Bron: Nader Bekeken, 2014. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Ondeurgrondelik

Hoe meer ons weet, hoe meer besef ons wat ons nie weet nie. U het dié gesegde waarskynlik al gehoor. Vir ʼn kind is sy klein leefwêreldjie nog oorsigtelik. Vanaf daardie klein skaal is die hele lewe ʼn ontdekkingstog. Dit begin al in die wieg. Die kontras tussen die haarlyn van die gesigte wat na jou afkyk. Die oë, met ligte en donker kleur. Bietjie later die ratel wat jy self met jou handjies kan skud. Daarna hou dit nie op nie.

Wetenskaplikes het vir hulle ʼn vak daarvan gemaak. Hulle ondersoek en ontdek. Maar op die rand van die rasend vinnig uitbreidende kennis doem daar steeds weer nuwe vrae op. Omdat ons kennis al meer omvangryk word, neem dié rande ook in omvang toe. Dus ook die vrae; die onsekerhede. A. van den Beukel, ʼn Christen-natuurkundige het geskryf dat ateïstiese natuurwetenskaplikes al moes toegee dat aan die bodem van elementêre natuurkunde groot, onopgeloste vrae lê. ‘Dinge het hulle geheime’. Geloof in die wetenskap is in feite ʼn geloof. Lank nie alle geheime van die werklikheid wat ons omring, is deurgrond nie.

Ek het dit in die loop van die jare ook by myself gemerk. Hoe ouer ek word, hoe ingewikkelder lyk die lewe soms. Ek begryp my eie menslike gees steeds minder. Telkens staan ek verbaas oor my verweefdheid met my voorgeslagte. Ek verbaas my elke keer oor die wisselwerking tussen kerk en samelewing.

Ondeurgrondelik. Jy slaag nie daarin om die werklikheid te peil en te ontrafel en die raaisels tot op die bodem op te los nie. Mense bestee ongekende tyd en energie daaraan om ʼn greep te kry op die werklikheid waarin hulle lewe, tot in hulle kuierpraatjies.

Wat geld vir die skepping, vir die heelal en die aarde, is geheel van toepassing op die Skepper self: ondeurgrondelik. In Dordtse Leerreëls, I, 6 staan daar reguit en onomwonde dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, uit sy ewige besluit. Dit is sy bewuste keuse. Maar... is dit nie oneerlik nie? Waarom aan één, maar nie aan die ander nie? Jy loop jou daarteen vas, ooreis jou verstand en lê snags daaroor wakker. Wanneer jou kind van God vervreemd raak. Wanneer jongmense in die kerk volslae onverskillig is teenoor die liefde van Christus. Wanneer Nederland so vinnig onchristelik word en sekulariseer. Die Christendom is die grootste wêreldgodsdiens, maar tog is daar ongeveer vyf miljard (5,000,000,000!!) wêreldbewoners met ander godsdienste.

God maak sy keuse. Nie omdat jy daarvoor aangelê is nie. Nie omdat jy so fatsoenlik lewe nie. Nie omdat jy in ʼn goedontwikkelde land bly en goed by die kultuur inskakel nie. Nie enige goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens nie (DL I, 9). Enkel en alleen sy keuse, sy welbehae. Genade.

Ja maar is dit eerlik? Adem dit nie ʼn willekeurigheid nie? Het elke mens nie die reg daarop nie? Op geloof, op die liefde van God? Reg op redding? Reg op... ? Of is ek dan te veel geneig om vanuit daardie ‘reg op hê’ te dink? Is dit vir mý om God sommer so onregverdig te bevind? Is dit vir my te moeilik om te aanvaar dat ek as mens al my regte verspeel het?

God meet die reg aan die onderskeid wat Hy maak tussen mense wat almal in hulle oorsprong sondaars is. Hy verkies om dit so te doen: barmhartig, regverdig, maar veral ondeurgrondelik. Dit is moeilik; moeilik om te besef dat God groter, wyser, magtiger en regverdiger is as wat ek ooit kan besef. Om te aanvaar dat ons hier vanaf die aarde ons vrae het, maar dat die hemel nie altyd daarop antwoorde gee nie. Onbegrip kan ons kwaad maak, verbitterd of nukkerig.

Terselfdertyd kan dit jou ook verligting gee, gerusstel, ruimte gee. Ek hóéf nie alles te weet nie en daar hóéf nie vir alles ʼn antwoord te wees nie. Hoe meer ek God leer ken, hoe beter besef ek dat ek nie alles weet nie. Ek neem hier altyd vir Paulus as voorbeeld. Hy word deur Jesus uit die hemel aan die kraag gevat om apostel onder die heidene te word. Heelwat mense het ongelowig op sy boodskap gereageer. Sou daar dalk familie tussen hulle wees? Of baie goeie vriende? Hoe na dit hom aan die hart gelê het, laat hy merk uit sy woorde: “Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ʼn vervloeking te wees, wég van Christus af” (Romeine 9:3). Tog hoor ons hom nie verbitterd reageer nie. Inteendeel, hy bly God vol respek aanbid: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:33).

Om te glo is ook om God sy ondeurgrondelike geheim te gun.