5 bladsye.

Ons Goeie Werke in God se Toekoms

Ons het elders gehandel oor die vrae: wat gebeur met die wêreld en met onsself op die jongste dag, by Christus se wederkoms? Is daar sprake van kontinuïteit tussen nóu en daardie dag? En as daar sulke sprake is, wat hou dit in? Onder hierdie hoof handel ons nou, in dieselfde verband, oor ons goeie werke. Wat gebeur daarmee in God se toekoms?

Paulus verseker ons dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:58), en in Openbaring 14:13 sê die Gees dat die werke van hulle wat in Christus sterwe, hulle volg. Daarin hoor ons dat wat in die geloof gedoen is, nie ten gronde gaan nie, maar blywende betekenis het. Terselfdertyd onstaan daar vrae. Aanstonds is daar 'n regterstoel waarby 'n oordeel gaan oor ons werke (2 Korintiërs 5:10). Daar sal 'n "vuur" elkeen se werke op die proef stel, hoedanig dit is (1 Korintiërs 3:13). Sal ons goeie werke daar deurkom? En as dit deurkom, beteken dit dan iets vir ons toekomstige heerlikheid? Wat beteken die "loon" waaroor die Nuwe Testament so dikwels praat? In hierdie artikel kry hierdie vrae aandag.

Goeie Werke🔗

Eerstens moet ons duidelikheid kry waaroor dit gaan as ons oor "goeie werke" praat. Daar spook altyd 'n misverstand dat met goeie werke iets bedoel word wat die Here op al sy liefde van ons kant verwag. In die suide van Nederland kom mens nog kruisbeelde teë met die onderskrif: "Dit het Jesus vir u gedoen, wat doen u vir Hom?" Dankbare gehoorsaamheid word so maklik verstaan as iets wat ons op ons beurt vir die Here moet doen. Selfs die opskrif bo Sondag 32 van die Heidelbergse Kategismus, Die Dankbaarheid wat ons aan God vir die Verlossing Verskuldig is, kan tot dié misverstand aanleiding gee.

Die Kategismus neem egter dadelik in antwoord 86 hierdie gedagte weg. Hy praat nie oor ons vroom prestasies nie, maar oor wat Christus deur sy Gees met en vir ons doen. Hy koop ons nie alleen vry van die sonde nie, maar vernuwe ons ook tot sy beeld. Deur Hom is daar vergewing, maar ook vernuwing. Christus het uit God vir ons geword tot heiligmaking (vgl. 1 Korintiërs 1:30). Die Heidelberger sien ons dankbaarheidslewe volledig as 'n lewe uit Christus. Hy maak ons deur sy Gees van harte gewillig om voortaan vir Hom te lewe (antw. 1); deur sy krag word ons opgewek tot 'n nuwe lewe (antw. 45); wie in Christus ingeplant is, bring vrugte van dankbaarheid voort (antw. 64).

Calvyn praat van 'n "tweevoudige genade": dié van die regverdigmaking of vergiffenis van sonde en dié van die heiligmaking of vernuwing van ons lewe. So is dit ook. Christus se volkome gehoorsaamheid word nie alleen aan ons toegereken nie (= regverdigmaking), maar ook in ons uitgewerk (= heiligmaking). Laasgenoemde is die werk van die Heilige Gees as die Gees van Christus (vgl. Romeine 8:9). Hy word spesiaal in verband met ons heiligmaking genoem (2 Tessalonisense 2:13; 1 Petrus 1:2). By die regverdigmaking is ons geheel en al passief. Ons word vrygespreek, sonder enige verdienste van ons kant. Maar by die heiligmaking van ons lewe is ons nie net passief nie. Kenmerkend van die werk van die Heilige Gees is naamlik dat Hy ons aktief maak en weer laat funksioneer ooreenkomstig die bedoeling van God. Mens sou kon sê: Die Heilige Gees werk om ons aan die werk te sit. Paulus verkondig aan ons hierdie wonderlike werk van die Heilige Gees wanneer hy skryf: "werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae" (Fillipense 2:12-13).

Wanneer dit oor goeie werke gaan, moet ons dit alles voor oë hou. Dit is inderdaad ons werke. Die Heilige Gees glo nie, bekeer Hom nie, lewe nie in 'n nuwe gehoorsaamheid nie. Dit doen ons. Maar ons kan dit alles alleen doen deurdat Hy in ons werk. En so is ons goeie werke tóg, as dit daarop aankom, heeltemal die werk van die Gees. Die Kategismus noem dit dan ook tereg vrugte van dankbaarheid (antw. 64). Dit is die vrug wat die Gees by die kinders van God laat ryp word (Galasiërs 5:22). Die is die vrug wat voortkom uit die verbondenheid met die hemelse Wynstok (Johannes 15:5) wat die Gees werk en in stand hou.

