Bron: Kompas. 3 bladsye.

Onderwysing in die Christelike Leer

Inleiding🔗

Op 19 Januarie 1563 skryf die keurvors van die Pfaltz (ʼn landstreek in die suidweste van Duitsland), Frederik III, die voorwoord van die Heidelbergse Kategismus of Onderwysing in die Christelike Leer. Hierdie kategismus was reeds goedgekeur deur die Heidelbergse Sinode wat kort daarvoor vergader het. Die datum 19 Januarie 1563 word algemeen aanvaar as die geboortedatum van hierdie kerklike geskrif. Dit was in Januarie van hierdie jaar dus 450 jaar gelede. ʼn Baie belangrike datum, want tot op ons tyd beklee daardie Kategismus nog altyd ʼn vooraanstaande plek as belydenisgeskrif en leerboek vir die onderrig aan die kinders (en aan volwassenes) in die kerke wat trou wil bly aan die Woord van God.

Was dit dus die opstellers van hierdie geskrif of Frederik III wat gesorg het vir die voortgang van die ware evangelie? Nee, ons bely dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ʼn gemeente vergader, beskerm en onderhou van die begin van die wêreld tot die einde toe. Christus doen dit deur sy Woord en Gees en daarby maak Hy gebruik van mense en ook van geskrifte. En as sodanig, dus as ʼn dokument van die sorg van Christus oor sy kerk, is ons nog altyd dankbaar dat ook die Heidelbergse Kategismus (HK) in daardie vergaderingswerk ʼn plek gekry het.

Ontstaansgeskiedenis🔗

Dit was ʼn besondere feit dat in die Pfaltz se hoofstad Heidelberg ʼn kategismus geskryf en uitgegee is met ʼn Calvinistiese agtergrond. Want in Duitsland het wel die werk van die Reformasie van die kerk begin en van daaruit het dit ook versprei na ander lande. Maar diegene wat gegryp is deur die waarheid van daardie Reformasie, het Martin Luther gevolg en het oor die algeheel (afgesien van doperse sektes) tot die Lutherse Kerk behoort.

In die Pfaltz het in 1559 Frederik III keurvors geword as opvolger van sy neef Otto Hendrik. Dit was ʼn belangrike funksie, want vanaf die middel van die 13de eeu tot 1806 is die Duitse koning of keiser gekies deur sewe en later tien keurvorste. Hulle het dus ʼn nog hoër pos beklee as ander vorste oor die destydse Duitse deelstate.

Met die ontstaan en voortgang van die Reformasie in Duitsland het die verskillende vorste uiteraard onderskeie keuses gemaak. Nou was reeds in 1555 in Augsburg ʼn sg. religievrede gesluit. Daar het tussen Protestantse en Roomse Duitse landsvorste ʼn godsdiensvrede tot stand gekom wat later genoem sou word met die Latynse woorde cuius regio, eius religio. Dit beteken dat in elke landstreek die godsdiens wat die landsvors aanhang, die heersende een sou word. As die vors die Protestantisme aangehang het, sou dit die heersende godsdiens word. Eenselfde gedragslyn sou gevolg word in die geval van ʼn vors wat tot die Rooms-Katolieke Kerk behoort het. Die onderdane wat moeite met hierdie reëling gehad het, kon na ʼn ander landstreek uitwyk. Hierdie verdrag het egter net betrekking gehad op Lutherane en Rooms-Katolieke.

