan die kerk as ’n groot universele onsigbare instansie waaraan al die ware gelowiges (wêreldwyd) behoort. Wie en waar hulle oral is, weet niemand. Al wat saak maak is die vraag: ken ’n persoon die Here? Dit maak nie regtig saak aan watter sigbare kerk jy behoort nie. Die honderde skakerings van sigbare kerke is maar net verskillende openbarings van die een onsigbare kerk. Mits hulle min of meer by die Woord bly, is almal goed en reg. Jy kan inskakel waar dit goed voel. Geen kerk kan sê dat hy die Waarheid 100% bely nie. Almal het darem wel iets van die Waarheid beet! Al wat regtig saak maak is die innerlike van die individu. Solank die individu net die Here ken. Só ’n kerkbegrip sal bepaal hoe ’n mens die Tafel van die Here benader. In hierdie geval sal daar net een groot oop Tafel wees waar álmal wat bely dat hulle die Here ken, kan kom aansit, sonder enige onderskeid. Die meeste mense se denke werk in hierdie rigting. Alles draai om die individu en sy geloof. Die klem val dan op die individuele gelowige wat lidmaat is van die een onsigbare universele kerk en wat Nagmaal wil gebruik. Omdat die gelowige lid is van die onsigbare kerk, mag hy/sy Nagmaal gebruik in enige plaaslike kerk. Dit gaan mos om die individu en sy geloof en oor die gemeente as een oop struktuur vir individue en hul behoeftes. So word geredeneer. Die wedergebore individu word sodoende sentraal gestel en die Bybelse visie op die sigbare plaaslike gemeente met sy ampsdraers verdwyn op die agtergrond. Maar, is dit regtig hoe die Skrif die kerk sien?

Die Skrif ken nie so iets soos ’n onsigbare kerk wat uit miljoene individuele gelowiges bestaan nie. In die Skrif is die sigbare plaaslike kerk die volledige gestalte van die Liggaam van Christus!! Die SIGBARE plaaslike gemeente IS die liggaam van Christus. Kyk maar na elke brief van Paulus wat aan sigbare geografies aangeduide plaaslike gemeentes geskryf is! Kyk hoe sien hy hierdie kerke. 1 Kor. 12 en14 maak dit baie duidelik. Die liggaam van Christus waarvan hy hier praat, is nie ’n onsigbare geestelike liggaam wat uit individuele gelowiges bestaan nie! Dit is die konkrete sigbare gemeente in Korinte met al sy probleme en gebreke!! En in ’n sekere sin is hierdie sigbare gemeente ’n geslote gemeenskap ten opsigte van die geloof wat bely word! Die gemeente is nie maar net ’n oop godsdienstige organisasie wat binne die openbare samelewing funksioneer nie. Die gemeente is “geslote” omdat die gemeenskaplike belydenis van geloof die gemeente afgrens. Die Nagmaal sal dus hierby inpas en nie verval in ’n “oop tafel” waar enigeen “wat vrymoedigheid het” kan kom aansit nie!

Die Skrif weet ook niks daarvan dat die plaaslike gemeente as liggaam van Christus nie die Waarheid 100% verstaan en bely nie!! Dit is gewoon nie waar dat ’n plaaslike gemeente slegs die Waarheid ten dele ken en dat ander kerke van ander belydenisse weer ander skakerings van die Waarheid raakvat nie! Dit is ’n onbybelse gedagte! Daar bestaan nie skakerings van Waarheid nie. Dit is juis wat die plaaslike gemeente tot ware liggaam van Christus maak: die feit dat die gemeente een is in die Waarheid!! Vergelyk 2 Kor. 13:8. Op grond van die Waarheid wat binne die gemeente bely word, word die gemeente ’n “geslote” gemeenskap. Dit is wat by die Reformasie van die 16de eeu gebeur het: die Waarheid is weer vanuit die Skrif geformuleer (en in belydenisse saamgevat) en gemeentes is op hierdie Waarheid gebou. Sulke gemeentes het bekend gestaan as gereformeerde gemeentes. Hulle grondslag was die belydenis van die Waarheid soos die Reformatore dit herontdek het uit die Skrif. ’n Gereformeerde kerk wat aan die belydenis gebind word, kan dus met vrymoedigheid weet dat hy die Waarheid volledig bely en ken. So ’n sigbare konkreet-versamelde gemeente is dan ook liggaam van Christus. Binne hierdie gemeente mag die Nagmaal gevier word en moet daaroor toesig gehou word.

In die Nagmaal gaan dit dus nie eerstens oor die wedergebore individu wat deel is van die onsigbare universele kerk en wat nou in enige plaaslike kerk mag aansit aan die Tafel van die Here nie! In die Nagmaal gaan dit nie om ’n onsigbare kerk van wedergeborenes nie. Dit gaan om die sigbare geografies-aanduibare plaaslike kerk wat volledig Liggaam van Christus is. ’n Gelowige wat dus weier om homself te onderwerp aan die plaaslike kerkraad se toesig (en sodoende aan die toesig van Christus self, want Hy het die ampte daartoe verorden) en wat nie met die gemeente een is in die Waarheid van die belydenis nie, mag nie sonder meer tot die Tafel toegelaat word nie. Agter die gemeente en kerkraad se toesigfunksie staan immers Christus se werk! Dit sou onordelik wees om so op te tree binne die huishouding van die Here.