Ons goeie werke het ook niks te doen met prestasies van die vroom mens, wat Paulus "die werke van die wet" noem, nie (Romeine 3:20). Eerder moet ons hierdie goeie werke verbind met die "werk van julle geloof" (1 Tessalonisense 1:3) waarvan die apostel praat. Dit gaan oor die werk wat voortkom uit ons geloof in die evangelie, uit ons band met die Here Jesus, uit die vernuwende werk van sy Gees. Die Heidelberger formuleer goeie werke bondig as werke wat uit 'n ware geloof (= die bron), volgens die wet van God (= die norm) tot sy eer (= die doel) gedoen word.

Oordeel Volgens Werke🔗

Wanneer dit gaan oor ons ewige behoud, is ons geneig om nie aan goeie werke te dink nie. Ons word immers enkel uit genade gered (Efesiërs 2:8), sonder enige verdienste van ons kant (Romeine 3:20). Tog het die gereformeerde vaders nie geskroom om oor die heilsnoodsaaklikheid van ons goeie werke te praat nie. In die bergrede sê die Here Jesus dat alleen hulle wat die wil van die Vader doen, die koninkryk sal ingaan. Hebreërs 12:14 verkondig aan ons dat sonder heiligmaking niemand die Here sal sien nie.

Die Nuwe Testament oortuig ons daarvan dat die aanstaande oordeel ten volle 'n oordeel sal wees oor ons werke. Paulus skryf oor die regverdige oordeel van God "wat elkeen sal vergeld na sy werke" (Romeine 2:6). Die apostel wys daarop dat ons almal voor die regterstoel van Christus sal verskyn, "sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het ..." (2 Korintiërs 5:10). Christus self sê: "Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees" (Openbaring 22:12). Ons goeie werke is dus van groot belang, aanstonds, op die jongste dag! Van watter belang is dit? Die antwoord is: dit is nie van belang as grond van ons verlossing nie, maar dit is van belang as bewys, as uiting van ons geloof. Die groot werk waar dit op sal aankom, is die geloof in die Here Jesus (Johannes 6:29). Alleen dié wat wat in die Seun glo, het die ewige lewe (Johannes 3:36). Maar die geloof is nie 'n geloof wat onvrugbaar bly nie. Dit is 'n geloof wat deur liefde tot die Here werksaam is (Galasiërs 5:6). Dit is 'n geloof wat hom in en uit werke laat sien. Daarom sê Jakobus dat 'n geloof sonder werke 'n dooie geloof is (Jakobus 2:26). Wanneer die Skrif verkondig dat ons volgens ons werke geoordeel sal word, gaan dit oor die werke van die geloof. Dit is wat die Here by ons sal soek. Ons kan ook sê dat Hy die vrug van sy Gees by ons sal soek, want ons kan maar net arbei danksy die genade wat met ons is (1 Korintiërs 15:10). God het ons goeie werke voorberei (Efesiërs 2:10), maar dan moet dit ook blyk dat ons daarin gewandel het!

Kontinuïteit🔗

Die Skrif leer duidelik dat die werk van die geloof nie by ons sterwe verlore gaan nie. Ons werk kom in die gerig. Paulus praat daaroor in 1 Korintiërs 3:10 e.v. Die dag (van Christus) sal met vuur verskyn en die vuur sal die kwaliteit van ons werke bepaal. Dan sal blyk hoe ons op die fondament, wat Jesus Christus is, gebou het. Ondeugdelike werk sal "verbrand" word. Maar die apostel praat terselfdertyd van werk wat sal "bly staan". Dit wys daarop dat daar vir getroue werk in die geloof 'n toekoms is. Dit gaan deur die oordeel en gaan nie ten gronde nie.

Ons hoor dit ook in 2 Korintiërs 5:10: by Christus se regterstoel sal elkeen "ontvang wat hy deur die liggaam verrig het", hetsy goed, hetsy kwaad. Die goeie wat in die geloof gedoen is, bly staan. Ons kry dit van die Here terug (vgl. Efesiërs 6:8).

Die Skrif wys ook op hierdie kontinuïteit in die belofte: " hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai" (Galasiërs 6:8). Blykens die konteks gaan dit hier kennelik oor goeie werke (vs. 10!), oor 'n lewe wat deur die Gees beheers word en so werksaam word. So'n lewe lewer vrugte op wat ewigheidswaarde het.