Na die bewindsoorname van Frederik III het sake in die Pfaltz verander. Die Pfaltz het reeds as ʼn Lutherse gebied bekend gestaan. En ook Frederik III was in 1559 ʼn lidmaat van die Lutherse Kerk. Maar daar was onderlinge geskille binne daardie geledere. Dit het veral gehandel oor die nagmaal. Sommige hoogleraars van die Heidelbergse Universiteit het streng vasgehou aan die opvatting van Martin Luther self (wat geleer het dat Christus liggaamlik aanwesig was in en onder die tekens van brood en wyn) en ander het geneig in die rigting van Zwingli (sterker nadruk op die element van gedagtenis en die simboliese betekenis van die nagmaal). Nou ja, ook ons ken ongelukkig die felheid waarmee so ʼn geskil dikwels gepaard gaan. In elke geval – dit het Frederik III daartoe gebring om in 1560 ʼn dispuut te laat plaasvind tussen verskillende teoloë en selfs ook ander. Dit het by die keurvors tot ʼn kentering gelei en in 1561 het hy met volle oortuiging die Skriftuurlike, gereformeerde leer bely. Behalwe die geskille oor die nagmaal het Frederik ook ander misstande raakgesien en bestry. Dit het hom in later tyd die erenaam besorg van ‘Die Vrome’.

Veral ook die geestelike toestande onder die jeug het die keurvors daartoe gebring om, in navolging van ander, ʼn kategismus te laat opstel om die jongmense in te lei in die Skriftuurlike leer. As opstellers van daardie kategismus word gewoonlik twee name uitgesonder – Zacharias Ursinus en Caspar Olevianus.

En inderdaad het veral Ursinus die skryfwerk gedoen, maar ander het dit begelei, tot selfs ʼn mediese professor toe.

Doel van al hierdie arbeid was nie net onderwysing van die jeug nie, maar ook om ʼn vaste koers aan te gee vir ouers, skoolmeesters en predikante. Om hierdie doel te bereik was predikante verplig om by elke oggend-erediens ʼn gedeelte van die kategismus duidelik voor te lees sodat dit in nege kere deurgelees kon word. In die middag- of aanddiens moes die prediking aan die hand van die kategismus plaasvind. Sommige seuns of meisies moes dan die vrae wat hulle by die huis of by die skool geleer het, in die openbaar resiteer. Dikwels was daarvoor (uiteraard) min lus, sodat die kinders uit weeshuise daarvoor uitgekies is. Kategismusprediking is dus baie oud, want reeds voordat hierdie gebruik in die Pfaltz ingevoer is, was dit in ander lande bekend, soos by die vlugtelinggemeente in Londen waar gepreek is aan die hand van die kategismus wat deur A Lasco opgestel is.

Aanname en verbreiding🔗

Soos gesê was vantevore die nuwe kategismus deur ʼn sinode van die Pfaltz deurgeneem en goedgekeur.

Ook daarom kry dit onmiddellik ʼn goeie ontvangs. Reeds in 1563 verskyn ʼn 2de en 3de druk. In die daaropvolgende 4de druk word op aandrang van Olevianus die bekende en omstrede vraag en antwoord 80 (oor die verskil tussen die nagmaal en die Roomse mis) ingevoeg.

Ondanks teenstand word die HK in baie stede en lande aanvaar. Eers verskyn dit in Duits, maar spoedig word dit vertaal en na ʼn paar dekades is reeds ʼn honderdtal drukke op die mark gebring. In Frankryk, Engeland en Skotland word hul eie kategismusse aangehou (in Frankryk die kategismus van Calvyn), maar in ander omliggende gebiede kry die Heidelberger die voorrang.

Veral ook in Nederland. Reeds in 1563 verskyn twee vertalings in Nederlands, een daarvan deur die bekende Petrus Dathenus wat ook ʼn psalmberyming uitgegee het. En daardie vertaling is in die Nederlandstalige gebied alom gebruik. In die Pfaltz en omliggende gebiede was daar Nederlandse vlugtelinge wat meegewerk het aan ʼn snelle verbreiding in hul vaderland.

Kerklike vergaderings neem ook kennis en reeds die Konvent van Wesel in 1568 verklaar dit as ʼn formulier van enigheid. Die sinode van Emden wat in 1571 gehou is, bevestig die uitsprake van die Konvent van Wesel. Sinodes wat in Nederland vergader het, het hierdie uitsprake bevestig en uitgebrei met bepalings oor gebruik by die skole en oor kategismusprediking.

