Bron: Kompas. 2 bladsye.

Ons gaan Bos Toe

Weg! Weg van die stad se gemaal en gewoel. Weg van die werk se gemaal en gewoel. Weg van die skool se gemaal en gewoel. Nog ʼn jaar se gemaal en gewoel is agter die rug. Ons is moeg. Ons het rus nodig…

Baie van ons het die geleentheid om te gaan ontspan, al is dit maar vir ʼn paar dae. Daar is baie opsies om van te kies: berge, die see, wildsparke… Ons gaan die natuur in. Of sommer net in kort: Ons gaan bos toe.

En terwyl jy hierdie vakansie daar op die strand sit, ʼn berg uitklim of by die watergat na ʼn trop buffels sit en kyk, laat maar die gedagtes ʼn bietjie loop. Die natuur is nie net soos wat ʼn mens dit sien nie. Daar is meer en in hierdie artikel wil ek graag ʼn paar gedagtes met u deel.

Die natuur is niks beter as enigiets anders nie🔗

Met die pragtige dinge wat ons in die natuur beleef en die mooi vakansies wat ons daar het, verg dit soms ʼn klein sprongetjie om te dink dat die natuur goed is en al die gewoel in die stad, in die ekonomie en in die werksplek maar sleg is. Dit is egter ʼn valse teenstelling. God het die hele skepping gemaak en gesien dat dit goed was. Alles wat in die skepping is, behoort aan Hom. Dit sluit die pragtige natuur in, maar ook die stede, die tegnologie, die kantore en die fabrieke. Alles is syne en niks is inherent bo iets anders verhewe nie. Goed en sleg is nie verskillende dinge of afdelings in die skepping nie. Goed en sleg is die gerigtheid van ons harte. Goed is harte wat op Hom gerig is, sleg is harte wat nie op Hom gerig is nie. Ná die sondeval loop goed en sleg deur alle aspekte van die skepping heen.

Die natuur is nie ʼn plek om van weg te vlug nie🔗

In die verlede was Christene dikwels daaraan skuldig om dele van die natuur te vernietig omdat dit met heidense rituele vereenselwig is. Die natuur, altans dele daarvan, is as bedreigend gesien. Deesdae, in die tyd waar tegnologie aktief meeding om ons vrye tyd, is die gevaar eerder dat ontspanning in die natuur as ouderwets beskou word. “Dis so 1990’s om te gaan stap!” “Dis so simpel om na ʼn klomp diere te gaan kyk!” “Tuinmaak is net vir spesialiste!” Nog ʼn ander gevaar is om so behep te wees met ons eie persoonlike verlossing dat ons geen oog meer het vir die mooi skepping om ons heen nie. Dit gaan tog mos eendag verbrand? (2 Petrus 3:10)

In al hierdie voorbeelde word die natuur nie waardeer vir wat dit is nie. Erger nog, die Skepper van dit alles word misken. Die natuur sing God se lof en ons word uitgenooi om hierdie skouspel saam te gaan beleef.

Dan kyk ʼn mens tog anders na die branders wat breek, die majestueuse rotsformasies en die dartelende suikerbekkies, selfs al kan stap, wildsritte of tuinmaak jou nie juis opgewonde maak nie.

Die natuur is nie net iets vir ʼn klomp greenies nie🔗

“Groen is maar gek, hoor. Al daardie mal idees om die vryhede wat ons in die ekonomie, in ons stede en in ons werkplekke het, te beperk”. “Groen is gevaarlik, pasop vir al die New Agers en heidense panteïste in daardie beweging. Christene, bly weg, moenie aanraak nie!” Woorde vol vrees, en intussen word ons nog verder weggedruk uit ʼn deel van God se geskape werklikheid. Alles behoort aan die Here en geen vierkante sentimeter van sy skepping val nie onder die verantwoordelikheid van die mens, as God se kroon van die skepping, nie. Moenie dat ons die baba (natuur) saam met die badwater (New Age) uitgooi nie.

Die natuur is ʼn manier om God te ken🔗

Uit die natuur kan ons God se groot werke sien. Geen mens het ʼn verskoning om God nie te ken uit sy werke nie (Romeine 1:20). Die NGB Artikel 2 verwoord dit mooi: Dit is immers voor ons oë soos ʼn mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God … duidelik laat sien. Lees die boek van die natuur met volle oorgawe! God se werke is hierin opgeskryf.

Die natuur is nie die enigste manier om God te ken nie🔗

Kennis van God in die natuur kan alleen dien om die mens se verskoning weg te neem om God nie te ken nie, maar is geen saligmakende kennis nie, skryf Calvyn in sy verklaring van die Romeinebrief. Die boek van die natuur word so dikwels gelees, maar nie met die bril van die geopenbaarde wil van God, die Skrif, op nie. Ons sien God orals in die natuur, maar ons kennis van Hom kan net sterker word en groei deur sy geopenbaarde Woord. Die Woord was daar van die vroegste tye af aan, selfs al voor die skepping. Die hele skepping is omvou deur die Woord. Ons Bybels moet bly oopgaan terwyl ons gaan vakansie hou in die natuur.

Die natuur is ook deur die sondeval en die verlossing geraak🔗

Die natuur is, soos die mens, goed geskape, het saam met die mens in sonde geval en word, soos die mens, deur Christus se verlossing weer herstel. Die sonde woed voort, ook in die natuur. Paulus verwoord dit pragtig in die brief aan die Romeine. Die hele skepping sug en is in barensnood (Romeine 8:22). Die hele skepping is verlos en sien uit na die voleinding. Die vaste hoop wat hierin opgesluit lê, is ʼn volledige herstel, ʼn ongeskonde harmonie en orde (aldus Calvyn, Romeine 8:21). In Christus is alle dinge geskape, “Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kolossense 1:16-17). Die skepping in haar ryke volheid is nie iets aparts nie, maar is volledig in Christus. Die verbond met Noag, met sy familie, met sy nageslag en met alle lewende wesens (Genesis 9) het in Christus volmaakheid bereik. Laat die grootsheid hiervan op ons inwerk. God laat nooit vaar die werke van sy hande nie.

In die natuur, met Christus bekleed🔗

Terwyl ons in die natuur vakansie hou, bly ons kinders van die Here. Om met Christus bekleed te wees (Galasiërs 3:27), is ʼn houding, ʼn gerigtheid van hart, soos geskrywe deur die Gees van die lewende God self (2 Korintiërs 3:3). Dis nie iets wat net op Sondae, net in die kerk, net tuis gebeur nie. Dit gebeur alle dae van die week, ook terwyl ons weg is en in God se natuur mag ontspan. Die natuur is nie ʼn laaste frontier of freedom waar ons maar onsself kan oorgee aan ons sondige aard om sinloos dood te maak, te vernietig en onsself oor te gee aan bandeloosheid nie. Die vrugte van ons geloof moet deur die hele skepping geniet kan word. Om beter oor die skepping te kan heers, kan ons ook sulke geleenthede gebruik om beter te leer verstaan en te respekteer hoe God alles gemaak het en dit nog steeds onderhou.

Vaste hoop en verkykers🔗

Wie weet, as ʼn mens genoeg oplet, mag ons dalk nou al begin sien wat dit beteken dat die skepping aan die nietigheid onderworpe (is) … in die hoop dat die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God (Romeine 8:21).

Hierdie vaste hoop is nou al in die hele skepping te sien.