Die kontinuïteit van die werke van die geloof kom ook sterk na vore in Openbaring 14:13: " . salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle." Die Gees open hier 'n troosvolle vooruitsig. Die kinders van God sal nie net rus van alles wat hulle om Christus wil verduur het nie, maar hulle mag ook weet dat hulle geloofswerk op aarde nie agterbly nie. Dit volg met hulle en bly van betekenis oor die dood heen.

Ons geloofswerk hou nie stand kragtens ons getrouheid of inspanning nie. Dit gaan hier ook oor Geestelike kontinuïteit: Wat Paulus sê is dat ons uit die Gees sal oes. Ons geloofswerke hou stand omdat hulle "in God" gedoen is (vgl. Johannes 3:21).

Loon vir Werk🔗

Hoeveel sprake daar van kontinuïteit ten opsigte van ons goeie werke is, blyk baie duidelik uit wat die Nuwe Testament aan ons verkondig oor loon en vergelding. Daar steek waarheid in die klag van A. Kuyper: gereformeerdes - in hulle verset teen Rome - lees daaroor heen en wil liefs nie daarop gewys word nie.1Tog spreek die Skrif op heelwat plekke daaroor. J.L. de Villiers stel dit selfs so: "Die loongedagte is 'n integrale deel van die evangelie, want God beloof daarin loon."2

Die Here Jesus sê: "Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg ... Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele" (Matteus 5:11-12); " ... julle moet jul vyande liefhê en goed doen ... en julle loon sal groot wees ..." (Lukas 6:35). Paulus skryf dat as iemand se werk bly staan, hy loon sal ontvang (1 Korintiërs 3:14). Die komende Christus sê dat dat sy loon by Hom is om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees (Openbaring 22:12). Van Moses staan geskrywe dat hy uitgesien het na die beloning (Hebreërs 11:26). Die Kolossense mog weet dat hulle die erfenis as vergelding sal ontvang (Kolossense 3:24). Dat daar ooreenstemming is tussen ons geloofswerk op aarde en ons aanstaande loon blyk uit die spreke oor vergelding na die mate van ons werk en oor die terugontvang van die goeie wat ons gedoen het. Die betekenis van ons geloofswerk vir die heerlikheid wat ons deel sal wees, is onmiskenbaar.

Waarom praat die Skrif van loon en vergelding? Dit is nié om ons te laat dink dat ons iets vir die hiernamaals kan verdien nie. Ons erf die koninkryk nie op grond van wat ons gedoen het nie. Maar dit doen nie daaraan af nie dat die vooruitsig op vergelding waarvan die Nuwe Testament getuig, ons wil motiveer tot getrouheid en lewensheiliging.

W.H. Velema wys hierdie gedagte nogal kras af: "Die loonmotief as ekstra motief sou die hele verhouding tot God verwring."3Ons is goeie werke verskuldig. As ons daarin getrou is, het ons net maar gedoen wat ons verplig was om te doen (Lukas 17:10). H. Bavinck is meer genuanseerd en noem, myns insiens tereg, die loon een van die dringende redes waarmee die gelowige tot 'n lewe van heiligmaking vermaan word.4

Ek wys op 1 Timoteus 4: 7-8: " ... oefen jou in die godsaligheid. Want ... die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het."; op Matteus 5: 11-12: verbly julle by vervolging "omdat julle loon groot is in die hemele" en op Openbaring 3: 21: "Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon ... "

In die algemeen kan ons sê dat die Skrif oor loon en vergelding spreek om ons te bemoedig (2 Tessalonisense 1:5; Openbaring 2:10) en om ons aan te spoor (Kolossense 3:24; Openbaring 2:17). Wat die eerste betref skryf Calvyn dat deur die belofte van loon, steun gegee word aan ons swakheid wat andersins dadelik in duie sou stort en ineen sou tuimel as dié verwagting dit nie onderskraag nie. (Institusie, III, 18, 4). Ten opsigte van aansporing sê hy: "Om ons traagheid op te skerp het God ons verseker dat die inspanning wat ons ter ere van sy Naam onderneem het, nie tevergeefs sal wees nie" (Institusie, III, 18, 7).

Verskil in Loon?🔗

Ons het reeds gehoor dat daar aanstonds loon is na die mate van die werk. Christus sal elkeen "vergeld soos sy werk sal wees" (Openbaring 22:12). So kom die vraag na vore: sal daar verskil in loon wees? Is daar vergelding wat nie vir elke kind van God dieselfde inhou nie?

