Bron: Die Kerkblad, 1985. 1 bladsye.

Ons Herkoutjie

"Ons het ons herkoutjie verloor", het iemand op 'n keer teenoor my opgemerk. En daarmee het hy bedoel dat lidmate nie meer die goeie gewoonte het om oor die prediking van die Sondag nog vir dae lank te loop en herkou nie. Dit is tog so dat lidmate die prediking so gou kan vergeet. Ek wil geensins veralgemeen en bedoel ook nie dat lidmate in staat moet wees om die besonderhede van die prediking te kan onthou nie. Dit gaan om 'n ander vergeet waar die prediking binne 'n enkele dag geheel en al vervaag. Hoe belangrik is die hoor en die bewaar van die prediking tog nie! Dit is die bediening van Gods Woord as lig vir my pad en as roepstem tot bekering en behoud. Dit is die sleutel van die hemelryk en die lewensvoedsel vir die opgroei in die geloof.

Die luisterproses na die prediking behels nie net die hoor van die prediking nie, maar ook die nadenke daar­van. Elke lidmaat behoort met sy hele geskape menswees by die prediking betrokke te wees deurdat hy sien en hoor, maar 'n verdere belangrike kanaal na die hart is die denke. God het ook die gawe van die denke en van oorpeinsing gegee wat in sy diens gebruik moet word.

Enkele oorsake van hierdie gevaarlike vergeet is:

  • Die prediking is soms self van so 'n aard dat dit nie maklik onthou kán word nie. Die prediker bring aan sy lidmate soveel besonderhede of daar is geen logiese gang in die preek nie, sodat dit nadenke werklik bemoeilik.

  • Die probleem kan miskien anker in die gesindheid waarmee lidmate na die eredienste opkom. Vir sommige het dit dalk so 'n meganiese gewoonte geraak dat die erns en gretigheid waarmee hierdie ontmoeting met God gepaard moet gaan, begin verflou het. Gevolglik word daar ook nie met indringende gretigheid geluister nie.

  • 'n Verdere oorsaak kan wees: lidmate beleef die Sondag as 'n afgebakende geheel wat geen invloed op die res van die week het nie. Die prediking op die eerste dag van die week is tog daar om in die week ingedra te word, sodat die Woord sigbare en kon­krete invloed op ons lewe het.

Dit is die Jakobusbrief wat ons oproep om daders van die woord te word (Jakobus 1:22). Jy kan egter alleen 'n dader van die woord wees indien jy die Woord van God as saad in 'n goedvoorbereide bedding ontvang en die saad met herkouende nadenke ook in jou ingegroei het. Daar bestaan mooi gebruike en gewoontes om die nadenke oor die prediking te stimuleer, soos preek­sketse wat uitgedeel word en lidmate wat in 'n nota­boekie aantekeninge maak. Sonder die regte gesindheid van 'n honger herkoutjie sal dit ook maar min help.