Die Nagmaal is dus nie ’n saak van elke individu wat vrymoedigheid het om aan te sit en daarop aandring nie. Dit kan nie maar net aan elke Nagmaalganger se gewete en keuse oorgelaat word om self te besluit of hy/sy sal deelneem of nie. Die Nagmaal is ’n saak van toelating en toesig.

Wat beteken dit alles PRAKTIES vir die plaaslike kerk? Indien die plaaslike kerk getrou wil wees aan die Here en Sy Waarheid, hoe moet die Tafel van die Here benader word?

Eerstens: die posisie van kinders wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie. Daar is geen Bybelse rede waarom ’n kind eers op ouderdom 16 tot die Nagmaal toegelaat mag word nie. In Genève het Calvyn die kinders heel jonk toegelaat. Ouderdom is dus nie van deurslaggewende belang nie. In beginsel bestaan daar geen beswaar teen kindernagmaal nie. Tóg handel die inhoud van die Nagmaal oor sake wat die klein kind outomaties uitsluit omdat so ’n kind geen begrip kan toon nie. ’n Kerk wat getrou wil wees kan dus nie sonder meer kinders tot die Tafel toelaat nie. Die toesig oor die sakramente berus ook nie by die ouers van die kind nie. Die ouers mag nie besluit of die kind tot die Tafel toegelaat word nie. Hulle is nie deur die Here daartoe geroep nie. Die toesigfunksie berus by die Kerkraad, want dit is hoe Christus Sy kerk regeer. Die kerkraad alleen mag toesig hou oor die sakramente. So alleen kan die huishouding van die Here tot Sy eer in stand gehou word. Slegs die kerkraad kan dus ’n kind tot die Nagmaal toelaat, maar dit kan alleenlik gebeur wanneer die kind met die gemeente een is in die Waarheid van die belydenis. Daarom is voldoende onderrig noodsaaklik. Kinders wat Nagmaal gebruik, moet dus eers vooraf deeglik onderrig wees en die kerkraad moet toesien dat dit gebeur. Die kerkraad kan dan toestemming verleen dat die kind toegelaat word.

Tweedens: persone van ander gereformeerde kerke en gemeentes wat tydens ’n Nagmaalviering op besoek is. Hulle staan nie onder die toesig van die kerkraad nie. Hulle is wel deur die geloof deel van Christus, maar nie deel van die plaaslike kerk as Liggaam van Christus nie. Hulle kan dus deel hê aan die Tafel wanneer: a) die kerkraad toestemming hiertoe verleen en b) die kerkraad tevrede is dat hulle in die belydenis één is met die plaaslike kerk. Die reëling kan dus geld dat sulke gaste vooraf aan die kerkraad kennis gee dat hulle die belydenis van die Waarheid onderskryf en dat hulle graag in die Nagmaal wil deel. Die kerkraad verleen toestemming en die persone se name kan tydens die Nagmaalviering gelees word. Hierdie reëling kan geld vir alle besoekers wat van ander gereformeerde kerke die erediens bywoon.

Derdens: wat van gelowiges wat lidmate is van ander kerke en nog nie amptelik lidmaat geword het van die plaaslike gereformeerde kerk nie, maar wat tóg voluit in die plaaslike kerk meeleef soos enige ander lidmaat en wat gereeld die eredienste meemaak? In hierdie geval val die persone ook buite die toesig van die plaaslike kerkraad. Hulle kan dus slegs tot die Tafel toegelaat word indien die kerkraad die toesig behou. Die persone moet dus hulself onderwerp aan die kerkraad en ’n aanduiding gee dat hulle aan die Here se Tafel wil deel hê. Die kerkraad sal aan sulke persone slegs eenmalige toestemming verleen, maar steeds ’n wakende oog hou om te verseker dat hulle aan hul belydenis getrou bly. Dit kan alleen gebeur nadat die kerkraad daarvan oortuig is dat die persoon wel die gereformeerde belydenis onderskryf en werklik met die gemeente een is in die Waarheid van die Woord.

Vierdens: Daar moet aandag gegee word aan die gelowiges wat wel reeds belydende lidmate van die plaaslike kerk is. Hulle wat toegang het tot die Tafel en onder die toesig van die kerkraad lewe. Ook oor hulle moet toesig en opsig uitgeoefen word tot eer van die Here. Dit geskied deur gereelde besoeke deur die ouderlinge en vermaning en tug waar nodig. Sodoende word omgesien na die geloofslewe van die lidmate en word daar seker gemaak dat daar wel eenheid in die ware geloof is binne die plaaslike kerk. Dit mag nie net veronderstel word nie. Deur opsig en tug oefen die kerkraad sy godgegewe taak rondom toesig oor die Tafel van die Here uit.

Dit is op hierdie manier wat ’n plaaslike kerk, wat getrou wil wees aan Christus, kan toesien dat alles binne die huishouding van die Here tot Sy eer kan geskied. En die belangrikste plek waar dit gestalte moet kry, is by die Tafel van die Here.