Verskeie teoloë is dié mening toegedaan. G.C. Berkouwer handel met "variasie en gradasie" wat daar in die ryk van die heerlikheid sal wees, wat saamhang met die loon wat ontvang sal word.5W.H. Velema meen dat daar onderskeid in heerlikheid is en dat daar dan sprake is van "besondere begenadiging" waarmee God sy eie werk bekroon.6

H. Bavinck skryf dat ofskoon die saligheid aan alle gelowiges geskenk word, daar onder hulle onderskeid in heerlikheid sal wees, na gelang van hulle werke.7 K. Schilder sê dat daar by die groot avondmaal verskeidenheid in eenheid sal wees. Hulle wat 'n besondere lydensweg bewandel het, ontvang besondere heerlikheid. Die kwalifikasie van elkeen se heerlikheid hang af van 'n suiwer antwoord op die vraag: wat iemand beteken het vir God, vir die heilsweg, vir die diens van God.8

Die loon wat aanstonds ontvang sal word, word deur die Nuwe Testament met verskillende terme aangedui. Dit is, onder meer, die koninkryk (Matteus 25:34; 2 Tess. 1:5), die ewige lewe (Matteus 19:29; Galasiërs 6:8), die erfenis (Kolossense 3:24), vertroosting (Matteus 5:4), versadiging (Matteus 5:6), om God te sien (Matteus 5:8). Dit alles wys tog daarop dat die aanstaande loon vir al God se kinders dieselfde is. Dit word onderstreep deur die afloop van die gelykenis in Matteus 20:1-16. Die werkers van die elfde uur kry dieselfde as die werkers van die eerste uur. Die goedheid van die huisheer sorg vir gelyke beloning, ook al het die werkers van die eerste uur baie meer werk verrig.

Dit is ook opmerklik dat Jakobus vir elkeen wat volhard, die kroon van die lewe in die vooruitsig stel (Jakobus 1:12) en dat Paulus wys op die kroon van die geregtigheid wat die Here hom sal gee, "maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het" (2 Timoteus 4:8).

Die loon behoort vir elke kind van God dieselfde te wees, want hoe sou daar by die koninkryk, die ewige lewe en die erfenis nog iets ekstra kan wees? Daarby is tog alles inbeslote wat die Here vir sy kinders voorberei het?

Ek deel die standpunt van J. van Genderen dat daar nie sprake is van gradasie nie, maar wel van variasie.9Ek wil hier herinner aan die variasie wat God se skepping kenmerk. Hy gee aan elke mens 'n eie persoonlikheid. Daar is variasie tussen mense.

Die eie persoon gaan nie verlore in die vernuwende werk van die Gees nie.

Die Heilige Gees vernietig nie die self nie, maar herstel en heilig dit. Die gelowige kan weet: ook in die heerlikheid sal ek ek wees en niemand anders nie! Op die nuwe aarde sal die variasie bly. Abraham is Abraham en Luther sal Luther wees, sy dit dan ook geheel vernuwe.

Dit lyk vir my aanneemlik dat in hierdie variasie die werk van die geloof betekenis sal hê. Ons werke volg ons immers (Openbaring 14:13). Daar is "regverdige dade" waarmee God se kinders bekleed sal wees (Openbaring 19:8). Openbaring 2:17 wys ook op op die variasie: die nuwe naam "... wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang". Die oorwinnaars kry 'n naam wat eie is en hoort by die eie persoon en geskiedenis.

Ons sal as gelowiges almal in die volmaaktheid deel, maar nie almal op dieselfde manier nie. Moontlik vind ons so'n aanduiding in die gelykenis van die ponde (Lukas 19:16-19). Die eerste en tweede slaaf word albei gesaghebbers, kry dieselfde hoë rang, maar die taak wat hulle as beloning ontvang hou rekening met hulle persoonlike vermoëns.

Ek noem in dié verband ook 1 Korintiërs 12:4-6: daar is 'n verskeidenheid in bedieninge, wat Paulus herlei tot God (die Skepper!), "wat alles in almal werk". As die Heilige Gees nou reeds die skeppingswerk van God eer in die verskeidenheid van dienste waartoe Hy mense in die gemeente bekwaam maak, lê die konklusie voor die hand dat daar aanstonds nie 'n verskil in loon nie, maar wel variasie sal wees in die manier waarop God se kinders Hom vir altyd priesterlik sal dien (Openbaring 22:3).

Genadeloon🔗

Ons moet hierby ook nog iets sê oor die wese van die loon wat op ons wag. Dit het aktueel geword toe die boek Deadline van Randy Alcorn in Christelike kring 'n topverkoper geword het. P. Niemeijer verskaf aan ons inligting oor die teologiese agtergrond van Alcorn se roman oor die hemellewe.10 Vir Alcorn is ons behoud 'n genadige geskenk van God wat ons deur middel van die geloof ontvang. Maar as dit by loon kom, is ons werke aan die orde. Die loon verdien ons, dit word vasgestel aan die hand van wat ons op aarde gedoen het. Uiteindelik kry jy die plek in God se toekoms wat ooreenstem met wat jy hier en nou belê het in hemelse skatte. Alcorn noem selfs die dade wat een maal besonder beloon sal word.