Die sinode van Dordtrecht (1618/19) het in die eerste plek die funksie van die Heidelbergse Kategismus as formulier van enigheid volledig gehandhaaf. Alle ampsdraers, hoogleraars, regente en onderregente van teologiese instellings, rektors, skoolmeesters en sieketroosters moes deur ondertekening hulle instemming daarmee betuig. Die buitelandse afgevaardigdes het die kategismus geroem en verklaar dit is volledig in ooreenstemming met die Skriftuurlike leer. Wat vorige sinodes besluit het insake die kategismusprediking word ook beaam en dit word in die kerkorde opgeneem. Daar is wel opgemerk: in baie gemeentes is dit moeilik, omdat die predikante partykeer nalatig is of ook teenstand bied (die Remonstrante). Maar dit is juis ʼn aanmoediging om daarmee vol te hou, ook al sou net die predikantsgesin die dienste bywoon en so die goeie voorbeeld gee.

Ten slotte die kategese – daar moet drieërlei katkisasie wees: by die huis deur die ouers, by die skool deur die skoolmeesters en in die kerk deur die predikante en katkiseermeesters. Die onderwysers kry nog ʼn taak: hulle moet sorg dat die kinders getrou die kategismusprediking volg, wat kort en bevatlik moet wees.

Hierdie besluite van die Dordtse sinode het ryke vrug gedra. Die kerke het juis deur die leiding wat van ʼn geskrif soos die HK uitgegaan het, koers gehou, ook in tye van kerkverval. Dan moet juis na die gesonde leer teruggegaan word.

Vanuit Europa het die Kategismus ook na ander lande en wêrelddele versprei. So het dit ook aan die suidpunt van Afrika ʼn vaste plek verkry. Ook toe daar nog geen vaste kerklike organisasie tot stand gekom het nie, het die sieketroosters dit hier gebruik vir kategetiese onderrig en die prediking. Hulle het nl. as studiemateriaal saamgekry – behalwe die Bybel – onder andere die Huysboek van Bullinger (die opvolger van Zwingli in Zürich), die groot Kategismus van Ursinus (die Skatboek) en vir die eredienste ʼn bundel preke van Philippus Lansbergen.

Reeds W.B. Wylant, die eerste sieketrooster wat in 1652 voet aan wal gesit het in die Kaap, vermeld hy het ʼn begin gemaak met die katkisasie en die godsdiensonderrig aan die jeug. Die een week het hy ʼn preek gelees oor ʼn teks uit die Bybel en die ander Sondag ʼn kategismuspreek uit die genoemde boek van Lansbergen. Hy het dan die jongmense die vrae laat opsê wat hulle met twee of drie tekste uit die Bybel moes bewys. Kategismusprediking dateer in ons land in elk geval reeds van 1652 af.

Inhoud en vorm🔗

Die groot invloed wat die HK in die loop van die eeue uitgeoefen het, is veral ook as gevolg van die inhoud en vorm van hierdie belydenisgeskrif. Dit moes wees ʼn eenvoudige leerboek van die belydenis van die kerk. Dit het die invloed en vorm bepaal.

Voordat die finale teks vasgestel is, het Ursinus selfs twee ontwerpe van ʼn leerboek opgestel. Daar was wel onmiddellik die vorm van vrae en antwoorde, maar dit was meer afstandelik gestel, soos: “Wat is die oorsprong van die sonde?”; “Wie is God?”; “Wat is die doop?”, ensovoorts. Wat die laasgenoemde vraag betref, kan ons dit vergelyk met die latere weergawe soos wat ons dit nou nog vind in Sondag 26, vraag 69: “Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?” Laasgenoemde doen ʼn direkte beroep op eie hart en lewe. Hieruit blyk dat die verwyt van afstandelikheid wat deesdae soms gehoor word, nie tereg is nie. Die Heidelberger het direk aangesluit by die Skrif en die ou belydenisse. Om van daaruit deur te dring tot die diepste grond van ons lewe. Ook al is daar deesdae baie vrae wat ons aandag vra, ons sal altyd terug moet gaan na en uit moet gaan van die leer van die Skrifte soos die HK dit ook onderwys. Anders dreig die gevaar van afval.