Wat Alcorn sê moet kragtig teëgespreek word. Paulus noem die loon van die ewige lewe 'n genadegawe (Romeine 6:23). Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (Matteus 20:1-16) weerspreek enige gedagte aan 'n loon wat verdien word. As ons getrou is, doen ons net wat ons verplig is om te doen en is ons steeds "onverdienstelike diensknegte" (Lukas 17:10). Die loon word dan ook 'n "erfenis" genoem (Matteus 25:34; Kolossense 3:24), en tiperend van 'n erfenis is juis dat mens dit nie deur dade kan verwerf nie.

Hierby kom wat die Heidelbergse Kategismus sê: "selfs ons beste werke (is) almal onvolmaak en met sondes besmet" (antw. 62). Selfs ons grootste getrouheid voldoen nie aan God se standaard nie (Romeine 7:21). As dit op "verdien" aankom, verdien ons werk vanweë die blywende tekortkominge selfs straf, soos ons bely in artikel 24 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Die loon wat ons ontvang, het ons te danke aan God se vergewende barmhartigheid. Calvyn skryf: "Hoe sou Hy ons goeie werke geregtigheid kon toereken tensy Hy al die ongeregtigheid wat daarin is, met sy genade verberg het? Hoe sou Hy dit loonwaardig kon ag tensy Hy alles wat daarin strafwaardig is, met sy eindelose goedertierenheid uitgewis het?" (Institusie, III, 18, 5). Ons goeie werke kan die Here net behaag "deur loutere vergewing".

Die gedagte dat ons met besondere dade 'n bepaalde plek in die heerlikheid kan verdien, misken ten slotte dat dit nie ons prestasies is nie, maar die vrug van Christus se Gees in ons lewe. Wat daar by ons goed is, is aan ons gegee (Filippense 4:13; Openbaring 19:8). Wanneer die Here ons goeie werke beloon, bekroon Hy daarmee sy eie gawes (NGB art. 24).

Hierdie beloning uit genade is nie net 'n saak van die toekoms nie. Die Skrif praat ook oor loon in hierdie lewe (Matteus 19:29; 2 Korintiërs 1:5; Efesiërs 6:2). Terselfdertyd kan ons (tot ons troos) daaraan vashou dat die groot vergelding nog kom. Die Here is nie onregverdig dat Hy ons werk sou vergeet nie (Hebreërs 6:10). Wat getrou uit liefde tot Hom gedoen word, gaan nie te gronde en word nie vergeet nie! Dit kom ter sprake wanneer ons aardse lewe by Christus se regterstoel onthul word (2 Korintiërs. 5:10). Dan sal dit ten volle waar word dat ons wat ons op die akker van die Gees gesaai het, sal maai (vgl. Galasiërs 6:8). Daardie vooruitsig mag ons aanspoor sodat ons "in elke goeie werk  vrug mag dra" (Kolossense 1:10).

Endnotes🔗

  1. ^ A. Kuyper, E VOTO Dordraceno, II, Amsterdam/Pretoria 1905, p. 384.
  2. ^ J.L. de Villiers, Die Loongedagte in die Nuwe Testament, Den Haag 1957, p. 5.
  3. ^ J. van Genderen/W.H. Velema, Beknopte gereformeerde dogmatiek, Kampen (1992), p. 605.
  4. ^ H. Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek, IV, Kampen 1930, p. 219e.v. Vgl. p. 252: Beloning is een van die vele motiewe vir sedelike handeling, maar hoegenaamd nie 'n reël of wet nie, want dít berus by God se wil alleen. Bykomende motief mag dit egter wees ...
  5. ^ G.C. Berkouwer, Geloof en rechtvaardiging, Kampen 1949, p. 121.
  6. ^ J. van Genderen/W.H. Velema, a.w., p. 220, vgl. p. 110.
  7. ^ H. Bavinck, a.w., p. 220, vgl. p. 710.
  8. ^ K. Schilder, Wat is de hemel, Kampen 1935, p. 226.
  9. ^ J van Genderen, De Bijbel en de toekomst, Heerenveen 1998, p. 146.
  10. ^ Vgl. P. Niemeijer, 'Het loon van Gods Kinderen', in: Nader Bekeken, jg. 8 nr. 6 Junie 2001, p. 157e.v.